Die waarde van Latyn vir teologie

Die waarde van Latyn vir Teologie

in

AKROTERION, XXV, 3 September 1980

Departement van Klassieke         Department of Classics
Universiteit                                         University
STELLENBOSCH                               STELLENBOSCH

Onder redaksie van F Smuts
met die medewerking van JE Atkinson, HLF Drijepondt,
P Hasse, MM Henderson en WJ Henderson

INHOUD  /  CONTENTS

Editorial                                                                                                                                   1
Wat het Latyn vir my beteken? – C vd M Brink                                                     2
“Sing his praises…” in Horatian sapphics  – P Murgatroyd                            5
Grammatical theory in antiquity  – Steven Farron                                             6
Die waarde van Latyn vir teologie – WD Jonker                                                  17
Visual analysis of complex Latin sentences  – AV van Stekelenburg        20
Lesse uit die Romeinse geskiedenis: Tacitus, Historiae IV.73,74
– D.A. Pauw                                                                                                                         25
Classical Association of South Africa: Reports on activities                          29
Latin is not dead!                                                                                                               33

DIE WAARDE VAN LATYN VIR TEOLOGIE
WD Jonker

Dit sou ’n oordrywing wees om te sê dat ’n mens heeltemal nie teologie kan studeer sonder ’n kennis van Latyn nie. In die meeste teologiese fakulteite word vandag meestal van handboeke gebruik gemaak wat in een van die moderne tale geskryf is. Latynse terme wat daarin voorkom, word meestal vertaal en is oor die algemeen ook beperk tot ’n aantal geykte uitdrukkings of kernbegrippe wat ook sonder ’n kennis van Latyn aangeleer en selfs hanteer kan word. In hierdie opsig is dit met Latyn nie presies so gesteld as met Grieks en Hebreeus nie. ’n Mens kan van enige student in die teologie verwag dat by in staat moet wees om ’n bruikbare kennis van Grieks en Hebreeus te hê, sodat by ten minste ’n goeie wetenskaplike kommentaar op ’n Bybelboek sal kan verstaan en hanteer. Maar die noodsaaklikheid van Latyn vir teologie lê nie op dieselfde vlak nie.

’n Student in die teologie wat niks meer beoog as om voorberei te word vir die amp van predikant nie en dus slegs ’n eerste graad in die teologie wil verwerf, kan goedskiks sonder Latyn klaarkom en hy kan ook sonder ’n kennis van Latyn sy werk as predikant doen. Die vernaamste teologiese klassieke wat in Latyn geskryf is, is vandag in uitstekende vertalings beskikbaar en dit is nie nodig dat elke teologiese student in staat hoef te wees om hulle in die oorspronklike te lees nie. Daarvoor sou by buitendien ’n graad van kennis van Latyn moet besit wat onder die huidige omstandighede in ons onderwysstelsel net vir enkeles moontlik is.

En tog sou dit ’n geweldige verarming beteken as teoloë heeltemal geen kennis van Latyn meer sou hê nie. Dit geld alreeds vir die teologiese student van wie ons so pas gesê het dat hy goedskiks ook sonder Latyn sou kon klaarkom, die man wat net ’n eerste graad in die teologie nastreef en nie in eerste instansie ’n teoloog wil word nie, maar ’n predikant. Ons het gesê dat by in sy handboeke meestal net ’n aantal geykte Latynse uitdrukkings en terme teë sal kom, wat vir hom vertaal word en maklik deur hom aangeleer en hanteer kan word, ook sonder verdere kennis van Latyn. Die ervaring leer nou egter dat ’n student wat heeltemal geen kennis van Latyn het nie, meestal die vermoë mis om die spesifieke nuanse van betekenis wat in die Latynse uitdrukkings opgesluit lê, te snap, selfs al word dit vir hom vertaal. Die feit dat ons immers nog altyd ’n aantal geykte Latynse uitdrukkings in die teologie gebruik, vloei nie daaruit voort dat dit maar net ’n sekere skyn van geleerdheid gee aan die teoloog nie, maar uit die feit dat daardie spesifieke uitdrukkings in die geskiedenis na vore gekom het om onder spesifieke situasies ’n bepaalde betekenis-nuanse tot uitdrukking te bring wat op daardie oomblik van groot belang was. Om dit te kan snap, moet ’n mens nie totaal doof wees vir Latyn nie. Jy moet ten minste ’n bepaalde agtergrond hê, sodat wat in die vertaling van die begrip in ’n moderne taal na vore gebring word, deur jou saamgelees kan word met die Latynse begrip, ten einde enigsins ’n aanvoeling te kry vir waarom dit presies gaan. Daarom is dit so belangrik dat alle teologiese studente, indien dit enigsins moontlik is, ’n elementêre kennis van Latyn behoort te hê, al is dit dan net genoeg om hulle te help met die beter verstaan van terme wat hulle in elk geval gaan teëkom. Dát hulle sulke terme sal teëkom, staan vas, want daar is eenvoudig ’n aantal Latynse terme wat ons in die teologie nie kan mis nie, nie alleen vanweë hulle historiese betekenis nie, maar ook vanweë die feit dat Latyn ’n seggingskrag het en ’n vermoë om fyn en delikate betekenis-nuanses na vore te bring, wat deur die teologie alleen tot sy eie skade gemis sou kon word.

