Die taak van die NG Kerk vandag in diens van die koninkryk

DIE TAAK VAN DIE NED GEREF KERK VANDAG
IN DIENS VAN DIE KONINKRYK

HANDELINGE VAN DIE SEWENDE VERGADERING
VAN DIE ALGEMENE SINODE
VAN DIE NEDERDUITSE GEREFORMEERDE KERK

te Kaapstad
Dinsdag 14 — Saterdag 25 Oktober 1986

Bylae 2.1

Referaat – WD Jonker
(Broederlike Onderhoud, Alg Sinode, 15 Oktober 1986)

Lees 1 Korintiërs 9:19–27. Motto: 1 Korintiërs 9:19 – Hoewel ek vry is en van niemand afhanklik nie, het ek my aan almal diensbaar gestel om soveel mense as moontlik vir Christus te win.

  1. Die doel van hierdie byeenkoms is seker nie om na dogmatiese lesings oor die taak van die kerk in die algemeen te luister nie. Ons is hier bymekaar met die doel om onsself geestelik in te stel op die gewigtige taak wat die Sinode moet verrig met die oog daarop is die formulering van die onderwerp gekies. Daaruit is dit duidelik dat dit vir ons om ‘n baie praktiese vraag moet gaan, nl hoe spesifiek die NG Kerk VANDAG, in hierdie situasie, as kerk in diens van die koninkryk moet optree.
  2. Daar is natuurlik ‘n sin waarin die taak van die kerk altyd dieselfde is. Dit kan in ‘n enkele sin gesê word: die taak van die kerk is om oral en altyd met woord en daad die evangelie van die koninkryk in die wêreld te verkondig en uit te leef. Die kerk is niks anders nie, as ‘n teken en instrument van die koninkryk van God. Dit moet, as dit ten minste kerk wil wees, ten volle op die koninkryk van God gerig wees. Die koninkryk van God is die sáák van die kerk, die enigste doel en strewe van die kerk. Die taak van die kerk in ons situasie kan niks anders wees nie, as om maar net kerk te wees – koninkrykskerk – wat homself met sy eie saak besig hou en op die wyse van die kerk in die situasie getuig en reageer. As ‘n mens na die lys van werksaamhede kyk wat deur die NG Kerk verrig word en in die agenda van hierdie sinode weerspieël word, is dit duidelik dat daar moeilik nog een of ander spesiale taak of aktiwiteit toegevoeg kan word aan die dinge wat die NG Kerk reeds doen. Dit kan dus nie die bedoeling van ons onderwerp wees dat ons hier nog iets nuuts aan die lys van werksaamhede van die kerk moet toevoeg met die oog op ons tyd nie. Klaarblyklik is dit die bedoeling van ons onderwerp dat ons onsself sal afvra of ons die één taak van die kerk, nl om koninkrykskerk in die wêreld te wees, in hierdie uur doeltreffend en op die regte wyse verrig.
  3. Die vraag is nodig, want hoewel dit waar is dat die kerk altyd dieselfde taak moet verrig, is dit netso waar dat hy daardie taak in elke nuwe situasie sal moet verrig op ‘n wyse wat op die situasie afgestem is. Daar is ‘n sin waarin die kerk by die tyd moet wees. Die evangelie wat die kerk verkondig, is wel ‘n ewige evangelie en Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid, maar soos Christus in ons tyd en konkrete vlees ingegaan het, so gaan die ewige evangelie in die konkrete nood en behoeftes van elke tyd in om juis daarin die Woord van verlossing te wees. Daarom is die evangelie altyd aktueel vir elke tyd, mits dit reg verstaan en verkondig word. Dit is die taak van die kerk om goed genoeg na die boodskap van die evangelie te luister om dit in elke tyd opnuut te verstaan, te verkondig en uit te lewe as die bevrydende woord vir daardie tyd met sy spesifieke omstandighede. In sy beste tye was die kerk altyd merkwaardig relevant en by die tyd, omdat dit die nood van die tyd reg verstaan en die antwoord van die evangelie op daardie nood duidelik verkondig het. Daar is basiese aspekte van ons menslike verlorenheid en nood wat altyd en in alle eeue dieselfde bly. Maar daar is ook aspekte van ons nood wat in spesifieke tye om besondere aandag vra. Wat ons land vandag nodig het, is dat die NG Kerk in hierdie uur die evangelie van die koninkryk so goed sal verstaan en met woord en daad sal vertolk, dat dit in die krisis-situasie waarin ons onsself op hierdie oomblik bevind, gehoor en ervaar kan word as die woord van verlossing, hoop en bevryding.
  4. Hoewel ons almal baie goed bekend is met die situasie waarin ons verkeer, is dit goed om enkele aspekte daarvan na vore te haal.

