Die eenheid van die kerk – noodsaak of luukse?

DIE EENHEID VAN DIE KERK – NOODSAAK OF LUUKSE?

WD Jonker
(Geskandeer van ’n (oorspronklike?) getikte weergawe in die WD Jonker argief.  Gepubliseer in Die eenheid van die kerk van Christus, red. PB van der Watt et al.
Universiteit Pretoria Teologiese studies 3,  N G Kerk-Boekhandel, Pretoria, Transvaal, 1987).)

Die vraag of die eenheid van die kerk ’n noodsaak of ’n luukse is, kan alleen beantwoord word as ons duidelikheid het oor die sin waarin die begrip “eenheid” hier bedoel word. Daarom kyk ons na die verskillende betekenisse waarin dit gebruik word.

Die geestelike eenheid van die kerk

Die eerste betekenis waarin ons die begrip “eenheid” in verband met die kerk kan gebruik, is dat ons daarmee verwys na die geestelike eenheid van die kerk in Christus. Oor die werklikheid van hierdie eenheid as iets wat in Christus gegewe is, kan daar in die lig van die Nuwe Testament geen twyfel wees nie. Die NT gaan eenvoudig uit van hierdie eenheid. Die NT ken nie ’n veelheid van kerke nie, maar slegs die één kerk wat sy bestaan dank aan die uitverkiesende liefde van die Vader (Efesiërs 1:4–5, 11) aan die versoeningswerk van Christus (Efesiërs 1:6 ev), en aan die wederbarende werk van die Heilige Gees wat die kerk as die eiendom van God in Christus beseël (Efesiërs 1:13).

Die hele idee van ’n veelheid van kerke lê buite die gesigsveld van die NT. Wanneer die NT die meervoud ekklesiai gebruik, word daarmee die plaaslike kerke aangedui, maar hierdie plaaslike kerke is almal openbaringe van die één kerk van Christus op spesifieke plekke, sodat hulle meervoudigheid nie beteken dat Christus meer as een kerk het nie. Daar kán volgens die NT slegs één kerk wees, omdat die kerk die liggaam van Christus is, en Christus tog nie meer as een liggaam kan hê nie. Binne die trinitariese verband waarin daar in die NT oor die eenheid van die kerk gepraat word, is dié eenheid eenvoudig gegee met die eenheid van God self en die eenheid van sy heilswerk. Daarom lees ons in Efesiërs 4:4–5 : “Daar is net één liggaam en net één Gees, soos daar ook net één hoop is waartoe God julle geroep het. Daar is net één Here, één geloof, één doop, één God en Vader van almal: Hy wat oor almal is, deur almal werk en in almal woon.”  Duideliker kan dit nie gesê word nie.

Hierdie boodskap van die eenheid van die kerk is ’n wesenlike deel van die evangelie. Dit hang saam met die hart van die Christelike boodskap aangaande die verkiesing, die versoening en die verlossing. In die brief aan die Efesiërs word uitvoerig uiteen gesit dat die eenheid van die kerk ingesluit is in die musterion, die ewige heilsgeheim van God wat eertyds verborge was, maar nou geopenbaar is, en dat dit beteken dat Jood en heiden tans versoen is om die één nuwe mensheid, die één nuwe volk van God te wees (Efesiërs 2–3). Om opgeneem te wees in die ewige liefde van God is om verenig te wees met die één Middelaar, maar ook met sy één liggaam en alle lede daarvan. Verlossing in Christus beteken altyd terselfdertyd ook inplanting in die één liggaam van Christus, deelgenootskap aan die één huisgesin en volk van God, en invoeging in die één tempel en gebou van God in die Gees (1 Korintiërs 3:16; 12:13; Efesiërs 2:13 ev; Efesiërs 2:19; 1 Petrus 2:9 ens.). Dit is op ’n meesterlike wyse saamgevat in antwoord 55 van die Heidelbergse Kategismus en in art 27 van die NGB. Vgl. ook TWNT, II, s.v. heis.

