’n Vreemdeling op die Aarde

’n Vreemdeling op die Aarde
WD Jonker
(Rede by die sluiting van die Kweekskool op 21 Nov. 1975 – geplaas op versoek van die proponente)

In die aangrypende lied oor die wet van God, in Psalm 119:19 staan hierdie aangrypende woorde: “Ek is ’n vreemdeling op die aarde; verberg u gebooie nie vir my nie.” As ’n mens jou daarmee besig hou, gaan daar vir jou perspektiewe oop wat vir ons by hierdie geleentheid, waar ons bymekaar is vir die toelating van 50 jong manne tot die evangeliebediening, besondere betekenis kan hê.

Die digter noem homself ’n vreemdeling op die aarde. Dit is nie snaaks dat hy dit doen nie. ’n Mens wat werklik met God wandel, is altyd ’n vreemdeling op die aarde. Dit hang daarmee saam dat hy deur God geroep is, dat ’n Woord in sy lewe geval het en in hom ingedring het, dat die Heilige Gees van hom sy tempel gemaak het. Dit bring noodwendig afstand teenoor die sondige wêreld tot stand.

Reeds in die Ou Testament merk ons die vreemdelingskap van Abraham en die aartsvaders, van die profete en al die geloofshelde van wie Hebreërs 11 getuig dat hulle vreemdelinge en bywoners op die aarde was wat ’n beter vaderland gesoek het. Die fisiese vreemdelingskap van Abraham was ’n heenwysing na die geestelike vreemdelingskap wat in ’n sondige en chaotiese wêreld altyd die deel sal wees van diegene wat in die geloof wandel. Hulle wandel immers as siende die Onsienlike. Hulle verwag die hemelse vaderland, die nuwe hemel en die nuwe aarde. Hulle burgerskap, sê Paulus in Filippense 3:20, is in die hemele. Daarom val hulle ook op in die wêreld, ’n feit waarop veral in die briewe van die apostel Petrus groot klem gelê word, omdat hulle lewenswandel anders word as dié van ander mense. Paulus sê in Romeine 12:2 dat Christene nie aan hierdie wêreld gelykvormig moet word nie. Daar moet ’n sekere distansie kom tussen die Christen en die wêreld, anders kan die Christene nie die sout van die aarde en die lig van die wêreld wees, soos Jesus dit aan hulle toegesê het nie (Matteus 5:13 ev).

Dit alles geld sonder meer van alle Christene. By hierdie geleentheid wil ons egter daarop klem lê dat dit óók vir die predikant geld. As hy werklik in die geselskap van die apostels en profete wil verkeer – en dit behoort hy te doen, waar hy immers met die gesag van die apostels en profete die Woord van God in die wêreld moet bedien – dan moet die element van egte vreemdheid teenoor die wêreld wat hulle woord en wandel gekenmerk het, ook in hom gesien kan word.

 

Gevaar van aflegging van Profete-mantel

Dit is een van die grootste probleme van ons as predikante dat ons so maklik ingekapsel kan word in die samelewing, dat ons die egte vreemdelingskap van ’n dienskneg van God byna heeltemal kan verloor. Dit is ’n groot versoeking vir die predikant om ’n gesiene man in sy omgewing te wil word. As ons eers op bepaalde maniere ingeskakel is by die vooraanstaande mense in die gemeenskap en dit vleiend vind om in hulle kringe in tel te wees, kan dit maklik gebeur dat ons ons kritiese distansie teenoor hierdie spesifieke gestalte van die wêreld kwytraak. Ons merk dan dikwels nie meer dat ons van rol verwissel en dat ons die profete-mantel aflê ten gunste van die funksie van ’n algemene kulturele leier vir die gemeenskap nie. En ons merk daarmee saam nie dat ons denke en doen uiteindelik meer gestempel word deur die opvattinge en wense van die gemeenskap, as deur die Woord van God nie.

