’n Aanklag teen ons

’N AANKLAG TEEN ONS
Die Burger, 21 Julie 1984, bladsy 8

Volgens ’n onlangse opname blyk dit dat daar op die platteland, en dan met name op ons boereplase ’n ontstellende groot heidendom onder swart werkers voorkom. Baie van hulle is nog nooit werklik in aanraking gebring met die evangelies van Christus nie.

Die ontstellende is nou dat die blanke eienaars en bewoners van sulke plase soms erkende Christene is; selfs getroue kerklidmate en kerkraadslede is. Wat hulself betref, is die geloof in Christus ongetwyfeld vir hulle van groot betekenis. Maar hulle het nog nooit moeite gedoen om te sorg dat elke swart werker op hul plase en die gesinne van sulke mense op ’n betekenisvolle wyse met die evangelie bereik word nie.

As ons·vra hoe so-iets moontlik is, hoef ons nie ver te soek nie. Ons kan maar na onsself kyk. Ons is dikwels so selftevrede en na binne gekeer in ons godsdiens dat ons die nood van ander mense nie raaksien nie of in elk geval nie ernstig opneem nie. Ons besef nie dat ons daarvoor verantwoordelik is en dat ons rekenskap sal moet gee van wat ons gedoen het met die geleenthede wat op ons weg was om andere met die evangelie·te dien nie.

Ons aanvaar maar dat daar ander sal wees wat met sulke mense oor die evangelie sal praat, en ons maak onsself baie maklik daarvan los deur te dink dat dit tog nie ons verantoordelikheid is om na die geestelike welsyn van alle ander mense om te sien nie. ’n Mens hoef nie ’n boer te wees om so te redeneer nie.

Ons in die Stede is nie anders nie, en ’n mens kan nie aanneem dat die situasie in die stede beter as op die platteland is nie. In elk geval kan ons daarvan seker wees dat as dit van die meeste van ons se inisiatief in hierdie verband afgehang het, almal nog heidene sou gewees het.

Hoe kan ons tog so wees? Hoe kan die evangelie vir onsself iets beteken sonder·dat dit ons dring om iets aan die nood van ander mense te doen? Is dit nie ’n teken daarvan dat ons die evangelie mak gemaak het, dat ons godsdiens ’n burgerlike religieusiteit geword het, en dat die erns en die vreugde daarvan eintlik nog nooit tot ons deurgedring hel nie?

Dit is ’n ernstige aanklag teen ons dat ons dikwels so graag in ons Christelikheid roem, maar dat dit blykbaar nie vir ons soveel beteken dat ons die uitbreiding daarvan wil bevorder; of dit op ’n praktiese wyse uit wil leef nie. Dit is dan iets wat ons graag soos ’n pluimpie in ons hoed steek, sonder dat dit in ons eie lewe die dood van die ou mens en die opstanding van die nuwe mens beteken.

Dit is omtrent net so erg as om die kruis aan ’n kettinkie om die nek te dra, sonder om self met Christus gekruisig te wees. – WDJ