Die sin van berou en sondebelydenis

DIE SIN VAN BEROU EN SONDEBELYDENIS

 WD Jonker
Die Kerkbode, 12 November 1986

Petrus se verloëning van Jesus het nie die einde van die band tussen hulle beteken nie. Selfs al het Petrus gesweer dat hy die Man nie ken nie en niks met Hom te make gehad het nie, het Jesus hom nie losgelaat nie. Met aangrypende teerheid hou Hy hom vas dwarsdeur alles heen, en die doel wat Hy met Petrus se lewe het, laat Hy vir geen enkele oomblik vaar nie.

Ook hierin is Jesus die openbaring van God wat dit met sy uitverkorenes en geliefdes uithou tot die laaste toe. Hy laat nie toe dat hulle uit sy hand geruk word nie. Hy laat selfs nie toe dat hulle hulleself uit sy hand loswring nie. Met matelose geduld en lankmoedigheid trek Hy hulle in sy liefde weer nader as hulle hulleself in ongeloof en vrees, moedswilligheid of lafhartigheid van Hom distansieer.

Dit is vir ons altyd moeilik om ’n geliefde wat ons diep verwond het, onvoorwaardelik te vergewe en terug te neem in ons liefde. Daar bly feitlik altyd maar ’n wondplek oor. Ons vergewe, sê ons dan, maar ons kan nie vergeet nie.

God se genade

Maar God is barmhartig en genadig. Hy handel met ons nie na ons ongeregtigheid en vergeld ons nie na ons oortredinge nie. So ver as die ooste verwyder is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons. Hy werp ons sonde agter sy tug en dink nooit meer daaraan nie.

So handel Jesus ook met Petrus. Dit was nooit ’n vraag of Hy Petrus sou vergewe nie. Selfs voordat Petrus kon vra, was die genesende liefde van Christus rondom hom. Dit is nie verniet nie dat ons in die evangelies lees Christus het na sy opstanding aan die dissipels “en aan Petrus” verskyn (Lukas 24:34). Christus het nie gewag dat Petrus na Hom sou terugkom nie. Hy het Petrus se verslaenheid en droefheid oor sy ontrou en sonde geken en van sy kant af eerste na Petrus gekom.

Hierdie teerheid spreek ook uit die gesprek waarvan ons hier in Johannes 21 lees. Van sy kant gaan Jesus in op wat tussen Petrus en Hom staan. Hy verbreek die stilte en open die weg vir Petrus om nie alleen in die ou verhouding tot Hom herstel te word nie, maar om in ’n veel dieper sin aan Hom verbind te word.

Waar Christus is, is sonde nooit onherroeplik nie; in elk geval is dit nooit die laaste woord nie. Dit maak nie saak hoe groot die sonde is, hoe aaklig en dwaas dit is nie. Daar is vergewing, maar meer nog: daar is by God ook altyd die moontlikheid om die sonde in ’n mens se lewe te gebruik om die sondaar by ’n keerpunt in sy lewe te laat kom, wat hom tot ’n inniger verhouding tot God voer en hom meer as ooit tevore met die sonde laat breek. God kan uit die kwaad die goeie te voorskyn laat kom. En so merk ons ook hier dat Christus met Petrus onderhandel op ’n wyse wat in sy geestelike verhouding tot Christus ’n geweldige verdieping gebring het. Verre daarvandaan dat Christus Petrus loslaat, trek Hy hom juis veel nader na Hom.

Dit is egter noodsaaklik om daarop te let dat die teerheid waarmee Jesus Petrus behandel, nie beteken dat Hy nie indringend met hom onderhandel oor sy sonde nie. Inteendeel, dit is juis ’n openbaring van die teerheid van sy liefde teenoor Petrus, dat Hy nie maar swyg oor sy sonde nie, maar dit uithaal en ophaal. Vir die herstel van die verhouding is dit noodsaaklik dat dit moet gebeur.

Dikwels word daar gesê dat sonde wat nie bely is nie, ook nie vergewe is nie. Dit word gedoen op grond van tekste soos 1 Johannes 1:9 en Psalm 32:3–5. En dit is inderdaad die wil van God dat ons ons sondes sal bely en Hom om vergifnis sal vra. In die belydenis van ons sondes breek ons ook innerlik daarmee. Tog kan dit natuurlik nie as ’n onwrikbare reël geld dat sondes wat nie bely is nie, ook nie vergewe kan wees nie. Ons kan immers net die sondes bely waarvan ons bewus is.

Daar is egter talle verkeerde dinge in ons lewe waarvan ons nie eens bewus is nie. Gelukkig omvat God se vergewende genade ons hele lewe en dek die bloed van Christus al ons sondes toe – ook dié waarvan ons nie eens bewus is nie en wat ons dus nie kon bely het nie.

Ons lees ook in hierdie gedeelte nie spesifiek dat Petrus sy verloëning van Jesus bely of dat Jesus hom vra om dit te doen nie. Wat Christus wel doen, is om Petrus te vra om opnuut sy verbondenheid aan Hom te bely. Driemaal het Petrus Hom verloën voor die mense, en driemaal moet hy voor die broeders bely dat hy Jesus liefhet. Dat dit vir Petrus pynlik was, spreek vanself. In die driemaal herhaalde vraag na sy liefde word hy op ’n duidelike wyse herinner aan sy ontrou teenoor Jesus.

Veral die feit dat Jesus hom vra of hy Hom liewer het “as hulle hier”, herinner daaraan dat Petrus met groot bravade gesê het: “Al sal hulle (die ander dissipels) U ook almal in die steek laat, ek sal U nooit in die steek laat nie.”