In hierdie boodskap sit ’n wonderlike troos opgesluit. Dit is dat die eenheid van die kerk iets objektiefs is, iets wat van Godsweë ’n werklikheid is, iets wat nie deur ons bewerk hoef te word nie, maar deur God self bewerk is en uiteindelik met die wederkoms van Christus ook wonderlik tot openbaring sal kom. Die eenheid van die kerk is juis as deel van die heilsplan van God netso vas en seker as die heil self. Daarom is dit ook deel van die geloofsbelydenis van die kerk. Ons glo aan die eenheid van die kerk soos ons aan die bestaan van die kerk self glo (vgl. die Apostolicum en die Geloofsbelydenis van Nicéa).

Die vraag wat in ons onderwerp gestel word, kan dus nie op hierdie begrip van die eenheid van die kerk van toepassing wees nie. Van ’n geloofsartikel kan nie gevra word of dit daarin om ’n noodsaak of ’n luukse gaan nie.

Die sigbare en ervaarbare eenheid van die kerk.

Die vraag het dus uiteraard betrekking op die situasie van die kerk soos dit in die wêreld bestaan en geken word. Die werklike kerk soos ons dit ken, is ’n verskeurde, versplinterde en verdeelde kerk. Teen die agtergrond van die belydenis dat Christus maar één kerk kan hê, ontstaan die vraag hoe ons oor hierdie verdeeldheid van die kerk moet oordeel en wat ons daarmee moet doen.

Hier is twee moontlikhede.
(a) Ons kan op grond van die geestelike eenheid van die kerk in Christus die verdeeldheid as sonde sien, as ’n anomalie wat uit die weg geruim moet word, omdat dit noodsaaklik is dat die kerk ook in sy aardse werklikheid een moet wees soos dit in Christus een is. Of ons kan
(b) ons toevlug neem tot die onderskeiding tussen die sigbare en die onsigbare kerk en daaraan vashou dat die onsigbare eenheid van die kerk tog nie geskend kan word deur die sigbare verdeeldheid nie, sodat dit ook nie noodsaaklik is dat die kerk sigbaar en ervaarbaar een hoef te wees nie, ja, dat die veelheid van kerke eerder gesien moet word as ’n ontplooiing van die rykdom van die insig in en ervaring van die heil in die vele fasette daarvan.

Diegene wat hulle op standpunt (b) stel, wys daarop dat daar van die begin af verdeeldheid in die kerk was en dat dit ook altyd daar sal wees. Dit hang nie net met sondige faktore saam nie, maar enersyds met die gebrekkigheid van ons menslike insig in die waarheid van Gods Woord, waardeur belydenisverskille ontstaan, en andersyds met die natuurlike verskeidenheid onder die mense, wat lei tot die ontstaan van afsonderlike kerke om voorsiening te maak vir die verskeidenheid van geloofsbelewing, volksaard en kultuur.

Só gesien, is die bestaan van ’n groot aantal kerke sonder eenheidsband met mekaar nie meer ’n pynlike saak nie, maar iets natuurliks en noodsaakliks, selfs iets verrykends. Daar kan nog ’n behoefte gevoel word aan ’n ekumeniese skakeling tussen hierdie kerke om ’n goeie gesindheid teenoor mekaar op te bou, maar van ’n noodsaaklikheid van vereniging met mekaar is daar nie sprake nie. In die Anglikaanse “branch theory” en in die pluriformiteitsleer van Kuyper is hierdie gedagte nader uitgewerk (vgl Küng: De Kerk, 1967, 323 e.v.; Berkouwer: De Kerk I, hfst 3).

