Die juiste perspektief

DIE JUISTE PERSPEKTIEF
WD Jonker
Die Burger, 19 Junie 1982, bladsy 10

Ons leef in ’n tyd waarin die betekenis van medemenslikheid oor die hele wêreld baie sterk beklemtoon word. Daar is diegene onder ons wat gevolglik ’n sekere afkeer van die begrip en die saak ontwikkel en dit as iets siekliks, ja, selfs as ’n openbaring van humanisme of liberalisme en dergelike soort dinge beskou. ’n Mens kan selfs predikante soms daaroor hoor praat asof dit nou een van die moderne sondes is waarteen ons veral moet waak, omdat dit horisontalisties is en in stryd met die beklemtoning van ons vertikale verhouding tot God, wat tog primêr moet wees.
As ons egter goed oor die saak nadink, sal ons besef dat medemenslikheid ’n oer-Christelike saak is. Dit is waar dat die Bybel ons leer dat ons verhouding tot God primêr is en dat ons sonder die regte verhouding tot God nooit op die regte wyse teenoor ons medemense kan staan nie. Maar die Bybel speel nooit die verhouding tot God af teen die verhouding tot die medemense nie. Inteendeel, die Bybel is juis uitgesproke daaroor dat ’n verhouding tot God wat nie vanself uitloop in ’n gesonde verhouding teenoor medemense nie, nie die regte verhouding tot God kan wees nie.
’n Christen kan en mag dus nooit die beklemtoning van beter menslike verhoudinge as sodanig afkeur of verdag maak nie. Wie dit doen, handel nie vanuit Christelike motiewe nie. Daar moet ander redes wees waarom hy dit doen, redes wat nie uit die leiding van die Gees van God voortkom nie.
Die feit dat hy die noodsaaklikheid van beter menseverhoudings beter kan fundeer as die nie-Christen, omdat hy dit fundeer in die vertikale verhouding wat hy tot God het, mag hom nie daartoe bring om afwysend te staan teenoor die strewe na medemenslikheid by diegene wat teologies nie so suiwer soos hyself dink, of wat selfs heeltemal nie Christene is nie.
Is dit dan nie beter dat mense tot mekaar in ’n goeie verhouding staan as in ’n slegte nie? Is dit dan ons plig om die relatief goeie wat nog in die wêreld voorkom, te bestry net omdat dit nie die absoluut-goeie is nie? Is die relatief­goeie wat in die wêreld voorkom, ook buite die kring van die Christene om, nie ook maar ’n gawe van God, wat in sy bewarende genade die mensheid nog nie heeltemal oorgegee het aan totale vernietiging en demonisering nie?
Die Christen kan dit as sy roeping sien om die saak van medemenslikheid in die juiste perspektief te stel. Hy kan humanisme, liberalisme en horisontalisme ontmasker vir wat hulle is. Maar hy mag self nooit minder humaan, minder vry van vooroordeel en minder bekommerd wees oor die wel en wee van ander mense as diegene wie se verkeerde uitgangspunte hy bestry nie. Nie sy afwysing van verkeerdhede tipeer hom as Christen nie, maar sy aanvaarding en bevordering van die goeie. – WDJ