Die Doop sê: Ek sal vir jou ‘n God wees

DIE DOOP SÊ:  EK SAL VIR JOU ’n GOD WEES

WD Jonker
(Gelewer by ’n doopkursus in die NG Gemeente Stellenberg)

Die Kerkbode, 22 Februarie 1984

  • Wat is die verbond?

Een van die sentrale begrippe wat in die Bybel gebruik word om die verhouding tussen God en ons aan te dui, is die begrip “verbond”. Hoewel hierdie begrip proporsioneel miskien nie so dikwels voorkom as sommige ander begrippe nie, is dit uit die geheel van die Skrif duidelik dat dit in die OT en NT ’n baie sentrale plek inneem –soos in die verbondsluiting tussen God en Abraham (Genesis 17); en God en Israel by Sinai; in die voorspellings oor die nuwe verbond (Jeremia 31 en Esegiël 36); en in die Nuwe-Testamentiese uitsprake oor die aanbreek van die nuwe verbond in Christus (vgl. Hebreërs, Lukas 1:72; Markus 14:24; Galasiërs 3:15 ev; Romeine 9–11 ens.). Saamgevat blyk dit egter dat die hele heilsgeskiedenis tussen God en sy volk deur die verbondsbegrip omspan word.

Die begrip “verbond” is ’n vertaling van die Hebreeus – beriet. Die begrip kan gebruik word by ’n plegtige ooreenkoms tussen twee mense, met beloftes van wedersydse trou en afsprake dat, indien een van die partye ontrou aan die beloftes word, die oordeel van God hom sal tref.

Opmerklik is dit dat die Griekse vertaling van die OT vir die verbondsbegrip, as dit om die verhouding tussen God en die mense gaan, deurgaans die begrip “diatheke” gebruik, wat eintlik eerder “testament” of “insetting” of “beskikking” beteken en nie soseer ooreenkoms of “kontrak”, soos wanneer dit om die verbond tussen mense gaan nie. Vir laasgenoemde word meestal die begrip “suntheke” gebruik. Die Griekse vertaling stel dit ongetwyfeld duidelik dat die verbond tussen God en mens nie ’n kontrak tussen gelykes is nie. Dit is ’n eensydige verbond, ’n insetting van Gods kant. Dit is egter die bedoeling dat die mens gehoorsaam moet wees aan die eise wat God aan hom in die verbond stel. Onder geen omstandighede kan ’n mens jou die verbond van God met die mense as ’n “kontrak” voorstel, of as die ooreenkoms tussen twee gelyke partye nie.

As eensydige beskikking of insetting van God, dra die verbond van God met die mense altyd ’n genadige karakter. Van die mens word nooit verwag om te verdien om met God ’n verbond te sluit nie. Maar daar word wel van die mens verwag om die beloftes van God in geloof aan te neem.

Kenmerkend van die verbond van God in die OT – met Abraham – is dat dit ’n “organiese” karakter dra. Dit beteken dat God deurgaans die nageslag van Abraham saam met hom in die verbond insluit. Vergelyk Genesis 12 en 17. Daaruit is dit duidelik dat God nie ’n aantal los individue tot lede van sy verbond maak nie, maar mense in hulle geslagte. Israel word as “natuurlike” volk die “uitverkore” volk van God. Daarmee word nie gesê dat alle natuurlike afstammelinge van Abraham ook werklik aan al die seëninge van die verbond deel sou hê nie. Maar daarmee word tog wel bedoel dat die organiese eenheid van die volk in die verbond bewaar bly. Vergelyk Romeine 9–11, veral Romeine 9:6 ev, Galasiërs 3:6 ev; en Matteus 3:9.

Wesenlik vir die begrip van die verbond soos ons dit in die Skrif aantref, is die eenheid daarvan. Ons lees in Genesis 17 dat God sy verbond met Abraham oprig, en dan weer in Eksodus van die oprigting van die verbond met Israel, en in die NT van die “nuwe verbond”. In werklikheid is daar egter maar een verbond wat die hele heilsweg van God met sy kinders in die geskiedenis omspan.

En aan die een verbond het almal deel wat in die heil in Christus deel, of hulle nou in die ou bedeling of in die nuwe lewe. Christus is die Middelaar vir almal wat in die OT en in die nuwe tot die verlossing kom. Dit geld na ons oortuiging ook vir die “organiese” struktuur van die verbond.

  • Die tekens van die verbond

Uit Genesis 17 is dit duidelik dat die besnydenis die teken was van die verbond van God met Abraham – die besnydenis aan alle manlike kinders, wat op hulle beurt die hoof van nuwe gesinne sou word. So sou al die kinders en die lede van die gesin deel hê aan die reiniging en afsondering wat deur die teken van die besnydenis afgebeeld en verseël is – weer eens ’n aanduiding van die “organiese” aard van die verbond.

Uit Romeine 4 word dit duidelik wat Paulus as die inhoud van die besnydenis as verbondsteken verstaan het. Hy noem dit nie alleen ’n teken nie, maar ook ’n seël van die geregtigheid wat deur die geloof ontvang word (vs 11). Uit verskillende ander plekke in die NT is dit ook duidelik dat die besnydenis ’n diep geestelike betekenis gehad het.