Dat die mense in die gemeenskap wat so maklik daarin slaag om ons van ons vreemdelingskap te laat afsien, meestal Christene en lede van die kerkraad kan wees, maak geen verskil aan die feit dat ons as predikante uiters versigtig vir hierdie versoeking moet wees nie. Daar is opsigte waarin ons ons vreemdelingskap teenoor die gemeenskap wat ons bedien, eenvoudig moet bewaar, in hulle eie belang, maar ook in belang van die geloofwaardigheid van ons rol as bedienaars van die Woord. Daar is tog altyd terreine van hulle lewe waarin hulle lewe en opvattinge nie in ooreenstemming met die Woord van God is nie, maar waarin hulle wandel volgens die begeerlikhede van die vlees. ’n Blink vernislaag vroomheid bedek dikwels by ons almal ’n wêreld van ongehoorsaamheid en ongeregtigheid. Wanneer ons as predikante so ingekapsel raak in die samelewing met sy ongeregtigheid dat ons nie meer die sonde kan raaksien en pertinent daarteen kan waarsku nie, dan het ons opgehou om vreemdelinge op die aarde te wees. Dan het ons deur ons eie skuld onder die oordeel gekom – dat Gods gebooie vir ons verborge is – soos die Psalmdigter sê. En dan werk ons miskien mee aan ’n proses van aftakeling en verharding in die kerk, eerder as dat ons dit toeberei as ’n bruid vir Christus, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks.

Ons kan as predikante so gekompromitteer raak deur die genietinge van die goeie van die aarde, dat ons volledige kleinburgerlike figuurtjies word wie se harte meer verpand raak aan die aarde as aan die hemel.

Die behaaglikheid van die weelde waarmee ons onsself omring, die gewenning daaraan dat ons altyd die beste huis in die dorp moet bewoon, die mooiste antieke meubels en oorspronklike skilderye versamel, luukse motors bestuur, besigheidsbelange naas die bediening daarop kan nahou, ’n beskermde en gemaklike lewe kan voer – dit alles kan maklik ons vreemdelingskap in die wêreld vernietig.

Dit is in elk geval ver verwyderd van die beeld wat Hebreërs 11 teken van die helde van die geloof wat die proef van bespotting en géselinge deurstaan het, gestenig en in stukke gesaag is, in skaap- en bokvelle rondgeloop, gebrek gely het, verdruk en mishandel is – en van wie daar dan ook staan dat die wêreld hulle nie werd was nie (Hebreërs 11:36–38).

 

So word die Boodskap lewensvreemd

Die merkwaardige is nou egter dat, namate ons as predikante aan die versoeking toegee om tuis te word op die aarde, ons boodskap steeds meer lewensvreemd word. As die predikant nie meer ’n vreemdeling op aarde is nie, kom hy in spanning met die vreemdheid wat aan die Woord van God eie is. Die Woord van God staan met ’n pynlike soort vreemdheid haaks op ons lewe soos dit deur die sonde geword het, en dus ook op ons gesappige en gemaklike lewetjie waarin ons onsself so maklik laat inkapsel. Hierdie vreemdheid van die Woord van God is egter geen lewensvreemdheid nie, want dit wil juis ons lewe raak en verander.

  • Dit het juis iets te sê vir die gewone lewe van elke dag met al sy aspekte.
  • Dit wil ons juis leer hoe om in hierdie wêreld te staan as mense wat ’n eskatologiese visie het; as mense wat ’n nuwe vaderland verwag; as mense wat wandel as siende die Onsienlike.
  • Dit wil ons leer om midde-in hierdie lewe te handel soos Paulus aan die Korinthiërs geskryf het, naamlik dat hulle hierdie wêreld met alles wat daarin is, op die juiste wyse moet takseer en op die juiste wyse moet hanteer, naamlik as ’n voorlaaste werklikheid wat grondig gerelativeer word in die lig van die koms van die koninkryk. Daarom sê hy: “Maar dit sê ek, broeders, die tyd is kort; van nou af moet ook die wat vroue het, wees asof hulle nie het nie; en die wat ween, asof hulle nie ween nie; en die wat koop, asof hulle nie besit nie; en die wat hierdie wêreld gebruik, asof hulle dit nie ten volle gebruik nie; want die gedaante van hierdie wêreld gaan verby” (I Korintiërs 7:29–31).

