Die Uitdaging

DIE UITDAGING

WD Jonker
Die Kerkbode, jaargang 130 no. 7, 16 Augustus 1978, 198 – 200; 211.

Een van die gevoeligste kwessies waaroor daar besluit sal moet word, is die aanbeveling van die Federale Raad van Ned. Geref. Kerke dat daar ’n “oorkoepelende sinode” ingestel moet word as uitdrukking van die eenheid van die vier kerke van die Ned. Geref. familie in ons land. Wat hierdie saak van soveel gewig maak, is die feit dat die aandrang daartoe nie van die Ned. Geref. Kerk uitgaan nie, maar van die drie “susterkerke” onder die nie-blanke bevolkingsgroepe wat deur die sendingwerk van die Ned. Geref. Kerk ontstaan het.

Dit is duidelik dat dit vir hierdie kerke nie maar om ’n organisatoriese, formele of kerkregtelike kwessie gaan nie. Die eksistensiële wyse waarop hulle daarby betrokke is, toon dat dit vir hulle eerder gaan om die begeerte dat dit duidelik moet word dat die één kerk van Christus mense van verskillende kleur, ras en kultuur omvat. Hoeveel hulle ongetwyfeld nie blind is vir die noodsaaklikheid daarvan dat die gelowiges in hulle eie taal moet kan aanbid en dat die Christendom inheems moet word binne die verskillende kulture nie, is dit op die oomblik vir hulle klaarblyklik van minder belang as die oortuiging dat kleur, ras en kultuur nie skeidingmakende faktore binne die kerk mag wees nie. Hulle het uiters gevoelig geword vir elke vorm van afgrensing van die verskillende bevolkingsgroepe van mekaar, omdat hulle dit as ’n vorm van diskriminasie ervaar waardeur die blanke Christene die nie-blanke Christene soveel as moontlik op ’n afstand wil hou.

Ondanks alle versekeringe van die kant van die Ned. Geref. Kerk dat sy historiese beleid van afsonderlike kerke vir die afsonderlike bevolkingsgroepe vanuit suiwer sendingkundige oorweginge tot stand gekom het (die noodsaaklikheid van die inheemswording van die kerk), kon hy nie daarin slaag om die kerke wat só tot stand gekom het, daarvan te oortuig dat daar werklik geen diskriminasie mee bedoel word nie.

Vir die besef van die “susterkerke” is daar te veel getuienis uit die verlede en die hede wat daar op wys dat baie blanke Christene onwillig is om Christene van ’n ander kleur werklik ten volle te aanvaar en met hulle die gemeenskap van die heiliges te beoefen. Daarom meen hulle dat die beleid van afsonderlike kerke nie slegs met sendingkundige oorweginge saamhang nie, maar óók met die kleurgevoel van die blanke en sy vrees dat sy identiteit in die gedrang sal kom as hy die gemeenskap van die heiliges met Christene van ’n ander kleur beoefen, omdat dit binne die kerk ’n graad van gelykheid en gemeenskaplikheid sou meebring wat buite die kerk in die samelewing vir die blanke onaanvaarbaar is. Hierdie indruk word by die susterkerke versterk namate die argumente wat vir die bestaan van afsonderlike kerke aangevoer word, nie aan uitsprake van die Skrif oor die aard van die kerk ontleen word nie, maar aan die gedagte dat dit noodsaaklik is om die bestaande volkere verskeidenheid te handhaaf. Daaruit lei hulle af dat dit nie soseer die Skrif of teologiese argumente is wat vir die beleid van die Ned. Geref. Kerk deurslaggewend is nie, maar maatskaplike en politieke sentimente.

’n Toets

Dit is moeilik om dit anders te interpreteer, as dat die aandrang op een sinode van die kant van die susterkerke bedoel is as ’n toets vir die bereidheid van die Ned. Geref. Kerk om die eenheid van die kerk wat onomwonde deur die Ned. Geref. Kerk bely word, ook in die praktyk uit te leef. Daarom is dit waarskynlik ook nie ’n sinode as institutêre liggaam wat vir hulle die belangrikste is nie, maar ’n vorm van kerklike samelewing wat alle twyfel daaroor uit die weg ruim dat hulle gelykwaardige lede van die liggaam van Christus aanvaar en vertrou word.

Dat hulle om ’n “oorkoepelende sinode” vra, wys waarskynlik daarop dat hulle dit beskou as iets wat vir die Ned. Geref. Kerk die maklikste aanvaarbaar sal wees. Dit sal weinig ingrypende wysiginge in die huidige kerklike opset noodsaaklik maak. En tog sal dit ingrypende implikasies hê, omdat dit op ’n betekenisvolle wyse sigbaar sal maak dat die vier kerke bereid is om as ’n eenheid met mekaar saam op weg te gaan, hulle dit oor en weer aan mekaar toe te vertrou en almal saam te laat beslis oor sake wat die kerk as geheel gemeenskaplik raak. Dit sal die element van vryblywendheid in die verhouding van die kerke tot mekaar wegneem en die aangewesenheid op en verbondenheid aan mekaar institutêre gestalte gee. Die een sal nie meer sonder die ander na die Woord van God kan luister of die betekenis daarvan vir die kerk in sy konkrete situasie kan probeer formuleer nie.

