Gedagtes oor die Kerklike Tug: Deel 1

GEDAGTES OOR DIE KERKLIKE TUG
Deel 1
Dr WD Jonker
Die Kerkbode, lxxviii (15), 10 Oktober 1956, 665 – 666

Daar is baie lidmate van ons Kerk wat die tug met ’n groot mate van agterdog bejeën, omdat hulle voel dat die tug tog eintlik nie iets is wat by die Kerk hoort nie. In die Kerk moet die liefde heers, so redeneer hulle, en is die tug dan nie ’n saak van straf en boet vir begane sondes, van uitsluit en wegdrywe en afransel nie? Sou dit nie veel beter gewees het as die Kerk liewer die genade van Christus vir gevallenes verkondig, liewer probeer red wat verlore gaan en soek wat sterwe, as om die tug te handhaaf nie? In naam van die liefde, so voel hulle, laat tog die tug maar vaar!
Buitendien, redeneer hulle, hoe kan ’n klompie mense, die Kerkraad, oordeel oor die sondes van andere, terwyl hulle miskien heimlik groter sonde het? Hoe kan hulle op onsedelike mense ’n boetestraf lê, terwyl hulle miskien skuldig is aan baie slegte begeertes, wat tog volgens Christus maar net so skuldig is as die daad self? Is dit nou nie ’n vreeslike onbillike saak nie?
En wie ook maar enigsins staan in ’n gemeentelike lewe en probeer om die kerklike tug te handhaaf, kom met nog veel meer besware van ons lidmate in aanraking, en hy voel geplaas voor die vraag waarom die tug dan tog in die gemeente noodsaaklik is en of die tug in die gemeente werklik sinvol en moontlik is.
Is tug werklik noodsaaklik?
Hier is daar maar net een antwoord moontlik, en dit is ’n baie besliste: Ja! En die redes waarom hier alleen maar ja gesê kan word, is so duidelik, dat enige persoon wat Bybels probeer dink, met hulle sal moet instem.
(a) Vereers is dit duidelik dat, net soos enige huisgesin ’n vaste dissipline moet hê as dit daar gesond moet toegaan, en net soos enige sigbare organisasie ’n vaste orde moet hê as dit aan sy doel moet beantwoord, ook die Kerk as sigbare organisasie, wat in die wêreld bestaan, vaste orde en dissipline (tug) moet hê, as dit aan sy doel moet beantwoord en gesond moet wees. ’n Kerk sonder tug kan nooit gesond wees nie, maar moet siek wees, en gevolglik minder aan sy doel beantwoord as wat Christus se bedoeling daarmee is, en stuur uiteindelik af op verwording en ontaarding.
(b) Wat hierbo genoem is, is egter nog maar die mees uiterlike rede waarom die tug noodsaaklik is. Daar is ’n gewigtiger rede, en dit is die feit dat die Kerk, solank dit op aarde is, blootgestel is aan versoeking en dwaling. Die Kerk is op aarde nog midde in die sonde en die sonde is nog midde in die Kerk. Veel stryd van binne en buite kenmerk die bestaan van die Kerk in hierdie bedeling, en die gevolg is dat die Kerk gedurig blootgestel is aan die moontlikheid van dwaling en leuen. Op die weg van heiligmaking het die Kerk op aarde nog maar min gevorder, en gevolglik is die Kerk soos ’n akker wat gedurig geskoffel en soos ’n boom wat gedurig gesnoei moet word. Solank die ou mens nog in die gelowige aanwesig is, solank bly die tug noodsaaklik om alle verkeerde groei in die Kerk sover moontlik teen te gaan.
Die dwaling wat die gemeente bedreig, is tweërlei van aard: dwaling in leer en in lewe. Die Kerk het ’n roeping om die pand wat aan hom toevertrou is, die suiwere leer, met nougesetheid te bewaar, anders loop hy gevaar om álles te verloor. ’n Kerk wat leervryheid duld, speel met die heilige evangelie wat sy lewe is, en stuur daarop af om bestaansreg te verloor. ’n Kerk wat daarby die lewenstug verwaarloos en maar toesien dat sy lidmate sonder enige inperking onheilig wandel, vermeng homself met die wêreld, wis alle grense tussen Kerk en wêreld uit, en verloor sy geleentheid tot getuienis. Daarby kom nog dat die dwaling in leer en lewe met mekaar saamhang, en dat omgekeerd die dwaling in lewe dikwels ’n dwaling in die leer meebring. Daarom is dit absoluut noodsaaklik dat die Kerk die tug streng moet handhaaf.
As kenmerke van die ware Kerk noem ons Kerk in een van sy belydenisskrifte (Nederlandse Geloofsbelydenis, artikel 29) die suiwer verkondiging van die Woord, die suiwer bediening van die sakramente volgens die instelling van Christus en die handhawing van die tug. Waar die kerklike tug nie gehandhaaf word nie, is daar geen waarborg dat die Woord en die sakramente suiwer bewaar word nie. Verslapping van die tug is dus teken van kerkverval en loop daarop uit dat die kenmerke van die ware Kerk in ’n bepaalde Kerk al meer verdof en later verdwyn.