4.1     Die eerste wat ons moet onthou, is dat geweldige geestelike, kulturele en politieke veranderinge besig is om hulleself wêreldwyd te voltrek. Ons beleef tans die einde van ‘n era in die geskiedenis van die mensheid wat gekenmerk is deur die opperheerskappy van die Weste, blanke supremasie, en die dominante posisie van die Christendom in ‘n groot deel van die wêreld. Ons beleef geweldige konflikte tussen ideologieë en toenemende polarisasie tussen ryk en arm lande, die eerste en die derde wêreld. Ons word bedreig deur apokaliptiese gevare soos die uitputting van die natuurlike hulpbronne of die vernietiging van ‘n atoomoorlog. Dit alles raak die hele wêreld. Maar dit raak ons in ‘n heel besondere sin: ons is in ‘n sekere sin die kruispunt waar baie van die elemente van konflik mekaar ontmoet. Ons situasie is in ‘n sekere sin ook eksemplaries vir die situasie waarin die hele wêreld homself bevind. Ons is nog die laaste oorblyfsel van ‘n era wat verbygegaan het, en daarom klots die golwe van die nuwe era genadeloos teen ons wande. Ons leef op die revolusionêre breuklyn van die geskiedenis. Dit is geen wonder dat ons op ‘n besondere wyse blootgestel is aan die pyn en verwarring, die haat en die bitterheid, die geweld en gevaar wat gepaard gaan met sulke groot wendinge in die kulturele en geestesgeskiedenis van die mensheid nie. Ons land met sy besondere ligging en situasie is daarom feitlik gepredestineer om die slagveld in die stryd tussen die ideologieë en die verskillende belange te word.

4.2     Maar ons moet nog meer sê: die NG Kerk is kragtens sy geskiedenis op ‘n heel besondere wyse gemoeid met wat hier gebeur vanweë sy verbintenis met die Afrikanervolk. Die Blankes in die algemeen, maar meer spesifiek die Afrikaners wat gedurende die laaste dekades die politieke leiding in die land in hande gehad het, is op die oomblik in ‘n traumatiese situasie vanweë die veroordeling en verwerping deur die hele wêreld aan die een kant, en die haat en verbittering van die oorgrote meerderheid van die landsbevolking aan die ander kant. Ons land staan voor die bedreiging van ‘n bloedige en gewelddadige konflik wat vir die land en sy inwoners vernietigend kan wees. Oor die politieke vrae wat daarmee saamhang, is nie net die hele landsbevolking verdeeld nie, maar ook die Christene en kerke in ons land, met insluiting van die lidmate van die NG Kerk self. Soos meermale in die verlede beleef die NG Kerk vandag weer hoe die politieke verdeeldheid en spanning onder sy lidmate in sy lewe insny. Daarby word die NG Kerk vanweë sy vereenselwiging met die Afrikanervolk medeverantwoordelik gehou vir die politiek van die Afrikaner en hy word om die rede deur die wêreldkerk en ook selfs uit die geledere van die NG familie veroordeel en van kettery beskuldig.

