Is die Transvaal op weg na herstel?

IS DIE TRANSVAAL OP WEG NA HERSTEL?
Enkele gedagtes n.a.v. die Transvaalse Sinode van 1957,
Die Gereformeerde Vaandel ( 25), September 1957, 14-19.
Dr. W. D. Jonker.

Daar is miskien talle dinge wat op ’n sinode besluit word wat oor ’n jaar of twee-drie, of miskien, selfs al oor ’n week of twee al weer hulle aktualiteit in ‘n groot mate ingeboet het en papier-besluite bly wat geen wesenlike voortgang in die lewe van die kerk beteken nie.  Maar daar val soms besluite op ’n sinode wat geweldig betekenis het vir die gesondheid en die groei van die kerk, omdat hulle nie besluite is wat soort van in die verbygaan geneem word oor sake wat skynbaar net die oppervlakte, van die kerklike lewe raak nie, maar besluite is wat die resultant vorm van ’n vitale innerlike drang en beweging in die kerk wat êrens heen wil.  Die kerk is soms ’n plant wat ’n innerlike groeikrag besit.  In die groeiproses kan die kerk, soos enige plant, talle nuwe blare voortbring: dit is normale dinge wat in die gang van sake noodsaaklik is, maar nie groot omwentelinge of vernuwing in die kerk aandui nie, en as hulle gety verby is, verdor hulle en val af.  Maar die kerk kan ook, soos ’n sterk jong loper van kweekgras, êrens deur versperrings en verstikkende omknellings heen deurbreek met ’n vitaliteit wat klipmure laat bars in die uitlewing van ‘n innerlike drang wat ’n bepaalde koers ingeslaan het.  Af en toe is ’n sinodale besluit die openbaring van so ’n vitale beweging in die kerk.  Die besluit het dan meer as gewone betekenis, miskien nie eers so groot omdat dit uiterlik veel omwenteling te weeg bring nie, maar omdat dit innerlik teruggaan op ’n bloedwarme lewensdrang, en daarom is dit rigtinggewend, of ten minste aanduiding van ’n rigting wat in die kerklike lewe ingeslaan word, van ’n beweging êrens heen.

Dit is altyd moeilik om dadelik te sê wanneer daar sodanige besluite in ’n sinode val.  Eers na ’n aantal jare word dit duidelik of ’n bepaalde sinodale besluit werklik die produk van ’n beweging in die kerk êrens heen was.  Dan begin die kraak in die muur waar die kweekloot deurgebars het, groter word, en dit word vanself duidelik: hier het ons te doen met ’n beweging van binne uit wat homself nie meer sal laat keer nie en wat, kerk-histories gesien, ’n nuwe tydperk inlui.  Waar ons ons dit ten doel stel om in hierdie artikeltjie enkele gedagtes uit te spreek n.a.v. die Transvaalse sinode van 1957, spreek dit dan ook vanself dat wat ons gaan sê, geen enkele aanspraak op finaliteit kan maak nie – dit kan alles wensdinkery wees, wat die toets van die tyd nie sal kan deurstaan nie.  Tog kan dit nuttig wees om te besin oor enkele van die besluite van die Transvaalse sinode wat na ons beskeie mening heenwys na ’n innerlike drang tot beweging êrens heen.  Uit die besinning mag vir ons miskien die nut gebore word dat ons aan onsself daarvan rekenskap kan gee of dié beweging (as dit werklik mag bestaan) deur die kerk getroetel en gestimuleer behoort te word, en of die kerk liewer moet bid dat die Groot Tuinier tog die wilde loot wat êrens heen beur, moet afsny, omdat dit voortkom uit ’n innerlike onsuiwer verhouding tot die Heer van die Kerk.

Daar is veral één besluit van die Transvaalse sinode wat blykbaar teruggaan op ’n innerlike drang by die kerk, en dit is die besluit om die naam van die kerk te herstel tot Nederduitse Gereformeerde Kerk.  Hoe vanselfsprekend die besluit ook vir ons broeders aan die onderkant van die Vaalrivier mag lyk, vir die Transvaalse kerk is dit tog ’n geweldige gebeurtenis.  Dit is nie net die emosionele geladenheid waarmee die besluit geneem is, wat ons dit laat sien as ’n besluit wat die innerlike drang van die kerk openbaar nie.  Emosionele geladenheid toon natuurlik dat dit in die saak waaroor die besluit geneem, word, om ’n saak gaan wat die lede van die sinode diep raak, maar minderwaardige dinge kan ons mense om een of ander rede soms ook diep raak, hoewel dit dinge van verbygaande aard kan wees.

