Één sodat die wêreld kan glo – Pinksterreeks

ÉÉN,  SODAT DIE WÊRELD KAN GLO…
(Op voetspoor van die eerste gemeente)

WD Jonker

Pinksterreeks 12–21 Mei 1988
LIGRAER, Mei 1988

  1. Mense rondom Jesus. (Handelinge. 1:1–14)
  2. Geroep tot getuies. (Handelinge. 1:8)
  3. Toegerus deur die Gees. (Handelinge. 1:45; 2:4)
  4. Saamgesnoer in gebed. (Handelinge. 1:14; 2:42)
  5. In gemeenskap van die liefde. (Handelinge. 2:42,44)
  6. Uitgestrooi op die akker. (Handelinge. 8:1)
  7. Op die pad van versoening. (Handelinge. 8:14-17)
  8. Uitverkore tot ’n (Handelinge. 9:15)
  9. Sonder aansien van persoon. (Handelinge. 10:34-35)
  10. As ’n lig vir die nasies. (Handelinge. 13:47)
  11. Sonder enige verhindering. (Handelinge. 28:30-31)

INLEIDING

Die Pinksterreeks word vanjaar aan die sending gewy. Ons neem in hierdie reeks die begrip “sending” in ’n wyer betekenis op as die waaraan ons gewoond is. Gewoonlik dink ons by die woord sending net aan die verkondiging van die evangelie onder diegene wat as heidene bekend staan, terwyl ons die begrip “evangelisasie” gebruik as ons van die getuienis teenoor mense praat wat uit ’n omgewing kom wat as Christelik bekend gestaan het, maar Christus nog nie ken nie. In hierdie reeks wil ons die begrip sending as ’n aanduiding van die getuienisaksie van die kerk in albei bogenoemde betekenisse opneem. Hoewel sending ook nog omvattender as dit omskryf kan word, verstaan ons vir die doel van hierdie reeks daaronder die roeping tot getuienis vir Christus teenoor almal wat verlore is, met die bedoeling om hulle vir Christus en sy kerk te win en tot burgers van sy koninkryk te maak.

Christus het maar een kerk. Diegene wat tot die geloof geroep word deur ons getuienisaksie, word lidmate van hierdie een kerk van Christus. Die Bybel leer ons dat die eenheid van die kerk van die allergrootste bekenis in die wêreld is: “Ek bid dat hulle almal een mag wees, net soos U, Vader, in My is en Ek in U, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het.” Die eenheid van die kerk moet in die wêreld sigbaar word tot ’n getuienis van die verlossende krag van die evangelie.

Die doel van die reeks is om ons gemeentes opnuut op te wek tot die vervulling van die sendingroeping van die kerk. Terselfdertyd wil dit hulle laat verstaan dat die eenheid van die kerk van die grootste belang is vir die geloofwaardigheid van ons getuienis aangaande die verlossende krag van die evangelie wat mense binne die een kerk van Christus in ’n gemeenskap van liefde saam verbind. Daarom wil dit hulle ook opwek om die eenheid in alle erns te soek, te bewaar en vorm daaraan te gee.

Dit kan op uitnemende wyse geskied deur ons met die boek Handelinge besig te hou. Die subtitel van die reeks, “Op voetspoor van die eerste gemeente”, dui aan dat ons in die lig van verskillende gedeeltes uit die boek Handelinge besig sal wees met die sentrale tema van die boek, nl. dat die eerste gemeente daartoe geroep is om getuies vir Christus te wees en die boodskap van die koninkryk in steeds wyer kringe en oor alle grense heen te dra. Dit kom veral tot uitdrukking in Handelinge 1:8 waar Christus aan die apostels sê dat hulle sy getuies sal wees in Jerusalem, Judea, Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld. Die uitvoering van hierdie program en die worsteling met die spanninge wat daarmee vir die apostels en die eerste gemeente saamhang, word in die boek Handelinge beskryf.

Die Gees wil steeds verder met die kerk, op weg na die uithoeke van die wêreld. Stap vir stap moes die eerste gemeente leer om vanuit die omvattende koninkryksvisie te leef en alle grense oor te steek, sodat die een kerk van Christus versamel kon word uit die ganse menslike geslag. So ontstaan deur die krag van die Gees ’n nuwe gemeenskap waarin alle faktore oorkom word wat in die destydse situasie skeiding tussen mense gemaak het. Dit word oor en oor in die boek Handelinge beklemtoon, telkens weer vanuit ’n ander gesigshoek en binne ’n nuwe opset. In die leerskool van die Heilige Gees word dieselfde dinge herhaaldelik aan ons gesê, totdat ons dit verstaan.

Die kerk is ’n unieke gemeenskap wat nie net getuig deur wat hy nie, maar ook deur wat hy is: ’n versoende gemeenskap wat mense uit elke volk en taal en nasie omvat. Ons kan die boodskap van die boek Handelinge nie beter saamvat nie, as wat dit geskied in Sondagsafdeling 21 van die Heidelbergse Kategismus (vrae 54 en 55), sowel as in Sondagsafdeling 48 (vr 123). Ons doen aan die hand dat hierdie antwoorde voortdurend in gedagte gehou word by die behandeling van die reeks.

Die opskrifte van die verskillende dagstukkies moet in aansluiting by mekaar gelees word as verskillende uitsprake wat in die lig van die boek Handelinge gemaak kan word oor die aard en weg van die nuwe en unieke gemeenskap wat ons die kerk noem.

  1. Hemelvaartdag, 12 Mei 1988
    Tema: Mense rondom Jesus
    Skriflesing: Handelinge 1:1–14
    Teks: Handelinge 1:2–4a

1.1       Die begin was maar klein: die elf apostels as kern, en rondom hulle ’n klein skare gelowiges – in totaal omtrent 120 (vs 13, 15). Daarby was hulle maar eenvoudige en ongeleerde mense (Handelinge 4:13), nie geleerdes, invloedrykes of mense van aansien nie (vgl 1 Korintiërs 1:26). Hulle was bang en onseker. Van buite gesien het dit maar onindrukwekkend gelyk. Tog het die hele Christelike kerk uit die getuienis van hierdie eerste klein gemeente gegroei.