4.3     Die laaste aspek van ons situasie wat ek wil noem, is dat die NG Kerk self ‘n bepaalde identiteitskrisis deurmaak. Die innerlike spanninge in die NG Kerk en sy ambivalensie t.o.v. maatskaplike en ander vrae het die geloofwaardigheid van die kerk in die afgelope tyd in wye kringe ondermyn. Hoewel daar baie tekens van nuwe lewe en geestelike erns in die NG KERK opgemerk kan word, is die algemene beeld van die NG KERK in die land minder gunstig. Die beeld wat in ‘n dokument soos die verslag van die RGN oor Tussengroepverhoudinge van die NG Kerk geteken word, is ‘n voorbeeld hiervan. Die NG Kerk is besig om sy dominante posisie binne die totale landsopset te verloor, en dit nie alleen vanweë die feit dat sy lidmatetal persentasiegewys ‘n kleiner deel van die bevolking uitmaak nie. Daar word reeds gesê dat die NG Kerk geestelik en teologies die inisiatief in ons land verloor het, en deur ons isolasie van ander kerke in die binne- en buiteland ervaar ons op die oomblik ‘n pynlike en gevaarlike eensaamheid wat op die duur ons karakter as deel van die universele kerk sal bedreig. Ook is allerlei middelpuntvliedende kragte in die NG Kerk aan die werk. Vir baie het ons die beeld gekry van ‘n verburgerlikte middestandskerk wat slegs nog die bestaande waardes en opvattings van een groep in die gemeenskap bevestig en die status quo verdedig, en daarom distansieer hulle hulself innerlik van die kerk. Vir andere het die NG Kerk reeds te ver gegaan in sy aanpassing by die veranderende situasie in ons land en hulle dreig om met die kerk te breek. Nog andere ervaar die NG Kerk as te ongeestelik en soek hulle toevlug in meer ervaringsgerigte vorms van geloofsbelewing, sodat ook hulle die kerk verlaat. Die vraag wat die ware identiteit van die NG Kerk is, roep dus om beantwoording.

  1. Wat moet die NG Kerk doen om onder hierdie omstandighede sy taak as kerk van die koninkryk op ‘n betekenisvolle wyse te kan verrig? Die NG Kerk moet sy identiteit as koninkrykskerk verstaan en op sodanige wyse daaruit gaan lewe, dat dit sal toon dat die evangelie ‘n antwoord bied op die probleme wat in hierdie situasie aktueel is. Wat dit beteken, sou ek graag wil verduidelik aan die hand van die woord van Paulus in 1 Korintiërs 9:19 wat sê: Hoewel ek vry is en van niemand afhanklik nie, het ek my aan almal diensbaar gestel, om soveel mense as moontlik vir Christus te win. Alleen vir sover die kerk self kan gaan staan in die vryheid wat die kerk van Christus behoort te kenmerk, sal hy in staat wees om homself diensbaar te stel aan alle mense ter wille van die koninkryk, en hulle te help om te gaan lewe in die egte geloof, hoop en liefde wat vrugte van die koninkryk is.