Dit is egter veral die historiese implikasies van dié besluit en ander besluite wat dié besluit omring, wat ons laat vermoed dat dit ’n simptoom is van ‘n beweging êrens heen.  Dit is nl. ’n simptoom daarvan dat die Transvaalse kerk op weg is na herstel.  Wat wil die kerk dan daarmee herstel?  Hy wil sy identiteit en integriteit herstel en herbevestig as die kerk wat onder Gods hand uit die Hervorming gebore is as die Nederduitse Gereformeerde Kerk, die Gereformeerde Kerk van ons Nederduitse Vaders uit sestiende en sewentiende eeue, as die Kerk van die belydenisskrifte en van Dordrecht, as die Kerk van die volksplanting van 1652, as die kerk van die Calvinisties-Gereformeerde Afrikanervolk vanaf sy geboorte-uur tot nou.

Nie dat die wysiging in die naam iets te weeg moes bring wat nie wesenlik aanwesig was nie.  Die Transvaalse kerk was nog altyd – ook onder die naam van Nederduitse Hervormde of Gereformeerde Kerk – niks anders as dié Gereformeerde kerk van ons Vaders nie.  Maar die Transvaalse kerk het deur pynlike dinge heengegaan.  Hy het nie slegs die moeilike tydperk 1652 – 1834 (met die gewigtige datums 1806 en 1824) vóór die Groot Trek as deel van die Kaapse Kerk deurgemaak nie, maar hy het in die geskiedenis waardeur sy gange sedert dié tyd gegaan het, nog meer nuwe verwérende elemente te trotseer gekry.  Die gevolg is dat die Transvaalse kerk nie slegs saam met al drie die ander Gefedereerde N.G. Kerke, die littekens dra van die verwaarlosing en die aanvegting en die staatsoorheersing en die gebrek aan organisasie wat reeds in die anderhalf eeu vóór die Groot Trek genadeloos hulle aanvalle op ons dierbare N.G. Kerk geloods het nie, maar dat hy talle nuwe littekens opgedoen het in dié stukkie geskiedenis wat hy sy eie kan noem.  Hy dra die nuwe littekens van die verwaarlosing, aanvegting en stryd van die jare in en na die Groot Trek, van die bittere antipatie wat by menige Boer gelewe het teen die Kaapse Kerk met sy Skotse predikante wat deur die Staat besoldig is en dikwels nie die simpatie kon gee wat gegee moes word nie.  Hy dra die littekens van die hele misverstand, koppigheid en hardheid van hart wat verbind is aan die sg. selfstandigheid van die Transvaalse kerk sedert 22 November 1853.  Hy dra die merke van die omdoping deur die Staat van dié selfstandige N.G. Kerk tot Nederduitse Hervormde Kerk in 1857/1858, van die uitspraak van die Hoëgeregshof in 1862 wat die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika tot die grense van die Kaap-Kolonie beperk het, met die daaruit voortvloeiende herorganisasie van die N.G. gemeentes in Transvaal deur Ds. Cachet ná die bekende Algemene Kerkvergadering van die Ned. Herv. Kerk in 1865 te Pretoria, waar Ds. Cachet tot sy leedwese moes ontdek dat die Drie Formuliere hoogstens op ’n quatenus-manier erkenning kon vind by Ds. van der Hoff cum suis.  En eindelik: die Transvaalse kerk dra die merke van die vereniging van die Ned. Herv. en die Ned. Ger. Kerke in 1886 met die afskeiding van die huidige Hervormde Kerk daarna. – Al hierdie dinge het nie aan die klere van die Transvaalse kerk gaan sit nie, en al is dit duisend-maal waar dat die Ned. Herv. of Geref. Kerk van Suid-Afrika wesenlik dieselfde is as die N.G. Kerk dwarsdeur die land, wesenlik ook nog dieselfde as die Gereformeerde Kerk van ons Vadere, die feit bly staan dat die naam Hervormd wat nog altyd aan die Transvaalse kerk verbind was, ’n pynlike heenwysing bevat na twee dinge: enersyds na die versplintering van die N.G. Kerk in vier verskillende selfstandige kerke wat slegs in federale verband staan, iets wat in meer as net oppervlakkige sin uiters ongesond is; andersyds na die littekens van meer as een ongereformeerde vuurdoop waardeur die geskiedenis ons kerk gelei het en wat in meerdere of mindere mate nog altyd mee-resoneer in die naam Hervormd wat in die liberaal-kollegialistiese Nederlandse volkskerk van 1816 gebore is.