Die geheim daarvan moet nie in hulle eie besondere vermoëns gesoek word nie, maar daarin dat hulle mense rondom Jesus was. Daarin is die grondpatroon van die kerk van alle eeue gegee. Jesus self is die geheim van die kerk. Hy het die apostels uitgekies (vs 2) en hulle aan Hom verbind. Hy self kies ook almal uit wat rondom hierdie kerngroep van sy apostels tot sy gemeente toegevoeg word (Handelinge 2:47). Daarom is die kerk ’n unieke gemeenskap wat heeltemal gestempel word deur sy verhouding tot Jesus. Ons woord “kerk” is waarskynlik afgelei van die woord kuriake: dit wat aan die Here behoort. Die kerk is niks anders nie, as die gemeenskap van mense rondom Jesus wat aan Hom, en daarom ook aan mekaar behoort. Die mees wesenlike wat van die kerk gesê kan word, is nie dat dit ’n groot organisasie is nie, maar eenvoudig dat dit die gemeenskap van mense is wat Jesus self geroep en deur die geloof aan Hom persoonlik verbind het om voortaan vir Hom te lewe.

1.2       Daarmee is gesê dat die kerk mense rondom Jesus is aan wie Hy sy gemeenskap skenk. Gedurende sy aardse lewe het Jesus in ’n innige gemeenskap met sy apostels en dissipels verkeer en hulle die dinge van die koninkryk van God geleer. Daardeur het Hy hulle aan Homself verbind, en ongetwyfeld het hulle Hom ook liefgehad. Tog het dit geblyk dat hulle verhouding tot Hom uiters gebrekkig was. Judas het selfs heeltemal die rug op Hom gedraai, Petrus het Hom in die uur van krisis verloën en die ander dissipels het gevlug. Na sy opstanding tel Jesus doelbewus die draad van sy verhouding met die elf oorblywende apostels weer op. Tussen sy opstanding en hemelvaart verkeer Hy veertig dae lank met hulle en bind hulle opnuut aan Homself en aan mekaar. Maar wat ’n verskil met vroeër! Nou is hulle mense rondom die verheerlikte Jesus, wat Homself op ’n nog veel inniger wyse aan hulle skenk.

Dit moes ’n heerlike tyd gewees het! Hy het aan hulle met baie onbetwisbare bewyse getoon dat Hy lewe. Hy het met hulle gewandel, met hulle gepraat, saam met hulle geëet, hulle geleer om die betekenis van sy kruis en opstanding te verstaan. Maar die meeste van alles: Hy het hulle laat verstaan dat Hy deur sy verheerliking op ’n veel inniger wyse as tevore met hulle in gemeenskap sou verkeer.

Die hemelvaart is nie die afskeid van Jesus nie. Dit is die beëindiging van ’n bepaalde (liggaamlike) wyse waarop Hy by sy gemeente teenwoordig was, sodat ’n nuwe, heerliker, ryker teenwoordigheid en gemeenskap vir die kerk van alle tye moontlik sou word: sy teenwoordigheid deur sy Gees. Aan die hemelvaart van Jesus is die “aardevaart” van die Heilige Gees onafskeidelik verbonde (Handelinge 1:4; 2:33). Deur die Gees word iets moontlik wat tevore onmoontlik was: dat die verheerlikte Christus self in sy gemeente kom woon. Hulle lewe sou met Christus self vervul word, sodat hulle nie net mense rondom Jesus sou wees nie, maar self ook Jesus-mense, mense in wie Jesus self sigbaar word.

Ook daarmee word die grondpatroon vir die kerk van alle tye vasgelê: dit is die gemeenskap van mense wat verenig is rondom die lewende Heer. Die gemeenskap met die lewende Christus is die geheim van die kerk. Juis omdat Christus tans op die hemelse troon sit, is Hy self by hulle en in hulle teenwoordig om in hulle soos in sy aardse liggaam te lewe en die vrug van sy versoeningswerk in hulle lewe toe te pas en in die wêreld uit te deel.

1.3       Die gemeente is daarom mense rondom Jesus wat volkome afhanklik is van sy Gees. Jesus gebied die dissipels om in Jerusalem te wag op die gawe wat die Vader beloof het (Handelinge 1:4). Daarsonder sou hulle niks wees nie, niks hê nie en niks vermag nie. Dit is net deur die Gees dat Christus in sy gemeente kan woon en sy krag in hulle kan openbaar (Johannes 14:18 ev). Ons weet watter totale verandering die uitstorting van die Gees in hulle tot stand gebring het. Die vervulling met die Heilige Gees is egter iets waarvan hulle voortdurend afhanklik sou bly.

Die Heilige Gees is nie ’n mag waaroor mense beskik nie. Daar moet telkens weer om die openbaring van die krag van die Heilige Gees in die kerk gebid word. Dit is waar dat die Heilige Gees op die Pinksterdag vir eens en altyd uitgestort is. Ons moet dus nie meer bid om ’n nuwe uitstorting van die Gees nie. Maar soos die eerste gemeente telkens weer met die Gees vervul moes word en daarom volkome afhanklik van die Gees gebly het, so is die kerk van alle tye dit ook. Al die moontlikhede is nog steeds daar dat die kerk vandag net so kragtig as die eerste gemeente kan wees. Maar dan moet ons werklik weer mense rondom Jesus wees wat in voortdurende afhanklikheid van die Heilige Gees en in gehoorsaamheid aan Christus tot beskikking van God is.

  1. Vrydag 13 Mei 1988
    Tema: Geroep tot getuies
    Skriflesing: Matteus 28:16–20; Handelinge 1:1–8
    Teks: Handelinge 1:8

Die veertig dae voor Hemelvaart was vir die apostels (sic) ’n tyd van gemeenskap met Jesus. In dié tyd het Hy aan hulle insig gegee in die betekenis van sy verlossingswerk. Maar dit was nie al waarom dit gegaan het nie. Dit was ook dié tyd waarin die verheerlikte Heer aan sy gemeente die groot opdrag gegee het om die evangelie van die koninkryk in die hele wêreld te gaan verkondig. Dit was die tyd van die sendingbevel. Daaruit is enkele dinge duidelik:

2.1       Om ’n dissipel van Jesus te wees, beteken om geroep te wees om ’n getuie vir Christus te wees. In die Bybel word die woord “roep” dikwels gebruik om aan te dui dat die Here mense uit hulle verlorenheid wegroep na die verlossing. Dit is egter deurgaans so dat die woord ook ’n tweede betekenis het wat onafskeidelik daaraan verbonde is: die roeping tot die diens van God. So is die dissipels deur Jesus uitverkies en geroep om Hom te volg. Dit het vir hulle verlossing beteken, maar dit was terselfdertyd tog ook die roeping om vissers van mense te word (Markus 1:17).

