Die Kerk se houding teenoor die charismatiese beweging

Die Kerk se houding teenoor die charismatiese beweging

Pinkster 82
WD Jonker
Die Kerkbode, 12 April 1982

Daar is baie lidmate wat nie kan verstaan waarom die Kerk so gereserveerd staan teenoor die charismatiese beweging nie. Hulle verstaan dié beweging as ’n wêreldwye geestelike vernuwingsbeweging wat gebore is uit ’n nuwe ervaring van die werklikheid van die Heilige Gees in die gemeente van vandag.

Is dit dan nie iets goeds nie? Is dit nie waarvoor die Kerk self ook bid nie? Waarom is die Kerk dan nie entoesiasties oor hierdie beweging nie, wat lyk asof dit die antwoord op die gebede is wat deur talle en deur die kerke self opgestuur word?

Rekenskap

En inderdaad, die Kerk moet ook vir homself rekenskap gee van sy antwoord op hierdie vraag. In elk geval mag dit nooit so wees dat die Kerk ’n gebrek aan belangstelling het vir die saak waarom dit in die charismatiese beweging gaan nie, nl. ’n ontmoeting en vervulling met die Heilige Gees wat ’n nuwe dimensie gee aan die geestelike lewe van die Christen en hom vervul met liefde, blydskap en krag vir betekenisvolle Christelike diens.

Oral waar hierdie saak werklik aanwesig is, het daar iets goeds gebeur, iets waaroor die Kerk God alleen maar kan prys. En omdat die Kerk nie kan ontken dat daar duisende mense is wat daarvan getuig dat presies net dit met hulle gebeur het deur hul kontak net die charismatiese beweging nie, kan die Kerk onmoontlik nie net negatief teenoor hierdie beweging wees nie.

In ’n wêreld waarin miljoene mense onverskillig staan teenoor die evangelie, waarin die historiese kerke dikwels innerlik uitgehol is deur afval, formalisme, liberalisme en wêreld-gelykvormigheid, is dit goed om te hoor van mense met ’n ruisende entoesiasme vir Christus en met ’n skynbaar onblusbare vreugde in God.

Die feit dat die charismatiese beweging daarin slaag om mense te help tot ’n kinderlike geloof in die Bybel en tot ’n oorgawe aan God deur die Heilige Gees, moet deur ons met opregte vreugde begroet word.

Die charismatiese beweging het in talle lande voor en agter die ystergordyn ingang gevind en vernuwend ingewerk op verskillende kerke van uiteenlopende denominasionele karakter. Letterlik duisende Bybelstudie kringe en gemeenskapsgroepe het ontstaan waarvan die gesamentlike effek nie bereken kan word nie. Hoe sou ons nie daarvoor dankbaar kan wees nie?

Simpatiek

In die besonder moet ons ook bly wees vir wat in die Rooms-Katolieke Kerk deur die charismatiese beweging gebeur. Die kerk het deur die eeue die kuns verstaan om nuwe bewegings in homself op te neem, sonder om sy eie karakter daarmee prys te gee. Dit is nou ook weer besig om met die charismatiese beweging te gebeur.

Amptelik staan die Rooms-Katolieke Kerk baie simpatiek teenoor hierdie beweging en moedig lidmate aan om daaraan mee te doen. Die kerk sorg egter dat hy aan die beweging in eie midde op sodanige wyse leiding gee, dat dit leerstellig en kerkordelik geakkommodeer kan word.

Rooms-Katolieke lidmate wat met die charismatiese beweging meedoen, word dan ook baie selde van hulle kerk vervreem. Tog kan nie ontken word nie dat hierdie beweging, ondanks die wyse waarop die Rooms­Katolieke Kerk daarin slaag om dit te akkommodeer, ’n hele nuwe element in die Rooms-Katolieke wêreld inbring.

Dit adem ’n totaal ander gees as die sakramentalisme en institusionalisme waardeur die Rooms-Katolieke Kerk dikwels gekenmerk word. Dit lê klem op ’n verhouding tot Christus en die Heilige Gees wat ’n groot invloed op die gebedslewe en vroomheidstipe van Katolieke Christene moet hê.

En dit smee op ’n onoffisiële wyse ’n ekumeniese band met talle evangeliese Christene wat dieselfde charismatiese ervaring meegemaak het. Hier ontstaan ’n broederskap wat die amptelike standpunte van die Rooms-Katolieke Kerk op die lang duur moet beïnvloed.

As ons in die lig van al hierdie dinge tog krities teenoor die charismatiese beweging staan, is dit eenvoudig omdat ons as gereformeerdes ’n soort intuïtiewe gereserveerdheid het teenoor die entoesiastiese vroomheidstipe van die charismatiese beweging, sowel as ’n groot versigtigheid vir die wyse waarop hulle hulself teologies uitdruk.