En nou het die Transvaalse kerk sy naam herstel tot Nederduits Gereformeerd.  Is dit, met die oor op die hartklop van die kerk, te veel gesê as ons beweer dat die Transvaal daarmee méér openbaar as net ’n liefde vir antikwiteite of ’n poging om nou eindelik tog ’n einde te maak aan die misverstand wat soms rondom die benaminge Ned. Hervormd en Ned. Hervormd of Gereformeerd kon intree, dikwels met skadelike gevolge vir ons kerk?  Is dit te veel as ons daarin lees dat die kerk ’n pynlike assosiasie wat aan die Hervormd kleef, wil verwyder, en dat die kerk dus wil herstel: enersyds wat daar aan eenheid was met die N.G. Kerk in Suid-Afrika vóór 1853; andersyds wat daar opgesluit lê in die naam Gereformeerd wat ons uit die Hervorming geërf het?

Nee, ons lees seker nie te veel daarin nie, want daar is ander besluite wat dié besluit omring wat die gedagte versterk dat die naamherstel van die Transvaalse kerk meer as die naam op die oog het.  Vereers al, wat betref die begeerte om die eenheid met die hele N.G. Kerk volledig te herstel, ook sigbaar en organisatories herstel, dit blyk uit meer as die naamherstel.  Dit blyk met name uit die uitgesproke begeerte van die sinode dat daar organiese kerkvereniging so gou as moontlik tot stand sal kom.  Daar was ’n byna onstuimige entoesiasme in die sinodale saal telkens as daar maar na die organiese kerkvereniging verwys is.  Die inlywing van die Rhodesiese gemeentes as ’n streeksinode van die Transvaalse kerk, en die gulhartige wyse waarop die Natalse versoek om organiese eenwording begroet is, spreek meer as duidelike taal.  Die kerk is kennelik op weg tot die herstel van sy eenheid.  As ons ons nie geheel-en-al bedrieg nie, dan het ons hierin ’n simptoom van ’n innerlike drang in die kerk wat realisering soek.  Hoe anders is dit nou as in 1912, toe die meerderheid van die kerkrade in die vier provinsies, ten spyte van die feit dat die Volksraad in 1911 al wetgewing gepasseer het wat die kerkvereniging moontlik gemaak het, teen die kerkvereniging gestem het (uit vrees vir gelykstelling en ’n verkleinde sinode!).  Daar is klaarblyklik ’n begeerte by die kerk om terug te gaan tot die eenheid van voor 1853, en hoewel dié eenheid alleen dan werklik herstel sou kon word as ook ons broeders van die Hervormde en Gereformeerde Kerke weer by ons gevoeg kon word, wil die Transvaalse kerk tog kennelik alles wat in sy vermoë is, doen om soveel as moontlik van die oorspronklike eenheid te red.  Dat daar in die toekoms ook nog daadwerklik gedink sal word aan ’n eerliker onderhandeling met die twee Susterkerke, blyk enersyds uit die aanvaarding van die aanbeveling van die Raad van die Kerke om ’n beter gesprek met die twee Susterkerke aan te knoop as wat in die bestaande Inter-kerklike Kommissie moontlik was, en andersyds uit die welwillendheid waarmee albei die afgevaardigdes van die Susterkerke se verwysings na die moontlikheid van ’n betere onderlinge begrip ontvang is.  Die groot vraag is nou nie of dié dinge met ’n handomdraai bereik gaan word nie, en die vraag is ook nie of ons met ’n alte lewendige realiteitsin (of ongelowigheid?) skouerophalend oor die moontlikheid van volledige eenwording kan glimlag nie, maar of die kerk ten minste die moed het om nog oor dié dinge te dink en in sy sinodale besluite selfs iets van sy heimwee kan laat deurskemer!