Die gemeente van Christus bestaan nooit sonder meer as die gemeenskap van verloste mense nie; dit is altyd terselfdertyd ook die gemeenskap van gestuurde mense: gestuur om die evangelie aan andere te verkondig. Vir Christus was dit ’n saak van soveel belang, dat die Nuwe Testament vyf keer vertel dat Hy voor sy hemelvaart aan sy apostels die opdrag gegee het om as sy getuies in die wêreld op te tree (Matteus 28:19; Markus. 16:5; Lukas. 24:48; Johannes 20:21; Handelinge 1:8). Om ’n Christen te wees, is om ’n getuie vir Christus (sic) te wees. Dit is ’n saak waaroor ons geen keuse het nie. ’n Mens kan nie ’n Christen wees, maar sê dat jy liewer niks met die getuienistaak van die kerk te make wil hê nie.

Om kerk te wees, is om tot die sending geroep te wees. Die opdrag tot die sending hoort tot die wese van die kerk. Die kerk deel in die sending van Christus self (Johannes 20:21). ’n Kerk wat sy getuienistaak verwaarloos, is ’n kerk wat gestagneer het, wie se lewe troebel word soos ’n poel water wat geen in- en uitvloei het nie. Wanneer die kerk verstrengel raak in aardse belange; wanneer die kerk tot ’n volkskerk word wat sy hande vol het aan die belange van ’n bepaalde volk of groep; wanneer die kerk ’n politieke of maatskaplike funksie begin vervul as die bevestiger van die bestaande waardes van die gemeenskap of as instrument vir die bereiking van aardse ideale en nie meer sy primêre opdrag verstaan om die boodskap van verlossing deur die bloed van Christus te verkondig nie, is die kerk ontrou aan sy eie wese.

Natuurlik beteken dit nie dat die kerk nie ook geroep is om te getuig dat die evangelie betekenis het vir ons hele lewe in al sy verbande nie. Dit kan egter alleen verstaan word deur mense wat die boodskap van verlossing gehoor en geglo het. Dit bly die hooftaak van die kerk om mense tot die verlossing in Christus te lei. Rondom ons is daar miljoene mense wat nog nooit behoorlik van Christus gehoor het of die boodskap van die Bybel verstaan het nie. Christus maak ons verantwoordelik daarvoor om sy getuies by hulle te wees.

2.2       Die belangrike punt is nou egter dat Christus sy gemeente roep om die evangelie in die hele wêreld te verkondig. Daarom sê Hy: “Julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.” Dit het in sy heilswerk sekerlik nie net gegaan om die verlossing van die 120 eerste dissipels nie; ook nie net om die verlossing van Israel nie, maar om die heil vir die wêreld. Christus is die Here van die hele wêreld. Hy roep sy gemeente om dit in die hele wêreld te verkondig.

Jesus se opdrag aan die apostels om in Jerusalem te bly en te wag op die gawe van die Gees wat hulle binne enkele dae sou ontvang (vs 5), het by hulle die verwagting gewek dat die koninkryk van God binnekort sou kom. Daarom vra hulle Hom of Hy in hierdie tyd die koninkryk vir Israel gaan oprig. Daarmee praat hulle nog die taal van die ou bedeling (vgl Lukas. 24:21). Die reaksie van Jesus daarop is geweldig belangrik (vs 7). Enersyds wys Hy hulle vraag oor die tyd van die koms van die koninkryk af: slegs die Vader ken die tyd en omstandighede van die koms van die koninkryk. Maar Hy voeg dan dadelik die universele visie van vers 8 daaraan toe: dit gaan om meer as Israel; dit gaan ook om Samaria en om die hele wêreld. Dit gaan om die vervulling van die belofte van Abraham dat in hom al die geslagte van die aarde geseën sal word. Dit is die taal van die nuwe bedeling.

Christus wil rondom Hom ’n gemeente vergader uit elke volk en taal en stam en nasie (Openbaring 5:9). Die tyd toe die heil tot Israel beperk was, is verby. In die opstanding van Christus is die hele wêreld in die lig gestel. Die voete van die apostels van Christus, maar ook van al sy gemeentelede word op die paaie geplaas na die uithoeke van die wêreld. Die groot opdrag word aan hulle gegee om die wêreld vir Christus te win.

Die boek Handelinge is die verhaal van hoe die verheerlikte Christus deur sy Gees die jong kerk gelei het tot getuienis teenoor alle mense. Dit is die bedoeling van Christus dat elkeen van ons, maar ook die kerk as geheel, ’n passie sal hê vir die verkondiging van die evangelie aan alle mense. As ons Christus liefhet, moet ons ook saam met Hom die wêreld en alle verlore mense liefhê en na hulle uitgaan met die boodskap van verlossing.

Laat ons bid vir hierdie liefde vir die wêreld en die begeerte om aan ons roeping as getuies getrou te wees.

  1. Saterdag 14 Mei 1988
    Tema: Toegerus deur die Heilige Gees
    Skriflesing: Handelinge 1:4–5; 2:1–8; 12–21
    Teks: Handelinge 2:15–21

Wat het die uitstorting van die Heilige Gees op Pinksterdag presies beteken? Dit het beteken dat die bevrydende en verlossende krag van Christus deur die Gees op die aarde vrygestel is om die gemeente van Christus uit alle volke en tale en nasies te versamel. Ons teksgedeelte leer:

3.1       Die Heilige Gees is uitgestort om die gemeente van Christus toe te rus vir die getuienistaak waartoe Hy hulle geroep het. Ook voor Pinkster was die Gees in die harte van die dissipels werksaam, soos Hy van altyd af mense tot geloof en bekering en heiligmaking gelei, en hulle met allerlei gawes toegerus het. Die uitstorting van die Heilige Gees op die Pinksterdag staan egter in direkte verband met die verheerliking van Christus (Johannes 7:39; Handelinge. 2:33).

Noudat Christus deur sy lyding en dood versoening bewerk het en die Here is wie se Naam deur almal in die hemel en op aarde bely moet word (Filippense 2:6–11; vgl Jesaja 53:10), breek die groot heilstyd van die “laaste dae” aan. Dit is die tyd van die verrassende en oorweldigende werking van die Gees om mense tot verlossing deur Christus te bring. Die Heilige Gees word met die oog daarop op die gemeente uitgestort. Die eerste gemeente is op Pinksterdag met die Heilige Gees gedoop en so met die krag toegerus om op ’n oorwinnende en doeltreffende wyse vir Christus te getuig.

