Die NG Kerk en die NG Bond

DIE NG KERK EN DIE NG BOND

WD Jonker
Die Kerkbode, 9 September 1987

Dit is noodsaaklik om tot helderheid te kom oor die verhouding van die Ned Geref Kerk teenoor die pasgestigte NG Bond, veral as dit blyk dat verskillende standpunte daaroor ingenoem word deur die aktuarius van die Algemene Sinode en dr P Rossouw, soos uit die vorige twee uitgawes van Die Kerkbode blyk.

Na my mening het dr Rossouw eenvoudig gelyk in alles wat hy sê, maar ek wil graag nog iets daaraan toevoeg. As dit waar is wat hy skryf, dat die Bond die stuk Geloof en Protes (GP) van die Afrikaanse Protestantse Kerk aanvaar het, is dit duidelik dat ons in die Bond nie met ’n vrye vereniging te make het wat homself op die grondslag van die belydenis van die NG Kerk stel nie, omdat die Bond deur die aanvaarding van Geloof en Protes ’n grondslag aanvaar het wat belydenismatig op ’n belangrike wyse van die belydenis van die NGK afwyk.

In werklikheid is GP ’n vierde belydenis wat naas die belydenisskrifte van die NG Kerk aanvaar word. Die hele opset van GP is die van ’n belydenisstuk. In die hoogste bod wat ’n Christen kan doen, word telkens gestel: “Ons glo …” “en daarteenoor: “Ons verwerp…”. Dit is belydenistaal. Teenoor die beleidstuk Kerk en Samelewing word hier dus ’n geloofsprotes uitgespreek in laaste en finale erns. Vanuit die gesigshoek van GP gesien, is die NGK ’n dwalende kerk waarteenoor die ware geloof bely moet word.

Die fundamentele punt waarop die NGK volgens GP dwaal, is dat dit “God se skepping, onderhouding en regering van die hele wêreld as kenbron” (Nederlandse Geloofsbelydenis – NGB, Art 2, Romeine 1:20) misken (2.8). Daaruit is dit duidelik dat GP die algemene openbaring op sodanige wyse verstaan, dat dit ’n ekstra openbaringsbron naas die Skrif sou wees waaruit ons dinge aangaande God of sy wil kan leer ken wat nie in die Skrif gegee is nie.

Dit is ’n groteske misverstand om Art 2 van die NGB en Romeine 1:20 op hierdie wyse te interpreteer, asof hulle sou leer dat ons in die skepping, onderhouding en regering van God ’n tweede bron van openbaring naas die Heilige Skrif sou hê waaruit ons allerlei dinge kan leer ken wat nie in die Skrif geopenbaar is nie. As die NGB dit so sou bedoel het, sou in stryd met homself gewees het, want in Art 7 word die reformatoriese sola scriptura in ronde woorde bely. Daar word met ’n beroep op Deuteronomium 12:32 ook gesê dat dit verbode is om aan die Woord van God enigiets by te voeg, omdat die leer van die Heilige Skrif heeltemal volmaak en in alle opsigte volledig is.

Art 2 van die NGB lui dan ook uitdruklik dat ons GOD deur middel van sy openbaring in die skepping, onderhouding en regering van alle dinge leer ken. Dit geld ook van Romeine 1:18. Immers, in die openbaring gaan dit altyd om GOD SELF. Hy is nie net die bron van die openbaring nie, maar ook die hele inhoud daarvan.

Bavinck skryf dat die inhoud van die algemene openbaring nie iets anders is as die inhoud van die besondere openbaring nie, omdat God in albei Homself openbaar. Die doel van albei vorme van openbaring is dat ons God self moet leer ken. Daarom sê Bavinck ook dat die inhoud van die algemene openbaring in die Skrif opgeneem is (vgl Our Reasonable Faith, bl 34 ev, veral bl 38). Daar is werklik niks wat ons uit die algemene openbaring kan leer ken, wat ons nie veel helderder reeds uit die besondere openbaring in die Skrif weet nie.

Ekstra bron

Maar dit is nie hoe GP die algemene openbaring verstaan nie. Volgens GP is die skepping en die voorsienigheid ’n ekstra bron van openbaring waaruit ons allerlei norme en beginsels en waarhede moet aflei. Waar die gereformeerde teologie leer dat die Skrif die bril is waardeur ons eers verstaan hoe alle dinge in die skepping God self in sy grootheid, mag en majesteit openbaar, bely GP dat die skepping ’n bron van kennis naas die Skrif is wat hanteer moet word om die leer van die Skrif aan te vul en as ’n bril waardeur die Skrif gelees moet word.

Kras vorm

Dit is natuurlike teologie in ’n uiters kras vorm. Dit is ook ’n uiters gevaarlike afwyking van die gereformeerde leer. Natuurlik gebruik God die skepping en die geskiedenis, ja, die ganse werklikheid, om Homself in sy heerlikheid daarin te openbaar, maar (1) Hy openbaar Homself en sy eie deugde daarin – nie allerhande kennisinhoude oor die wêreld wat deur ons as aanvulling by die Skrifopenbaring hanteer kan word nie, en (2) sonder die lig van die Skrif kan ons in elk geval nooit die ware betekenis van Gods openbaring in die skepping verstaan nie. Wie die skeppingswerklikheid soos dit is, normatief verklaar en meen dat hy daaruit iets meer of iets anders kan aflei as wat in die Skrif aangaande die wil van God vir ons lewe geleer word, is werklik op ’n dwaalweg.

Natuurlik is daar bepaalde redes waarom GP nog ’n ekstra bron van openbaring naas die Skrif wil invoer. Dit hang saam met die verabsolutering van die volk en die wyse waarop die verskeidenheid van volke as ’n geloofsartikel in GP funksioneer. Dit gaan maar oor apartheid. Die geloof in apartheid eis ’n kenbron buite die Skrif om. Maar dit bedreig die reformatoriese sola scriptura.

Dit is ondenkbaar dat die NGK ’n beweging sal kan goedkeur wat op sodanige wyse die belydenis van die kerk in gedrang bring.