Dit is die toets

DIT IS DIE TOETS
WD Jonker
Die Burger, 12 Junie 1982, bladsy 8

Hoe kan ’n mens weet of jy iemand werklik liefhet? So baie van wat tussen mense liefde genoem word, het baie min met die egte liefde te make. Wat ons liefde noem, is dikwels weinig anders as ’n selfsugtige begeerte om te besit, om te geniet en te gebruik Dit is omdat ons dieselfde woord vir erotiese liefde en vir egte Christelike naasteliefde gebruik dat ons so dikwels verward is en verwarring saai met ons gebruik van die begrip liefde.
Selfs mense wat heelwat hartstog tussen hulle kan opwek, het mekaar dikwels nie regtig lief nie. Tussen man en vrou, ouers en kinders kan daar oor jare heen ’n soort verstandhouding van wedersydse hulp en aanvulling ontwikkel, wat miskien bloot funksioneel van aard is en sekuriteit bied, sonder dat ’n mens dit werklik liefde kan noem.
Hoe sal ons dan weet of ons iemand regtig liefhet?
Miskien is daar verskillende maniere waarop ’n mens dit kan vasstel, maar minstens één daarvan is dat ’n mens moet vasstel of jy jouself liewer het as wat jy die ander persoon het. Waar dit die geval is, is dit ’n ernstige vraag of ’n mens die ander persoon werklik liefhet.
Die maklikste manier om dit vas te stel, is om jou eie hart te toets op die vraag of jy eerlik liewer self sou wil ly, as dat die persoon wat jy liefhet moet ly. ’n Moeder wat haar kind liefhet, sal altyd liewer self siek wil word as dat die kind siek moet word, en regtig nie net omdat dit so ongerieflik is as ’n kind siek is nie, Sy sou in die plek van die kind wil ly, selfs sterf as dit nodig is, eenvoudig omdat sy die kind liewer het as haarself.
Dit is egte liefde. Egte liefde vergeet die self, is selfopofferend, bereid om in die plek van die ander te gaan staan. ’n Man wat sy vrou liefhet, is sonder nadenke bereid om sy lewe te gee om haar te beskerm en sal duisend maal liewer self leed wil verduur as dat hy sou wou toesien dat sy leed aangedoen moet word.
Daarom is egte liefde altyd ’n menslike afspieëling van die liefde van God soos dit geopenbaar is in Christus. As Christus ons leer dat ons aan andere moet doen wat ons sou wil hê hulle aan ons moet doen, gaan dit nie om ’n saak van berekening nie, maar om die gebod om jouself in die plek van die naaste te stel en jouself ter wille van sy belange te vergeet. Dit gaan om die liefdesgebod wat ons opwek om te doen wat God doen.
Ook die uitspraak dat ons ons naaste moet liefhê soos onsself beteken nie dat ons eers onsself moet liefhê en na ons eie belange moet omsien, om dan agterna ook te kyk wat ons vir die naaste kan doen nie. Dit vra van ons om met agterstelling van onsself vir die naaste te doen wat ons van nature vanuit ons selfliefde vir onsself sou wil doen. – WDJ