Die belofte van die doop met die Heilige Gees word in die Nuwe Testament ses keer herhaal. In alle gevalle (Matteus 3:11; Markus. 1:8; Lukas 3:16; Johannes 1:33 en Handelinge 1:5) gaan dit om die uitspraak van Johannes die Doper – dat hy met water doop, maar dat daar Een is wat na hom kom wat met die Heilige Gees en met vuur sal doop. Christus laat dit slaan op die uitstorting van die Gees op Pinksterdag (Handelinge 1:5). Op die dag is die gemeente gedoop met die vuur en die krag van die Heilige Gees.

Dit was ’n eenmalige heilsgebeurtenis net soos die geboorte of die kruis van Christus. Daardeur is die gemeente van Christus gesalf tot ’n getuienisgemeenskap, en elkeen wat deur die geloof in die gemeente ingeplant word, ontvang deel aan hierdie salwing met die Gees. Dit het nie in die eerste plek te make met die heiliging van die gelowiges nie, maar met hulle toerusting vir hulle getuienistaak. In verband daarmee word hulle ook geheilig en gesuiwer, sodat hulle vir die Gees bruikbaar kan wees en nie net met woorde nie, maar ook met hulle hele lewe getuies vir Christus kan wees.

Op Pinksterdag en daarna getuig die apostels en die eerste gemeente vrymoedig en kragtig vir Christus. Al hulle beskroomdheid en vrees van vroeër was weg. Hulle insig in die betekenis van die Skrif is merkwaardig. Die Heilige Gees verheerlik Jesus wat op die troon is deur die kragtige getuienis van die kerk. Jesus word verheerlik as mense gered word. Op een dag word omtrent 3 000 tot Christus gelei!

3.2       Die Gees verleen veral profetiese gawes aan die gemeente. Petrus haal die Profeet Joël aan wat sê dat die Gees uitgestort sal word op alle mense, en dat seuns en dogters as profete sal optree, dat die jongmense gesigte sal sien en oumense drome sal droom, ja, dat die dienaars en dienaresse profete sal wees (Handelinge 2:16–21). Al hierdie uitdrukkings slaan op die profetiese gawes waarmee die nuwe gemeente toegerus word om vir Christus te kan getuig.

Dit stem ooreen met die teken van tonge van vuur wat tydens die Pinkstergebeure op die aanwesiges gekom het (Handelinge 2:3). Dit dui aan dat hulle ook werklik tonge ontvang het om vuriglik te kan getuig. Dit blyk ook uit die teken van die tongge-spraak (sic) wat plaasvind. Gesamentlik verkondig hulle onder die mag van die Gees die groot dade van God (vs. 4). Die Gees self is die groot Getuie van Christus (Johannes 16:13–15), en Hy maak mense tot getuies van Christus. Pinksterfees is sendingfees omdat dit Christusfees is. Die profetiese gawes van die gemeente is bedoel om Christus te verheerlik.

Daarom gee die Gees ook aan die verskillende aanwesiges die gawe om so van Christus te getuig, dat die skare wat saamstroom, die boodskap in verskillende tale kan hoor. Godsdienstige Jode wat afkomstig is “uit al die nasies onder die son” hoor elkeen hoe daar in sy moedertaal oor die groot dade van God gepraat word (Handelinge 2:11). Die beslissende verlossing is in Christus vir alle mense daar.

Daarom dra sy kerk ook ’n alles omvattende en ’n almal insluitende of katolieke karakter. Die kerk praat alle tale en rig hom tot alle mense. Die kerk styg uit bo alle kulturele grense wat tussen die mense bestaan. Die teken van Pinkster bevestig dat die kerk werklik op die hele wêreld gerig is en in sy getuienis en uitbreiding nêrens ’n grens het nie. Die verdeeldheid wat die spraakverwarring by die toring van Babel tussen die mense tot stand gebring het, word in die kerk geheel.

Ons het alle rede om ons diep voor God te verootmoedig, nie alleen omdat ons die Gees op soveel maniere bedroef nie, maar ook omdat ons so traag is om vir Christus te getuig, en wanneer ons nog getuig, is ons getuienis so beperk en vanweë ons verdeeldheid so ongeloofwaardig. Mag die Gees tog op sodanige wyse van ons besit neem, dat ons tonge los sal raak en ons harte oop. En mag Hy die sondige verskeurdheid van die kerk genees, sodat ons almal soos uit een mond teenoor alle mense van die verlossing in Christus sal kan getuig!

  1. Sondag 15 Mei 1988
    Tema: Saamgesnoer in gebedsgemeenskap
    Skriflesing: Handelinge 1:12–14; 2:37–41; 4:23–31
    Teks: Handelinge 1:14; 2:42

4.1       As Christus van sy gemeente ’n getuienisgemeenskap in die wêreld wil maak, dan maak Hy dit eers ’n gebedsgemeenskap. Alles wat in Handelinge 2:42 opgenoem word oor die onderlinge eenheid in die Woord en die gemeenskap in die eerste gemeente lê ingebed in die feit dat dit ’n gebedsgemeenskap was. Die daaglikse vaste tye van gebed, die lofprysing van God en die geestelike verkeer met Christus en met mekaar vorm die klimaat waarbinne die Here daagliks mense wat gered is, by die gemeente voeg. (Handelinge 12:47).

Direk na die hemelvaart van Christus gaan die apostels reeds na die bovertrek – waar hulle gewoonlik vertoef het – terug, om daar saam met die vroue en andere wat Jesus liefgehad het, gesamentlik en eensgesind in die gebed te volhard en so op die uitstorting van die Gees te wag. Ons kan nie sê dat die koms van die Gees van hulle gebed afhanklik was nie. Die werklikheid en die tyd daarvan was reeds deur die Vader in sy raad bepaal. Tog stort God die Gees nie uit sonder hulle gebede en die diepe begeerte van hulle hart na die vervulling van sy beloftes nie. God bly getrou aan die belofte van Christus dat Hy die Heilige Gees gee aan die wat vra (Lukas 11:13).

Die wat God wil seën, vervul Hy eers met verlange na daardie seën. Dit was toe Paulus later na sy ontmoeting met Christus in sy blindheid gebid het, en dat God sy gebed verhoor het deur Ananias na hom te stuur (Handelinge 9:11–12). God laat sy kerk nooit tevergeefs bid nie. Die krag van die eerste gemeente was die krag van die Heilige Gees, maar dit was van ’n ander kant gesien ook die krag van die gebed. Jakobus kon ook uit die ervaring van hierdie vroegste dae van die gemeente later in sy brief verseker dat die gebed van die gelowige ’n kragtige uitwerking het (Jakobus 5:16). Gods krag word langs die weg van ons gebede in die wêreld vrygestel.

