Om die Koninkryk (Geloftedagviering)

OM DIE KONINKRYK

WD Jonker
(Ongedateer – Geloftedagviering)

Dit is noodsaaklik dat ons in die nuwe fase van die geskiedenis wat ons land binnegaan, aan onsself rekenskap sal moet gee van die plek en betekenis wat Geloftedag in ons land met sy verskeidenheid van kulture en tradisies kan inneem. Dat ons hier met ’n sensitiewe saak te make het, sal vir elkeen duidelik wees wat die diskussies hieroor in die laaste jare gevolg het. Dit mag ons egter nie daarvan weerhou om vir onsself tot helderheid daaroor te probeer kom nie.

Die punt waar ons sal moet begin, is om helderheid te probeer vind oor wat die eintlike betekenis van Geloftedag is. Om dit te kan doen, sal ons nugter genoeg moet wees om allerhande groeisels wat later bygekom het en die oorspronklike betekenis van Geloftedag oorwoeker het, af te stroop en na die kern van die saak terug te keer. Dit kan beteken dat ons bereid moet wees om te erken dat bepaalde interpretasies van Geloftedag wat in die verlede gegee is, eenvoudig nie houdbaar is nie.

Geskiedkundiges kan met mekaar verskil oor allerlei besonderhede in verband met die slag by Bloedrivier en die betekenis daarvan. Dit wil egter voorkom of ons op veilige grond is as ons twee dinge in verband daarmee aanvaar: vir eers dat die gelofte saamgehang het met ’n dringende oproep tot God om uitredding in ’n situasie van angs en nood, en ten tweede dat die oorwinning by Bloedrivier ‘’n gebeurtenis ingrypende implikasies vir die verloop van die geskiedenis van die land was.

As ons hiervan uitgaan, is dit in die eerste plek duidelik dat dit op Geloftedag om ’n volksfees gaan wat ’n diep godsdienstige betekenis het. Dit is die herdenking van ’n ervaring gebedsverhoring in die geskiedenis van ons volk. Dit is ook wat die gelofte self aan ons voorhou. Ons voorouers het in nood tot God geroep en ’n gelofte gedoen dat, as God hulle sou verhoor, hulle die dag en datum as ’n dankdag sou bly vier ter herinnering aan Gods hulp, en dat hulle dit ook aan hul nageslag sou opdra om die dag te bly vier, sodat aan God die eer van die oorwinning gegee sou word.

Hoorder
Hieruit is die suiwer godsdienstige karakter van Geloftedag sonder meer duidelik. Die spits van Geloftefees is op God gerig. Aan Hom word die dank daarvoor gebring dat Hy die Hoorder is van die gebed, en dan nie net as ons bid om verlossing van ons sonde en die toegang tot die ewige heil nie, maar ook as ons om aardse, tydelike dinge bid, soos die dinge wat ons lyfsbehoud betref, ons persoonlike en gemeenskaplike welsyn. Om dié dinge kan ’n mens tot God bid. Dit weet ons uit die Bybel, ja, maar ons weet dit ook uit hierdie spesifieke ervaring van ons voorouers waarin die beloftes van die Bybel bevestiging gevind het.

Dit is die eerste element in die betekenis van Geloftedag. Dit gaan om ’n universele ervaring, met God wat alle volke ken as hulle Sy Naam aanroep, maar wat vir ons in ’n spesifieke historie se gebeurtenis konkrete betekenis gekry het. As ons daaraan reg laat geskied, het ons Geloftedag goed gevier.

Maar daarby sluit ’n tweede element aan. Hierdie tweede element het maar eers in die loop van die geskiedenis duideliker geword. Ons voorouers wat die gelofte afgelê het, kon nog nie vermoed watter beslissende betekenis die oorwinning by Bloedrivier vir die verdere geskiedenis van hierdie land sou hê nie. Ons weet vandag dat die geskiedenis van Suider ­ Afrika daardie dag op sy skarniere gedraai het. Want daardie groepie Boere by Bloedrivier was die draers van die Christelike geloof. Die Bybel het by hulle in die wakis gelê. Hul vestiging in die binneland sou beteken dat die Christendom hier vaste voet sou kry.