5.1     Die kerk het in ons situasie die groot taak om in te gaan op die vrees en sorg van die Westerse mens wat in hierdie situasie van ‘n groot historiese omwenteling in die geskiedenis in groot onsekerheid en spanning beland. Die kerk kan hom daarin alleen help, as hy hom leer om uit die geloof te lewe. In die geloof sal hy sy oog op die koninkryk van God moet vestig wat in die wêreld ondanks alle verwarring en geboortepyne aan die kom is en in die vertroue op God moet leer lewe. Dit is egter net moontlik as hy deur die geloof werklik vry geword het van die sorg oor die aardse dinge, selfs oor sy eie lewe. Dit is net die Gees wat ons innerlik hiertoe kan bevry, want slegs waar die Gees van die Here is, daar is vryheid. Die vryheid wat ons nodig het, is die vryheid van ‘n lewe uit die genade. Slegs wie uit die genade lewe, ken die navolging van Christus en verstaan iets van die perspektief van die koninkryk van God. As ons die NT lees, word ons getref deur die feit dat die navolging van Christus mense bevry van sorg, van aardse bindinge, van vrees vir môre, van hebsug en eie-belang. Christus bevry mense tot die styl van die koninkryk wat gekenmerk word deur die bereidheid om die kruisweg te gaan in ootmoed en selfvernedering en in die liefde te wandel wat geen grense ken nie en selfs die vyand omvat, ook onder omstandighede waarin ons onsself misken, verontreg en bedreig voel. Die lewe uit die genade maak ons vry van die gesindheid van die vrees wat gekenmerk word deur selfhandhawing en selfverdediging, die gewelddadigheid wat kwaad met kwaad wil vergeld, beskuldiginge met teen-beskuldiginge, venyn met weder-venyn ens. As die kerk hierdie boodskap van geloof in ons tyd effektief wil uitdra, sal die kerk dit self eers moet toeëien. Die kerk van Christus ken maar een lewenswet, en dit is die wet van die koringkorrel wat in die grond moet val en sterwe, anders bly dit sonder vrug. Ook vir die kerk geld dat elkeen wat sy eie lewe soek, dit sal verloor, maar dat elkeen wat sy lewe om Christus en sy koninkryk ontwil verloor, sal dit vind. Die evangelie is ‘n baie praktiese saak. God wil ons in hierdie situasie tot ‘n nuwe geestelike verdieping bring om die basiese dinge van die evangelie te verstaan, sodat ons in staat kan wees tot die diens aan die koninkryk wat spesifiek in hierdie moeilike uur noodsaaklik is.

5.2     Die kerk moet egter ook aandag gee aan die nood van die nie-Westerse mense in ons land, wat meestal juis die arm dele van ons bevolking is en in hulle stryd om in die talle voorregte te deel wat hulle rondom hulle sien, maklik ‘n prooi van bitterheid, haat, ideologiese misleiding en geweld kan word. Ook hulle oog moet op die koninkryk van God gerig word, en hulle moet leer verstaan dat die boodskap van die koninkryk ‘n boodskap van hoop is, hoop nie net vir die ewige lewe nie, maar ook vir ‘n nuwe menslike bestaan op die aarde. Die evangelie van die koninkryk kan mense en volkere verander, kan gesindhede en strukture aangryp, kan vrede en ‘n lewe van diensbaarheid aan mekaar beteken. Maar weer eens, as die NG Kerk hierdie boodskap van hoop op ‘n betekenisvolle wyse in ons land moet kan uitdra en uitlewe, sal hy vry moet word van bindinge wat hom daarby hinder. Die groot gevaar vir die kerk is altyd dat hy sy vryheid sal verloor om vir alle mense ‘n teken van hoop te wees, omdat hy in ‘n goedbedoelde poging om diensbaar te wees aan die mense van een bepaalde volk of groep, homself so byna eksklusief met daardie volk vereenselwig, dat hy sy vryheid om vir alle mense alles te wees, op die duur kompromitteer. Dit gebeur veral baie maklik met ‘n kerk wat tot ‘n volkskerk word, afgesien daarvan of hy homself ‘n volkskerk noem of nie. Dan kan die kerk nie meer sy selfstandigheid behou teenoor die ideale en etos van die volk nie. Hy verloor sy vreemdheid in die wêreld en identifiseer homself met die kulturele, maatskaplike, ekonomiese en politieke ideale van die volk. Hy kan nie meer werklik krities staan teenoor die dinge wat die volk beweeg nie en vervul dikwels slegs die rol om aan die ideale van die volk religieuse sanksie te verleen. So ‘n kerk is nie meer vry nie en verloor sy identiteit, tot skade van homself en van die koninkryk, maar ook tot skade van die volk wat hy wil dien. Ongelukkig, moet ek sê, het kerke deur die eeue hulleself op hierdie wyse laat verburgerlik en verpolitiseer. Ook ons self is nie daarvan vry te spreek nie. En wat ons vandag rondom ons sien gebeur onder invloed van die moderne politieke teologie, toon dat die lesse van die verlede nog nie geleer is nie. As die NG Kerk in hierdie uur ons land moet kan dien, as hy suksesvol moet kan stry teen die ideologies wat na die hart van Afrika gryp, moet hy homself baie duidelik losmaak van enige vorm van onvryheid in hierdie opsig. Slegs as die kerk van almal vry is en homself nie met een bepaalde groep identifiseer nie, kan hy soos Paulus sê, vir almal alles word. Die kerk moet sy katolisiteit ook daarin tot uitdrukking laat kom, dat hy homself verstaan as die kerk van almal en vir almal wat glo, wie hulle ook mag wees, sodat hy ook ongekwalifiseerd bereid sal wees om diensbaar te word aan alle mense, ten einde soveel as moontlik vir Christus te win. Soos die materiële nood van die Afrikaners indertyd die NG Kerk tot aksie beweeg het, so moet hy hom die nood van alle armes in hierdie land aantrek en hom daarvoor beywer dat reg aan hulle sal geskied. In hierdie opsig wag daar vir die NG Kerk nog ‘n opvoedingstaak wat sy lidmate betref. Soms vra ‘n mens jouself af hoe diep die gereformeerde religie en belydenis werklik in die breë lae van ons lidmate ingedring het, want dit lyk eerder asof hulle met ‘n verkeerd begrepe tweeryke-leer as met ‘n gereformeerde visie op die koninkryk werk. As ons egter werklik glo dat geen duimbreedte van hierdie werklikheid aan die heerskappy van Christus onttrek mag word nie, en dat dit ook vir die politiek en maatskaplike verhoudinge geld, sal die NG Kerk ‘n baie duideliker getuienis moet lewer oor die eise van die koninkryk vir die ganse lewe van alle mense in hierdie land.