Wat vervolgens die begeerte betref om die Gereformeerde karakter van ons kerk te beklemtoon, dit is iets wat in die Transvaalse sinode herhaaldelik na vore getree het op ’n onmiskenbare wyse.  Ons wil gereformeerd wees, ons wil ons erfenis nie verruil of verwater nie.  Weliswaar het die moeisame vaart oor die stormagtige see van die geskiedenis meer as een ding stukkend geslaan en meer as een ding lamgelê.  Die sinode was dan ook nie bevrees om oor ons kerk te spreek en te sê dat daar ’n reële bedreiging vir ons bestaan om in ’n volkskerk te ontaard nie.  Maar die sinode het ook weer geen twyfel daaroor gelaat nie dat ons geen volkskerk wil wees nie, dat ons intensie is om ’n belydenis-kerk te wees.  Eenparig neem die sinode die volgende besluit: “Ten einde die kerk te vrywaar van die reële bedreiging om in ’n volkskerk te ontaard, doen die sinode ’n beroep op ampsdraers om strenger toesig te hou by die doop en die nagmaalsbediening, asook die aflê van belydenis en die toepassing van die kerklike tug na die eis van Gods Woord.”  Hierdie besluit staan nie geïsoleerd nie.  Dit is asof daar ‘n worsteling in die kerk is om te herstel wat in die storms stukkend geslaan is.  ’n Beskrywingspunt wat pleit vir die herstel van die visitatores (vgl. Dordtse Kerkorde, art. 44) is verwys na die Kommissie vir Aktuele Sake wat by die volgende sinode sal rapporteer.  Van verskeie kante is aangedring (by wyse van beskrywingspunte en andersins) op ’n verhoging van die ouderdom waarop jongmense toegelaat sal word om belydenis van hulle geloof te doen, en hoewel dit op die oog miskien onbenullig lyk, sit daar iets geweldigs in, omdat verhoging van die ouderdom sal meebring dat hele klasse skoolkinders nie meer as vanself in die belydenisklas sal beland omdat hulle nou eenmaal ’n bepaalde skoolstanderd bereik het nie, maar dat slegs diegene wat as werkende of studerende jongmense werklik ’n begeerte het om belydenis te doen, in dié klas sal beland – iets wat op die lang duur die dood van die massaproduksie van die volkskerk sal beteken!  Hoewel die Transvaalse sinode hom nie finaal hieroor uitgespreek het nie, omdat hy eers die gevoele van die ander gefedereerde Kerke wil inwin, is dit tog ’n teken van moed dat daar van soveel kante op hierdie saak aangedring word.  ’n Ander besluit van die sinode dring met klem by die ringe as visitatores daarop aan om noulettend ag te slaan op die kategismusprediking.  Die sg. Ope-uitnodiging tot die awendmaal (gewoonlik gerig aan lidmate van ons kerk uit ander gemeentes en lidmate van die Susterskerke wat teenwoordig is by die nagmaalsdiens), waardeur persone sonder om hulle vooraf by die kerkraad aan te meld, toegang tot die awendmaal het, is ook sonder slag of stoot afgeskaf.  Die kerk wil meer en meer Bybels dink en handel, en dit bring mee dat daar al meer spore daarvan kom dat die derde kenmerk van die ware kerk, nl. die handhawing van die kerklike tug, swaarder op die hart van die kerk begin weeg as wat die geval was, en dat die suiwerheid van die sakramentsbediening al meer onrus wek.