In bepaalde teologiese vakgebiede geld dit in ’n baie sterker mate as in andere. ’n Mens kan nog praktiese teologie (amptelike vakke), missiologie en die vakke wat te make het met die Bybelwetenskap tot op ’n sekere hoogte bestudeer sonder ’n kennis van Latyn, maar dit word baie moeilik by vakke soos kerkgeskiedenis, dogmatiek, dogma geskiedenis, kerkreg en dergelike meer. In hierdie soort vakke – en miskien is dogmatiek en dogmageskiedenis bier die vernaamste voorbeelde – kom daar soveel geykte Latynse uitdrukkings voor, dat dit reeds vir ’n student op die vlak van ’n eerste graad gewens is om ten minste ’n sekere kennis van Latyn te hê as hy met ’n mate van gemak die stof waarom dit gaan, sy eie moet kan maak. Haas op elke kritieke punt in die ontwikkelingsgang van die dogmata van die kerk funksioneer Latynse begrippe as sleutelterme waarin die stryd van die geeste tot uitdrukking gekom het. Nou kan ’n student sulke begrippe eenvoudig memoriseer saam met die vertalings daarvan, maar dit is tog darem maar ’n uiters onbevredigende manier om dit te doen. Dit blyk nie alleen daaruit dat die meeste studente sulke terme verkeerd weergee in hulle eksamen-antwoorde nie, maar dit blyk nog meer daaruit dat hulle dikwels nie die spesifieke saak waarom dit daarin gegaan het, helder voor die gees het nie. Daarenteen merk ’n mens telkens weer dat ’n student wat werklik kan “inkom” in die betekenis-nuanses van die terme, omdat by ’n bepaalde kennis van Latyn besit, makliker die musiek in die geskiedenis van die dogma kan hoor en dit baie makliker as die andere het om werklik betrokke te raak by die stof wat by moet bestudeer.

Dit alles is reeds waar, het ons gesê, van die student wat maar net ’n eerste graad in die teologie nastreef. Natuurlik neem dit veel groter afmetings aan by die nagraadse studie in die teologie. Op nagraadse vlak word van ’n student nie maar net verwag om met sekondêre bronne om te gaan nie. Daar word van hom verwag om navorsingswerk te doen, om oorspronklik te begin werk en ’n selfstandige oordeel te ontwikkel. Dit kan hy egter alleen doen as hy in staat is om sover immer moontlik ook ’n outeur wat hy bestudeer, in die oorspronklike taal te lees. Gelukkig is die “oorspronklike taal” nie altyd Latyn nie. Wie hom met die teologie van die agtiende tot die twintigste eeu besig hou, kan ver vorder as hy die moderne tale goed beheers. Maar as by hom met ’n outeur wil besig hou wat voor die tyd geskryf het, is ’n kennis van Latyn eenvoudig feitlik deurgaans onontbeerlik. En wat ’n verarming sou dit beteken as ons ons net met teoloë sedert die Verligting moes besig hou!

Die teologie ken ook sy groot figure wat die groot keerpunte in die denke verteenwoordig, die groot knooppunte waarin die prosesse van die rypende denke telkens weer uitgekristalliseer het: Tertullianus, Athanasius, Augustinus, Thomas van Aquino, Luther, Calvyn, Schleiermacher, Bavinck, Barth – om maar enkeles te noem. ’n Mens moet, as jy oorspronklike werk oor enigeen van hierdie figure wil lewer, hulle werke in die oorspronklike kan lees. Dit is net nie moontlik om oor Augustinus ’n betekenisvolle bydrae te lewer, as ’n mens hom nie self kon lees nie. Dieselfde geld van Thomas, Luther en Calvyn. Maar as dit waar is, is ’n kennis van Latyn absoluut onontbeerlik vir ’n nagraadse student wat navorsingswerk wil doen oor die grootste gedeelte van die geskiedenis van die teologiese denke. Dit is wetenskaplik net nie goed genoeg om aangewese te wees op vertalings van die werke van bv. Augustinus en die Reformatore as ’n mens werklik oorspronklike werk oor hulle wil lewer nie, want elke vertaling is op sigself ook ’n interpretasie. Hoewel ons innig dankbaar is vir die uitstekende vertalings van die teologiese klassieke wat ons besit, sal ons dus tog nog altyd daarop moet bly aandring dat ’n student wat navorsingswerk oor die werk van ’n teoloog wil doen wat in Latyn geskryf het, Latyn sal moet kan lees, en dit goed genoeg sal moet kan lees om as dit nodig is, selfs die vertalings te kan weerspreek.

Daarom stel die meeste teologiese fakulteite ook ’n bepaalde kennis van Latyn as voorvereiste vir die studie in die teologie, hetsy op die voorgraadse vlak, hetsy op die nagraadse vlak. En daarom is ’n teologiese fakulteit ook bly as daar studente is wat moeite doen om meer as maar net ’n elementêre kennis van Latyn op te doen. Dit is ’n verryking, nie alleen vir hulleself nie, maar ook vir die teologie as sodanig, wat deur hulle kennis gedien kan word in sy poging om beter te begryp wat in die verlede gedink en gesê is, omdat ons ook vandag nog oneindig veel daaruit kan leer.

(Prof. Jonker is verbonde aan die Fakulteit Teologie aan die Universiteit van Stellenbosch.)