5.3     Die NG Kerk sal, as hy in hierdie uur in diens van die koninkryk wil staan en aan almal diensbaar wil word, veral ook die probleem van vervreemding, haat en bitterheid, agterdog en vyandskap waaronder ons land gebukkend gaan, met die boodskap en daad van die Christelike liefde tegemoet moet tree. Dit het nie net implikasies vir die versoening tussen individue en groepe in die samelewing nie, maar ook vir die eenheid van die kerk en vir ons ekumeniese verhoudinge. Liefde is iets wat geleef moet word, wat bewys en betoon moet word. As die gees van die kerk nie in alles deur liefde, verdraagsaamheid, inskiklikheid en vriendelikheid gekenmerk word nie, hoe kan ons ooit verwag om goeie getuies vir die koninkryk te wees, waarvan Romeine 14:17 sê dat dit nie ‘n saak van eet of drink is nie, maar van gehoorsaamheid aan God, vrede en vreugde wat die Heilige Gees gee? Die NG Kerk het kragtens sy historiese posisie in hierdie land die roeping om die inisiatief te neem om die vertroebelde verhoudinge tussen Christene en kerke in hierdie land te herstel en om homself daarvoor te beywer dat daar in plaas van die huidige misverstande, agterdog en verdeeldheid ‘n gees van liefde en versoening tussen gelowiges en kerke tot stand kan kom en ’n verenigde getuienis vir Christus en sy koninkryk uit hierdie land kan opklink. As daar van egte versoening tussen die mense in ons land sprake moet wees, dan moet dit by die kerk begin, want slegs die kerk ken en beleef die ware versoening in Christus. Die opdrag dat ons versoening met die broeders moet soek, kan deur die kinders van die koninkryk nooit verontagsaam word nie. As die bloed van Christus ons saambind, mag ons tog nie ontrou wees aan die evangelie en die implikasies daarvan nie.

Mag God ons die genade gee om in hierdie uur kerk van Christus te wees, kerk van die koninkryk, wat self leef uit die genade en daarom ook lewe uit geloof, hoop en liefde. Eintlik is dit al taak wat ons het, om net te word en te wees wat ons in Christus reeds is.