Die probleem met hierdie opvatting is dat dit die Bybelse vermaning om die eenheid van die kerk te bewaar, aanmerklik afswak. Dit kan dan hoogstens nog van toepassing wees op die lidmate van die plaaslike kerk of op sektariese groepe en skeurmakers, maar dat dit ook betekenis het vir gevestigde kerke wat naas mekaar bestaan, word nie meer gesien nie. Die verdeeldheid van die Christenheid in ’n groot aantal kerke en kerkies word verklaar en daarmee verontskuldig. As sulke kerke maar ’n algemene gees van welwillendheid teenoor mekaar bewaar, word dit as voldoende aanvaar. Só word die Bybelse visie op die eenheid drasties verwater, en van enige gevoel van skuld oor die gebrokenheid van die kerk is geen sprake meer nie. Trouens, in selfgenoegsaamheid word diegene wat pleit vir ’n sigbare eenheid tussen die kerke selfs van humanisme beskuldig, van beheptheid met ’n sieklike nivelleringsdrang (vgl JD Vorster ea: Veelvormigheid en Eenheid, 1978).

Volgens die NT is die verbreking van die eenheid egter sonde. Dit gaan daarby veral om die sonde teen die waarheid (heresie) en die sonde teen die liefde (skisma). In albei gevalle word die gemeenskap met mekaar opgesê. Die ontstaan van die groot aantal kerke in die wêreld hou almal met een of albei hierdie dinge verband en is daarom geen onskuldige saak soos wat dit in hierdie teorieë voorgestel word nie. Die eenheid van die kerk vind sy konkrete uitdrukking in die communio sanctorum, en wel in die dubbele betekenis daarvan, as gemeenskap aan die heilige dinge (sancta) én as gemeenskap van die heiliges met mekaar (sancti). Oral waar die eenheid van die kerk prysgegee word, word daar op een of op albei maniere teen die eenheid gesondig. Daarom kan Bavinck ook sê dat ons as Christene ons nooit genoeg kan verootmoedig oor die skeuring en tweedrag wat deur alle eeue in die kerk voorgekom het nie. Dit is ’n sonde teen God, in stryd met die bede van Christus vir die eenheid van die kerk, en word veroorsaak deur die duisternis van ons verstand en die liefdeloosheid van ons hart (Geref. Dogm. IV, 300/301).

Vir hierdie Bybelse visie op die verdeeldheid van die kerk het die voorstanders van die pluriformiteitsleer geen oog nie. Die erns van die verdeeldheid van die kerk word deur hulle prinsipieel opgehef. Die dwaling en liefdeloosheid, die hardkoppigheid en sondige selfhandhawing wat agter die ontstaan van die veelheid van kerke sit, word deur hulle vergoelik deur dit voor te stel as ’n noodsaaklike fase in die ontplooiing van die insig in die veelkleurige rykdom van die evangelie. En die gebrek aan liefde wat liewer so min as moontlik te make wil hê met mede-Christene wat anders as ons self is, en die knusheid van die eie bekende groepie verkies, word nie meer as sonde en selfsug herken nie, maar as iets onskuldigs voorgestel.

Die noodsaak van sigbare eenheid

Teenoor hierdie soort opvatting behoort ons doelbewus te kies vir die eerste alternatief wat hierbo genoem is, nl. dat die geestelike eenheid wat die kerk in Christus reeds besit, ’n opdrag aan ons adres is om daardie eenheid ook in die sigbare kerk na te streef. Dit is eenvoudig noodsaaklik, omdat die eenheid van die kerk vir Christus so belangrik was, dat Hy daarvoor gebid het – iets wat tog nie kan slaan op die onsigbare, geestelike eenheid van die kerk nie, maar direk met die lewe van die kerk in die geskiedenis te make het (vgl W Nicol: Die eenheid van die kerk by Johannes, in: Die eenheid van die kerk, 1979, 14 ev). Die eenheid van die kerk staan direk in verband met die getuienis van die kerk in die wêreld, en juis daarom is dit nie vreemd dat die ekumeniese drang wat in ons eeu in die kerk wakker geword het, sy oorsprong in die sending gehad het nie. Alle spitsvondige redenasies oor die legitimiteit van ’n groot aantal Christelike kerke naas mekaar breek eenvoudig stukkend voor die feit dat die verdeeldheid van die kerk ’n struikelblok is in die vervulling van sy roeping in die wêreld.

