Intreepreek

INTREEPREEK

Psalm 89:1
Gesang 89:, 3
Gesang 155:4
Skriflesing: 1 Petrus 2 : 1 – 10
Teks: 1 Petrus 2 : 5

Drie duidelike waarhede kom uit ons teks vanself na vore:

Die gemeente moet opgebou word;
Waarom dit moet geskied;
Die aandeel van die gemeente daarin (verantwoordelikheid van die gemeente daarvoor).

 Die gemeente moet opgebou word:  dit is nie waar wat dikwels gepreek word dat alles af is die dag met die bekering nie.  Slegs in beginsel is alles ons deel – maar in die praktyk is ons nog so ver daarvandaan van wat ons behoort te wees.  So sien Petrus dit.  Hy skrywe aan mense wat die wedergeboorte deelagtig is (Hoofstuk 1:4); hy spreek van hulle as pasgebore kindertjies (Hoofstuk 2:2); as mense wat gesmaak het dat die Here Goedertieren is (Hoofstuk 2:3).  Hy praat van hulle as mense geroep uit die duisternis na die wonderbare lig (Hoofstuk 2:9), mense aan wie barmhartigheid bewys is (Hoofstuk 2:10). – dit gaan dus nie om ongeredde mense nie; dit gaan om die gemeente van Christus, sy verloste gemeente.  En tog dink Petrus nie daaraan om te sê: en nou het julle alles wat julle nodig het en ek het niks vêrder aan julle te skrywe nie.  Juis na hierdie mense kom hy om sê: julle moet opgebou word, julle moet opgroei soos kindertjies opgroei.  Dit is ʼn langsame en taai proses.  Die gelowiges individueel en die gemeente as geheel moet opgebou, versier en opgevoed word om te word wat God dit bedoel het om te wees.  As Petrus hier praat van “opbou”, het hy spesifiek die innige verbinding met Christus op die oog, die vereniging met Hom en lewe uit Hom.  Die gemeente moet word ʼn geestelike huis, d.w.s. ʼn “huisgesin” van God, beheers deur sy Heilige Gees.  Weereens, die gemeente is dit in beginsel, maar die gemeente moet daartoe opgebou word.

So is dit ook in die gemeente Johannesburg as georganiseerde grootheid – vanjaar reeds 75 jaar oud – uiterlik is hier reeds so veel gepresteer, innerlike werk so baie gedoen.  Maar die proses van opbou is nie af nie: dit sal ook nooit áf wees tot by die wederkoms van Christus nie.  Steeds is daar weer nuwe lede, steeds verkeer ons almal in ʼn toestand van onheiligheid – aan ons opbou in Christus ontbreek so oneindig veel.  Gemeente is soos ʼn skip op ʼn stormagtige oseaan: daar is vóórtgang met die reis, maar temidde van terugslae en aftakeling en skade. – En nou is dit ons onuitspreeklike voorreg om êrens in die geskiedenis van die gemeente.  Miskien sal dit ʼn onopvallende, en in elk geval sal dit ʼn verbygaande deel van die opbou van die gemeente uitmaak.  Maar dit neem nie weg van die feit dat dit ʼn heerlike voorreg is nie.

Maar nou sê ons teks ook waarom die opbou moet geskied.  Die gemeente moet word: ʼn heilige priesterdom, om geestelike offers te bring wat aan God welgevallig is deur Christus Jesus.  Die gemeente se opbou het ten doel die verheerliking van God deur diens.  Die Kerk is in die wêreld terwille van God: om vir die Gees van God ʼn tempel te wees om in te woon; maar ook om terwille van wêreld ʼn diens te verrig.  Die Kerk het ʼn bediening in die wêreld.  Hy skuld die wêreld iets: nl. die evangelie met Woord en daad.  Gevolglik moet die Kerk toegerus, opgebou word om in die wêreld ʼn boodskap te bring.  Hier word gepraat van geestelike offers en wel ter onderskeiding van die diere offers van die Ou Testament, maar daarmee word nie bedoel dat dit minder werklike offers is nie: ons moet onsself leer offer, met ons goed, met ons gebede, alles wat ons het en is.  Die offers wat vir God aanneemlik is, is die verkondiging met woord en daad van die barmhartigheid van God in hierdie wêreld: – vergelyk. vers 9.  Wonderlik dat ons gesamentlik deur ons innige verbintenis aan Christus, deurdat ons ʼn geestelike huisgesin vir God word, meer en meer leer om dergelike offers te bring.  Wonderlike voorreg ook vir ons om te mag arbeid aan daardie opbou van die gemeente.

Maar die teks leer ons ook hier dat die gemeente ʼn plig en ʼn verantwoordelikheid met betrekking tot sy eie opbou het.  Daarom staan hier: Laat julle opbou; verlang sterk soos pasgebore kindertjies, ens.  Daar lê ʼn aktiwiteit by die gemeente self om te kom tot die opbou.  U moet die bediening soek, u moet daarom vra, daarvoor bid, daarin meewerk.  Dit kan nie net van die kant van die besondere ampte kom nie.  Dit kan ook nie geskied as die van die besondere ampte gedra en ondersteun word die gemeente nie.  Sekerlik sal die Here van elke ampsdraer verantwoording vra oor sy ampsbediening in ʼn gemeente.  Maar sekerlik sal Hy ook verantwoording vra oor wat hy gemaak het met die diens van ʼn bepaalde bedienaar van dei Woord in die gemeente. – Ons het gekom om onsself te wy aan die opbou van hierdie gemeente.  Ons vra u om ons diens te aksepteer, om ons te verdra, om ons toe te laat dat ons aan u arbei, om te duld as u vermaan, om te antwoord as ons u iets vra, om die pyn van die ontleedmes en die skêr van die chirurg aan u lewe te duld.  God verwag dit van u  ons is teenoor u gestel in die posisie van ʼn herder en ons moet ons werk doen.  Maar u moet meewerk en ook u sal daarvan rekenskap gee.  Daarom pleit ons by u: laat u opbou deur ons diens heen tot ʼn geestelike huis, ʼn heilige priesterdom wat geestelike offers bring wat aan God welgevallig is.
Amen.

WD JONKER
[Intreepreek van WD Jonker in NG Gemeente Johannesburg op 11.02.1962]