Eenheid as Gemeenskap van die Heiliges

EENHEID AS GEMEENSKAP VAN DIE HEILIGES

WD Jonker
Die Kerkbode, 7 Julie 1982

Dit is met dankbaarheid dat ’n mens kennis neem van die gesprek tussen proff FJM Potgieter en DJ Bosch. ’n dergelike gesprek is vir die kerk dringend noodsaaklik. Daarom verwelkom ’n mens die inisiatief wat prof Potgieter geneem het, én die bereidwilligheid van Die Kerkbode om soveel ruimte daarvoor af te staan.

Een van die eerste vrugte van so ’n gesprek kan wees dat dit duidelik kan word waaroor ons dit met mekaar in die onderhawige sake eens is en waaroor ons verskil.

Die gesprek gaan basies om die eenheid van die kerk. Almal is dit seker met mekaar eens dat Christus net een kerk kan hê. Net so is almal dit met mekaar eens dat die eenheid van die kerk geen uniformiteit hoef te wees nie, maar dat daar binne die eenheid ruimte moet wees vir die openbaring van die rykdom van die verskeidenheid van taal, kultuur en spiritualiteit, soos dit met ons geskape mensheid saamhang.

In sy katolisiteit weerspieël die kerk die hele geskape werklikheid met sy bonte verskeidenheid. Tog mag die eenheid van die één kerk van Christus nie deur die verskeidenheid bedreig word nie.

Tot op hierdie punt is daar ’n algemene konsensus. Die verskille kom na vore sodra die vraag gestel word wat dit prakties en konkreet vir die eenheid van die Ned Geref Kerk-familie beteken. Dan is daar diegene wat sê dat die eenheid van die kerk ’n geestelike eenheid is wat uitdrukking vind in die eenheid van geloof, belydenis en kerkregering.

Dié eenheid word nie aangetas wanneer Christene met ’n bepaalde kleur, taal en kultuur afsonderlik georganiseer word in eie gemeentes en ’n eie kerkverband nie. Die verskillende etniese en volkskerke wat só naas mekaar bestaan, is nog steeds die één kerk van Christus.

Daarom is sporadiese kontak van gelowiges uit die kerke onder bepaalde voorwaardes toelaatbaar, maar nie noodwendig ’n noodsaaklikheid nie. Ook is één kerkverband vir hierdie kerke nie nodig nie, mits hulle oor ge­meenskaplike sake met mekaar beraadslaag op ’n wyse wat geen-een van hulle bind nie. Wie meer as dit vra, bedreig die geskape verskeidenheid en is bes moontlik ’n prooi van die moderne nivelleringsdenke wat alle verskille tussen mense wil uitwis.

Ek hoop dat ek daarmee ’n billike weergawe bied van die standpunt wat prof Potgieter verteenwoordig en wat tot op datum ook die amptelike standpunt van die Ned Geref Kerk is. Daar is egter diegene van ons wat oor jare heen gepleit het vir ’n ander benadering.

Na my mening laat die gesketste opvatting nie reg geskied aan die volle betekenis van die eenheid van die kerk soos die Bybel daaroor praat nie en vergoelik dit ’n situasie wat allermins so onskuldig is as wat dit voorgestel word.

Dit is waar dat die eenheid van die kerk ’n geestelike eenheid is, want dit is ’n eenheid in Christus wat in die verlossing geëffektueer word deur die Heilige Gees. Maar dit is nie slegs ’n onsigbare eenheid nie.

Volgens die Nuwe Testament word dit baie konkreet sigbaar in die gemeenskap van die heiliges. Dit is iets wat uitgeleef word in die wedersydse liefde en hulp, in die wedersydse aanvaarding van mekaar, in die gemeenskaplike ophou van mekaar, in die dra van mekaar se laste, in die meedeel aan mekaar van wat die Here aan elkeen gegee het (vgl Heidelbergse Kategismes vr. 55).