Dit het vir God in die besnydenis om die geestelike besnydenis van die hart gegaan (vgl Deuteronomium 10:16; 30:6; Jeremia 4:4; 9:6; Esegiël 44:7 ens). In die NT word hierdie beskrywing van die inhoud van die ware besnydenis opgeneem (vgl Romeine 2:29; Filippense 3:3 ens.). Die besnydenis is in die Bybel dus ’n teken en seël van die verlossing soos dit deur Christus bewerk is, nie maar net ’n uiterlike teken nie.

In die NT vind ons dat die besnydenis as teken van die verbond plek maak vir die doop. Die doop kom in die tyd tussen die twee testamente op in die vorm van proselietedoop. In die doopbevel van Matteus 28:19 word dit ’n instelling vir die kerk, en oral in die NT funksioneer dit as teken en seël van die inplanting en Christus, die afwassing deur sy bloed, die reiniging deur die Gees, die wedergeboorte, die sterwe met Christus ens.

Die betekenis van die doop in die NT, bring duidelik die gereformeerde tradisie na vore dat die doop in die plek van die besnydenis gekom het. Die betekenis van die doop is dieselfde na sy geestelike betekenis as wat die betekenis van die besnydenis na sy geestelike sin was.

Die bekendste teks is hier natuurlik Kolossense 2:11–13, waar Paulus die doop “die besnydenis van Christus” noem.

As ons die doop dus in sy ware betekenis wil verstaan, dan moet ons dit binne verbondskonteks doen. Dan beteken dit dat ons die doop in eerste instansie moet verstaan as die verseëling van die verbondsbeloftes van God. Die kern daarvan is: Ek sal vir jou ’n God wees, en jy moet vir my ’n kind wees – deel van my volk. Terselfdertyd beteken dit dat God aan die gedoopte die eis oplê om in die geloof die beloftes te aanvaar en daaraan vas te hou en daaruit te lewe.

In die NT is dit duideliker as in die OT dat die doop ’n sakramentele karakter dra. In die sakrament word aan ons ’n teken gegee wat ’n verseëling van die beloftes is wat in die sakrament afgebeeld word. Van die tekens word dan gepraat asof hulle self die saak wat hulle afbeeld, bewerk, terwyl ons tog weet dat dit alleen die bloed en die Gees van Christus is wat dit kan bewerk. (Heidelbergse Kategisme vr. 73 en 79.) Die beloftes van die verbond word dus “gewaarborg” maar die bedoeling is tog dat hulle alleen deur die geloof ontvang word.

  • Wie mag gedoop word?

Uitgaande van die eenheid van die verbond van genade in die OT en die NT en van die struktuur van die verbond, redeneer die gereformeerde kerke dat kindertjies van gelowiges in die nuwe bedeling ook gedoop mag word, aangesien die doop in die plek van die besnydenis gekom het en dus ook aan hulle die verbondsbeloftes beseël moet word – selfs al kan hulle nog nie persoonlik glo nie. Die beloftes van God word in alle erns aan hulle toegesê, maar dat van hulle verwag word om dit in die geloof te ontvang, net soos dit in elk geval van enige volwassene geld. Vir ’n volwassene is die doop ook nie iets wat hy “verdien” deurdat hy glo nie, maar die doop is ’n toesegging en versekering aan hom wat hy in elk geval deur die geloof moet aanvaar as dit vir hom betekenis moet hê.

Die kinderdoop word vernaamlik bestry deur diegene wat daarvan uitgaan dat die NT ’n ander struktuur vertoon as die oue, en dat daar in die NT dus sprake moet wees van voorafgaande persoonlike geloof, voordat iemand gedoop kan word. Die NT praat dan ook meestal van die doop op sodanige wyse dat dit in die eerste instansie op volwassene betrekking kan hê, so word geredeneer, en daarom is dit nie reg om kindertjies te doop nie.

Die gereformeerde kerke was egter daarvan oortuig dat daar in die NT genoegsame aanduidinge is dat dieselfde verbondstruktuur van die OT ook hier voortbestaan. As vernaamste rigtingwysers in hierdie verband dien dan uitsprake soos Handelinge 2:39, 1 Korintiërs. 7:14 en al die tekste waarin daar sprake is van die doop van huisgesinne (vgl bv Handelinge 16:15; 31–33; 1 Korintiërs 1:16 ens.). Die vraag is nie of daar in sulke huise babatjies was nie. Die punt waarom dit gaan is dat God ook binne die NT binne verbondskonteks werk.

Klaarblyklik ken die Bybel nie net die gelowige individu nie, maar ook die gelowige gesin wat vir God afgesonder is. Dit is vir ons die grond van die kinderdoop. Dat baie kinders wat gedoop is, nie gered word nie, is nie ’n argument teen die kinderdoop as sodanig nie, want was dit ook in die OT waar God tog duidelik die besnydenis ook vir kindertjies ingestel het. Ons het hierin enersyds te make met die geheimenis van die kwaad, dat ’n mens aan wie God sy genade so duidelik aanbied, nogtans verlore kan gaan, en andersyds het ons hierin te make met die geheimenis van Gods verkiesende handeling.