’n Mens vra jouself af of die susterkerke so sterk op een sinode sou aangedring het, as daar voldoende openheid, kontak en gemeenskap tussen hulle en die Ned. Geref. Kerk sou bestaan het. Dit is moeilik om te sê. Maar dit kan hiermee wees soos met alle verhoudingsituasies: eers as die egtheid van die liefde betwyfel word, word daar om waarborge gevra. Waarskynlik is dit so dat die susterkerke nie meer oortuig is van suiwerheid van die motiewe van die Ned. Geref. Kerk in sy verhouding tot hulle nie. Daarom kom hulle met ’n versoek wat die Ned.Geref. Kerk gaan dwing om aan hulle maar ook aan homself helderheid te verskaf oor wat werklik vir hom deurslaggewend is in verhouding tot hulle.

Agterdog

Die groot probleem is nou egter dat hierdie skuif van die susterkerke deur baie lidmate van die Ned. Geref. Kerk met ’n groot mate van agterdog begroet word. Van hulle kant vrees hulle dat dit by die susterkerke nie uit suiwer geestelike motiewe gebore is nie, maar uit politieke oorweginge. En ongelukkig is daar ook wat hulle betref, dinge wat gesê is en gesindhede wat geopenbaar is wat hulle laat vermoed dat die gevraagde oorkoepelende sinode as ’n instrument vir politieke doeleindes gebruik wil word en nie soseer as ’n orgaan vir die uitdrukking van die gemeenskap van die heiliges nie.

Net soos baie binne die susterkerke die houding van die Ned. Geref. Kerk in sy verhouding tot hulle interpreteer as die resultant van vereenselwiging met die blanke en sy politieke opvattinge, so interpreteer baie binne die Ned. Geref. Kerk die begeerte by die susterkerke om tot ’n groter belewing van die eenheid van die kerk te kom as ’n vorm van politieke strategie wat saamhang met die vereenselwiging van die susterkerke met die politieke aspirasies van die nie-blanke bevolkingsgroepe in ons land. Hulle vrees dat diegene wat daarvoor pleit, in werklikheid daarop uit is om ’n verhoog te skep waarvandaan hulle die politieke en maatskaplike bestel in Suid-Afrika aan die kaak kan stel, en dit in naam van die Ned. Geref. Kerk.

Bowendien is daar sommige wat vrees dat die een “oorkoepelende sinode” gesien sal kan word as ’n voorbeeld van wat in die politiek ook nagestreef sal kan word: een oorkoepelende parlement vir die verteenwoordiging van alle bevolkingsgroepe in die land. Dit vervul hulle met diepe agterdog en maak dit vir hulle bykans onmoontlik om in die hele saak iets anders as politieke motiewe te ontdek.

Onder hierdie omstandighede het dit weinig sin om ’n kerkregtelike redenasie oor die voor- en nadele van die oorkoepelende sinode te voer. Die saak lê nie vir een van die betrokke partye op ’n suiwer kerkregtelike vlak nie. Vir die leiersfigure van die susterkerke is alle argumente wat vanuit die geledere van die Ned. Geref. Kerk teen die instelling van ’n oorkoepelende sinode aangevoer word om te bewys dat so ’n sinode onnodig, ongereformeerd, kerkregtelik verkeerd en prakties onuitvoerbaar is, niks anders as ’n vorm van rasionalisasie van die onwil om saam met hulle die eenheid van die kerk uit te lewe nie.

En vir baie binne die Ned. Geref. Kerk is alle argumente wat van die ander kant aangevoer word om te bewys dat die Bybelse eis tot eenheid van die kerk hier ter sake is, net so ongeloofwaardig, omdat vermoed word dat die Bybel maar net handig gebruik word om die eintlike doel te bereik, nl. die aftakeling van die huidige politieke en maatskaplike bestel. Dit beteken dat daar ’n wedersydse wantroue bestaan wat ’n sinvolle teologiese gesprek feitlik onmoontlik maak, omdat dit die gespreksgenote verhinder om werklik na mekaar te luister.

