Geloftedag

GELOFTEDAG

WD Jonker
Beeld, Saterdag, 14 Desember 1985

Die omstandighede waaronder ons vanjaar Geloftedag vier, is nie bepaald verheffend nie. Baie van ons lesers kyk waarskynlik met ’n swaar gemoed na ons omstandighede en dink met ’n somber gevoel aan die toekoms.

Dit is nie vreemd nie. Ons het in die afgelope jaar ’n aantal swaar teleurstellings belewe. Nog nooit was die politieke druk op ons land groter as nou nie. Nog nooit tevore het ons so ’n diep ekonomiese insinking belewe as nou nie. Nog nooit tevore het die geweld en onluste in ons land so ’n duidelike revolusionêre karakter aangeneem, soveel momentum verkry en so lank voortgeduur nie. Die hoop op ’n verbetering van die gesindhede tussen die verskillende bevolkingsgroepe in ons land het nog nie werklikheid geword nie. Die teendeel is eerder waar.

Elke dag bring die nuus nuwe ontstellende dinge onder ons aandag. Al probeer ’n mens hoop dat dit spoedig weer anders sal word, kan jy jouself tog nie los maak van die oortuiging dat ons ’n kritieke fase van die geskiedenis van ons land belewe nie. Ons is voor een van die grootste uitdagings in ons geskiedenis gestel, en daar sal in ons tyd beslissings val wat vir ons en ons nageslag van die allergrootste betekenis gaan wees.

Egte oorwinning

So ’n situasie dryf ons tot die gebed. Daar word in ons tyd ongetwyfeld veel oor hierdie sake gebid. Dit sal ook goed wees as Geloftedag vanjaar in die teken sal staan van die gebed dat God ons land in hierdie kritieke uur moet bewaar en dat Hy dit vir ons en vir almal in die land tot ’n seën moet laat word.

Tye van krisis hoef nie noodwendig vir ons net negatiewe gevolge te hê nie. Dit kan, as die boodskap daarvan verstaan word, in Gods hand tot tye van vernuwing en egte oorwinning word. In ons sondige menslike lewe is tye van krisis dikwels nodig om ons tot besinning en heroriëntering te bring. In sy genade stuur God sulke tye oor ons om ons tot stilstand, tot inkeer na binne en toekeer tot Hom te bring. Ons dink dat dit net goed gaan as ons voorspoedig is. Ons probeer krisisse en swaarkry van ons wegbid, maar God weet dat dit tot ons beswil kan wees.

Hoe sal Hy ons anders bring waar ons uit eie vrye wil nooit sou kom nie, as om ons planne te laat vasloop, ons voorspoed te knak, ons van ons swakheid bewus te maak en ons op ons knieë te bring? Tye van krisis kan groot tye in ons lewe word, omdat ons dan in ootmoed voor die aangesig van die heilige God kan gaan staan om te vra dat Hy ons moet help om te verstaan wat sy weg en wil vir ons is, sodat ons pad ’n pad van die lewe sal wees en nie van die dood nie.

Saam met andere

Die kritieke aard van die tye waarin ons lewe, hang in ’n groot mate saam met die moeilike, ja, byna onoplosbare probleme wat aan ons land meegegee is deur die geskiedenis. Hierdie probleme kan nie met ’n handomdraai reggemaak word nie. Die oplossing daarvan kan nie met geld gekoop of langs die weg van geweld verkry word nie. Dit kan alleen gevind word langs die weg van ’n diepgaande geestelike heroriëntering by die totale bevolking van ons land, sodat hier ’n samelewing opgebou kan word waarin onderlinge vertroue, wedersydse aanvaarding en wedersydse sorg vir mekaar die grondslag sal kan vorm vir blywende vrede en geregtigheid.

Miskien wil God ons in hierdie tye leer om die relatiwiteit in te sien van enige voorreg, materiële gewin of vorm van sekuriteit wat ons vir onsself begeer, as ons nie bereid is om dit saam met andere en tot hul voordeel te besit nie. Miskien wil Hy ons leer om groter te dink as in die verlede, om minder na ons persoonlike belange om te sien en meer na die van alle mense in ons land. Dit is nie dat ons dit nie in die verlede ook reeds in ’n sekere mate besef het nie, maar dit is dringend noodsaaklik dat ons dit met veel groter helderheid en toewyding as ’n nuwe ideaal en opdrag sal aanvaar.

Dit is die allergrootste uitdaging wat aan ons gestel kan word. Dit sal van ons die uiterste inset vra, die hoogste waartoe ons as Christene deur God in staat gestel kan word, en ’n peil van selfverloëning en diens wat miskien vir ons onmoontlik lyk. Maar as God ons daartoe help dat minstens die bereidheid daartoe by ons gebore word, sal ons gebede verhoor wees. Dan was ook die donkerte van hierdie tyd die moeite werd, en sal die seën wat daaruit voortvloei, die swaarkry duisendmaal oortref.