Kan nóg beter werk met nuwe teologiese kursus lewer

KAN NÓG BETER WERK MET NUWE TEOLOGIES KURSUS LEWER

Prof Willie Jonker van die Stellenbosse Kweekskool verduidelik die geïntegreerde teologiese kursus.
Die Kerkbode, 25 Julie 1984

Acta  Algemene Sinode 1982 (p. 443) ’n
8   Geïntegreerde kursus
8.1  Besluit van die Algemene Sinode

Die Algemene Sinode het soos volg besluit (Acta 1978 p 920 pt. B10.9.1):
8.1.1         In aansluiting by sy besluit van 1974 keur die Sinode die beginsel goed van ’n herbeplanning van die teologiese opleiding met die oog op beter integrasie van die twee fases (studie in die lettere en studie in die teologie) soos dit tans bestaan, hetsy deurdat sommige teologiese vakke by die letterstudie ingesluit word, hetsy deurdat die opleiding die vorm aanneem van één geïntegreerde teologiese kursus, al na gelang van die moontlikhede by die onderskeie universiteite. Die Sinode stel egter as voorwaarde dat dit geen verlaging in die standaard van óf die literêre óf teologiese mag meebring nie.

Na verloop van ’n paar semesters word dit steeds duideliker dat die regte stap geneem is toe daar besluit is op ’n integrering van die teologiese studie.

Doel

Die doel daarmee was om die eertydse twee fases van die opleiding van predikante (eers ’n driejarige admissiekursus en daarna ’n vierjarige teologiese opleiding) op sodanige wyse met mekaar te integreer, dat die teologiese opleiding ’n eenheid vorm. Dit bied baie moontlikhede vir ’n verdieping van die opleiding, omdat studente dan van die begin tot die einde van hulle studie met teologie besig is. Alle ander vakke wat hulle moet bestudeer, kan dan in hulle verband met die teologiese opleiding benader word.

Beter kursus

So word die studie nie alleen baie meer vaartbelynd nie, maar omdat die student oor ’n langer periode met die teologie besig is as in die ou tweefase-kursus, kan die kwaliteit van sy teologiese kennis en vermoë baie verbeter word. Die verkorting van die duur van die opleiding na ses jaar beteken dus geensins ’n verlaging van die standaard van die teologiese skoling van die predikant nie. Inteendeel, die verkorting na ses jaar is moontlik in die lig van die nuwe moontlikhede wat nie integrasie van die kursus bied nie. Dit is selfs waar dat die nuwe kursus ’n beter kursus as die oue is, omdat dit in elk geval baie beter akademies beplan is en die teologiese opleiding in ooreenstemming gebring is met die opleiding van ander professionele groepe soos geneeshere en ingenieurs.

Direk met teologie

Bowendien kom daar nog die voordeel by dat studente in die teologie dan direk in hulle eerste jaar al met die teologiese fakulteit en sy dosente kennis maak. In die verlede het dit admissiestudente dikwels gefrustreer dat hulle drie jaar lank moet studeer sonder om werklik die gevoel te kry dat hulle al met hulle eintlike opleiding besig is. Baie van hulle het dan ook langs die pad afgedwaal, sommige vanweë die feit dat ander vakke waarmee hulle besig is, die liefde van hulle hart op sodanige wyse verower het, dat hulle maar afgesien het van hulle begeerte om predikante te word. Andere het weer onder die invloed van kerkvreemde godsdienstige opvattings gekom en hulleself byvoorbeeld laat grootdoop, sonder dat hulle ooit ’n geleentheid gehad het om teologies behoorlik kennis te maak met wat die leer van die Kerk is.

Entoesiasme

Wat ons nou na enkele semesters opmerk, is juis die groot entoesiasme van die BA-studente vir die teologiese vakke wat hulle van die begin af moet bestudeer. Die betrokkenheid, belangstelling en ywer toon dat hulle die kursus geniet. Veral die feit dat dit moontlik is om van die begin van die kursus juis met die sentrale sake van die geloof gemoeid te wees, beteken dat die studente uit die staanspoor die gevoel het dat hulle besig is met die dinge waarvoor hulle na die universiteit gekom het. Maar dit bring ook mee dat die integrasie van die grondtale en ander vakke soos filosofie, sosiologie of sielkunde in die teologiese kursus die bestudering van daardie vakke baie profytliker en ook makliker maak, omdat die nut daarvan direk duidelik is.

Probleem

Natuurlik is daar ’n probleem met studente wat nog steeds ’n admissiekursus wil volg by universiteite waar geen teologiese fakulteit is nie. In ’n groot mate word die bedoeling van die integrasie van die teologiese opleiding in hulle geval verydel. Teen die tyd dat hulle by die teologiese fakulteit kom aansluit, het hulle klasmaats al meer as ’n kwart, en in sommige vakke al meer as ’n derde van hulle totale teologiese kursusinhoud agter die rug. Om te dink dat studente wat die ou admissiekursus gevolg het, sonder meer kan aansluit by die vierde jaar van ’n geïntegreerde teologiese kursus – en dan sommer maar so tussendeur die agterstallige vorming kan inhaal, is ’n illusie.

Sulke studente het noodwendig ’n agterstand, en watter reëlings daar ook getref word om hulle te help om so glad as moontlik by die ander in te skakel, sal dit altyd vir hulle ekstra tyd en werk meebring. Selfs dan bly dit nog die vraag of hulle presies dieselfde vorming kan hê as studente wat oor ses jaar heen binne ’n bepaalde opset met hulle studie besig was.