4.2       Die eerste gemeente bid werklik volhardend. Met groot reëlmaat word vertel dat die apostels en die gemeente gebid het. Volgens Handelinge 2:42 is die gebed een van die dinge waarop die eerste gemeente hulle daagliks heelhartig toegelê het. In 4:23–31 lees ons van die gemeenskaplike en eendragtige gebed van die gemeente en dat Petrus en Johannes deur die Joodse Raad verbied is om verder met mense in die Naam van Christus te praat. In 6:4 blyk dit dat die apostels die gebed as een van hulle vernaamste take gesien het. Daarom gaan hulle oor tot die kiesing van die sewe “diakens”, sodat hulle tyd kan hê vir die bediening van die woord en die gebed. Ons lees ook van die gebed van die gemeente vir die diakens (6:6) en van ’n gebedsbyeenkoms in die huis van Maria, die moeder van Johannes en Markus (12:12). Dit is tydens ’n gebedsbyeenkoms in Antiogië dat die Heilige Gees die oortuiging gee dat Paulus en Barnabas as sendelinge uitgestuur moet word (Handelinge 13:2). Alle groot wendinge in die geskiedenis van die kerk het plaasgevind langs die weg van gebed.

4.3       Dit is duidelik: gebed was uiters belangrik vir hierdie gemeente. Dit is daarom ook nie vreemd dat hulle onderlinge verbondenheid so sterk was nie. Want die eerste gemeente is ook eensgesind in die gebed. Mense wat saam kan bid en daarby gesamentlik die koms van Gods koninkryk op die oog het, kan nie anders as om eensgesind te wees nie. Niks minder as die Heilige Gees self is nodig om mense uit sulke verskillende agtergronde as die apostels van Jesus met mekaar eenstemmig te kan maak in die gebed nie. Onder hulle was bv. ’n gewese tollenaar wat met die Romeinse oorheersers saamgewerk het en ’n gewese Seloot wat ’n voorstander was van gewelddadige verset teen die Romeine: Tog bind die Heilige Gees hulle in ’n nuwe eenheid saam. Die saak van die koninkryk het vir almal groter geword as hulle eie saak. Soos die gemeente sy lewe buite homself in Christus vind, so vind hy ook sy eenstemmigheid buite homself in Christus.

Gebedsgemeenskap is die sterkste vorm van gemeenskap. Die ellende van die latere Christendom is dat Christene dikwels teen mekaar in bid, omdat hulle begeertes so verskillend is en hulle nie meer een van hart en sin kan wees in die dinge wat hulle van God begeer nie. Dit gebeur wanneer mense se eie belange by hulle sterker tel as die belange van die koninkryk en wanneer hulle God se krag vir hulle eie saak wil opeis, eerder as om hulleself tot beskikking van God en sy saak te stel. Dit is dan nie snaaks as ons kragteloos in die gebed is nie, omdat ons nie meer eendragtig die belange van die koninkryk voorop stel nie.

4.4       Daarom is dit ook so belangrik dat die eerste gemeente almal gesamentlik bid. Natuurlik is dit noodsaaklik dat gelowiges as enkelinge in hulle binnekamers moet bid. Maar daarby mag dit nie bly nie. Die gemeenskaplike gebed is van groot betekenis vir die eenheid en die geestelike krag van die gemeente. As Christene nie meer ’n begeerte het om met mekaar saam te bid nie, is daar êrens ’n groot fout met hulle geestelike lewe.

’n Ware geestelike verdieping van die kerk, en in die besonder ook van ons eie kerkfamilie, sal alleen ons deel word langs die weg van volhardende, eenstemmige en gesamentlike gebed. Daarsonder kan die kerk ook geen betekenisvolle werfkrag hê nie. Die gees van gebed is ’n gawe van die Gees, maar dit moet ook deur ons gesoek en gekweek word. As die kinders van God in ons land net eers kan leer om só saam te bid, sou die eenheid en die oorwinnende getuienis van die kerk vanself daaruit volg.

  1. Maandag 16 Mei 1988
    Tema: In gemeenskap van die liefde
    Skriflesing: Handelinge 2:42–47; 4:32–36; 5:11–14
    Teks: Handelinge 2:42; 44–46

5.1       Ons teksgedeelte skilder ’n pragtige beeld van die eerste gemeente. Dit is die beeld van ’n gemeente wat in die krag van die Heilige Gees saamgevoeg is in ’n eenheid van liefde. Waar die Gees van God besit neem van mense se lewens, vervul Hy hulle met liefde vir Homself en vir mekaar.

Ons het tevore daarop gewys dat die Heilige Gees die gemeente toegerus het vir hulle getuienistaak en aan hulle profetiese gawes geskenk het om Christus te kan verkondig. Maar selfs die beste gawes is nutteloos sonder die liefde (1 Korintiërs 13:1–3). Daarom skenk die Gees aan die gemeente die liefde as die onmisbare voorvereiste vir die vervulling van hulle roeping in die wêreld.

Die fondament van hierdie liefde is die liefde vir Christus. Die Geesvervulde gemeente is mense rondom Jesus wat volhard in die gebed en die omgang met Christus, sowel as in die oordenking van die Woord van God soos dit na hulle kom in die leer van die apostels (vs 42). Daardeur word hulle telkens weer opnuut gedrenk in die boodskap van die liefde van God.

Maar hulle orden dit in “onderlinge verbondenheid”, in liefdesgemeenskap met mekaar. Waar die Heilige Gees heers, is daar vrede, eensgesindheid en onderlinge liefde. ’n Mens word nie ’n Christen om as ’n losstaande enkeling voortaan vir Christus te lewe nie. Wie ’n Christen word, word in Christus ingeplant en daarmee saam ook in sy liggaam, wat die gemeente is (vgl 1 Korintiërs 12).

Vanaf die vroegste tye word aangaande die kerk op grond van die Skrif bely dat dit “die gemeenskap van die heiliges” is. Die Heidelbergse Kategismus verduidelik dat dit beteken dat die gelowiges, almal saam en elkeen afsonderlik, as lede gemeenskap met die Here Christus het en deel het aan al sy skatte en gawes. Daarom is elkeen verplig om sy gawes gewillig en met vreugde tot nut en saligheid van die ander lede aan te wend (vr 55). Dit kan alleen gebeur in ’n gemeenskap van liefde, wat ’n kenmerk is van die ware kerk. Waar dit ontbreek, word die Gees bedroef en die gemeente in sy hart aangetas.

