Dankbaarheid is die Geheim van Oorwinning

Dankbaarheid is die Geheim van Oorwinning

Meermale staan ek êrens en wag op ’n Johannesburgse straathoek, terwyl die mense heen en weer verby my maal. Wonderlik, hoe bekommerd en somber hulle gesigte is. Eintlik is daar niemand wat bly of gelukkig lyk nie. Met ’n uitdrukking van uiterste konsentrasie, sorg en bekommernis skuur die meeste mense by my verby. Geen wonder dat die gesigte vol plooie is en die tekens dra van jare van innerlike spanning en worsteling nie.

Dan wonder ek: Sou hier geen Christene in Johannesburg wees nie? Waarom kom daar dan niemand by my verby wat eg en diep gelukkig lyk nie? Is daar dan niks om werklik vrolik oor te wees nie? Is God dan nie ons Vader nie? Het ons nie alle rede om dankbaar en bly te wees nie?

Natuurlik, by myself is ek dan ook maar bly dat die mense wat verbymaal, nie weet dat ek ’n Christen is, selfs ’n predikant nie, want ek weet dat hulle ook aan my nie die blydskap sal merk wat ’n gelowige volgens die Bybel behoort te besit nie. Hierin is ons almal eenders en niemand kan die ander iets verwyt nie. Ons lewe almal onder ’n wolk van ondankbaarheid, en daarom onder ’n wolk van somberheid en bedruktheid. Ons sien nie werklik die dinge raak wat ons vrolik en bly behoort te maak nie.

As ek die briewe van Paulus lees, moet ek altyd weer skaam word. As daar ’n mens was wat seker rede gehad het om onder ’n wolk van bedruktheid te lewe, dan was dit hy. Dink net wat hy alles op die altaar moes plaas vir sy geloof en wat hy alles moes verduur aan haat, onbegrip, geestelike en liggaamlike wreedhede. Blykbaar was hy boonop nie baie gesond nie. Of daar tye van bedruktheid in sy lewe was, weet ek nie. Ek kan nie glo dat hulle heeltemal sou ontbreek het nie, want hy spreek ook meermale van sy behoefte aan troos en hoe die Here hom getroos het. Maar wat opmerklik is, is dat hy dan tog altyd weer bokant die dinge uitgekom het en met ’n vrolikheid en dankbaarheid wat tot verwondering stem, selfs in die gevangenis en in die nag liedere van dankbaarheid gesing het.

Dankbaarheid

Blykbaar is dit waar dat geloof altyd moet uitmond in dankbaarheid, en ongeloof in droefheid en sorg. Dit is wesenlik vir die geloof dat dit ’n mens dankbaaren vrolik maak, soos dit wesenlik vir die ongeloof is dat dit ’n mens in die diepte van bekommernis moet instort. Immers, die geloof laat ons altyd weer die Vader sien, ongeloof laat ons die “dinge” sien. Die geloof laat ons Gods seëninge en liefde sien, die ongeloof laat ons ons teëspoede en donkerhede sien.

Daarom vind die Bybel dit noodsaaklik om ons altyd weer daartoe op te wek om dankbaar te wees, want wie dankbaar is, neem sy posisie in die geloof in. Sodra ons uit die geloof uitval, word ons hart deur talle skaduwees omring.

