Die maagdelike geboorte van Jesus

Die maagdelike geboorte van Jesus

WD Jonker
Die Kerkbode, 24 Junie 1981

In die geskiedenis van kerk en teologie kom ons dit dikwels teë dat die egtheid van die Bybelse berigte aangaande die maagdelike geboorte van Christus betwyfel word. So weet ons bv. dat die Ebioniete, ’n Joods-Christelike sekte uit die eerste eeu nC, reeds die maagdelike geboorte verwerp het.

Dit is egter veral in die sogenaamde moderne tyd, na die opkoms van die Skrifkritiek en die neiging om die Bybelse berigte op grond van natuur-wetenskaplike opvattinge te beoordeel, dat talle teoloë die historiese betroubaarheid van die berigte van Matthews en Lukas oor die maagdelike geboorte in twyfel begin trek het.

Die argumente wat gewoonlik gebruik word, is dat net twee van die vier Evangelies hierdie verhaal vertel en dat daar verder in die Nuwe Testament geen gewag van gemaak word nie – iets wat tog verwag kon word as dit vir die eerste Christene ’n wesenlike deel van die evangelie was.

Bowendien word daarop gewys dat daar in die antieke tyd meermale verhale vertel is oor die wonder-geboortes van beroemde manne en godsdienstige leiersfigure, ten einde hulle afkoms direk aan die gode te koppel en so hulle gesag bokant enige verdenking te stel. So-iets kon maklik ook die agtergrond gewees het van die verhale oor die maagdelike geboorte van Jesus.

In die besonder word dan gesê dat die vroeë Christelike kerk daarvan oortuig was dat Christus werklik “ontvang is van die Heilige Gees”. Dit op sigself hoef nog nie te beteken dat hy nie ’n menslike vader gehad het nie, maar kon alleen gesien het op die oortuiging dat Hy werklik van God afkomstig was en deur God “gestuur” met ’n besondere roeping, waarvoor Hy deur die Heilige Gees afgesonder en toegerus is.

Hierdie oortuiging aangaande Christus is in sommige kringe in die vroeë kerk tot uitdrukking gebring deur die verhaal van die maagdelike geboorte. Daarom – so word geredeneer – is dit ook moontlik om vaste hou aan die besondere band tussen Christus en die Heilige Gees, sonder om daarmee saam ook nog aan die verhaal van die maagdelike geboorte van Christus te glo.

Sommige teoloë is van mening dat die verhaal van die maagdelike geboorte een van die eerste pogings was om die Godheid van Christus te fundeer, omdat dit die goddelike herkoms van Christus buite dispuut wou stel. Volgens hulle moet dit dan egter nie as ’n baie geslaagde poging beskou word nie, omdat dit onder andere in stryd sou wees met ander elemente uit die oudste verkondiging, soos bv. dat Christus preëksistent was, d.w.s. die ewige Seun van God is wat voor sy aardse geboorte in hemelse heerlikheid by die Vader was. Die redenasie is dan dat as Hy reeds van ewigheid af God is, Hy nie die verwekking deur die Heilige Gees nodig gehad het om as die Seun van God te geld nie.

As ’n gewaagde en afstootlike teorie word die opvatting soms voorgedra dat Christus werklik nie Josef se seun was nie, maar uit ’n buite-egtelike verbintenis van Maria voortgekom het. Dit sou dan die swygsaamheid van die res van die Nuwe Testament oor die maagdelike geboorte verklaar. Die ”stigtelike” gevolgtrekking word dan hieruit gemaak dat Christus werklik so diep as moontlik in ons sondige bestaan ingedaal het – selfs tot in die wyse van sy geboorte.

Aantasting

As ons hierdie opvattinge moet beoordeel, kan ons alleen maar sê dat ons daarin te doen het met ’n aantasting van die gesag van die Skrif. Elke kenner van die Nuwe Testament weet dat daar geen gronde is om aan die feit te twyfel dat die mededelings oor die maagdelike ontvangenis en geboorte van Christus oorspronklik tot die evangelies van Matthews en Lukas behoort het nie. Die pogings om aan die duidelike boodskap daarvan te ontkom, is dan ook nie die resultaat van ’n eerlike oortuiging aangaande die gebrekkigheid van die Bybelse getuienis daaroor nie, maar dit kom voort uit ander oorwegings. ’n Mens vermoed maar dat die oorweging is dat dit natuur-wetenskaplik onmoontlik is dat so-iets kon gebeur het. Daarom word dit ook wegverklaar, sover moontlik egter met die bedoeling om een of ander nobele motief te vind vir die ontstaan van dergelike verhale, soos bv. dat dit ’n poging was om die Godheid van Christus te fundeer of om sy “ontvangenis van die Heilige Gees” plasties voor te stel.

Wat ’n mens hierin altyd weer verwonder, is die ongelooflike naïwiteit van hierdie soort teorieë. As die Ebioniete in die jaar 70 reeds die idee van die maagdelike geboorte van Christus verwerp het, dan vra ’n mens jouself af waarom die ander Christene dan so liggelowig sou gewees het om so-iets te aanvaar, tensy hulle daarvan oortuig was dat hulle daarin met die waarheid te make het. Die eerste Christene was tog ook nugter mense. Lukas, veral, was ’n geneesheer.

Dit is ondenkbaar dat volwasse mense allerlei mitologiese verhale sou opgeneem het in die verkondiging, met of sonder die bedoeling om langs die weg van “vrome bedrog” Jesus se aansien te probeer vergroot of die skandelikheid van sy geboorte te probeer verdoesel.