5.2       Maar dit bring ook ’n bepaalde lewenstyl mee. Hulle eensgesindheid gaan verder as blote ooreenstemming oor die leer of die bereidheid om saam te aanbid. Dit hou ook in dat hulle bereid word om hulle aardse besittings met mekaar te deel. Hulle verkoop hulle eiendomme en besittings en deel die opbrengs daarvan met die hele gemeente, volgens elkeen se behoefte (2:44–45 en 4:32). Nie een van hulle het gebrek nie, want vanuit die onderlinge sorg kon aan almal gegee word volgens wat hulle nodig gehad het (4:34–35).

Wat ons hier aanskou was geen Marxistiese of Leninistiese sisteem wat prinsipieel alle privaatbesit verbied en met dwang alle mense gelykskakel in hulle afhanklikheid van die staat wat alle bates beheer nie. Hier is geen sprake daarvan dat alle privaatbesit afgewys, dat armoede verheerlik word, of dat dwang op gemeentelede uitgeoefen word om hulle besittings te verkoop en die opbrengs in die gemeenskaplike kas te stort nie (Handelinge 5:4).

Dit gaan hier om iets anders, naamlik om ’n nuwe vryheid van hebsug en ’n sterk gemeenskapsin waardeur die gelowiges bereid geword het om hulle besittings vrywillig te deel met diegene wat nie het nie. Die liefde wat die Gees in hulle harte uitgestort het, laat hulle doen wat in die Ou Testament herhaaldelik as die doen van geregtigheid beskryf word, nl. dat aan armes en weduwees, hongeres en behoeftiges barmhartigheid bewys moet word. Deur dit te doen, volg die eerste gemeente God na, want ook Hy is die God van barmhartigheid en geregtigheid. Die beginsel van die vlees dat elkeen net vir homself moet sorg in dodelike kompetisie met mekaar soos dit in ons soort samelewing aan die orde van die dag is, is by hierdie eerste gemeente deur die liefde deurbreek.

5.3       Dit moes noodwendig ’n magtige getuienis teenoor diegene buite die gemeente gewees het. Ons lees nie verniet van die ontsag wat die “hele volk” vir die gemeente gehad het nie (2:47 en 5:11). Dit moes ook die wêreld met verwondering vervul het dat die lewenstyl van die Christene so anders was. Hulle onderlinge liefde (sic) vir mekaar is iets totaal vreemds in die wêreld en vorm in sigself reeds ’n kragtige getuienis vir die verlossingskrag van Christus (vgl Johannes 13:35).

Dit is seker nie die bedoeling van die Bybel dat die onderlinge sorg in die gemeente altyd op hierdie wyse gereël hoef te word nie. Maar dit bedoel wel dat Christene vry moet wees van die liefde vir aardse besittings en die selfsug wat daarmee gepaard gaan, sodat hulle mekaar en andere daarmee kan dien. Hierdie saak is van soveel erns, dat Ananias en Saffira met ’n uiterste maatreël ontmasker word as hulle ’n liefde en onselfsugtigheid veins wat hulle in werklikheid nie het nie (Handelinge 5:1–11). Ons lees ook dat die apostels doelbewus maatreëls getref het (die kiesing van die sewe “diakens”) toe dit geblyk het dat daar ’n vorm van diskriminasie in die versorging van die Griekssprekende weduwees ingesluip het (Handelinge 6:1–7). Die gemeenskap van die gelowiges moet teen elke prys beskerm word.

Die gemeente getuig nie net met die mond nie, maar ook met sy dade en gesindheid. Terwyl die Gees ons vry wil maak vir die aanvaarding van en gemeenskap met mekaar, wil Hy ons ook vry maak van ’n sondige gebondenheid aan ons besittings. In ’n wêreld waarin sommige in oorvloed lewe en baie ander gebrek ly, sal dit ’n magtige getuienis van die liefde en geregtigheid van God wees as kinders van God bereid sou wees om mekaar vrywillig met hulle besittings te dien. Dit is noodsaaklik dat ons onsself in hierdie opsig deeglik moet ondersoek en moet vra wat die Gees hierin van ons verwag.

  1. Dinsdag 17 Mei 1988
    Tema: Uitgestrooi op die akker
    Skriflesing: Handelinge 6:7 –7:2a; 7:54–8:1
    Teks: Handelinge 8:1

6.1       Jesus se laaste opdrag aan sy apostels maak dit duidelik dat Hy werklik die hele wêreld op die oog het. Dit gaan vir Hom nie net om Jerusalem en Judea nie, maar ook om Samaria en die uithoeke van die wêreld. Sy opdrag is dat die apostels dissipels moet maak van al die nasies” (Matteus 28:19). Die bestaan van die gemeente in Jerusalem en die gemeenskap van die heiliges wat hulle daar met mekaar belewe het, was dus geen doel op sigself nie. Dit alles was voorbereiding en toerusting vir die getuienistaak na buite wat op hulle gewag het.

Dit is opvallend dat die gemeente, ondanks die duidelike opdrag van Christus, tog nie uit eie beweging daartoe oorgegaan het om die evangelie in Samaria en elders te verkondig nie. Hulle was wel onverskrokke in die verkondiging van Christus in Jerusalem, sodat hulle met die Sanhedrin in botsing gekom het (Handelinge 3–5). Ondanks die verbod om in die Naam van Christus met mense te praat, gaan hulle eenvoudig daarmee voort. Baie mense kom tot geloof en algaande groei die gemeente (5:14). Ook uit die dorpe in die omgewing kom mense na Jerusalem met hulle siekes, en almal word gesond gemaak (5:16). Die gemeente bly egter tot die stad Jerusalem beperk.

Gods plan vir hulle was anders. Verskillende gebeurtenisse was onder Gods leiding nodig om hulle sover te bring om die evangelie ook elders te gaan verkondig. Dit het begin met die klagtes in die gemeente oor die verwaarlosing van die Griekssprekende weduwees (Handelinge 6). Dit het gelei tot die kiesing van die sewe “diakens”. Een van hulle, Stafanus, (sic) is ook ’n kragtige getuie vir Christus en groot wonders en tekens geskied tydens sy bediening. Die wyse waarop hy die evangelie verkondig, wek egter die gramskap van die Joodse gemeenskap en loop uit op sy steniging en ’n bloedige vervolging van die gelowiges. Dit noop hulle om vir hulle lewe te vlug – en so word hulle die wêreld ingedryf vir hulle getuienistaak.

