Dit is so moeilik

DIT IS SO MOEILIK
Die Burger, 9 Maart 1985

Dit is so moeilik vir ons om ook maar enigsins te beantwoord aan wat die Bybel van ons as kinders van God vra. Om die waarheid te sê, in ons eie krag is dit onmoontlik. Jesus het nie verniet gesê dat dit vir ’n ryk man moeiliker sal wees om in die koninkryk van God in te gaan as wat dit vir ’n kameel is om deur die oog van ’n naald te gaan nie. Hy het daarmee bedoel dat dit onmoontlik is soos uit die vervolg van sy woorde blyk (vlg Lukas 18:27).

En tog sê Jesus nie sonder meer dat dit onmoontlik vir ’n ryk man is om in die koninkryk van God te kom nie. Dit is moeilik ja, maar nie onmoontlik nie, want hoewel dit in ons eie krag, of soos Jesus sê, vir die mens onmoontlik is, is dit tog nog altyd vir God moontlik en dus, deur Gods genade, ook vir ons.

Dit is vir ons moontlik om te word en te doen wat God van ons vra, maar dan moet ons eers deur Gods genade aangeraak, oorreed en verander word in ons geaardheid, denke en begeertes, in ons waardestelsel en ons lewensideale. Dit verg ’n radikale “omdenke”, dit verg in Bybelse taal bekering.

Die rede waarom dit so moeilik is, is dat ons so moeilik daartoe gebring kan word om werklik vir die lewe teenoor die dood te kies, vir wat goed is teenoor wat kwaad is, vir God teenoor die duiwel. God moet ’n wonder aan ons doen om dit vir ons moontlik te maak, en dan moet Hy ons ook nog voortdurend begelei en vashou en telkens weer opnuut bevry tot ’n keuse vir wat ons werklik vry en gelukkig kan maak. Soos ’n stout kind verset ons ons teen Gods goeie wil vir ons, stribbel ons teen, en dikwels huil en skop ons vas, omdat ons in ons dwaasheid nie verstaan dat dit ons hoogste goed is om alles los te laat en ons aan die wil van God oor te gee nie.

Dit sou soveel makliker gewees het as God met ons sou gewerk het soos met die lewelose en redelose natuur wat nie anders kan as om Gods wet te gehoorsaam nie. Omdat ons mense is, gaan God met ons om soos met verantwoordelike wesens wat nie gedwing word om vir Hom te kies nie, maar dit van binne uit en uit eie oortuiging moet doen. God erken ons sedelike natuur en daarom laat Hy ons liewer deur worsteling en stryd heen tot die moeilike keuse vir Hom kom as dat Hy ons soos stokke of blokke behandel wat self geen keuse moontlikhede het nie.

God haal ons in die oormag van sy liefde telkens weer oor om te doen wat Hy vir ons bedoel, maar Hy doen dit nie met brute geweld nie, maar deur oorreding, deur ons aan te spreek en ons aan te raak en ons te oortuig deur die werking van sy Gees. Omdat ons weerstand bied teen die werking van sy Gees; is dit vir ons so moeilik om te kom waar God ons wil hê.

Soos die ryk jong man word ons bedroef oor die hoë prys van die vryheid en draai ons weg van wat vir ons die hoogste lewensvervulling sal wees. Tensy God ons dubbeld genadig is. – WDJ