Dordtse Leerreëls – 350 jaar oud

Die Kerkbode ci(8), 21 Februarie 1968, 265/6 en 268
Dr. W. D. Jonker

Die Dordtse Leerreëls is vanjaar 350 jaar oud. Maar hoeveel van ons lidmate ken die belangrike belydenisskrif van ons kerk? In hierdie boeiende artikel vertel DR. W. D. JONKER van die Sinode van Dordrecht en sy betekenis vir ons — ook vandag nog. Dit sal tot ons skade strek as ons hierdie belydenisskrif vergeet wat die heerlike waarheid van die uitverkiesing so duidelik verkondig.

Belydenis van Gods Genade

Die Sinode van Dordrecht in sitting

Dit is vanjaar op 13 November presies 350 jaar gelede dat die Sinode van Dordrecht byeengekom het om die strydpunte rondom die leer van Arminius te behandel en daaroor te beslis. Dat dit vir die Kerk van Christus, en in die besonder vir die Gereformeerde Kerke van Nederlandse agtergrond, ’n Sinode van die allergrootste betekenis was, kan niemand betwyfel nie. Die beslissings wat daar geval het, bly tot vandag nog in die mees pertinente sin aktueel.

Die 350-jarige herdenking van die Sinode van Dordrecht mag dan ook nie ongemerk onder ons verbygaan nie. Die Algemene Sinode van 1966 het op grond van ’n beskrywingspunt van die Sinodale Kommissie van die Vrystaatse Kerk besluit om dit aan die Kommissie vir Leer en Protestantse Aksie op te dra om aandag te gee aan ’n gepaste herdenking van die Sinode van Dordrecht. Die Kommissie het op sy beurt die saak bespreek en besluit om (a) die twee hoogleraars in dogmatiek aan ons Fakulteite in Pretoria en Stellenbosch te versoek om ’n spesiale wetenskaplike publikasie oor die arbeid van die Sinode van 1618-1619 voor te berei en om (b) in die begin van 1968 die feit van hierdie 350-jarige herdenking onder die aandag van ons gemeentes te bring, sodat individuele kerkrade aandag kan gee aan die maniere waarop ons gemeentes opnuut bewus gemaak kan word van die belangrike erfenis wat van daardie Sinode ons deel geword het. Moontlik kan leraars vanjaar by die Kategismusprediking meer in die besonder aandag gee aan die sake wat by die Sinode van Dordt behandel is. Moontlik kan dit by die bidure of ander gemeentelike byeenkomste gedoen word. Miskien sal dit goed wees as ’n paar artikels in die gemeenteblad daaraan gewy word. ’n Konferensie met die gemeente kan van groot nut wees. Dit kan ook vanjaar tydens ons Ringskonferensies met die gemeentes ter sprake kom. En les bes, moontlik wil Die Kerkbode ’n spesiale uitgawe aan die Sinode van Dordrecht wy!

Waarom van Belang?

Waarom is die Sinode van Dordrecht dan van soveel belang vir ons?

Arminius, teen wie se dwaalleer die Sinode van Dordrecht besluit het omdat dit daar gegaan het om die hartaar van ons Bybelse belydenis: die belydenis van Gods genade.

Omdat dit daar gegaan het om die hartaar van ons Bybelse belydenis: die belydenis van Gods genade.

Die meeste van ons lidmate is maar sleg vertroud met ons belydenisskrifte. Hulle vind dit in elk geval droë en onaantreklike leesstof. Sommige van hulle sal nie eens in staat wees om die drie belangrike gereformeerde belydenisskrifte agtermekaar op te noem nie! Tog sal dit blyk dat die meeste van hulle wel ’n redelike vertroudheid met die Heidelbergse Kategismus vertoon en in ’n mindere mate miskien ook van die Nederlandse Geloofsbelydenis weet. Die Dordtse Leerreëls is egter meestal vir hulle ’n “geslote boek”. Hierdie belydenisskrif, wat deur die Sinode van Dordrecht opgestel is ten einde die Bybelse belydenis teenoor die opvattinge van Arminius en sy aanhangers te handhaaf, is ongetwyfeld die mins bekende, en daarom miskien ook die mins geliefde van ons drie belydenisskrifte. Dit behoort nie so te wees nie. Die Dordtse Leerreëls behandel sake wat só sentraal vir ons belydenis is, dat dit ’n groot skade vir ons kerklike lewe moet beteken as dit ’n belydenisskrif sou word wat vir die gewone lidmaat in die praktyk haas nie meer bestaan nie.

Een van die redes waarom die Dordtse Leerreëls so onbekend is, is die feit dat dit handel oor sake wat in die gewone prediking meestal nie so direk aan die orde gestel word nie. Immers, die Dordtse Leerreëls handel in hoofsaak oor die uitverkiesing. Die uitverkiesing is egter ’n tema wat in ons prediking selde direk ter sprake kom. Oor die algemeen is die neiging by ons om veel meer klem te lê op die evangeliese oproep tot bekering, op die verantwoordelikheid van die mens om die beloftes van God aan te gryp en daarop te vertrou en op die geloof waarmee Christus en al Sy weldade toegeëien word, as op die uitverkiesende handeling van God waarmee Hy ons uit louter barmhartigheid vir Homself gekies het voor en sonder dat ons eie optrede of gesteldheid enige rol daarby kon speel.

