Die Verband tussen die Rooms-Katolieke Genadebegrip en Kerkbegrip: Deel 2

Die Kerkbode, lxxvii(25), 21 Desember 1955, 980, 981.
GENADE EN KERK
Die Verband tussen die Rooms-Katolieke Genadebegrip en Kerkbegrip:
Deel 2
Deur W D JONKER

ONS kan die redenasie tot dusver soos volg saamvat: Die feit dat Rome die genade as ’n bonatuurlike krag verstaan, bring mee dat die genade slegs “sakramenteel” ontvang kan word, dit wil sê deur die tussenkoms van sigbare instrumente wat die genade uitdeel (die menslike natuur van Christus, die ampte en die sakramente), en dit bring weer mee dat die Rooms-Katolieke Kerk, wat oor die regte sakramente beskik, die “sakrament” is waardeur die mens die heil moet ontvang. Dus: buite die Rooms-Katolieke Kerk kan daar geen saligheid wees nie.

Uit hierdie opvattings vloei egter vanself nog iets verders voort. Net soos die mensheid van Christus deur Rome verstaan word as ’n reservoir van heiligende kragte, waaruit die genade oorvloei op diegene wat daarmee in aanraking kom, so word die Kerk verstaan as voortsetting van daardie reservoir. Christus het aan die Kerk al die moontlike skatte van genade meegedeel, sodat die Kerk dit soos ’n skat besit, en uit daardie skat van genade deel die Kerk deur middel van sy ampte en sakramente die heil uit aan die mensdom. Wie die Kerk in die eerste plek as so ’n “uitdeler van genade” verstaan, dink natuurlik wanneer hy van Kerk praat, nie aan die lidmate van die Kerk nie, maar aan die Kerk as ’n instituut wat toegerus is met organe waardeur hy aan die mensdom die heil kan meedeel. Wanneer die Rooms-Katoliek van Kerk hoor praat, dink hy dadelik aan die sigbare Roomse instituut met sy hiërargie, die Kerk as Moeder. Wie met daardie instituut in verband staan, wie dus sigbaar ’n lid is van die Rooms-Katolieke Kerk, is in die posisie dat hy deel kan ontvang in die genade waaroor die Kerk beskik. Gevolglik is sy moontlikheid om die redding deelagtig te word, maksimaal groot.

Wanneer ons Protestante oor die Kerk praat, dan dink ons nie in die eerste plek aan die sigbare Kerk met, sy instituut nie. Ons dink nie in die eerste plek aan die ampsdraers en die sakramente nie. Ons dink aan die skare van “ware Christus-gelowiges, wat hulle hele saligheid in Jesus Christus verwag en gewas is deur sy bloed, geheilig en verseël deur die heilige Gees.” Dit is vir ons die eintlike Kerk.

Maar dié Kerk is onsigbaar, want watter mens kan onderskei wie presies so ’n “ware Christus­ gelowige” is? Dit is wel waar, dié onsigbare Kerk word sigbaar in die wêreld omdat die gelowiges nou eenmaal sigbare mense is, maar veral ook omdat die gelowiges elkeen van Christus ’n opdrag en taak ontvang het. Veral het Hy sommige gestel tot apostels ander tot herders en leraars, ens. Met ander woorde Christus het sy Kerk in ’n sigbare liggaam, in ’n instituut georganiseer. En in die sigbare instituut word die onsigbare Kerk vir ons sigbaar, en ons kan hom onderskei aan sy drie kenmerke: die ware verkondiging van die Woord, die suiwere bediening van die sakramente soos Christus dit ingestel het, en die handhawing van die kerklike tug. Maar, al kan ons ook die ware Kerk in ’n sigbare gedaante duidelik onderskei, aan die sigbare gedaante van die Kerk kleef tog baie vas wat nie tot die “ware Christus­ gelowiges behoort nie. Hulle is die huigelaars wat nie werklik tot die Kerk behoort nie, al bedek hulle hulself met die naam van die Kerk (Calvyn). Gevolglik val die sigbare en die onsigbare Kerk vir ons Protestante nooit volkome saam nie. Sommige wat in die sigbare Kerk eerbare lede is, behoort nie aan die onsigbare Kerk nie, terwyl ander wat nie aan die sigbare Kerk behoort nie, moontlik wel tot die onsigbare Kerk kan behoort — ons glo immers nie in absolute en noodsaak1ikheid van die sakramente en gevolglik van die sigbare Kerk nie.

