Die naam van Jesus

DIE NAAM VAN JESUS
Die Burger, 6 Desember 1986

In die godsdienstige onderrig van hul kinders laat baie ouers alle aksent op Jesus val. In ’n sekere sin laat hulle die naam “God” eintlik weg uit wat hulle aan hul kinders leer, of hulle laat dit in elk geval sterk op die agtergrond tree.

Baie kinders se eerste gebedjies en liedjies word gevolglik ook tot Jesus gerig of besing sy lof. In hul voorstellingswêreld is dit Jesus wat die wêreld gemaak het, hulle elke dag bewaar, met alle goeie dinge versorg en in hul hartjies woon. Wat in die Bybel aan God die Vader en aan die Heilige Gees toegeskryf word, word so alles van Jesus gesê.

’n Mens kan begryp waarom ouers dit doen. Die menswees van Jesus maak dit soveel makliker om by kinders ’n konkrete voorstelling van Hom op te wek. Dit is ook moeilik om aan kinders van die begin af ’n begrip te gee van die bestaan van God as die Drie-enige, en uit vrees vir verwarring vind ouers dit die maklikste om met hul kinders net oor Jesus te praat.

Dit sal natuurlik nie daarby bly nie. In die kerk en die skool en hopelik ook by die huisgodsdiens en hul eie lees van die Bybel hoor die kinders tog van die begin af van God die Vader en die Heilige Gees, naas Jesus. In een of ander stadium sal hulle dus tog op ’n bepaalde wyse by die Drie-eenheid uitkom, en ryp wees vir ’n verduideliking daarvan, al is dit ook hoe elementêr. Die proses wat homself in ’n mens se bewussyn afspeel om vanaf die kinderlike geloof in Jesus tot ’n volwasse geloof in die drie-enige God te kom, kan nie maklik vasgestel word nie, maar dit voltrek homself tog telkens weer.

Nou kan ’n mens om opvoedkundige en teologiese redes seker beswaar daarteen maak dat die ouers die kinders se geloof in hul vroegste jeug uitsluitend op Jesus rig. Ouers moet ook so vroeg as moontlik daarmee begin om die kinders te leer om tot die Vader te bid en op die Heilige Gees te vertrou en so ingelei te word in die volle Bybelse boodskap oor God. So help hulle die kinders om tot ’n meer volwasse geloof in God en ’n vollediger kennis van Hom te kom.

Maar terselfdertyd sal ons tog ook moet sê dat dit nie sonder meer verkeerd is om by Jesus te begin as ons hulle tot die kennis van God wil lei nie. Jesus is tog die Weg en die Waarheid en die Lewe. Niemand kan na die Vader kom, behalwe deur Hom nie. Niemand kan ook reg oor God dink, as hy God nie in die gelaat van Jesus leer ken nie. In die Naam Jesus word die Naam van God vir ons geïnterpreteer. Wie Jesus nie as God self bely en ken nie, ken nie die Bybelse openbaring van God nie.

Ook die mees volwasse geloof bly ’n geloof in Jesus. Selfs op ons sterfbed sal ons nie iets heerlikers kan doen as maar net om die Naam van Jesus te fluister nie. Maar kan daar dan ’n beter manier wees om iemand iets van die ware God te begin leer, as om hom of haar die Naam van Jesus te leer? – WDJ