Dit alles beteken dat die Woord van God ons wil leer om midde-in die volle lewe te staan met die egte vreemdelingskap wat die Christelike hoop in ons lê. Dit het met lewensvreemdheid niks te make nie, dit soek juis in die konkrete lewe die verborge skuilhoeke wêreldsgesindheid op en stel die lig van die wil en die van God.

 

In Spanning met die Woord

Maar, soos gesê, as ons as predikante hierdie soort vreemdelingskap laat ons ontneem deur ons ’n boodskap kleinburgerlike gesapigheid en ’n aardse belangrikheid, dan kom ons in spanning met die Woord van God en dan kan dit nie anders nie, of ons probeer die spanning oorbrug deur ’n boodskap te verkondig wat steeds meer lewensvreemd word. Dit beteken dat ons ’n boodskap verkondig wat nie meer op hierdie gewone lewe slaan nie en ook nie daarop beteken is om hierdie die lewe te raak en te verander nie, altans nie wesenlik nie, omdat ons nie meer die noodsaaklikheid daarvan aanvoel dat hierdie lewe verandering nodig het nie. Die gevolg dat ons die egte vreemdheid van die evangelie gaan verander in lewensvreemdheid, dat ons die Woord van God ons ’n boodskap ruimte gee buite ons gewone lewe, dat ons die kerk ons ’n boodskap kompartement van die lewe maak wat náás die res van die lewe staan as iets wat mooi is in sigself, maar nie bedoel is om op die res van die lewe in te gryp nie. Dan sakraliseer ons die kerk en die godsdiens. Dit word iets verhewe, iets vir die Sondag, iets waarvoor ’n mens eers ’n spesiale kleed moet aantrek as jy daarmee omgaan. Alles word dan heilig in ons ’n boodskap sakrale sin. Die kerkgebou word heilig, die kansel word heilig, die Bybel is in hierdie sakrale sin heilig, die belydenisskrifte is in hierdie sakrale sin heilig – en die predikant self word ook in hierdie sakrale sin heilig.

Dan is dit nie snaaks as ons prediking lewensvreemd word nie, want ons self, met ons hele bonding en gebaar, ons stemtoon en ons uiterlike word lewensvreemd. In ’n tragiese misverstand van die Bybelse woord dat ons waardig die evangelie moet wandel, gaan ons dan so maklik met groot menslike waardigheid optree, waarmee ons dit nogeens onderstreep dat ons die kwaliteit van die egte vreemdelingskap op die aarde mis. Terwyl groot gedeeltes van ons persoonlike lewe afgedek is teen die Woord van God, probeer ons getuig van die gesag van daardie Woord. Terwyl ons nie meer werklik in die praktyk leef by die waarheid wat in die belydenisskrifte bely word nie, probeer ons om op ’n formele wyse absolute trou aan die Belydenisskrifte te sweer. Hoe minder ons van die egte vreemdelingskap van die kinders van God in ons praktiese lewe uitleef, hoe massiewer moet ons ’n lewensvreemde teologie en kerklike praktyk ophou am die skaal te balanseer.

 

Aanstoot

Dit is nie vreemd dat daar altyd weer gemeentelede is wat ernstig aanstoot neem aan hierdie soort wêreld-vreemdheid van die predikante en van die kerk wat onder hulle invloed staan nie. Ons moet versigtig wees om nie te haastig alle kritiek van die kant van gemeentelede en nie-gemeentelede teen die wêreldvreemdheid van ons prediking, teen die dogmatiese verstarring daarvan en dus ook teen ’n groot element van betekenisloosheid daarvan, af te maak as die soort reaksie wat ’n mens van die ongeloof altyd maar weer moet verwag nie. Dit is moontlik dat baie van die kritiek teen ons optrede en prediking vanuit die aanstoot van die ongeloof aan die evangelie kan voortkom. Dit hoef egter nie altyd vanselfsprekend die geval te wees nie. Daar kan soms gemeentelede en nie-gemeentelede wees wat vanuit ’n suiwer intuïsie aanvoel dat daar iets êrens met ons verkeerd is, selfs al kan hulle dit nie altyd goed definieer nie.