Bowendien is dit sonde om te berus in die verdeeldheid van die kerk as ons daaraan dink dat die eenheid van die kerk ’n heilsweldaad is soos die regverdiging of die heiliging, en dat dit netsoos die regverdiging en die heiliging in die geloof ontvang, beleef en uitgeleef moet word. Wat God in sy verkiesende liefde ons toegedink het en wat Christus vir ons deur sy versoeningsdood verkry het, word deur die Heilige Gees in ons eksistensie waargemaak. Ons het geen reg om slegs die individuele heilsweldade uit Gods hand te wil ontvang, maar die gemeenskaplike heilsweldaad van die versoening met mekaar in die één liggaam van Christus as iets te beskou wat nie in die eksistensie waargemaak hoef te word nie. Die eenheid van die kerk is ’n gegewe eenheid. Ons hoef dit nie self te bewerk nie, so min as wat ons ons eie heil self moet bewerk. Maar soos ons die heil in Christus deur die geloof moet toeëien en daaruit moet gaan lewe, so moet ons ook die eenheid wat ons in Christus met alle ander Christene besit, in die geloof toeëien en daaruit gaan lewe. In die dimensie van die Gees word dit vir ons ’n opdrag waaraan ons gehoorsaam moet wees, selfs al bly ons gehoorsaamheid in hierdie bedeling altyd gebrekkig.

Die eenheid van die kerk is in die NT nie maar net ’n formele of numerieke eenheid nie, maar die eenheid van gemeenskap en onderlinge liefde en diens. Die vermaninge oor die bewaring van die eenheid van die kerk staan dan ook deurgaans in verband met die agape, die koinonia en die diakonia. In hierdie verband is veral Paulus se eerste brief aan die Korinthiërs van groot belang, omdat dit één groot worsteling is om die gemeente te leer om in liefde mekaar te dien met die verskeidenheid van hulle gawes en só die band van die eenheid te bewaar (vgl. PA van Stempvoort: Eenheid en Schisma, 1950). Paulus vind die oorsaak van hulle verdeeldheid in hulle vleeslikheid, en verre daarvandaan dat hy hulle aanraai om maar twee of meer kerke te vorm om so die wrywing tussen hulle uit te skakel – die oplossing van apartheid – stel hy aan hulle die vraag of Christus dan verdeeld is (1 Korintiërs 1:13).

Ons sou die hele NT misverstaan as ons onsself maar sou neerlê by ons sondige onbekwaamheid om met mekaar klaar te kom, en dus ooreen sou kom om maar uitmekaar te gaan en elkeen sy eie kerklike nessie te vorm. Wanneer dit gebeur, is die soort vrede wat ons het, ’n skynvrede, omdat ons mekaar loslaat. Maar dan beteken dit ook dat ons mekaar nie meer kan dien in die gemeenskap van die heiliges nie, dat ons die korreksie en verryking wat kontak met die ander vir ons kon beteken het, eenvoudig sal moet mis, en dat die opbou van die gemeente daaronder skade moet ly.

Die soort teologie wat die verdeeldheid van die kerk goedpraat, kan homself nie op die Skrif beroep nie en ook nie op die Reformasie nie. Dit is waar dat die verdeeldheid van die kerk sedert die Reformasie baie groter geword het, maar daaruit kan nie afgelei word dat die Reformatore dit goedgepraat het of as die juiste ontwikkeling gesien het nie. Die wyse waarop hulle, en veral Calvyn, vir die sigbare eenheid van die kerk geywer het, bevestig die teendeel. Dit was die oortuiging van die Reformasie dat Christus maar net een kerk kan hê, en dat die eenheid met daardie kerk bewaar moet word. So het Calvyn daaroor geskryf in sy Institusie en so is dit geformuleer in die NGB art. 27 e.v. (vgl CJ Botha: Calvyn se siening van die eenheid van die kerk, in: Die eenheid van die kerk, 32 e.v.;   W. Nijenhuis: Calvinus Oecumenicus, 1959; 0. Weber: Die Einheit der Kirche bei Calvin, in: Calvinstudien, 1959, 130 ev; D. Nauta: Calvijns afkeer van een schisma, in: Ex auditu Verbi, 1965, 131 ev).

