Eksistensie

EKSISTENSIE

WD Jonker (1950)

Met ’n sieklike hoop bind hy sy dae aanmekaar
en met ’n moeë roep en armgebaar
spoor hy sy liggaam tot die dagtaak aan.
Hy groet sy vriende en hy loop op straat,
lag vir flou grappe en moet lig-wegpraat
omdat hy leef en met die lewe voort moet gaan.

O God! red ons van hierdie eensaamheid,
van dié gedagtes, van die peins oor ewigheid en tyd,
van alle denke, worsteling en waan!
Red ons van hierdie twyfel en die skrale hoop
waarmee ons dae en nagte rusteloos moet loop
en laat ons naak en sonder vreugde of droefheid staan!