Waarom handhaaf ons hierdie onderskeiding tussen sigbare en Kerk, en waarom is die onsigbare Kerk vir ons die eintlike Kerk? Omdat ons van oortuiging is dat ons op grond van die Skrif moet sê dat die wese van die Kerk nie bepaal word deur sigbare dinge nie maar deur die onsigbare, naamlik die genade van God. Wie deur God in genade aangeneem is hy behoort tot die Kerk. Die Kerk is vir ons die somtotaal geroepe heiliges mense verlos uit mag van die duisternis en oorgebring in die koninkryk van die Seun van God. Die kerk is vir ons die somtotaal van begenadigdes in Christus Jesus. Die Kerk is, soos die apostoliese geloofsbelydenis sê, gemeenskap van heiliges.

Vir die Rooms-Katolieke Kerk is hierdie siening op die Kerk op die kerk wat deur die Protestant gehandhaaf word, ten enemale foutief. Dit is vir Rome ’n minagting van die sigbare Kerk met sy ampte en sakramente. En dit een groot beswaar is natuurlik dat dit nie vra of iemand aan die Roomse Kerk behoort en dit as voorwaarde stel vir die ontvangs van die heil nie, maar dat dit eenvoudig die deelname in die genade as die enigste voorwaarde stel vir die lidmaatskap van die Kerk. En as dit waar moet wees, dan sien Rome natuurlik sy aanspraak daarop dat hy die enigste ware Kerk is wat as “sakrament” die mensheid van Christus voortsit, bedreig. Want dan is die ware Kerk nie ipso facto die sigbare Roomse Kerk nie, maar die onsigbare gemeenskap van begenadigdes of hulle nou lede van die Rooms-Katolieke Kerk is of nie. Om nou aan hierdie “gevaarlike” standpunt te ontkom, sê Rome: nie die genade bepaal of iemand ’n lid van die Kerk is nie, maar iemand wat aan die Roomse Kerk behoort, is sonder meer lid van die Kerk, of hy nou in die genade deel of nie.

Daar is geen onsigbare Kerk nie. Daar is maar één Kerk, en dit is die sigbare Rooms-Katolieke Kerk. Iemand kan dus ’n volwaardige lid van die Kerk wees, ook al is hy nie verlos nie. Die bedoeling van Rome is natuurlik nie om te sê dat dit iets normaals is dat ’n lid van die Katolieke Kerk nie ook in die genade deel nie. Die bedoeling is juis dat die sigbare lidmaatskap aan die Rooms-Katolieke Kerk feitlik die deelname in die genade verseker. Deur die lidmaatskap aan die Katolieke Kerk word die mens immers in aanraking gebring met die sakramente wat vanself die genade op hom oorstort, of hy nou die sakramente gelowig ontvang of nie. Die gevolg is dat so ’n lidmaat feitlik seker kan wees van sy redding, mits hy hom nie doelbewus teen die Kerk en die handelinge van die Kerk in die sakramente verset nie.