Dink hier spesifiek aan Paulus se woorde in Efesiërs 5:20, waar hy die gelowiges daartoe opwerk om God die Vader altyd vir alles te dank in die Naam van onse Here Jesus Christus. Die dankbaarheid teenoor God is alleen moontlik vanuit die posisie van die geloof. Wie God in die geloof as sy Vader ken, wie sy standpunt inneem in die Here Jesus Christus, kan nie anders as om dankbaar te wees nie. Hy weet immers dat hy geen vreemdeling is in ’n donker, onherbergsame wêreld wat deur die toeval of die noodlot regeer word nie. Die magtige, die almagtige God is sy Vader. Hy deel in die liefde wat die Vader vir die Seun het. Daarom kán niks oor hom kom, wat nie uit die louter liefde van die Vader oor hom toegelaat word nie. Alles wat oor hom kom, elke wonderlike gawe waarin hy hom mag verlustig en elke donkerheid waardeur hy moet strompel, is die allerbeste wat met hom kon gebeur het, want dit word aan hom gegee en hom toegemeet uit die hart van die Vader. So min as wat die Vader ooit Sy oog van Sy Seun sal aftrek en Hom sou kon prysgee aan wilde magte om Hom, so min sal die Vader ooit Sy oog aftrek van diegene wat in die Seun is. Wie in hierdie vertroue op die Vader lewe, kan alleen maar elke dag van sy lewe met dankbaarheid begin en met dankbaarheid beëindig.

Daarom kan Paulus die gelowiges daartoe opwek om die Vader altyd te dank. Egte dankbaarheid is nie iets sporadies nie, Ek behoort nie net dankbaar te wees as ek iets groots ontvang het, as my beker oorvloei van vreugdevolle gebeurtenisse nie. Ek behoort nie net dankbaar te wees as ek sukses het, as my kinders presteer, as my oes goed is, as my planne slaag, as my ideale bereik word nie. Ek moet altyd dankbaar wees teenoor my Vader, ook as alles teen my skyn te draai en die donkerheid maar nie van my pad wil wyk nie. Juis dan word ons dankbaarheid ’n geloofsoefening. Dit is betreklik eenvoudig om dankbaar te wees wanneer ek van nature en emosioneel bly kan wees oor iets goeds wat my te beurt val. Dit is egter ’n daad van geloof om dankbaar te wees as ek van nature en emosioneel allermins dankbaar “voel”, omdat my omstandighede onaangenaam, bitter en ellendig is. As die Bybel ons tot dankbaarheid opwerk, word daar allermins mee bedoel dat ek God net moet dank wanneer alles met my voor die wind gaan. Daar word bepaaldelik mee bedoel dat ek God moet dank ook in die uur van my droefheid en in die oomblik van my pyn.

Positief

Dit is ’n stuk Christelike lewenskuns om altyd rond te kyk na ’n rede om God nogtans te dank, ten spyte van onaangename omstandighede. Ek kom soms in die hospitaal en vind dat iemand wat nie eers baie siek is nie, hom dodelik kan verknies oor die ramp wat hom getref het, terwyl naas hom iemand lê wat bene en arms verloor het, menslikerwys gesproke geen toekoms meer het nie, en tog God dank vir die vriendelikheid van die mense om hom vir die skoonheid van die ruiker blomme wat sy vrou gestuur het, vir die feit dat hy verlede nag soveel rus van die pyn gehad het, dat hy tog ’n paar uur kon slaap, ens. Ek ontmoet soms mense wat in oorvloed lewe, wat besigheidsbelange in talle sake het, wie se boedel in die honderdduisende beloop, wat in moedeloosheid gedompel is oor één verlies wat hulle ly terwyl naas hulle mense woon wat niks meer oor het in die lewe nie, wat net eenvoudig alles verloor het, en God tog nogtans dank vir Sy liefde oor hulle.

Dit hang soveel af van wat ’n mens se instelling teenoor die lewe is. Dikwels word aan ons is gesê dat ons positief moet dink en positief moet doen. Wat kan egter méér positief wees, as om die verskillende situasies in my lewe telkens te benader met die vraag: Wat is daar in hierdie situasie waaroor ek God werklik behoort te dank? U sal meer vind as wat u dink. As u teleurgesteld is in u bediende, dank God dat dit nie in u man of u kinders is nie. As u motor in ’n ongeluk beskadig is, dank God dat uself met u lewe daarvan afgekom het. As u in ’n ernstige ongeluk betrokke was en veel beseer is, dank God dat ook dit uit Sy hand kom, selfs al kan u nie altyd direk iets anders sien om dankie voor te sê nie.