Dat die reformatoriese kerk uiteengeval het in ’n veelheid van kerke is enersyds toe te skryf aan die onvermoë van die leiersfigure om mekaar in die leer te vind, en andersyds aan die politieke omstandighede van die tyd, wat meegebring het dat daar in verskillende lande nasionale kerke ontstaan het. Dit was nie die uitvloeisel van die belydenis van die Reformasie nie, maar is grootliks beïnvloed deur politieke faktore wat buite beheer van die kerk was, asook die gevolg van die kortsigtigheid en hardkoppigheid van sommige van die leiersfigure. Navorsing het getoon dat die sg. nie-teologiese faktore die grootste enkele rol gespeel het by die totstandkoming van die groot aantal kerke. Dit was ook die geval in die reformatoriese tyd. Die toestand het egter bestendig geraak en langsamerhand is dit as normaal beskou dat elke land en volk sy eie volks- of selfs staatskerk moet hê wat geen verband onderhou met ander volkskerke nie, terwyl daar ook geen pyn ondervind is by die ontstaan van sg. vrye kerke naas die volkskerke nie.

Dit sou dwaas wees om dit goed te praat of as ’n noodsaaklike vrug van die Reformasie voor te hou. Dit was eers in later tye, veral sedert die 18de eeu, toe die kerkbesef gekwyn het en die gees van ’n liberale individualisme en subjektiwisme ook in die teologiese denke ingedring het, dat die veelheid van kerke as iets normaals aanvaar is. Toe is oor die kerk as ’n collegium begin dink, gestig deur ’n aantal eendersdenkendes om by hulle behoeftes te pas. Veral die 19de eeu laat ons dan ’n geweldige vermeerdering van kerke en kerkies sien, soms die gevolg van afskeiding uit wat as ’n verwarde volkskerk gesien is, maar dikwels ook om minder dringende redes. Blykbaar heers dié soort gees nog steeds in Amerika, waar elkeen wat daarvoor voel, saam met ’n groepie geesgenote ’n eie kerk stig. Dit moet egter sonder meer afgewys word.

Dit is iets waaroor ons onsself diep moet verootmoedig, dat ons in die Ned. Geref. Kerk gedurende die afgelope dekades steeds minder plek gehad het vir ’n ekumeniese strewe of vir die drang om die gegewe eenheid van die kerk in Christus ook sigbaar en ervaarbaar tot uitdrukking te laat kom. Waar die Ned. Geref. Kerk in die 19de eeu en selfs nog later ook ’n sterk ekumeniese bewussyn gehad het en meegedoen het aan aksies ter bevordering van die eenheid van die kerk, het ons onsself in die afgelope dekades steeds meer daarvan teruggetrek en geïsoleer. Selfs van kontak en samewerking met ander kerke in ons dorp of stad of in die land as geheel kom daar baie weinig tereg. Ons het in ’n gees van selfgenoegsaamheid teruggesink en voel geen pyn meer oor die verdeeldheid van die kerk nie.

