Dit is so moeilik

DIT IS SO MOEILIK
Die Burger, 9 Oktober 1982, bladsy 10

Dit is so moeilik vir ons om te erken dat ons ongelyk gehad het. Ons natuurlike neiging is om altyd te verdedig. Ons gee nie maklik toe dat ons bepaalde aspekte van die waarheid misgekyk het, dat ons onbedagsaam en selfsugtig was, dat ons onbillik en onredelik was en al dié soort dinge waaraan almal van ons tog daagliks skuldig is nie. Nee, as dit om ’n strydpunt gaan, of dit nou in die huis, by die werk, in die politiek of in die kerk is, gee ons almal onsself vir heiliges uit. Daar lê die skuld net altyd by andere wat aan ons onreg gedoen het, ons nie reg verstaan het nie en nie ons goeie bedoelinge wil erken nie.

In die lewe is dit natuurlik selde waar dat een al die gelyk aan sy kant het en die ander heeltemal net ongelyk het. Dit kan dus wees dat daar in ons onwil om skuld te erken, ’n greintjie van reg kan sit. Dit is moontlik dat andere ons onbillik kan beskuldig. Ook dié wat met ons verskil, is natuurlik nie heiliges nie en net soos ons aan allerlei swakhede en vooroordele skuldig. Jesus en Paulus het ook nie maar toegegee dat al die kwaad wat van hulle gesê is, waar is nie.

Maar selfs al gee ons toe dat mense ons verkeerd kan beoordeel, ons selfs kan veronreg in hul gebrek aan begrip vir wat ons tog ook aan goeie motiewe het, dan bly dit nogtans waar dat ons in verreweg die meeste gevalle nie so onskuldig is as wat ons onsself voorhou nie. Ons is nie Jesus nie en ons het nie altyd die reg aan ons kant soos Paulus dit klaarblyklik in sy stryd gehad het nie. As ons eerlik is sal ons moet toegee dat ons skuldig is, en minstens dan mede-skuldig aan die dinge wat konflikte laat ontstaan.

Dit kan wees dat ons skuldig is daaraan dat ons nie ons goeie bedoelings waarvan ons meen te weet, in ons dade duidelik word nie. Hoe moet andere dan weet dat ons sulke goeie bedoelinge het? Dikwels is dit egter so dat ons veels te gunstig oor onsself en ons eie goeie bedoelinge oordeel.

Ons is geneig om selfs vir onsself ons slegte motiewe weg te steek en net ons goeie motiewe te laat tel. Maar ons kan nie verwag dat ander mense ook só oor ons moet oordeel nie. Hulle oordeel na wat voor oë is en kan met reg van ons verwag dat ons goeie bedoelinge bewys moet word in die praktyk van ons lewe.

In die grond van die saak is dit vir ons so moeilik om te erken dat ons ongelyk het, omdat ons te trots is, ’n te hoë selfbesef het en hopeloos te onkrities teenoor onsself is. En so bly ons gebonde mense, slawe van ons eergevoeligheid. Dit is bevrydend om eerlik te erken waar ons fouteer het. En dit skep nuwe moontlikhede. Min dinge is so kreatief in menslike verhoudinge as die bereidheid om jou eie skuld te erken.– WDJ