’n Mens dink hier maar aan een van die groot kritici van die evangeliedienaars en die kerk in die vorige eeu, Soren Kierkegaard, wat allermins daarvan beskuldig kan word dat hy vanuit ongeloof ’n protes aan die adres van ’n verwêreldlikte kerk gerig het. Wat hom egter veral tot sy vlymskerpe kritiek geïnspireer het, was die inkapseling van die Deense staatskerk in die establishment, sodat die kerk eintlik geen werklik evangeliese invloed meer op die volkslewe kon hê nie. In sy Joernaal skryf hy oor die verburgerliking van die kerk en sê dan onder andere:

“’n Mens sit op Sondag in ’n gesellige kerk, omgewe van prag en heerlikheid soos in die skouburg En dan tree daar ’n vertoonkunstenaar op, in sagte klere, iemand wat op alle moontlike maniere begunstig is met die goeie van die lewe, wat beweer dat dit die hoogste goed is om … alles te mag opoffer!”

Op ‘n ander plek skryf hy:

“In die pragtige slotkerk verskyn statig die hofpredikant, die uitverkorene van die beskaafde publiek, wat optree voor ’n groep vername en hoogbegaafde mense, en ontroerend preek oor die woord van die apostel: “Wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is te beskaam: en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak’.”

En, se Kierkegaard dan: “en daar is niemand wat lag nie!”

 

Midde-in die gewone lewe

Ons word ongeloofwaardig as predikante, ons word ongeloofwaardig as kerk as ons die indruk wek dat ons eintlik maar met ’n spel besig is. Al die herhaalde versekeringe dat dit ons erns is met Gods Woord en met die evangelie, kan nie daarvoor vergoed as ons deur ons houding openbaar dat ons absoluut voorspelbaar is, omdat ons ingekapsel is in die wêreld en daarom nie meer verstaan wat dit is om vreemdelinge op die aarde te wees nie.

Die boodskap van die evangelie behou sy geloofwaardigheid alleen as dit in al sy vreemdheid midde-in die gewone lewe verkondig en uitgeleef word. Albei dinge moet geaksentueer word: die volle vreemdheid van die boodskap én die konkretisering daarvan midde-in die werklike lewe. Die dogma behou sy waarheid alleen as dit in vlees en bloed vertaal kan word. God het sy waarheid geopenbaar in die vlees, in die harde werklikheid van ’n krip en ’n kruis en ’n graf. As dit vir ons met die waarheid van God erns is, mag ons daardie waarheid nie opsluit in ’n gesakraliseerde kerklike ruimte wat onskadelik is, omdat dit buite die werklike lewe bly staan nie. Ons moet navolgers van God word, soos geliefde kinders, deurdat ons die evangelie in al sy vreemdheid vlees en bloed laat word in ons lewenswandel en ons prediking. Alleen dán kan ons die sout van die aarde en die lig van die wêreld wees.

Dit is vandag ons gebed vir u almal, jong broeders, dat die Here u sal leer wat dit beteken om in die ware sin van die woord vreemdelinge op die aarde te wees; dat Hy sy gebooie nie vir u sal verberg nie, maar aan u die wysheid sal gee om só te wandel, dat dit aan u sigbaar kan word dat u in die voetstappe wandel van Hom wat eenmaal die versoeking om te sê dat klippe brode moet word, afgewys het, sowel as die versoeking om die koninkryke van die wêreld te ontvang, maar aan God ontrou te word. Mag dit aan u sigbaar word dat ons burgerskap in die hemele is, en dat ons ’n stad verwag wat fondamente het, waarvan God die boumeester en oprigter is (Hebreërs 11:10).