Die charismatiese beweging het nie uit die lug geval nie. Dit het sy geestelike agtergrond in die pentekostalisme of pinksterbeweging. Nou is dit waar dat die charismatiese beweging op enkele belangrike punte van die pentekostalisme verskil. So verwerp die charismatiese beweging bv. die skismatieke karakter van die pentekostalisme en begeer om ’n vernuwingsbeweging binne die bestaande kerke te bly.

Ook is daar by die charismatiese beweging, veral in sommige vertakkinge daarvan, ’n ernstige poging om teologies suiwerder en minder naïef te dink as die pentekostaliste. Nogtans is dit waar dat die charismatiese beweging nêrens die entoesiastiese karakter wat dit van die pentekostalisme geërf het, verloën nie. Dit deel ook met die pentekostalisme die sentraal-stelling van ’n bepaalde ervaring, die sg. doop met die Heilige Gees. In die interpretasie van hierdie ervaring gaan die charismatiese beweging vir die grootste gedeelte saam met pentekostalisme. Dit is juis hier waar die probleme vir die Kerk geleë is.

Emosie

Die Kerk het dit nie teen die geestelike ervaring waarvan hier sprake is nie. Ons omgang met God lê nie net op die vlak van ons verstand nie, maar het ook ’n ervaringskant waarin ons allerdiepste emosies in beweging gebring word.

Dat ’n Christen ’n ontmoeting met God kan hê en deur die Heilige Gees vervul kan word op ’n wyse wat hom tot ’n ongekende vreugde in God kan bring, is nie net moontlik nie, maar ook noodsaaklik.

Die probleem met die charismatiese beweging is egter dat dit hierdie ervaring saam met die pentekostalisme op ’n bepaalde wyse standaardiseer en interpreteer wat sekere bedenklike kante het. Die pentekostalisme het sy wortels in ’n spiritualistiese, metodistiese en Arminiaanse denkklimaat wat uit die staanspoor nie alleen die in­terpretasie van die geestelike ervaringe gestempel het nie, maar ook die aard van die ervaringe mee bepaal het.

Veral vir Christene buite die Rooms-Katolieke Kerk is dit uiters moeilik om hulleself met die charismatiese beweging te assosieer, sonder om ook binne die suigkrag van hierdie geestelike agtergronde te geraak.

Gereserveerd

Daarom gebeur dit feitlik deurgaans dat Christene wat aan die charismatiese beweging deel het, probleme ontwikkel met dinge soos die kinderdoop, dat hulle skerp-krities raak teenoor die kerk en dat hulle ’n geestesinstelling ontwikkel wat hulle noodwendig op gespanne voet met die kerk moet plaas.

Die Kerk staan dus nie afwysend teenoor die saak van ’n geestelike ervaring waardeur ’n mens innerlik bevry word en tot ’n nuwe dimensie van geestelike lewe gebring word nie. Wel staan dit gereserveerd teenoor ’n interpretasie van daardie belewing wat dit as ’n eenmalige gebeurtenis sien en daaraan in perfeksionistiese sin ’n finaliteit toeken wat in stryd kom met die Skrifgegewens oor die stryd tussen die vlees en die Gees.

Die gereformeerde ontken ook nie dat daar ’n vreugde in God kan wees wat ’n mens kan uitlig bokant jou gewone verbale omgang met God nie – en ’n bietjie meer uitbundige vreugde kan ons as gereformeerdes ook geen kwaad doen nie – maar die gereformeerde verset homself teen ’n spiritualistiese visie op die verhouding tussen die Gees en ons waarin op ’n alte maklike wyse ons gees en die Heilige Gees met mekaar verwar word.

Alle vorme van entoesiasme het deur die eeue gelei tot naïwiteite en eensydighede, en die charismatiese beweging met sy spesifieke kyk op die gawes van die Gees en die direktheid van die spreke van die Gees buite die Skrif om is ’n goeie voorbeeld hiervan.

Verdien

Intussen is dit waar dat die charismatiese beweging ’n uitdaging vir die Kerk bly. Die reg om die charismatiese beweging te kritiseer, sal ons nie net moet verdien deurdat ons ’n beter teologie daarop nahou nie, maar ook deurdat ons blyke daarvan gee dat ons die saak waarom dit gaan, die volheid van die Heilige Gees, nie aan ons verby laat gaan nie.

Dit moet tog, moontlik wees om oor die volheid van die Heilige Gees te praat sonder om in perfeksionisme en spiritualisme te verval. En dit moet tog moontlik wees om die krag van die Gees in ons lewens te openbaar sonder om in eensydighede verstrik te raak.