Die Verband tussen die Rooms Katolieke Genadebegrip en Kerkbegrip: Deel 1

Die Kerkbode, lxxvii(24), 14 Desember 1955, (933, 934)
By die Studeertafel
Die Verband tussen die Rooms Katolieke Genadebegrip en Kerkbegrip:
Deel 1
Deur WD JONKER

Ons as Protestante beroem ons graag daarop dat ons, naas die deur die geloof alleen, ook die deur die genade alleen baie beter in die teologie tot sy reg laat kom as wat dit in die Katolieke teologie met sy leer van die verdienstelikheid van die goeie werke ooit moontlik is. En dit is ten volle waar. Tog mag ons nie aan die feit verbygaan dat ook die Katolieke teologie deur-en-deur genade-teologie wil wees nie. Oor die genade word in die Katolieke teologie enige tyd net so veel, indien nie meer as in die Protestantse teologie gepraat nie.

Maar al word daar ook so veel oor die genade gepraat, daar word tog oor die genade anders gepraat as wat die geval in die Protestantse teologie is. As ons Protestante oor genade praat, dan dink ons in die eerste plek en hoofsaaklik aan die vrye guns van God, en selfs al sal ons af en toe praat van die „innerlike genade” en daaronder verstaan die genade wat God aan iemand bewys daarin dat Hy hom heilig en bekwaam vir sy diens, dan is dit tog altyd vir ons Góds genade wat nooit losgemaak kan word van Gods vrye guns nie — dit word nooit iets wat die mens besit nie.

Maar wanneer die Katolieke teoloog oor genade praat, gebruik hy reëlmatig ‘n tweetal begrippe: natuur en bowe-natuur. Onder natuur verstaan hy dan die geskapene, onder bowe-natuur die Goddelike wat bokant die geskape natuur uitgaan. En as nou gesê moet word wat genade is, dan sê die Katoliek-: dit is iets wat tot die orde van die bonatuurlike behoort. Die genade self is dan weer verdeelbaar in twee ordes: die Ongeskape Genade, dit is God self, beter gesê, die Heilige Gees, en die geskape genade, dit is die goddelike eienskappe wat in die vorm van ‘n bonatuurlike krag in die mens uitgestort word en ‘n blywende kwaliteit van sy siel word, waardeur sy natuur opgehef en verbeter word, sodat hy deel kry aan die Goddelike natuur, en so self “vergoddelik” of geheilig word. Wanneer die Heilige Gees, die Ongeskape Genade, dus in die mens se hart kom woon, deel hy aan die mens die geskape genade mee, waardeur hy so omgevorm word, dat sy natuur op­gehef word tot ‘n hoër vlak, die bonatuurlike of Goddelike vlak, en daardeur is hy aan God so welgevallig, dat God hom as sy kind aanneem en die ewige lewe deelagtig maak. Met ander woorde: ook vir die Katoliek kan die mens alleen deur genade gered word, maar hy verstaan dit anders as die Protestant. Vir ons gevoel beteken die redding deur genade alleen dat God ons toereken wat ons nie het en nie is nie, omdat Hy in sy vrye guns ons in Christus aanneem; vir die Katoliek beteken dit dat die genade as ‘n bonatuurlike kwaliteit die mens so omvorm, dat hy op grond van wat hy nou self is, voor God welgevallig is, en dus die verlossing as ‘n “verdienste” kan ontvang.

Die Katoliek praat dus baie van genade, maar vir hom is die teenoorgestelde van genade nie sonde, soos ons dit in die Bybel vind nie, maar natuur. Die natuur moet deur die genade verhef en verbeter word – dáárin bestaan die verlossing.