Maar as die maagdelike geboorte verwerp word, omdat dit natuurwetenskaplik as onmoontlik beskou word, dan wonder ’n mens wat eintlik van al die groot heilsdade van God wat in die Bybel vertel word, staande sal kan bly.

Is die wonders van Christus dan wetenskaplik verklaarbaar? Of sy opwekking van Lasarus uit die dood? Of sy eie opstanding? Van Ruler merk êrens op dat wie oor die maagdelike geboorte van Christus struikel, oor iets betreklik gerings struikel in vergelyking met wat nog alles verder in die Evangelie meegedeel word.

Trouens, is dit nie al vreemd genoeg om in God te glo nie? As ’n mens in God glo, behoort dit nie vir jou vreemd te wees om te kan glo dat Hy wonderdade kan verrig nie. Die hele metode om langs die weg van Skrifkritiek stukkies af te knibbel van die boodskap van die evangelie, soos dit in die Nuwe Testament tot ons kom, is dan ook maar baie bedenklik. Die uiteinde daarvan is dat ’n mens die boodskap van die evangelie self kwytraak. Juis daarom is dit ook nie so onskuldig om die egtheid van die Bybelse boodskap oor die maagdelike geboorte in twyfel te trek nie. In die gereformeerde leer speel die maagdelike geboorte ’n rol van betekenis wat nie sonder meer oorboord gegooi kan word nie.

As daar in die Heidelbergse Kategismus gevra word na die betekenis van die ontvangenis van Christus van die Heilige Gees en sy geboorte uit die maagd Maria, word daar duidelike antwoorde gegee (antw. 35 en 36). Dan blyk dit dat juis die ewige preëksistensie van Christus as die Seun van God vir die Kategismus in verband staan met die maagdelike geboorte.

Die Kategismus dink dus klaarblyklik nie dat die maagdelike geboorte van Christus en sy preëksistensie met mekaar in teenstryd is soos soms in die nuwe teologie gesê word nie. Inteendeel, juis omdat die Persoon, van die ewige Seun van God van ewigheid af bestaan, kon sy vleeswording nie anders gebeur nie, as langs die weg van die aanneming van ’n menslike natuur – wat iets anders is as dat Hy ’n persoon, ’n menslike persoon Jesus, aangeneem het.

Die hele konsep van die inkarnasie, die vleeswording van die ewige Seun van God, staan vir die Kategismus op die spel as die maagdelike geboorte ter sprake kom. Christus se geboorte was geen gewone geboorte nie. Hy is nie verwek soos ander mense nie. Hy kom van buite die mensheid en is nie die produk van die menslike geslag nie.

Dit is nie vreemd dat teoloë soos Berkhof, wat vraagtekens agter die maagdelike geboorte plaas, ook probleme het met die belydenis van die Godheid van Christus nie. Vir Berkhof is Christus ’n menslike persoon wat op ’n onbeskryflik-heerlike wyse deur die Heilige Gees vervul is. Van die preëksistensie van die ewige Seun van God wil hy nie weet nie, altans nie in die tradisionele sin van die woord nie. Daarom bring hy ook nie die maagdelike geboorte van Christus in verband met sy Godheid nie.

Daar is egter nog ’n aspek van die saak wat belangrik is. Vir die Kategismus het die maagdelike geboorte van Christus ook iets te make met die sondeloosheid van Christus. Daarom word gesê dat Christus deur sy maagdelike geboorte aan ons in alle opsigte gelyk geword het, uitgesonderd die sonde. Netso word daar ook gesê dat Hy met sy onskuld en volkome heiligheid deur sy geboorte die sonde waarin ons ontvang en gebore word, voor die aangesig van God bedek. Klaarblyklik is die bedoeling van die Kategismus nie om te sê dat die feit dat Christus nie ’n aardse vader gehad het nie, die grond daarvoor vorm dat Hy sonder sonde ontvang en gebore is, asof dit die verwekking deur ’n vader is wat ’n mens in sonde ontvang en gebore laat word nie.

Maar die Kategismus wil wel sê dat die feit dat Christus nie ’n aardse vader gehad het nie, daarmee saamhang dat Hy nie ’n produk van die menslike geslag is nie en dus ook nie onder die vloek van die erfsonde staan soos elke ander mens nie.

Hy kom werklik van buite af in. Hy is ’n nuwe begin wat God met ons maak. Hy is ’n nuwe loot wat op die ou plant van die mensheid ingeënt word. Daarom, al neem Christus ook die gevalle menslike natuur aan, is sy geboorte nogtans heilig. Nie alleen word sy menslike natuur deur die Heilige Gees geheilig nie (Lukas 1:35), maar Hy staan ook buite die vloeklinie van die erfskuld, sodat Hy van buite, vrywilliglik ons skuld op Homself kan neem. Daarom kan Hy ons Middelaar wees wat met sy volkome onskuld en heiligheid ons hele bestaan kan toedek, selfs tot in ons eerste wording-stond, tot in die verborge uur van ons ontvangenis.

Die belydenis van die maagdelike geboorte is dus nie sommer maar ’n aanhangsel van die evangelie wat ’n mens los kan laat as dit jou behaag nie. Te veel hang daarmee saam. Die Skrif is nie ’n sameflansing van ’n aantal waarhede waarvan ’n mens party kan kies en ander kan nalaat as hulle jou nie geval nie. Die boodskap van die Skrif is ’n organiese geheel en wie op ’n kritiese wyse begin om hier of daar iets daarvan af te sny, ontdek op die lang duur dat hy die evangelie self in die hart aantas.