Die lidmaatskap aan die sigbare Kerk is dus voorwaarde vir die ontvang van die heil, en die deelname in die heil is nie voorwaarde vir die toebehoort tot die Kerk nie. Volgens die Katoliek is die fundamentele fout wat die Protestant maak, dat hy die Kerk “van onder af” bekyk, en dan die Kerk sien as die somtotaal van indiwidue wat in die genade deel. Die Katoliek kyk egter na die Kerk “van bo af”, en sien dan die Kerk as ’n geheel wat voorafgaan aan sy lede. Die Kerk is die Moeder van die gelowiges. Die Kerk is in die eerste plek instituut, en as geheel gesien behoort dit aan Christus as verlengde van sy mensheid en is dit onfeilbaar en sonder sonde. Wat die geval met indiwiduele lede van die Kerk mag wees, raak nie die Kerk as totaliteit nie. Die vraag na waar die ware Kerk is, moet dus nie beantwoord word deur te sê: die ware Kerk is die vergadering van diegene wat gewas is in die bloed van Christus nie. maar moet saamval met die vraag na waar die instituut is en wat in besit is van die genadeskat van Christus en wat die organe het om dit te uitdeel. En op dié vraag antwoord Rome: Dit kan slegs dié instituut wees wat daarop aanspraak kan maak dat hy deur Christus self gestig is, op Petrus, die plaasvervanger van Christus, gehou is, en deur middel van die onafgebroke apostoliese suksessie deur die eeue heen die enigste wettige uitdeler van die genade gebly het, dit is: die sigbare Rooms-Katolieke Kerk.

Hieruit volg vanself dat die Kerk vir Rome deur en deur volkskerk is. Die Kerk is moeder en opvoeder, uitdeler van genade en dus wesenlik instituut. Of die lede van die Kerk ook lede van Christus is, is vir die bepaling van die wese van die Kerk nie van belang nie. Die Kerk is juis daar om sulke mense heen te lei na Christus en hulle die genade deelagtig te maak wat hulle lede van Christus sal maak. Die idee van ’n belydende Kerk, soos die Reformasie dit verstaan het, is dan ook aan Rome totaal vreemd. Gevolglik ontbreek die idee dat die sigbare Kerk hom in alles daarop moet toelê om met die onsigbare Kerk saam te val, en die kerklike tug het geen reg van bestaan nie.

In die jongste tyd het daar in die Katolieke teologie wel verskeie stemme opgegaan wat teruggeroep het na ’n verstaan van die Kerk vanuit die genade, na ’n besef dat die Kerk nie alleen vanuit die uiterlike faktore verstaan kan word nie, dat die Kerk nie slegs instituut is nie, maar ook ’n lewende organisme, die liggaam van Christus. In sy ensikliek “Mystici corporis Christi” van 1943 wys die pous egter al dergeliks denkbeelde van die hand, en hy handhaaf die tradisionele siening op die Kerk as instituut toegerus met die skat van genade.

So is die Rooms-Katolieke kerkbegrip op die allerinnigste wyse verbonde aan die Katolieke opvatting van die genade. Alleen omdat Rome die genade verstaan as ’n bonatuurlike krag wat in die mens uitgestort word, kan hy die heil so sakramenteel-bepaald sien, die Kerk so sakramenteel verstaan, en die Kerk uiteindelik slegs waardeer as instituut en uitdeler van die genade. Alleen al om dié rede sal Rome en die Protestantisme nooit met mekaar kan saamstem oor wat die wese van die Kerk is nie, ten spyte daarvan dat albei leer dat die mens slegs deur genade gered kan word. Want deur hierdie verstaan van die genade loop Rome onafwendbaar die pad af wat wéglei van die vrye guns van God na die “innerlike kragstroom”, wat die mens omvorm om Gods guns te kan verdien; van die Woord na die sakrament, van die kansel na die altaar, van die genade as enigste kerkvormende faktor na die sigbare ontvangs van die sakramente as enigste kerk‑vormende faktor, van die vrye toegang tot God na die bemiddeling deur die priester, van die persoonlike verhouding tot Christus na die deelname in die Krag‑bron: Christus. Wie die aard van die genade verkeerd verstaan, sal nie alleen die hele teologie verkeerd verstaan nie, maar hy sal tot in die praktyk toe die Kerk verkeerd verstaan.