Hoe verstaan die Katoliek dan die leer van die Skrif dat ons deur Christus die verlossing deelagtig word? Hy verstaan dit ten volle in die lig van sy beskouing van die genade, soos ons dit so pas leer ken het. Die v1eeswording van Christus is vir die Katolieke teologie die spil waarom die hele verlossing draai. Toe God in die Persoon van Jesus van Nasaret vlees en bloed aangeneem het, het daar die wonderlikste vereniging plaasgevind van die Goddelike en die menslike, die bonatuurlike en die natuurlike. Deurdat dit die Seun van God self was wat Hom met die menslike natuur in die Persoon van Jesus verenig het, het Jesus Christus al die moontlike genade besit wat God kan meedeel, ja, Hy was “vol van genade en waarheid”. Deur hierdie volheid van genade is die menslike natuur in Christus so opgehef en vergoddelik, dat Hy die redding volkome deelagtig kon word. Maar meer as dit: die menslike natuur van Christus is daardeur so vervul met die genade, dat dit ‘n reservoir van genade geword het vir die hele mensdom. Elke persoon op wie die genade uit die mensheid van Christus oorvloei, word self die genade van Christus deelagtig, word as ‘t ware “’n  tweede Christus”, en word daarom deur God aangeneem. So vloei al die redding die mens enkel deur Christus toe. Hy alleen besit die “genade van die Hoof”, en van Hom as die Hoof af vloei die genade oor op al sy lede, sodat Hy met al sy lede saam net die één Seun van God vorm, die één “liggaam van Christus”, soos Paulus sê.

Die vraag is egter nou: Hoe gebeur dit nou dat die genade wat in die menslike natuur van Christus in so ‘n wonderlike volheid aanwesig is, op ander mense kan oorvloei, sodat hulle die redding deelagtig kan word? Hierop antwoord die Katoliek: Dit is alleen moontlik wanneer daar kontak plaasvind tussen. die menslike natuur van Christus en die mens op wie die genade moet oorvloei. Die genade is immers ‘n “iets”, ‘n kwaliteit, en dit kan alleen oorgedra word deur aanraking. Die aanraking wat daar in die vlees-wording tussen God en die menslike natuur plaasgevind het, het die volheid van genade in die menslike natuur van Christus ten gevolge gehad, en net so het die aanraking tussen die menslike natuur van Christus en ons ten gevolge dat sy genade op ons oorvloei. God het in sy wysheid geweet dat die mens meer aan die stoflike as aan die onsigbare gebonde is, en daarom het Hy dit goed gedink om juis die stoflike in te span in sy diens, sodat die mens juis deur middel van ‘n stoflike instrument tot die redding gebring sou word. Daarom het Hy die menslike natuur van Christus as sy stoflike instrument aangeneem, en dit as sy wil bekend gemaak dat Hy nooit weer sy genade anders sal uitdeel nie, as slegs deur daardie stoflike instrument. Wie dus nie met die menslike natuur van Christus in aanraking kom nie, kan nie die genade deelagtig word nie. Wie egter die menslike natuur van Christus aanraak – soos die vrou die soom van Christus se kleed aangeraak het – word onafwendbaar dieselfde genade deelagtig wat Christus se menslike natuur deelagtig was. Die gevolg is dat hy soos Christus verhef word, en tot Gods Seun aangeneem word.

Nou sê Rome: Word die heil alleen aan die mens uitgedeel deur middel van die kontak met die menslike natuur van Christus, dan beteken dit dat die heil alleen “sakramenteel” ontvang kan word. ‘n Sakrament is immers vir Rome ‘n sigbare en stoflike element, toegerus met heiligende krag, waardeur dit .in staat is om genade mee te deel aan die een wat dit ontvang. Christus is dus die Groot-sakrament of Oer-sakrament van God, want sy menslike natuur is toegerus met al die reddende kragte wat nodig is om die mensdom te verlos. Solank as Christus op aarde omgewandel het, was dit moontlik om Horn persoonlik aan te raak, en op dié wyse sy genade deelagtig te word, maar na die hemelvaart van Christus is dit nie meer moontlik nie. Daarom het Christus die sewe sakramente van die Katolieke Kerk (doop, konfirmasie, boetedoening, priesterwyding, eucharistie of awendmaal, huwelik en laaste oliesel) ingestel as die “verlengstukke” van sy mensheid. Op die sakramente het Christus die vermoë van sy mensheid om genade mee te deel, oorgedra, met die gevolg dat wie met die sakramente in aanraking kom, met die mensheid van Christus in aanraking kom, en die genade deelagtig word.