Meerderheidsbesluit

Juis daarom wil dit voorkom asof ’n blote meerderheidsbesluit op die komende Algemene Sinode vir of teen die aanbeveling van die Federale Raad nie genoeg sal wees om die situasie te beredder nie. Gestel immers die Algemene Sinode sou besluit om die aanbeveling van die hand te wys, dan is dit feitlik seker dat die verhouding tussen die Ned. Geref. Kerk en die drie susterkerke sal versleg, dat hulle uitmekaar sal groei en (as God dit nie verhoed nie) uiteindelik teenoor mekaar te staan sal kom. Dit sal immers vir die susterkerke die bevestiging wees van hulle vermoede aangaande die onwil van die Ned. Geref. Kerk om hulle werklik te aanvaar. ’n Mens moet selfs verwag dat ’n dergelike besluit nie alleen by die susterkerke nie, maar ook by baie lidmate in eie midde die misverstand sal wek dat die kerk die weiering om met Christene van ’n ander kleur die eenheid van die liggaam van Christus te belewe, in ’n sekere sin amptelik goedkeur. Dit moet gevrees word dat daar van die kant van die susterkerke ’n innerlike distansiëring van die Ned. Geref. Kerk sal intree wat vir al die kerke skadelike gevolge kan hê. Vir die Ned. Geref. Kerk kan dit beteken dat hy homself steeds meer in ’n posisie van isolasie sal bevind wat veral sy getuienis na buite ernstig kan skaad.

Ook vir die drie susterkerke kan dit die gevaar inhou dat hulle steeds meer in ’n polariserende denke en ’n teologiese klimaat tereg kan kom wat as bedenklik beskou moet word. Daar is reeds binne hulle geledere strominge wat nouer bande met die Ned. Geref. Kerk afwys, gedeeltelik uit verbittering, maar gedeeltelik vanweë hulle simpatie met ’n vorm van “swart teologie” wat verwant is aan die teologie van die rewolusie. ’n Negatiewe besluit deur die Algemene Sinode sal deur hierdie groepe toegejuig word, omdat dit hulle invloed sal versterk. In elk geval sal dit meebring dat die susterkerke sterker binne die invloedsfeer van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke en moontlik ook bepaalde buitelandse kerke te staan sal kom.

Maar gestel die Algemene Sinode sou met ’n meerderheid besluit om ja te se vir die gedagte van ’n oorkoepelende Sinode, moet daar, soos sake tans staan, ook probleme verwag word. So ’n besluit het alleen sin as die voorwaardes vir die implementering daarvan aanwesig is, nl. wedersydse vertroue, ’n begrip vir die ware aard van die kerklike gemeenskap en ’n liefdevolle openheid vir mekaar. As dit ontbreek, sal waarskynlik gebeur wat nou reeds voorspel word, nl. dat ’n gedeelte van die lidmate van die Ned. Geref. Kerk in opstand sal kom daarteen en dat by ’n eventuele samekoms van so ’n sinode daar opponerende koukusse en blokstemming kan voorkom, wat die eenheid van die kerk eerder sal bedreig as bevorder.

Dit wil voorkom asof die Ned. Geref. Kerk hom tans in ’n posisie bevind waarin hy alleen maar kan verloor – watter besluit die Algemene Sinode ook al neem. Omdat baie dit besef, is die gevaar groot dat daar in ’n gees van défaitisme geredeneer word dat dan maar die minste van twee euwels gekies moet word. En ’n mens kan vermoed dat die meerderheid dan maar sal redeneer dat dit die minste van twee euwels sal wees om liewer die susterkerke teleur te stel en desnoods selfs te verloor, as om ontevredenheid en verdeeldheid binne die Ned. Geref. Kerk self te waag.

Nie hopeloos nie

En tog moet ons glo dat die situasie nie so hopeloos is nie. As ons in ooreenstemming met die vlees redeneer en optree, moet ons verwag dat die duiwel sy sin sal kry en dat kerke en Christene van verskillende kleur uiteindelik teenoor mekaar te staan sal kom in ’n groeiende proses van polarisasie. Maar daardeur sou ons die ware aard van die kerk verloën en die Heilige Gees bedroef, wat juis in sulke tye van spanning en krisis aan ons die insig en geestelike krag wil verleen om die planne van die Bose te weerstaan. As ons van hierdie aangeleentheid ’n saak van gebed maak en ons sou in gehoorsaamheid wag op die leiding van die Heilige Gees, is dit moontlik dat ’n situasie van verleentheid vir ons verander kan word in ’n geleentheid tot oorwinning.

Dit is nie moontlik om ’n resep te gee vir wat die kerke in hierdie uur moet doen nie, maar ’n paar dinge is tog duideliker.

  • Die eerste is dat ons almal sal moet besef dat die vrae rondom die eenheid van die kerk in ons land ’n besondere sensitiewe karakter dra, omdat hulle so direk in verband staan met die menseverhoudinge wat ook die fundamentele probleem van ons politiek is. Dit bring mee dat ons mekaar maklik oor en weer van politieke motiewe kan verdink as daar verskille oor kerklike verhoudings vrae ontstaan. Wat meer is: dit is ook moontlik dat politieke motiewe wél by almal van ons ’n rol kan speel in ons denke oor die kerklike eenheid. Dit is noodsaaklik dat ons dit nugter onder oë moet sien en met selfkritiek en waaksaamheid die weg van die Skrif moet bewandel.