6.2       Die gevolg is dat die gelowiges uitgestrooi word soos saad op die akker. En oral waar hulle kom, begin hulle om die evangelie te verkondig. Die snelle groei van die Christelike kerk in die eerste eeu moet aan hierdie spontane getuienis van alle gelowiges toegeskryf word. So word die konflik met die Jode in Jerusalem, die martelaarskap van Stefanus en die vervolging wat daarop gevolg het, hoe pynlik hierdie dinge ook al in hulleself was, die weg waarlangs Christus sy doel bereik om die wêreld met die evangelie te bereik.

Christus het gesê dat die dissipels deur die krag van die Heilige Gees sy getuies sou wees. Die Griekse woord vir “getuie” is dieselfde woord wat ons nog ken in die begrip (sic) van “martelaar”. Hierdie verbinding tussen getuienis en martelaarskap is nie toevallig nie: in die geskiedenis het die gelowiges dikwels vir hulle getuienis met hulle bloed betaal. Stefanus, die eerste martelaar vir Christus, sou in die loop van die geskiedenis deur duisende andere gevolg word. Ons lees in Handelinge 12 ook dat Jakobus doodgemaak is. Talle andere is soos Petrus en Johannes in die gevangenis gewerp en ’n ontelbare skare is op ander maniere vervolg. Die bloed van die martelare is egter die saad van die kerk. Vervolging het nog nooit die Christendom van sy krag beroof nie, maar is aangespoor tot kragtiger getuienis.

6.3       Die dood van Stefanus en die vervolging het egter ook ’n ander groot uitwerking gehad: dit het die gemeente van Christus bevry uit die isolasie van sy Joodse verlede en dit tot ’n wêreldwye beweging gemaak. Die rede waarom Stefanus soveel aanstoot aan die Jode gegee het, was klaarblyklik sy boodskap dat Christus sy volgelinge losgemaak het van die binding aan die tempeldiens en die wette wat dit gereël het. Vandaar die beskuldiging dat hy teen Moses en God gelaster en minagtend van die tempel gepraat het, wat in wese dieselfde is wat ook teen Jesus self ingebring is (Matteus 26:60).

Stefanus het verstaan wat Jesus bedoel het toe Hy vir die Samaritaanse vrou gesê het dat daar ’n tyd kom wanneer die ware aanbidders God nie meer op die berg Gerasim en ook nie in die tempel te Jerusalem sal aanbid nie, maar Hom deur die Gees en in waarheid sal aanbid (Johannes 4:23). Daarom kyk hy met ander oë na die tempel as die Jode. Hy verstaan reeds wat Paulus later sou sê, dat die gemeente van Christus in die nuwe bedeling die tempel van die Heilige Gees is (1 Korintiërs 3:16). Die tyd van die skaduwees toe net Israel, tot die Godsvolk behoort het, is verby. Noudat Christus opgestaan het en die Gees uitgestort is, woon God inderdaad nie in ’n tempel wat met hande gemaak is nie, maar in die wêreldwye gemeente van Christus wat aan geen plek, gebou of volk verbonde is nie.

Die Naam van Jesus het ’n skeiding voltrek wat nie ongedaan gemaak kan word nie. Ook dit was vir die Christelike gemeente noodsaaklik, anders sou die kerk weinig meer as ’n Joodse sekte gebly het. Die kerk kon nie rondom die tempel van die ou verbonde bly leef nie, want die kerk is die tempel van die Heilige Gees in die nuwe verbond. Die wind van die Gees waai in die seile van die skip van die kerk en dryf hom – oor die grense heen.

O, as die kerk tog weer ’n kerk van spontane getuies, ’n kerk met ’n boodskap vir alle mense kon word – uitgestrooi soos saad op die akker van die wêreld!

  1. Woensdag 18 Mei 1988
    Tema: Op die pad van versoening
    Skriflesing: Handelinge 8:4–8; 14–17; 25
    Teks: Handelinge 8:14–17

7.1       Die tema van die boek Handelinge is dat Christus die Here van die wêreld is en as sodanig erken wil word. Daarom lei Hy sy gemeente na steeds nuwe terreine waar hulle vir Hom moet getuig. Die wind van die Gees waai die gemeente in Jerusalem soos pluimsaad uitmekaar die wêreld in. Die saad val ook in Samaria, want Christus wil ook die Here van die Samaritane wees. Ook na hulle gaan sy hart uit!

In God se program vir die eerste gemeente word die tweede fase nou bereik (Handelinge 1:8). Dit gebeur as Christene vanweë vervolging na Samaria vlug en daar die evangelie begin verkondig. Miskien sou die Gees hulle op geen ander manier in Samaria kon bring nie, want vir Jode is Samaria ’n veragte en gehate plek, waarheen hulle seker nie uit eie vrye wil gaan nie. Nie alleen is die Samaritane ’n volk van gemengde bloed, wat hulle as sodanig reeds vir die Jode tot ’n aanstoot gemaak het nie, maar ook hulle godsdiens is gekenmerk deur ’n vermenging van die geloof in die God van Israel met allerlei heidense elemente. Om politieke en godsdienstige redes is Samaria dus vir ’n Jood ’n aanstootlike plek. Christus het sy bloed egter ook vir Samaritane uitgestort, en daarom voer die Gees sy getuies daarheen.

7.2       In die kerk van Christus word Jode en Samaritane met mekaar versoen. Die eeue-oue vyandskap en wedersydse afkeer tussen Jode en Samaritane (vgl. Joh. 4:9) is nie vir Christus ’n probleem nie. Dit mag nie verhinder dat Samaritane tot die kerk van Christus toegevoeg word nie. Die Gees laat Hom nie deur sulke mure van afkeer en skeiding keer nie. Christus self het in sy optrede teenoor die Samaritaanse vrou bewys dat die eeue-oue vyandskap tussen Jode en Samaritane in Hom oorbrug word (Johannes 4:10, 21–26). Hy het in die gelykenis van die Barmhartige Samaritaan doelbewus sy dissipels laat verstaan dat ’n Samaritaan vir ’n Jood ’n naaste kan wees (Lukas 10:30–37). Toe die dissipels by geleentheid vuur op die Samaritane wou afbid omdat hulle Jesus ’n verblyfplek geweier het, het Hy hulle skerp daaroor tereggewys (Lukas 9:55– 56). Christus het ook die Samaritane lief en wil ook: hulle redding, nie hulle verderf nie. Die evangelie respekteer nie sondige menslike vooroordele nie, maar sny daardeur heen.