Dit word beleef in die gemeenskap van die gesamentlike gebed en rondom Woord en sakrament, veral aan die nagmaalstafel. Oor die feit dat dit die normale uitdrukkingsvorme van die eenheid van die gelowiges is, kan daar onder ons tog geen verskil wees nie.

Dit beteken dat die eenheid van die kerk altyd ten nouste verbonde is met die gemeenskap van die heiliges. Alles wat hierdie eenheid-as-gemeenskap-van-die-heiliges bedreig, word in die Nuwe Testament op die skerpste moontlike wyse veroordeel – of dit nou partyskap is of dwaling in die leer, hoogmoed of diskriminasie (Jakobus 2), of die geveinsdheid van Jode wat nie gemeenskap wil hê met Christene uit die heidene nie (Galasiërs 2).

Dit tas die kerk immers in sy wese aan, want dit is ’n weiering van gemeenskap met die medebroeder in Christus en kom neer op ’n afwysing van Christus self, omdat ’n mens tog nie Christus sonder sy liggaam kan wil hê nie. Daaroor is Johannes baie uitgesproke (1 Johannes 4).

Hierdie eenheid word uit die aard van die saak in die plaaslike gemeente in die volste sin beleef, maar dit is nie tot die plaaslike gemeente beperk nie. Nie alleen is daar in die plaaslike gemeente te alle tye ’n bereidheid om die gemeenskap van die heiliges te beoefen met elke ander broeder en suster in die Here wat elders is of van elders kom nie, maar gemeenskap word ook doelbewus met ander gemeentes gesoek – in die omgewing, in die land en sover moontlik ook wêreldwyd. Dit is eenvoudig gegee met die katolisiteit van die kerk.

Die kerkverband is op sy eie wyse ’n vorm van die gemeenskap van die heiliges en die doel daarvan is om die gemeenskap van die heiliges te dien.

Binne die kerkverband aanvaar die verskillende gemeentes immers verantwoordelikheid vir mekaar. Hulle help mekaar in liggaamlike en geestelike nood, bewaar mekaar by die waarheid, hou toesig oor mekaar en neem gesamentlike, bindende besluite, omdat hulle bereid is om hulleself aan mekaar toe te vertrou.

Die Nuwe Testament laat ons sien hoe die apostels self ’n lewende band tussen die gemeentes gevorm het en hoe daar in Jerusalem saam besluite geneem is met verteenwoordigers uit die gemeentes uit die heidene.

Dat daar ’n groot verskeidenheid onder Christene bestaan, mag nooit beteken dat die eenheid as gemeenskap van die heiliges versteur word nie. Soos die verskeidenheid van die plekke waar hulle woon nie die eenheid mag bedreig nie (al beteken die praktiese omstandighede dat hulle nie by elke geleentheid saam kan aanbid nie), mag ook die ander vorms van verskeidenheid wat met ons skeppingsmatige bestaan gegee is, nie die eenheid as gemeenskap van die heiliges bedreig nie.

Die Nuwe Testament is selfs uitgesproke daaroor dat verskeidenheid in geslag, ras, stand of besit nie die eenheid van die gemeente van Christus mag versteur nie.

Die Nuwe Testament ken nie afsonderlike gemeentes vir afsonderlike volksgroepe nie, slegs afsonderlike gemeentes op verskillende plekke

En Kuyper, op wie meer as een hulle beroep vir die idee van ’n pluriformiteit van volkskerke, was tog goed genoeg bewus daarvan dat landsgrense, volks-, taal- en kultuurverskille nie die kerk van Christus mag verdeel nie, watter erkenning daar ook al aan dié dinge gegee mag word. Daarom kon hy ook skryf:

“Een nasionale Kerk is een contradictie, want er is in Christus geen Jood of Griek of Barbaar, maar allen zijn één in Hem.” (Pro Rege 11,201).