Die kerk is teen wil en dank altyd ’n politieke faktor. Sy optrede en beslissings het altyd ook politieke implikasies. Dit beteken nou egter nie dat die kerk hom dus maar deur politieke oorweginge mag laat lei nie. Dan sou die kerk sy eie karakter as kerk verloën en tot ’n politieke drukgroep word Die kerk moet inteendeel juis daarna strewe om hom enkel deur die Woord van God en die geestelike en teologiese oorwegings wat daaruit voortvloei, te laat lei. Alle politieke implikasies van die kerk se optrede is onberekende newe produkte van sy bestaan en mag nooit vir die kerk tot ’n doel word nie. Daarom mag politieke oorweginge nooit vir die beslissings van die kerk bepalend wees nie. Hy hoef hom selfs ook nie druk te maak oor die politieke implikasie van sy optrede nie. Hy kan in elk geval nie by voorbaat oorsien of bereken wat dit sal wees nie.

Wat hy wél moet doen, is om gehoorsaam te wees aan die Woord van God en getrou te bly aan sy eie aard as kerk soos dit in die Skrif omlyn word. Hy moet die koninkryk van God en sy geregtigheid soek, en al die ander dinge sal vir hom daarby gevoeg word. Na die mate waarin die kerk biddend en onder die leiding van die Heilige Gees doen wat reg is volgens die Woord van God met die oog op sy interne verhoudinge, sal die politieke implikasie daarvan noodwendig heilsaam wees. Ook politiek gesproke kan kerk nooit iets beters doen, om slegs waarlik kérk te wees nie.

  • Die tweede wat duidelik is, dat daar op die kerke ’n verpligting rus om in hierdie uur ’n nuwe basis van onderlinge vertroue te skep. As ons analise korrek is, dan is dit juis hier waar die skoen druk. Die Ned. Geref. Kerk as “moeder” van almal behoort hier die inisiatief te neem. Hy behoort grondig in te gaan op die redes waarom sy goeie trou in die susterkerke bevraagteken word. Hy moet alles in sy vermoë doen om aan hulle die versekering te gee dat hy wel vertrou kan word. Dit vereis egter dat hy geen twyfel daaroor moet laat dat hy in geen enkele opsig iets wil afdoen wat die Skrif leer oor die gemeenskap van die heiliges nie. Ons het hierin nie met ’n middelmatige saak te doen waaroor daar verskil van mening in die kerk moontlik is nie. Volgens die Skrif hang die liefde tot en gemeenskap met die broeders onlosmaaklik saam met die liefde tot en gemeenskap met Christus. ’n Mens kan nie die een sonder die ander hê nie. Vir sover daar na buite en binne moontlike twyfel oor sy houding in hierdie saak mag bestaan, moet dit deur die kerk uit die weg geruim word. Eers dán kan sinvol gepraat word oor die formele aspekte van die gemeenskap wat tussen die heiliges beoefen moet word.

Daar rus in hierdie verband ’n groot verantwoordelikheid op die leiersfigure in die Ned. Geref. Kerk. Hulle geniet die vertroue van die kerk. Wat hulle in hierdie tyd sê en doen, sal deurslaggewend wees. Die kerk sal hulle volg, en daar sal waarskynlik min reaksie wees op ’n besluit wat onder hulle leiding geneem word, na watter kant dit ook uitval. Juis daarom is hulle verantwoordelikheid voor God en mens des te swaarder en moet daar dringender as ooit tevore vir hulle gebid word.

Dit geld ook van die leiers van die susterkerke. Ook hulle geestelike en teologiese kwaliteit sal in hierdie uur getoets word. Ook hulle dra ’n geweldige verantwoordelikheid, nie alleen vir hulle eie kerke nie, maar ook vir ons almal. Hulle kan in hierdie tyd baie doen om die onderlinge vertroue te help voed en om misverstande uit die weg te ruim. Vir almal van ons is dat vandag makliker om polarisasie aan te blaas as om dit te probeer voorkom. Maar ons staan voor die aangesig van die God van vrede. Ons is geroepe om uit die versoening in Christus te lewe.

Die uitdaging waarvoor al vier die kerke tans gemeenskaplik staan, is om in die krag van die Heilige Gees by hierdie belangrike kruispunt op die weg ’n oorwinning vir die koninkryk van God te behaal. En dit kan gedoen word as ons almal bereid is om onsself te kruisig, om saaklik te dink en om biddend te luister na wat die Gees aan die gemeentes wil sê.