Misverstand

In werklikheid het alles in die prediking egter met die uitverkiesing te doen, al is dit dan ook indirek. Niemand kan die evangelie van Gods genade suiwer verkondig, as hy nie verstaan dat dit ’n blye tyding van genade is nie, van magtige, oorwinnende genade. Dit het geen sin om bekering te preek, as dit nie kan geskied teen die agtergrond van die versekering dat Gods liefde aan ons bekering voorafgaan en dat Sy keuse ons keuse eers moontlik maak en oproep nie. Dit het geen krag om die mens te wys op sy verantwoordelikheid om Christus in die geloof aan te neem, as ons nie terselfdertyd weet dat ook die besef van hierdie verantwoordelikheid alleen deur die Heilige Gees gewerk kan word en dat ook die geloof ’n gawe van Gods uitverkiesende genade is nie.

Die uitverkiesende genade van God is die veronderstelling van alle prediking, as dit ten minste Bybelse prediking wil wees. Die boodskap van Gods genade is die hart van die evangelie, en wie genade sê, sê daarmee vanself ook uitverkiesing.

Daarom is dit so noodsaaklik dat ons hierdie dinge vanjaar uitdruklik in die prediking aan die orde sal stel. Dit sal aan ons ’n geleentheid bied om baie misverstande uit die weg te ruim en ons lidmate te troos met die boodskap van die uitverkiesende liefde van God.

Gedenkpenning gemunt ná de Sinode van Dordrecht in 1619. Die inskrywing om die rand lees: Hulle sal soos die berg Sion wees.

Daar is ontsaglik veel misverstand oor die leer van die uitverkiesing. Talle van ons lidmate is behoorlik bang vir hierdie leerstuk, omdat hulle om die een of ander rede meen dat dit ’n bedreiging is vir die heerlike beloftes van die Evangelie. Hulle voel dit aan as ’n besemstok wat agter die deur gebêre word, waarmee ’n mens uiteindelik tóg weer ’n slag kan ontvang, nadat jy in vertroue op die genade oor die drempel van die huis ingegaan het. Baie lewe by deterministiese opvattings oor die uitverkiesing en meen dat die leer van die uitverkiesing beteken dat ’n mens ondanks jou vertroue op Christus moontlik tog verlore sal kan gaan, omdat jy sal blyk nie uitverkies te gewees het nie. Baie meen dat die leer van die uitverkiesing, alles relativeer, en dat dit alles van sin berowe, as alles dan tog vantevore klaar besluit is en onveranderlik vasstaan … Hulle kan alleen die hardheid van ’n onveranderlike dekreet daarin vind, en mis die orgaan om die soetheid van die Evangelie daarin te proe.

Hierin moet hulle gehelp word. Hulle moet leer sien dat die uitverkiesing die hart van die Evangelie is, omdat dit die grond is waarop die genadeboodskap rus. Hulle moet leer om die liefdevolle en genadige Vader agter die uitverkiesing te sien, die God van liefde, sodat ook húlle kan juig oor die uitverkiesing en daarin ’n grond van troos en bemoediging kan vind. Hulle moet leer om te verstaan dat ’n mens oor die uitverkiesing nie buite Christus om kan of mag praat nie. As Christus vir ons dierbaar is, is ons uitverkiesing in Hom ook vir ons dierbaar. Hy is die spieël van ons salige uitverkiesing …

Baie Vrae

Dit alles kan ’n leraar sy gemeente probeer leer wanneer hy die Dordtse Leerreëls vir homself en vir die gemeente opnuut deurwerk en tot sy eie maak. Onteenseglik vorm Christus die middelpunt van hierdie leerreëls en die grootheid van Gods genade word daarin op ’n heerlike wyse bely. Die religieuse kern van hierdie hele belydenisstuk is die erkenning van die absolute verdorwenheid van die sondige mens en die volstrekte genade van God wat alleen daartoe in staat is om hom te red. God word groot gemaak in Sy liefde, die mens word na waarde geskat in sy ellende. Daarin spreek hierdie belydenisskrif maar net die Skrif stap vir stap na.

Wie met die gemeente deur die Dordtse Leerreëls wandel, moet verwag om baie vrae op te wek en diskussies sal nie kan uitbly nie. Maar dit kan geweldig vrugbaar wees. Misvattings oor die betekenis van die kruisdood van Christus, oor die aard en betekenis van die wedergeboorte en talle ander dinge sal vanself onder die oordeel van die Woord geplaas kan word.

In ons tyd van belydenisverval en belydenisnivellering is dit ’n saak van dringende belang dat ons op hierdie grondslae van ons Bybelse belydenis opnuut die aandag sal vestig. As ons dit biddend doen, met heilige oortuiging en ’n toegewyde gemoed, sal dit ook nie aan die gemeente aanstoot gee nie, maar inteendeel die gemeente opwek tot groter lofprysing van Gods genade en ’n sterker besef van die lengte en die breedte en die diepte en die hoogte van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is.