Nou gaan Rome ‘n stappie verder. Net soos die genade van Christus alleen ontvang kan word deur aanraking met die menslike natuur van Christus, so kan aanraking  niet die menslike natuur ná die hemel­vaart van Christus alleen ontvang word in die sakramente. Gevolglik is die sakramente “heilsnoodsaaklik”: sonder aanraking met die sakramente geen verlossing nie! Rome erken wel dat daar ‘n aanraking met die reddende krag van Christus kan plaasvind deur die geloof alleen, sonder die daad­werklike gebruik van die sigbare sakramente, net soos Christus op aarde ook “afstandswondere” verrig het, maar dit is die uitsondering, en is alleen dán geldig, wanneer dit die begeerte bevat om, sodra die geleentheid hom voordoen, die onsigbare kontak ook sigbaar te bevestig deur die gebruik van die sakramente.

Waar kan ’n mens nou die heilsnoodsaaklike sakramente ontvang? Daar is maar een plek, sê Rome, en dit is die Rooms-katolieke Kerk. Slegs die Rooms-katolieke Kerk is volkome toegerus met al die sakramente wat Christus ingestel het, en slegs in dié Katolieke Kerk word die sakramente reg bedien. Die sakramente is immers kontakpunte met die menslike natuur van Christus. Nou wel, sê Rome, en waar kan daardie kontak volmaakter wees as in die eucharistie (die mis), waarin die brood ná die instellingsformule wat deur die priester uitgespreek word, werklik tot die eie liggaam van Christus word, en die wyn werklik tot sy eie bloed word? Waar die mensheid van Christus in die Katolieke Kerk elke dag op die altaar teenwoordig is, daar spreek dit vir die Katolieke teoloog vanself dat slegs dáár reddende aanraking met die genade-mededelende mensheid van Christus kan wees. Om gered te word, moet die mens op een of ander wyse in aanraking met die liggaam van Christus in die eucharistie gebring word. Al die ander sakramente wys op een of ander wyse na die eucharistie heen, en selfs die Doop bevat die onbewuste of bewuste begeerte na die eucharistie, waarin die kontak met die mensheid van Christus volmaak tot stand kom. Gevolglik kan die Doop iemand red, so redeneer Rome, selfs al het hy nie die eucharistie ontvang nie, omdat die Doop deur die begeerte na die eucharistie wat daarin opgesluit lê, die mens reeds met die eucharistie in verbinding bring.

Maar Rome gaan nog verder. Christus het nie alleen aan dinge (die sakramente) nie, maar ook aan mense die vermoë van sy menslike natuur om die genade uit te deel, oorgedra. Christus het die ampte ingestel om sy werk op aarde voort te sit. Soos Christus waarlik God, maar ook waarlik mens was, so bestaan die Kerk ook uit ‘n onsigbare sy (die genade wat aan die mense meegedeel kan word), en ‘n sigbare sy (die sigbare Rooms-katolieke Kerk met sy ampte en sakramente). Wie in aanraking wil kom met die Godheid van Christus, kan dit alleen doen deur aanraking met sy menslike natuur. En net so kan iemand wat in aanraking wil kom met die genade wat Christus aan die Kerk meegedeel het, dit slegs doen deur aanraking met die sakramente, maar óók met die uitdelers van die sakramente, die ampte van die Katolieke Kerk. Wil die mens dus in aanraking, kom met die redding, dan moet hy die sakramente ontvang uit die hand van die wettige priester wat in staat is om die genade uit te deel, en dit is slegs die priester van die Katolieke Kerk. So is die Katolieke Kerk die Moeder waaruit baie kinders in die sakramente die wedergeboorte ontvang, en in ’n sekere sin kan selfs gepraat word van die moederskap van die priesters, want deur hulle toedoen word die siele in die sakramente wedergebore en geskik vir die ewige lewe.