Dit is in die lig hiervan dat ons ook verskeie besluite van die sinode waardeur sg. interkerklike en buitekerklike bewegings van die hand gewys word, moet verstaan.  Afgesien van die herhaling van die vroeër geformuleerde veroordeling van die Vrymesselary in ’n iets duideliker bewoording (wat die minste is wat ’n kerk wat Christus liefhet, kan doen), het die sinode sy kritiese standpunt teenoor bewegings soos die A.E.B., die Jeug vir Christus en die Morele Herbewapening tog weer duidelik laat blyk, al is die saak van die Morele Herbewapening ook weereens na die Kommissie vir Aktuele Sake verwys vir verdere bestudering.  Hierdie kritiese houding het die misnoeë van een en ander opgewek, maar wie die genade van God in die bewaring van sy Kerk eer, kan nie anders as om dit van harte toe te juig nie, omdat dit daaruit duidelik word dat die kerk ten volle kerklik wil dink.  Dit is een van die kenmerke van die volkskerk by wie die belydenis al meer op die agtergrond kom, dat hy naderhand in ’n slap toleransie verval waaruit alle kerklike bewussyn al lank verdwyn het.  Waarom ’n mens dan nog aan ’n bepaalde kerk behoort, is eenvoudig nie meer duidelik nie, en dit word altyd aangevoel as iets uiterliks wat tog met die wesenlike niks te make het nie.  Die heerlike inhoud van die verbond en van lidmaatskap aan die kerk word nie meer besef nie, en die doop en kerklike belydenis word as uiterlike dinge aangevoel wat wel so hoort in ’n Christelike land, maar wat nog niks sê met betrekking tot ons verhouding tot Christus nie.  Dit is dan net dinge met ’n offisiële karakter sonder ’n lewende inhoud.  En gevolglik word die ware geestelike lewe nie in die kerk as sodanig gesoek nie, maar in die geestelike bewegings in en buite die kerk waar die ware geestelike oudjies, die dierbare ou kindertjies van die Here saamgetrek is.  Wie eenmaal in dié kaders gaan dink, soek hulp vir die werk van die kerk by allerlei geestelike bewegings wat binne die terrein van die kerk moet kom arbei ten einde mense wat offisieel belydenis van hulle geloof gedoen het, nou vir die eerste keer tot die geloof te lei! – As die kerk dié soort van gedagtegang sou goedkeur, sou hy homself nie alleen bankrot verklaar nie, maar hy sou ’n mosie van wantroue stel in die Woord en die beloftes van God, hy sou sy opdrag nie meer verstaan nie, hy sou die werklikheid van die verbond en die sleutelmag nie meer begryp nie, hy sou ophou om kerk te wees en op dieselfde platform gaan staan as die geestelike vereniginge wat nie die gesag van die sleutelmag en die amp ken nie!  Dan sou die kerk die preekstoel moet verruil vir ’n verhoog en sy sakramente vir “socials”.  Nee, as die kerk Bybels wil dink – en Bybels dink en gereformeerd dink behoort tog dieselfde te beteken – moet hy ook kerklik dink, anders toon hy dat hy die waarheidsvraag nie ernstig opneem nie en die opdragte van Mt. 16 en Joh. 20 geringskat, terwyl hy die leiding vin die Heilige Gees in die kerk nie eer nie.

In verband met hierdie hele saak is dit van belang om daarop te let dat die sinode in meer as een opsig ook ’n mate van huiwering laat deurskemer het met betrekking tot sy evangelisasieaksie.  Die Suidelike Streeksinode het byvoorbeeld die idee van ’n tweede pos van sekretaris vir evangelisasie verwerp.  En dit beslis nie omdat dit die gemeentes tien sjielings per punt meer sou gekos het om dié pos te skep nie.  Ook nie omdat die Suidelike Streeksinode iets teen sy veel ge­waardeerde huidige sekretaris vir evangelisasie (wat ontsaglik veel gedoen het om ons evangelisasieaksie op ’n suiwerder basis te bring) het nie, of omdat dit vir die sinode nie ’n saak van belang is of daar siele gered word nie!  Nee, maar omdat die aanstelling van nog ’n sekretaris vir evangelisasie geensins die probleem van kerkvervreemding sal oplos nie, maar die evangelisasiewerk van die kerk sal kontinueer in ’n rigting waarin die kerk dit nie meer voortgesit wil hê nie, nl. die “spesiale dienste” – en “veldtog”-rigting wat reeds tevore deur die sinode van die hand gewys is toe hy die idee van ‘n “spesiale evangelieprediker” laat vaar het.  Dit is buitendien tog nie evangelisasie nie, dit is bearbeiding van lidmate van die kerk asof hulle nie lidmate is nie.  Wat die kerk nodig het, is intensiewe bearbeiding van sy lidmate in elke gemeente langs die normale weë, dit is die herstel van die ampte, die Skriftuurlike prediking, kategese en tug.  En as daar dan spesiale manne afgesonder moet word vir evangelisasiewerk, dan moet dit nie rondreisende sekretarisse wees nie, maar evangelisasiepredikante wat mense bearbei wat nie meer lidmate van die kerk is nie, of evangelisasiepredikante wat deur ’n spesifieke tegniese skoling in staat is om randgevalle en uiters problematiese gevalle (bv. waar sielkundige hulp nodig mag wees) as aanvulling by die normale bediening te behartig.  Ook deur hierdie afwysing van ’n tweede sekretarispos het die Suidelike Streeksinode dus bewys: ons wil gereformeerd dink!