Die feit dat alle mense nie op dieselfde plek woon nie, dat die verkondiging van die Woord so ’n sentrale plek in die kerk inneem, dat die taal dus ’n groot rol in die kerklike lewe moet speel, dat mense van verskillende taal- en etniese groeperinge op ’n natuurlike wyse saamwoon en dat die Christendom inheems word in ’n be­paalde volk – dit bring vanself mee dat daar bepaalde groeperinge van gemeentes ontstaan, selfs landskerke ontstaan, wat noodwendig ’n bepaalde etniese kleur sal hê.

Die groot verskeidenheid van die mense sal in die kerklike lewe gereflekteer word, oral waar die evangelie toegelaat word om sy volle gang in die lewens van mense te gaan. Dit is nie verkeerd nie; dit is verrykend en goed.

Maar dit mag nooit daartoe lei dat verskeidenheid tot geskeidenheid lei en dat die eenheid as gemeenskap van die heiliges tussen lidmate van die verskillende groeperinge belemmer word nie.

Die eenheid word prysgegee wanneer sulke afsonderlike taal- en etniese groeperinge hulleself van die gemeenskap met gelowiges uit ander groeperinge afsluit en sulke gelowiges uitsluit wat betref lidmaatskap en alle ander dinge wat normaalweg tot die gemeenskap van die heiliges behoort, of as hulle kerkverband met sulke ander gemeentes weier.

En daarmee staan ons nou voor die vraag of dit nie presies is wat die situasie in ons land is nie.

Dit is mos nie korrek om in ons situasie bloot abstrak en teoreties te praat oor eenheid en verskeidenheid in die kerk nie.

Dit gaan tog in ons situasie om die baie konkrete vraag of wit Christene bereid is om die normale gemeenskap van die heiliges te beoefen met Christene van ’n ander kleur.

Die saak het in die vorige eeu na aanleiding daarvan op ons agenda gekom, waarna groot beslissings geval het. En nog steeds bly dit die kernvraag waarom dit gaan of ons dit wil erken of nie.

Baie van ons mense is nie bereid om die konsekwensies van die eenheid van die kerk en die gemeenskap van die heiliges te aanvaar nie. En dit is tog sonde.

Maar daarom is die standpunt van prof. Potgieter nie goed genoeg nie. Dit handel oor eenheid en verskeidenheid asof dit om akademiese kwessies gaan, lei dit af uit skepping en geskiedenis, en kom dan tot die gevolgtrekking dat die eenheid van die kerk nie verbreek word deur die bestaan van afsonderlike kerke vir afsonderlike volke nie.

Aan die eenheid van die kerk word wel enkele konsessies gedoen deur die gemeenskap van die heiliges by geleentheid en onder sekere voorwaardes nie ongeoorloof te ag nie, maar die volle sin en betekenis van dié gemeenskap – juis ook vanweë die groot verskeidenheid wat bedoel is om verryking te bring – word nie uitgespel as iets wat gesoek, gevoed, opgebou en om Christus ontwil bewaar moet word nie.

Maar meer as dit: die vraag word ook nie gestel of dit in ons situasie wáár is dat die bestaan van verskillende volkskerke die eenheid van die kerk nie bedreig nie. My indruk is dat waar Christene die gemeenskap van die heiliges met ander Christene afwys, dit nie meer om ’n legitieme verskeidenheid in die kerk gaan nie, maar om verskeurdheid.

En dan is dit tog ’n alte groot verantwoordelikheid vir enige teoloog of kerk om aan sulke mense die versekering te gee dat hulle nie daaroor skuldig hoef te voel nie, omdat diegene wat van hulle vra om anders te begin dink, moontlik besmet is met ’n moderne nivelleringsdenke.

Vir my besef staan die kerk hier voor ’n geestelike saak van die allergrootste gewig. Dit raak ons gehoorsaamheid aan die Skrif en aan die Gees wat die Gees van liefde en waarheid is.

Mag God ons help om in hierdie tyd fyngevoelig te wees vir die geestelike dinge waarop dit werklik aankom. Vir al die ander dinge sal God in elk geval ook vir ons sorg, veel beter as wat ons dit self kan doen!