Egte berou

Die Burger, 23 Januarie 1982, bladsy 8
EGTE BEROU

Egte berou is ’n skaars artikel. Die meeste mense ken wel so iets as spyt oor iets wat hulle gedoen het en kan jammer daaroor wees dat dit gebeur het. Ja, hulle kan selfs skaam wees oor bepaalde stommiteite wat hulle begaan het. Maat dit is nog nie as sodanig egte berou nie.
Egte berou is iets anders as spyt. ’n Mens kan spyt wees oor iets wat jy gedoen het omdat dit onaangename gevolge vir jou het. Die afkeuring van jou daad deur ander mense of selfs deur die gemeenskap, kan jou ongelukkig laat voel. Niemand hou daarvan om homself die onguns van andere op die hals te haal nie.
Jy kan ook spyt oor ’n bepaalde daad hê, omdat dit jou duur te staan kom. As ’n mens op ’n verkeerde plek parkeer en jy moet agterna boete betaal, is jy natuurlik jammer daaroor dat jy nie maar ’n bietjie meer moeite gedoen het om ’n ander parkeerplek te soek nie. Op ’n soortgelyke wyse kan ’n mens jammer daaroor wees dat jy by ’n bepaalde geleentheid te veel gedrink het en onbehoorlike dinge gesê het wat jou ’n duur prys kos aan die agting van andere en selfs in die weg kan staan van jou bevordering by die werk.
’n Mens kan oor sulke dinge selfs skaam voel. Daar is seker in elke mens se lewe honderde dinge wat hom rooi van skaamte laat word as hy daaraan terugdink. Hoe kon hy tog sulke dinge gedoen het? Wat het hom tog makeer om so op te tree?
Dat hierdie soort skaamte en spyt ’n goeie effek in die samelewing het, kan nie betwyfel word nie. Dit hou talle mense daarvan terug om dinge te doen wat hulle andersins nie grag sou wil gedoen het en help dus om die wêreld leefbaarder te maak.
Tog moet ons dit nie verwar met egte berou nie. Egte berou ken slegs dié mens wat weet dat hy skuldig is voor God. In egte berou is ’n mens se groot belangstelling nie meer jy self met die moontlike nadelige gevolge wat jou dade of woorde vir jou gehad het of kan hê nie, maar dit is God wie se geregtigheid en liefde deur jou gekrenk is.
In spyt, jammerte en skaamte gaan dit altyd maar nog om myself. Op sy beste gaan dit om teleurstelling in myself. Die hoë dunk wat ek van myself gehad het en wat ek graag sou wil sien dat andere van my moet koester, het ’n gevoelige knak gekry. Maar in berou gaan dit om iets veel diepers. Dit gaan om ’n insig in die onbegryplike misterie van die kwaad. Dit is lyding onder die kwaad self as iets wat nie moes gewees het nie, as ’n aantasting van die reg, as iets wat in sigself verwerplik is, afgesien van enige gevolge wat dit kan hê.
Daarom loop berou ook uit op bekering. Dit spreek homself uit in belydenis. Dit vra om vergiffenis. Dit is ’n droefheid wat uit die dieptes van die hart kom, omdat die mens daarin die oordeel van God oor die sonde mee-voltrek oor homself.
Dit is dié soort berou wat vergiffenis ontvang. – WDJ