Die Volmaaktheid van Christus

DIE VOLMAAKTHEID VAN CHRISTUS

WD Jonker
Die Kerkbode (Vraebus), 23 Julie 1986

W Odendaal van Oudtshoorn vra wat die regte uitleg van Hebreërs 5:9 is. Volgens die NAB staan daar: “En toe Hy (Christus) volmaaktheid bereik het, het Hy vir almal wat aan Hom gehoorsaam is, die bron van ewige saligheid geword.” Sy probleem is dan: “Was Christus nie ook as aardse mens volmaak nie? Watter ander vorm van volmaaktheid moes Hy dan bereik om ’n hiernamaalse funksie te vervul?

W D Jonker antwoord

Hebreërs 5:9 moet in samehang met Hebreërs 5:8 gelees word. Daar staan: “Hoeveel Hy die Seun was, het Hy deur alles wat Hy gely het, geleer wat gehoorsaamheid is.” Dan volg vers 9: “En toe Hy volmaaktheid bereik het…” Hieruit is dit duidelik dat die woord “volmaaktheid” betrekking het op die leer van gehoorsaamheid waarvan vers 8 praat.

Die werkwoordvorm wat in ons Bybel met “nadat Hy volmaaktheid bereik het” vertaal word (teleiooteis), beteken eintlik: Nadat by die hoogtepunt of eindpunt bereik het. Daarmee word aangedui dat Christus die leerskool van die lyding waarin Hy moes leer wat gehoorsaamheid is, tot die einde deurloop en die hoogste sport daarin bereik het. In die sin het Hy volmaaktheid bereik in die kennis van wat gehoorsaamheid aan God op die weg van sy lyding vir ons verlossing beteken het. In alles wat God van Hom op sy lydensweg gevra het, was Hy volkome gehoorsaam, tot die uiterste toe, en daarom kon Hy toe vir almal wat aan Hom gehoorsaam is, die bron van ewige saligheid word.

Hierdie uitspraak suggereer dus nie dat Christus in een of ander stadium van sy aardse lewe onvolmaak was nie. Uitdruklik word in Hebreërs 4:15 van Hom gesê dat Hy, hoewel Hy soos ons aan versoeking onderwerp was, nie gesondig het nie. Die feit dat Hy volgens vers 8 deur alles wat Hy gely het geleer het wat gehoorsaamheid is, en dat Hy volgens vers 9 in hierdie leerproses die eindpunt of die volmaaktheid bereik het, het niks met sedelike ontwikkeling by Jesus te make nie, of met ’n proses van groei vanaf onvolmaaktheid in sedelike opsig na sedelike volmaaktheid.

Dit gaan daarom dat Christus in sy werk as Middelaar, in die proses van sy lyding van stap tot stap proefondervindelik geleer het wat die gehoorsaamheid aan God werklik beteken, wat dit alles ingehou het. Daarmee het hy voortgegaan totdat alles wat God van Hom gevra het, in volmaakte gehoorsaamheid volbring was. Eers toe was sy taak as Middelaar voltooi en kon die vrug van sy gehoorsaamheid ons ten goede kom.

Hierna word reeds verwys in Hebreërs 2:10, waar ons lees dit was reg dat God die Leidsman tot die verlossing deur lyding heen tot volmaaktheid sou bring. Die “volmaaktheid” waarvan hier sprake is, is die volkomenheid van Christus as Middelaar, as Leidsman tot verlossing, wat daarin bestaan dat Hy alles gedoen en alles gely het wat nodig was om die straf op die sonde te dra en ons met God te versoen.

Die punt het Jesus bereik toe Hy aan die kruis kon uitroep: “Dit is volbring!” Hy het, soos die Heidelbergse Kategismus sê, “na liggaam en siel tydens sy lewe op aarde, maar veral aan die einde daarvan, die toorn van God teen die sonde van die hele mensdom gedra. So het Hy met sy lyding as die enigste versoeningsoffer ons liggaam en ons siel van die ewige verdoemenis verlos en vir ons die genade van God, die geregtigheid en die ewige lewe verwerf” (Antwoord 37).