’n Mens sou seker meer kon noem van hierdie simptome van die innerlike begeerte om die gereformeerde karakter van ons kerk te beklemtoon en teen alle koste nie te stimuleer wat daar al aan kenmerke van ’n volkskerk in ons kerk mag wees nie, maar ons volstaan hiermee.  Dit behoort genoeg te wees om ons siening te regverdig dat die Transvaalse kerk sy identiteit as Gereformeerde Kerk wil beklemtoon, as belydeniskerk wat wil wegvlug van die gevaar van volkskerk te wees.  Helaas is die toestand van ons kerk in meer as een opsig reeds sodanig, dat daar baie moed sal nodig wees om alles te herstel wat deur die storms en die getye beskadig is.  Tog is die innerlike drang tot herstel onmiskenbaar, en al is dit miskien nog nie kragdadig genoeg om op die oomblik alle omknellings omver te werp nie, die regte koers is daar en die innerlike beweging is daar, en onder die seënend hand van die Here sal dit ook in staat wees om op sy tyd klipmure te laat bars en die omknelling van ‘n onheilige vermenging van kerk en wêreld te verbreek.

Miskien is dit goed om hier nog ten slotte daarop te wys dat ons kerk op die oomblik ’n geleentheid het om ’n belangrike stap voorwaarts te doen.  Dit raak albei die motiewe wat ons in die naamherstel van die Transvaalse kerk sien saamvloei het, nl. eenheid en gereformeerdheid.  Is dit, met die oog daarop, nie nou die geleentheid om positief te dink aan die volledige herstel van die Dordtse Kerkorde nie?  Wat verhinder ons kerk om, waar ons nou tog met die instelling van streeksinodes en ’n algemene sinode in die rigting van organiese kerkvereniging begin dink, terselfdertyd daaraan to dink om dié vereniging te laat geskied op die grondslag van die Dordtse Kerkorde?  Dit sal nie alleen uitdrukking gee aan die innerlike drang van ons kerk om te herstel wat vermink geraak het in die moeilike geskiedenis van ons kerk sedert 1652 nie, maar dit sal terselfdertyd ’n praktiese en beproefde oplossing bring vir die moeilike vraagstukke rakende die verhouding tussen streeksinode en algemene sinode.  In 1912 het die vereniging van die vier Gefedereerde Kerke onder andere ook skipbreuk gely uit vrees vir die verkleinde sinode, en dit sal vandag ook nog wel ’n geweldige struikelblok vir meer as een wees.  En tog is dit duidelik dat dit eenvoudig nie anders kan as dat die nasionale sinode wat uiteindelik tot stand sal kom as die vier provinsies verenig, verklein sal moet wees nie.  In al hierdie dinge bied die Dordtse Kerkorde ons veilige leiding, en terselfdertyd die waarborg dat daar nie, wat andersins te vrese is, strukture in die kerk kan ontwikkel waardeur sommige predikante blywend die leiding op hulle het en dus byna biskoppelike bevoegdhede kan bekom nie.  Die Transvaalse Wette en Bepalinge het nog nie sover gekom om die verhouding tussen die streeksinode en die algemene sinode te reël in ooreenstemming met die Dordtse Kerkorde nie, en daar sal miskien baie water in die see moet loop voordat dit sal kan gebeur.  Tog is die Dordtse Kerkorde ons wettige besitting, en dit sou tog jammer wees as ons die wysheid en suiwer Skriftuurlikheid van die beginsels wat daarin verwerk is, eenvoudig verontagsaam.  Miskien klink dit fantasties om dit te sê, maar wat kan eintlik daarteen ingebring word dat die kerk weer die Kerkorde volledig aanvaar, behalwe dat ons miskien nie die morele moed daarvoor het nie?  Die Kerkorde is van ons afgeneem deur die geskiedenis, ons kerk het dit nooit vrywillig afgegee nie.  Waarom sal ons dan nie nou die geleentheid aangryp om dit weer terug te neem nie?  Of sal dit miskien bevind word dat dit ons tog nie werklik erns is met die Skrifbeginsels wat daarin verwerk is nie? – Mag God dit verhoed!