En as u alles verloor het, sodat daar werklik niks is wat u as ’n ligpunt kan aangryp om God daarvoor te dank nie, dank Hom dan vir Homself en vir Sy liefde. Sê dan soos Asaf: “Wie het ek buiten U in die hemel? Buiten u begeer ek ook niks op aarde nie, want u is die rots van my hart en my deel tot in ewigheid” (Psalm 73–:25-26). U het tog nog die Vader, al het u niks anders nie. En is dit nie meer as voldoende rede om dankbaar te wees nie? As u maar weet wat u aan u Vader het, as u maar sou wil oplet na wat Hy alles vir u doen, hoe Hy u in liefde dag na dag en oomblik na oomblik dra, selfs in u totale verlies van alle ander dinge waarop ’n mens sou kon steun, dan sal u hart begin oorvloei van dankbaarheid oor Sy teerheid. U sal sê: My Vader, ek het niks meer nodig as net vir U nie!

Vir alles

Ek moet u egter nog een verdere stukkie geheim meedeel. Dit is die geheim van innerlike oorwinning oor ons droefheid en teleurstellinge juis deur dankbaarheid. Kyk maar weer na Ef. 5:20. Daar is dit duidelik dat Paulus nie slegs sê dat ek God altyd moet dank nie, maar ook vir alles.

Dit beteken dus nie alleen dat ek moet prober om altyd een of ander rede te vind om God te dank ten spyte van die donker omstandighede wat my omring en in weerwil van alles wat teen my is nie, maar dat ek die geloofsdurf moet hê om God te dank juis ook vir die teenslae wat my tref. Daarin lê die egte geestelike triomf. Dit is veel belangriker vir my geestelike lewe dat ek oor my teenhede seëvier deur God innerlik juis ook daarvoor te dank, as dat ek nooit enige teenspoed ondervind nie. Ek word maar eers geestelik volwasse, as ek die dag in staat word om ook my teenspoed uit die hand van God te ontvang en die hand te kus. Dit is eers egte oorwinning, as ek in staat word om diegene wat my in die wêreld beswadder, my goeie naam in die gedrang bring en my veel leed berokken, nie te ontmoet met die wraak van die vlees wat dieselfde dinge terug doen, of ook met die welsprekendheid van die vlees wat op alle slakkies sout wil lê en só myself voor die mense wil regverdig nie, maar met dankbaarheid teenoor God dat Hy sulke dinge oor my bring om my tot my juiste formaat terug te bring. Dit is eers egte oorwinning wanneer ek in al my teenhede leer om met Paulus te sê: “Daarom het ek behae in swakhede, in mishandelinge, in node, in vervolginge, in benoudhede, om Christus wil. Want as ek swak is, dan is ek sterk” (2 Korintiërs 12:10).

Ek moet my telkens daaroor verwonder dat dinge wat ek na jare eers leer ontdek, eeuelank reeds in die Bybel staan en deur al die heiliges al geweet en beoefen is, voordat ek, ontydig geborene, deur die Gees langs dieselfde pad gelei word om dinge raak te sien wat Paulus al geweet het. Ja, en voor Paulus Job al, wat kon sê: “Die Here het gegee, die Here het geneem, die Naam van die Here sy geloof.” (Job 1.21).

Hoe word ’n mens bevry van kleinlikheid en kleinserigheid, van die neiging om jouself te verknies en te bejammer, as jy eenvoudig net kan leer om in die geloof te lewe, om op te kyk in die aangesig van God en Hom só te vertrou, dat elke ding wat uit Sy hand jou toevloei, deur jou met dankbaarheid ontvang kan word nie! Laat my jou vreugde sien en ek sal weet of jy ’n Christen is.

WD Jonker
[Artikel deur WD Jonker in Die Voorligter, vol xxxi(2), Januarie 1968, 14]