Klaarblyklik het die volkskerk-idee tog baie dieper in die Ned. Geref. Kerk ingedring as wat hy self wil erken. Onder inspirasie van die Duitse Sendingwetenskap is daar in elk geval gewerk met die idee dat elke volk sy eie kerk moet hê, ’n idee wat vir die gevoel van vele uitstekend gepas het binne die Suid-Afrikaanse opset met sy klem op die verskille tussen die rasse en die begeerte van die blankes om hulle identiteit te beskerm, selfs op kerklike terrein. En so beroem die Ned. Geref. Kerk hom vandag daarop dat deur sy arbeid ’n goeie tiental afsonderlike volkse kerke tot stand gekom het. Die kontak tussen die lidmate van hierdie kerke en die lidmate van die Ned. Geref. Kerk is egter uiters gebrekkig, vir sover dit wel bestaan. Van die communio sanctorum kom daar tussen hierdie kerke maar weinig tereg, terwyl die spanning tussen hulle feitlik ’n breekpunt bereik het. Die vraag of daar binne die Ned. Geref. familie van kerke na ’n sigbare eenheid gesoek moet word en hoe dit gestruktureer moet word, is vir die Ned. Geref. Kerk allermins ’n akademiese kwessie. Daaroor sal daar in die toekoms nog ingrypende beslissinge moet val.

Gestalte van eenheid

Persoonlik glo ek dat ons teologies daarvan moet uitgaan dat die eenheid van die kerk wat ons in Christus besit, daarin waargemaak moet word dat ons die sigbare eenheid van die kerk van Christus op elke plek, in elke land, en sover as moontlik ook wêreldwyd moet nastreef. Dit beteken vir die Ned. Geref. Kerk bv. dat hy nie net na sigbare eenheid met die ander kerke binne die familie moet streef nie, maar ook vir sover dit moontlik is met alle ander kerke in die binne- en buiteland.

In hierdie verband word die vraag na die gestalte wat hierdie eenheid moet aanneem, natuurlik van die grootste belang. In die Wêreldraad van Kerke word daar nou reeds dekades lank met hierdie vraag geworstel. Dit blyk dat daar verskillende terreine is waarop die eenheid met mekaar gesoek kan word en sigbaar tot uitdrukking kan kom, soos bv. eenheid in belydenis, eenheid in diens en gebede, in gemeenskap en getuienis. Dit kan ook die wedersydse erkenning en aanvaarding van mekaar se ampte en lidmate insluit. Hierdie vorme van eenheid is uiters betekenisvol, omdat dit almal daarop gerig is om die communio sanctorum te dien. Dit hou verband met verskillende institutêre elemente in die lewe van die kerke, maar dring tog nie daarop aan dat daar net een kerklike instituut tot stand moet kom nie. Natuurlik word dit nie uitgesluit nie. Die moontlikheid bestaan dat kerke na mekaar toe kan groei en dat daar uiteindelik wel tot institutêre eenheid besluit sal kan word, maar dit is dan ’n eindpunt, nie ’n beginpunt nie.

Organisatoriese of institutêre eenheid bly vir alle kerke ’n gevoelige kwessie. Die probleem is dat ons nie met ’n skoon bladsy kan begin nie. Die verdeeldheid van die kerk is ’n feit en daar is gevestigde belange wat dit vir alle kerke baie moeilik maak om vereniging met ander kerke ernstig te oorweeg. Daarom is daar ’n groot versigtigheid in hierdie verband. Die jongste ontwikkeling binne die denke van die Wêreldraad is dat daar gestrewe moet word na die totstandkoming van ’n konsiliêre gemeenskap van plaaslike kerke wat mekaar ten volle erken as deel van dieselfde kerk van Christus, blywende verhoudinge met mekaar onderhou en mekaar raadpleeg oor alle sake van belang.

Hierdie gedagtes is van groot belang. Organisatoriese eenheid is inderdaad iets wat nie die beginpunt kan wees van die weg tot kerklike eenheid nie. Ons het tyd nodig om na mekaar toe te groei. Daarom is dit ook wys om te begin met die wedersydse erkenning van mekaar se belydenis, ampte en lidmaatskap, om die gemeenskap van die lidmate van verskillende kerke met mekaar aan te moedig en te organiseer, en om so die onbekendheid, vrees en agterdog wat dikwels tussen kerke bestaan, uit die weg te ruim. Maar as ons gereformeerd oor die eenheid van die kerk wil dink, sal dit tog duidelik wees dat ons doel moet wees dat daar ’n kerkverband tot stand moet kom wat die gemeenskap van die heiliges struktureer en dien.