Hierdie selfvertroue van Petrus is diep geskok. Die holheid en betekenisloosheid van sy versekering het duidelik geblyk. Dit sou vir Petrus makliker gewees het om nie daaraan herinner te word nie, maar Jesus laat hom nie toe om daaraan verby te gaan, sonder om die volle aakligheid daarvan nog eens onder die oë te sien nie. Petrus moet die geleentheid kry om daarmee te breek.

Dit is die sin van ons berou oor en belydenis van ons sonde. In ons berou onderhandel Christus deur die Heilige Gees met ons. Ons word nie toegelaat om aan ons sonde verby te gaan, om daarmee saam te leef, om dit saam met ons te dra, sonder dat ons deur die Gees uitgedryf word tot insig in ons ellende en tot ’n innerlike breuk daarmee nie. Die heiligheid van God vereis ook dat ons die brandpyn van die sonde in ons binneste sal ervaar.

Die bewussyn van ons sondige aard sal seker nie elke dag ewe sterk in ons aanwesig wees nie. Maar daar is keerpunte, groot keerpunte in ’n mens se lewe, soos hierdie keerpunt in die lewe van Petrus, waarin die ontleedmes van die Gees diep in jou lewe insny

Geen wonder dat Petrus bedroef geword het nie. Geen wonder ook dat hy alleen maar kon sê: Here, U weet alles. U weet dat ek U liefhet! Hy weet immers in hierdie oomblik dat hy oop en bloot is voor Christus en dat daar niks meer is om weg te steek van wat in hom is nie. In die uitspreek van sy liefde vir Christus spreek hy ook sy hartseer uit oor sy verloëning van Christus. Sy hartseer self is ’n hartseer oor homself en sy ellende en onbetroubaarheid wat so groot is, dat Christus met reg driemaal moet vra of dit wel waar is wat hy sê.

Nee. Christus maak dit nie vir hom maklik nie. Die teerheid waarmee Hy met Petrus omgaan, sluit nie die noodsaaklikheid van die innerlike verbryseling van Petrus uit nie. Die verbryseling is noodsaaklik as Christus Petrus wil bring waar Hy hom wil hê.

Navolging

Waar wil Christus dan vir Petrus hê? Hy wil hom hê waar Petrus self nie wil wees nie: by ’n navolging van Christus wat so volkome is, dat hy letterlik met Christus gekruisig sou kon word. Vandaar dat Christus in die woorde van Johannes 21:18 aan hom sê dat hy, toe hy jonger was, homself gegord het en gegaan het waar hy wou, maar dat hy, as hy oud is, sy hande sal uitsteek en dat iemand anders hom sal vasmaak en bring waar hy nie wil wees nie. Dit, sê vers 19, het Jesus gesê en daarmee aangedui deur watter dood Petrus God sou verheerlik.

Bring waar hy nie wil wees nie. Is dit werklik waar? Wou Petrus nie self ook daar wees nie?

In sy voortvarendheid het Petrus voor Jesus se gevangeneming verklaar dat hy bereid was om met Christus saam selfs die gevangenis en die dood in te gaan. Dit is waarskynlik dat Petrus dit ook bedoel het. Hy wou dit werklik doen. En tog wou hy ook nie. Die vlees wil nooit werklik in die dood ingaan nie. Ons natuurlike, geskape wil ook nie regtig in die dood ingaan nie, maar streef selfs met alles daarteen. Ons innerlike teenstrydigheid is dat ons tegelyk wil en nie wil nie. Petrus was eerlik toe hy gesê het dat hy bereid is om met Christus in die dood in te gaan.

’n Mens merk ook aan Petrus die verbasing oor homself as hy Jesus later tog so uitdruklik verloën. In die 1979-vertaling leer ons in Lukas 22:61 dat, toe die haan gekraai het, dit Petrus bygeval het dat Jesus gesê het hy sou Hom verloën. Dit is of hy uit die slaap wakker word. Dit is of hy self nie kan glo dat hy tog gedoen het wat hy gesê het hy nie sou doen nie, en wat hy in alle opregtheid nie wou doen nie. Sy trane getuig dan ook van sy skrik oor homself, sy wanhoop met homself, sy teleurstelling in homself.

Innerlike stryd

Christus wat alle dinge weet, het Petrus in sy innerlike teenstrydigheid geken. Hy het geweet dat die vlees so sterk in Petrus was, dat sy betuiging van trou, hoe opreg ook bedoel, nie sou standhou wanneer hy deur vrees aangeval en deur gevaar bedreig word nie. Hy het geweet dat Petrus ’n maklike prooi vir versoeking was. Maar dit was nie Christus se bedoeling dat Petrus so sou bly nie. Daarom het Hy reeds voor Petrus se verloëning al gesê dat as Petrus tot inkeer gekom het, hy sy broeders moet versterk.

Dit is God se genade dat Hy ons nie laat by wat ons is nie. Hy bring ons waar ons vanuit ons menslike en ons sondige wil nie wil wees nie, maar waar ons as nuwe mense ten diepste tóg wil wees. Petrus moes gebring word op die punt waar hy werklik sou doen wat hy beloof het: om met Christus in die gevangenskap en in die dood in te gaan. Hy moes bereid gemaak word om met Christus te ly en te sterwe.

As ’n mens werklik agter Christus wil aankom, moet jy deur die selfkruisiging deur, moet die koringkorrel in die grond val en sterf, moet ’n mens deur lyding en verbryseling heen gewillig gemaak word om gebring te word waar jy nie wou wees nie. Die weg van heiliging is ’n weg van innerlike verbryseling.

(Uit Vreemde Geregtigheid, NG Kerk-Uitgewers, 1983)