Die logiese saak sou wees dat sulke studente volgens die patroon van die ou tweefase-opleiding hanteer moet word, wat dan sal beteken dat van hulle ’n ekstra jaar studie gevra word om aan te vul wat hulle gedurende die eerste drie jaar misgeloop het, en sal meebring dat hulle opleiding nog steeds sewe jaar sal duur. Daar kan vir hulle allerlei ander voordele aan verbind word (bv. dat hulle dan verder kan vorder met studie in letterevakke as hulle klasmaats), maar die feit bly dan tog maar dat dit hulle ’n jaar ekstra sal kos.

Dit is eenvoudig nie moontlik om van 1986 studente wat nog slegs aan die ou admissievereistes voldoen, in dieselfde tyd te laat afstudeer as studente wat die nuwe geïntegreerde kursus gevolg het nie. Dit sal neerkom op ’n drastiese verlaging van die standaard van die opleiding, op ’n blote verkorting van die opleiding met ’n jaar, sonder dat die basis vir die verkorting, naamlik die integrasie van die teologiese studie by die eerste drie jaar, aanwesig is. Dit kon nooit die bedoeling van die Kerk gewees het toe die nuwe kursus goedgekeur is nie.

 

Kompromie

Tog het die Algemene Sinode in 1982 besluit dat admissiestudente van ander universiteite “sover moontlik sonder enige benadeling” by die nuwe verkorte kursus moet kan aansluit. Om aan hierdie besluit van die Algemene Sinode uitvoering te gee, sonder dat die standaard van die teologiese opleiding in die geval van sulke studente verlaag word, is dit nodig om ’n bepaalde kompromie aan te gaan. Hierdie kompromie bestaan daarin dat die admissiekursusse by die ander universiteite erkenning moet ontvang as eerste deel van die teologiese opleiding vir die amp van predikant. Maar dan moet daar in sulke kursusse ’n teologiese komponent ingesluit word wat in standaard gelykwaardig is aan die teologiese opleiding wat gedurende die eerste drie jaar in die geïntegreerde kursus gedoseer word. Alleen so sal dit moontlik wees vir studente wat hulle vooropleiding elders geniet, om hulle teologiese studie ook binne ses jaar te voltooi.

Vereistes

In die geval van die Universiteit van Stellenbosch het die Senaat – met die goedkeuring van die Kuratorium van die Kweekskool – ’n besluit geneem wat daarop neerkom dat dit vir ’n student wel moontlik is om ’n admissiekursus aan ’n ander universiteit te volg en tog nogtans binne drie jaar by die Kweekskool af te studeer, maar dan moet so ’n student aan bepaalde vereistes voldoen. Hy moet in besit wees van die vakke wat normaalweg vir die admissie kursus verpligtend is, maar daarnaas moet hy bewys lewer dat hy kwalifikasies verwerf het met ’n teologiese inhoud wat gelykstaande is aan die standaard van die teologiese studies wat volgens die geïntegreerde kursus toelating tot die graad BTh verleen. Verdere aanvullings word deur die Fakulteit van geval tot geval bepaal en voorgeskryf maar dit sal dan nie van so ’n aard wees dat dit ’n jaar ekstra studie vereis nie.

Die bedoeling hiervan is om dit moontlik te maak vir studente wat Bybelkunde III aan ’n ander universiteit ver­werf het, of wat ’n ander kursus in teologie op ’n voorgraadse vlak gevolg het, om direk tot die driejarige BTh-graad toegelaat te word. Daar word uitgegaan van die standpunt dat sulke studente oor teologiese kwalifikasies beskik wat in standaard gelykstaande sal wees aan die teologiese studies wat gedurende die eerste drie jaar op Stellenbosch gevolg is. Gelykheid in standaard beteken egter nie dat presies dieselfde stof behandel is nie. Vandaar die noodsaaklikheid om ruimte te maak vir aanvulling van werk wat deur die betrokke student nog nie gedoen is nie, maar wat in die teologiese kursus van die laaste drie jaar veronderstel word.

Meriete

Studente wat van elders kom, sal dus van geval tot geval beoordeel word met die oog op die vraag óf hulle moet aanvul en wát hulle moet aanvul. Die aanvulling hoef hulle dan (in elk geval) nie meer ’n jaar ekstra te kos nie. Hoe nader die vakinhoud van die Bybelkundekursus (of ’n ander teologiese kursus) wat hulle gevolg het, aan die inhoud van die teologiese studies van die Universiteit van Stellenbosch is, hoe minder sal hulle hoef aan te vul. In ’n ideale geval sal die verskille so gering wees, dat die aanvulling maar baie gering hoef te wees, indien nodig.

Feesjaar

Dit is met groot entoesiasme dat die Kweekskool in sy feesjaar uitsien na ’n volledige inwerkingstelling van die nuwe teologiese kursus, en wel in die oortuiging dat ons daarmee nog beter werk sal kan doen as in die verlede. Soos in die verlede is studente van elders meer as welkom om hy die Kweekskool aan te sluit. Die reëling wat getref is om dit vir hulle moontlik te maak om dan nog steeds hulle opleiding in ses jaar te voltooi, skep ook vir die departemente van Bybelkunde aan universiteite waar daar geen teologiese fakulteit is nie, ’n unieke geleentheid om op ’n nog sterker basis as in die verlede mee te werk aan die teologiese opleiding van die Kerk – ’n samewerking wat graag aanvaar word en waarvan alleen die allerbeste verwag word.