Hoe verder ons dus van Bloedrivier af staan, hoe duideliker word die perspektief op die betekenis van die gebedsverhoring wat daar plaasgevind het. Dit het werklik nie net om die lyfsbehoud van die groepie Voortrekkers of die voortbestaan van hul nageslag gegaan nie. Dit het om die heil gegaan van alle volke en alle mense in die binneland van Suid Afrika.

Die Bybel leer ons dat dit in Gods beskikking oor die geskiedenis vir Hom altyd gaan om die koms en voortgang van Sy koninkryk. Dit kan ons ook van die oorwinning by Bloedrivier glo. Dan het dit heeltemal nie gegaan om die kleur van die vel of die Westerse kultuur of oor die Afrikanervolk as sodanig nie. Dit het nie eens soseer gegaan om die subjektiewe Christenskap van die groepie Voortrekkers in die laer nie.

Aanstoot
Dit het daarom gegaan dat hul oorwinning dienstig sou wees vir die voortgang van Gods koninkryk. God het, by wyse van spreke, die Bybel in die wakis beskerm. Hy het die heil van almal op die oog gehad, nie net van die Voortrekkers nie, maar ook van die volk wie se leer op die dag verslaan is, en van alle ander mense in die land.

As ons dit só verstaan, is Geloftedag veel meer as ’n Afrikanerfees. Dit gaan om die herdenking van ’n gebeurtenis wat die gemeenskaplike heil van alle volke en groepe in ons land raak. Dit is nie onmoontlik om vanuit die Christelike geloof duidelik te maak dat hierdie dag ons nie teenoor mekaar hoef op te stel en te polariseer nie, maar ons almal saam kan bind. Maar dan sal ons daarin moet slaag om hierdie interpretasie van Geloftedag geloofwaardig te maak vir alle volke en groepe in ons land, nie net deur die wyse waarop ons hierdie dag self vier nie, maar ook deur ons hele lewenshouding en ons bereidheid om die koninkryksperspektief van Geloftedag in die praktyk uit te leef.

Hoeveel skuld het ons nie daaraan dat Geloftedag ’n aanstoot vir ander mense in ons land is nie!  Nie alleen het ons die eerste, beperkte betekenis daarvan (lyfsbehoud) te veel beklemtoon nie; ons het dit ook te eksklusief op die Afrikaner en sy nasionale ideale betrek. Ons het die dag dikwels verpolitiseer en ver-ideologiseer. Ons het dit gebruik as ’n geleentheid om te praat oor die “swart gevaar” en die bedreiging deur “ons vyande”. En ons het die appèl van die dag dikwels misgekyk: dat ons in hierdie land die koninkryk van God moet dien tot heil van alle mense.

As ons in die toekoms aan die volle betekenis van Geloftedag reg wil laat geskied, sal ons baie ootmoediger daarmee moet omgaan, baie minder die aksent op onsself en meer op die koninkryk moet laat val, met groter skuldbesef aan onsself rekenskap daarvan gee dat ons vêr te kort geskiet het in ons verkondiging van die evangelie met woord en daad, moet erken dat ons houding en gesindheid, ons maatreëls en ons dade dikwels eerder die weg van die koninkryk versper as geopen het – ja, dat dit ons aan ’n koninkryksperspektief ontbreek het.

Inklusief
Ons sal moet terugkeer na die streng godsdienstige karakter van die dag en alles in ons vermoë moet doen om duidelik te maak dat dit daarin nie gaan om ’n saak wat eksklusief is nie, maar inklusief; dat dit nie bedoel is om mense teenoor mekaar op te stel nie, maar om alle Christene — en deur hulle ook alle volksgroepe – met mekaar te verbind in dankbaarheid daaroor dat God aan ons almal saam die evangelie as ons erfdeel gegee het.

As dit God behaag om ons daarin te laat slaag om iets meer van die positiewe betekenis van Geloftedag vir almal in ons land sigbaar te laat word – en Hy is die Hoorder van die gebed – sal dit ook vir ons moontlik wees om sinvol oor die formele vrae rondom die viering van Geloftedag te praat. Ons eerste taak is tans om die ware betekenis daarvan self te ontdek, dit aan andere deur te gee en dit met woord, daad en gesindheid uit te lewe.