(c) Die tug is egter ook om ’n derde rede noodsaaklik, naamlik omrede van die huigelaars in die gemeente. Die huigelaars behoort nie werklik aan die gemeente nie, maar deur die belydenis met die mond dek hulle hulself met die naam van Christus, wek dus die indruk dat hulle aan Christus, en dus ook aan sy Kerk behoort. Dikwels kan hulle nie van die ware lede van die Kerk onderskei word nie. Wanneer hulle egter as huigelaars openbaar word, moet hulle deur die tug vermaan word om hulle van hul bose weg te bekeer, en by volharding daarop moet hulle uit die Kerk uitgesluit word. Die tug is noodsaaklik om die kaf van die koring af te skei, om die wolwe uit die skaapstal te verwyder. Die tug moet die middel wees om die Kerk na sy sigbare verskyningsvorm sover moontlik te laat saamval met die onsigbare Kerk, die gemeenskap van ware gelowiges in Christus Jesus.
(d) Al hierdie genoemde redes veronderstel ’n vierde, naamlik dat die idee van die Kerk, soos die Nuwe Testament ons dit toon, eenvoudig die kerklike tug eis. Die Kerk is die geheiligdes in Christus Jesus, die liggaam van Christus. Elke lid van die Kerk moet ’n persoonlike verhouding tot Christus hê, anders is sy lidmaatskap aan die Kerk bedrog. Elke lid van die gemeente moet lewe uit sy verlossing in Christus, en as hy op ’n ergerlike wyse weier om dit te doen, moet hy deur die tug daartoe opgeroep word. Dit is slegs wanneer ’n mens die Nuwe Testamentiese leer van wat die Kerk is, verruil vir die leer dat die Kerk volkskerk moet wees wat soveel mense moontlik moet insluit, omdat die Kerk dan glo die meeste invloed kan uitoefen, dat ’n mens die tug as iets onwensliks moet gaan beskou.
Die volkskerk probeer om almal tevrede te stel, almal in te sluit en niemand “seer” te maak nie. Daarom doop en trou hy maar waar daar ’n moontlikheid vir so iets oopval; laat tot die openbare belydenis en tot die bediening van die amp en tot die gebruik van die Nagmaal almal toe wat maar enigsins lyk of hulle daarvoor gewillig of begerig is, sonder om veel te kontroleer of hier alles met leer en lewe na wense is. En dit alles geskied – o, grote bedrog! – in naam van die liefde. Dán word gesê: die tug hoort nie in die Kerk nie, want die tug stoot af, terwyl die Kerk almal moet probeer aantrek terwyl die Kerk lewer aan almal liefde moet betoon, moet red wat verlore gaan en soek wat sterwe. Maar in werklikheid is die heimlike rede agter hierdie sogenaamde liefde die swakheid, die swakheid om Kerk te wees in die sin van die Nuwe Testament, die swakheid om vir die waarheid uit te kom, die swakheid om ter wille van die ware liefde geen mooi broodjies te bak nie, maar die verlorenes werklik te help deur langs die aangewese weg, die tug, ’n duidelik oproep tot bekering na hulle te laat uitgaan.
So is die handhawing van die tug uiteindelik vir die Kerk ’n saak van gehoorsaamheid. As daar in die Kerk sprake is van tug, dan spreek dit vanself dat dit met straf en afransel en boete niks te make het nie, laat staan nog dat dit die weg sou wees waarlangs ’n klompie liefdelose mense (die Kerkraad) geleentheid sou vind om andere liefdeloos te kasty terwyl hulle self tog ook sondig is. Ons hoop om later op hierdie vraag weer terug te kom. Maar hier kan ons tog baie beslis sê dat die tug eenvoudig vir die Kerk beteken dat hy gewillig word om aan God meer gehoorsaam te wees as aan die mense. ’n Kerk wat geen tug toepas nie, omdat hy bang is om mense van hom te vervreem, speel met die evangelie, laat mense onder die indruk dat alles maar reg is met hulle, selfs al sien hy dat dit nie so is nie, en is daarin nie alleen ontsettend ongenadig en liefdeloos teenoor hulle nie, maar ook meer bevrees vir hul woede of afskeiding van die Kerk, as vir God, wat tog duidelik in sy Woord sê dat Hy die kwade haat en dat dit ontvlug moet word.
Die mens – ook die ongehoorsame kerklidmaat is altyd daarop uit om die Woord van God tot swye te probeer bring, soos die Sanhedrin dit met Petrus en Johannes wou doen: maar die Kerk mag hom nie deur sulke mense die mond laat stop nie, maar moet óók, net soos die apostels, aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense (Handelinge 4: 19 – 20). Daarom moet die Kerk weier om te doop as dit nodig is, weier om te trou waar dit nodig is, weier om tot die openbare belydenis toe te laat, waar dit nodig is, en in die lewe van die gemeente moet die tug daagliks daar wees om die gemeente op te roep tot daadwerklike gehoorsaamheid aan God.
En as die gehoorsaamheid by ’n lidmaat dan volhardend geweier word, dan is die tug ook afsnyding van die Kerk, omdat die Kerk wél bestaan uit sondaars, maar dan ten minste sondaars wat is om in diepe berou oor hul swakheid na Christus te vlug. En as die Kerk dit alles doen, is hy nie liefdeloos nie, maar betoon hy dieselfde liefde wat Christus aan mense betoon het, toe Hy met alle erns mense van Hom laat weggaan het wat, hoewel in baie opsigte ernstig en goed, in die enigste noodsaaklike kortgekom het: die waaragtige vlug tot Hom met hul hele hart (vgl. Lukas 9: 57 – 62 en 18: 18 – 30).