Immers, die communio sanctorum is na sy wese nie net iets organies nie, maar iets wat om struktuur roep en daarin uitdrukking vind. Dit kom uiteraard eerstens in die plaaslike gemeente tot openbaring rondom Woord en sakrament en in die onderlinge sorg en liefde van die lidmate vir mekaar soos dit bv. in 1 Kor. 12, maar ook elders in die Skrif geteken word. Juis omdat die plaaslike kerk niks anders is nie, as die universele kerk van Christus op ’n bepaalde plek, vloei dit uit die wese van die kerk voort dat die gemeenskap van die heiliges oor die grense van die plaaslike kerk heen uitstrek na ander plaaslike kerke. En hierdie verbreding van die gemeenskap van die heiliges oor die grense van die plaaslike kerk heen dra nie net ’n organiese karakter nie, maar soek en vind ook struktuur in organisatoriese bande.

Die gereformeerde begrip van kerkverband is op die Skrif gebaseer en gaan ’n eie weg tussen die independentisme aan die een kant en die hiërargiese eenheidstruktuur van die katolisisme aan die ander kant. Dit skep die struktuur wat nodig is vir die onderlinge sorg van die verskillende plaaslike kerke vir mekaar soos die Nuwe Testament ons dit laat sien en is in wese niks anders nie, as ’n gestalte van die communio sanctorum self.

Wie toestem dat die communio sanctorum in die plaaslike kerk struktuur en organisasie nodig het, kan nie met die Skrif in die hand die noodsaaklikheid van kerkverband tussen die verskillende kerke in die omgewing, landswyd en selfs in ’n ekumeniese sin ontken nie. Die gereformeerde kerkreg het altyd kerkverband verstaan as noodsaaklik, nie vir die wese van die kerk nie, maar vir die welwese van die kerk en verdedig dat dit op goddelike reg gebaseer is, d.w.s. teruggaan op ’n insetting van God self. Daarvoor is nie net die rol van die apostolaat in die vroeg kerk aangevoer nie, maar ook die talle Bybelse gegewens wat handel oor die onderlinge sorg van die plaaslike kerke vir mekaar. Dit gaan dus daarin nie om ’n blote luukse nie, maar om ’n noodsaaklikheid. (Vgl H Bouwman: Geref. Kerkrecht II, hfst. 1).

In beginsel is dit in die gereformeerde idee van kerkverband ingebou dat die eenheid van die kerk daarin landswyd en selfs wêreldwyd organisatoriese uitdrukking kan vind. Die verskil met Rome bestaan nie daarin dat die Reformasie, anders as Rome, ’n veelheid van kerke bely het nie, ook nie daarin dat hulle die eenheid van die kerk as ’n onsigbare eenheid of ’n bloot organiese eenheid verstaan het nie. Die verskil het gegaan oor die aard van die organisatoriese eenheid en die afwysing van die hiërargiese struktuur van die Rooms-Katolieke Kerk met al die pretensies daarvan as sou hierdie kerk die enigste ware wees wat nie gedwaal het nie en nie kan dwaal nie, sodat ’n mens daarmee verbonde moet wees as jy die saligheid wil beërwe.

Die Reformasie het hierdie pretensie van Rome afgewys, maar dit het nie beteken dat daarmee afgesien is van die oortuiging dat die kerk van Christus wêreldwyd een behoort te wees nie. Die reformatoriese opvatting van kerkverband verenig op ’n uitmuntende wyse die twee elemente van die selfstandigheid van die plaaslike kerke én die gemeenskap met en sorg vir alle plaaslike kerke deur die plaaslike kerke. Bowendien maak die gereformeerde idee van kerkverband ook voorsiening vir die groot verskeidenheid onder die gelowiges en kerke, anders as Rome wat eeuelank probeer het om die uniformiteit van die ganse catholica te handhaaf. Dit is moontlik vir gemeentes met verskillende taal en kultuur om binne één kerkverband saam te leef, sonder dat hulle oor mekaar hoef te heers of mekaar se identiteit hoef te bedreig. Alle positiewe elemente van Kuyper se leer van die pluriformiteit kan opgeneem word binne die gereformeerde idee van kerkverband, maar dan in die sin van pluriformiteit binne die een kerk van Christus, en nie ’n pluriformiteit van kerke wat los naasmekaar bestaan en dikwels ook teenoor mekaar te staan kom nie.

Die praktyk van die Ned Geref Kerk om aparte kerke vir die verskillende bevolkingsgroepe in ons land te stig, mag bepaalde voordele gehad het. Die groot nadeel daarvan was egter dat dit blanke en gekleurde Christene van mekaar afgeskei het en so die gemeenskap van die heiliges wat hulle onderling moes beoefen het, prakties onmoontlik gemaak het. Daardeur is die kennis van mekaar en die diens wat hulle oor en weer aan mekaar moes lewer, uitgeskakel en die belewing van die eenheid van die kerk gefnuik. Baie blanke lidmate wat klaarblyklik nie begryp waarom dit in die kerk gaan nie en wat gevolglik weier om saam met nie-blanke Christene in die gemeenskap van die heiliges betrokke te wees, is daardeur in hulle kwaad gesterk. Politieke oorwegings soos die vrees vir integrasie en die onwil om nie-blankes in kerkvergaderinge oor hulle besluite te laat neem, is vir baie lidmate deurslaggewend, eerder as al die redenasies oor die pluriformiteit van die kerk en die inheemswording van die Christendom waarmee teoloë die beleid van afsonderlike kerke regverdig.

Dit kan nie anders nie, as dat ’n duur prys betaal sal moet word. In watter teologiese argumente ons hierdie toedrag van sake ook al verdedig, dit kom binne ons land en in die hele wêreld oor as ’n verwerping van die gemeenskap van die heiliges met mede-Christene omdat ons hulle as medemense verwerp. En dit is net begryplik dat die hele Christenheid ons daaroor veroordeel. Hierdie toedrag van sake kan nie so voortduur nie. Ons sal ons moet haas om nie alleen hierdie indruk te verwyder nie, maar om ook die sake wat daartoe aanleiding gee, uit die weg te ruim. Daarom is dit vir ons gebiedend noodsaaklik om die eenheid van die Ned. Geref. familie van kerke as ’n saak van dringende belang te hanteer.

In die dokument “Ras, Volk en Nasie” word sonder motivering betoog dat organisatoriese eenheid, institutêre eenheid of kerkverband tussen die Ned. Geref. Kerk en die ander kerke in die Ned. Geref. familie nie “nodig” is nie. Dit wil egter voorkom asof dit noodsaaklik is om juis op hierdie uitspraak terug te gaan. Indien ooit en êrens, dan is dit in ons situasie noodsaaklik om die eenheid wat ons met ons medegelowiges in die jong kerke in Christus besit, in die volle sin van die woord sigbare en praktiese gestalte te laat aanneem, en dat ons daarvoor die vorme en strukture moet soek wat die gemeenskap van die heiliges die beste kan dien.

Op die vraag of die eenheid van die kerk ’n noodsaak of ’n luukse is, antwoord ek dus in die algemeen, maar in die besonder ook met die oog op ons eie situasie: Dit is geen luukse nie. Dit is, gesien die gegewe eenheid van die kerk in Christus, noodsaaklik dat ons die eenheid van die kerk as ’n sigbare, ervaarbare, en dus ook gestruktureerde eenheid moet nastreef. Dit is deel van die gehoorsaamheid wat ons aan Christus verskuldig is.