As Filippus die Evangelie in Samaria verkondig, skenk, die Gees van God ’n ryke vrug. Talle mense kom tot bekering en word gedoop. Bose geeste word uitgedryf, Siekes word genees. Simon die Towenaar se bedrieëry en duiwelskunste word ontmasker. Deur die werk van die Gees val die ou mure van skeiding om. In die kerk is daar immers geen plek vir vyandskap en onversoendheid wat die eenheid van die kerk kan bedreig nie. Die kerk is die nuwe gemeenskap waarin iets sigbaar word van die vervulling van die profesie dat daar in die Ryk van die Messias vrede sal wees, “wolwe en skape sal dan saam bly, luiperds sal tussen die bokkies lê, kalwers, leeus en voerbeeste sal bymekaar wees en klein seuntjies sal vir almal sorg.”

7.3       Christus wil ook dat die sigbare eenheid van sy kerk ’n teken van hierdie versoening in Hom moet wees. Daarom word die apostels in Jerusalem feitlik gedwing om erkenning en voorrang te verleen aan die uitbreiding van die kerk in Samaria. Petrus en Johannes word na Samaria gestuur om die band van eenheid met die Samaritaanse gelowiges te gaan bevestig (8:14). Hoewel die Samaritane tot bekering gekom het en gedoop is, hou die Gees sy besondere werkinge van hulle terug totdat die apostels uit Jerusalem gekom en vir hulle gebid het. Eers toe die band van eenheid tussen Jerusalem en Samaria, tussen gelowige Jode en gelowige Samaritane ook deur die leiers van die gemeente in Jerusalem erken en beleef is skenk God die volheid van sy seën (8:14–17).

God wil die eenheid van die kerk. God wil nie ’n kerk onder die Jode en ’n kerk onder die Samaritane hê wat elkeen op homself bestaan, sonder dat die eenheid tussen hulle bevestig is nie. Daar is maar een Kerk van Christus in Jerusalem en in Samaria. Dat hierdie eenheid vir die Gees van groot belang is, blyk daaruit dat Hy sy volheid weerhou waar daar hindernisse is wat die eenheid van die kerk aantas. Wie om welke rede ook die eenheid van die kerk minag, beskadig die gemeente wat die tempel van die Gees is, en moet verwag dat dit geestelike onvrugbaarheid, en selfs die oordeel van God tot gevolg sal hê (1 Korintiërs 3:17).

Ons het alle rede om te vra of baie van die geestelike onvrugbaarheid waaraan ons ly, nie in ’n groot mate die gevolg is van ’n sondige verskeurdheid in ons eie kerkfamilie wat deur die geskiedenis loop en homself openbaar in die onwil om mekaar te aanvaar soos Christus ons aanvaar het nie. Ons het die eenheid van die kerk in die gedrang gebring en die boodskap van die kerk vir baie ongeloofwaardig gemaak.

Ons kan daarvan seker wees dat die Gees van God begeer om ons saam te bind in liefde en vrede, sodat die gebed van Christus vir sy gemeente verhoor sal word (Johannes 17:21). Waar dit gebeur, gaan daar van die kerk ’n magtige getuienis uit. Mag die Gees ons bereid maak om bevry te word van alle vooroordele wat die eenheid van die kerk bedreig, soos dit hier met die apostels in Jerusalem gebeur het. Dan sal die sluise van die hemel ook oor ons oopgaan.

  1. Donderdag 19 Mei 1988
    Tema: Uitverkore tot ’n werktuig
    Skriflesing: Handelinge. 9:1–18; Fil. 3:3–11
    Teks: Handelinge 9:15; Filippense. 3:7–9

8.1       Die groot ding wat die boek Handelinge ons wil leer, is dat dit die verheerlikte Christus self is wat deur die Gees die kerk op aarde uitbrei. Hy maak daarby egter van die diens van mense gebruik wat Hy daarvoor roep en toerus. Jesus het die apostels uitgekies toegerus as sy getuies, maar telkens roep God weer nuwe mense nader om getuies van sy reddende mag te wees. Ons het gehoor van Stefanus en Filippus, maar ook van die verstrooide gelowiges wat spontaan vir Christus getuig het. Ons aandag word egter in die besonder gevestig op een groot getuie vir Christus deur wie se arbeid daar ’n beslissende wending in die geskiedenis van die kerk gekom het: Saulus van Tarsus, die uiters begaafde en geleerde eertydse vervolger van die gemeente wat die grootste sendeling van die eerste geslag Christene geword het. Van hom sê die verheerlikte Jesus aan Ananias dat Hy hom gekies het as sy werktuig om sy Naam uit te dra onder die heidennasies en hulle konings en ook onder Israel.

8.2       Vir Paulus beteken dit dat daar eers ’n radikale omkeer in sy lewe moes plaasvind. As ons vandag na Paulus kyk, kan ons sien dat hy deur sy afkoms en opleiding ’n ideale persoon was om in die destydse wêreld so ’n groot werk te doen. Reeds daarin lê die beskikking van God. Paulus was ’n Jood, afkomstig uit Selisië. Hy is opgevoed in die beste tradisies van die Joodse volk en die kennis van die Ou Testament. Aan die ander kant het hy vanaf sy geboorte deel gehad aan die Grieks-Romeinse kultuur en geleerdheid. In sy persoon verteenwoordig hy die twee wêrelde waarin hy die verbreiding van die evangelie moes dien.

Daarom het Paulus twee name gehad. Aanvanklik verwys die boek Handelinge na hom as Saulus (Handelinge 7:58; 8:1–3; 9:1–31). Dit is eers in Handelinge 13:9 dat ons hoor: “Maar Saulus, dit is Paulus, vol van die Heilige Gees …” Vanaf daardie vers word verder na hom as Paulus verwys. Sy naam is nie by sy bekering na Paulus verander, soos soms gesuggereer word nie. Saulus is eenvoudig sy Joodse naam en Paulus sy Romeinse naam. As Saulus die heidenwêreld ingaan as die apostel van die heidene, noem Lukas hom voortaan met sy Romeinse naam. Dan gebruik die Heilige Gees hierdie man van twee wêrelde om die kerk die heidenwêreld binne te dra en die middelmuur van skeiding tussen Jood en nie-Jood af te breek, sodat die twee in Christus tot een nuwe mensheid kan word (Efesiërs 2:15).

Voordat dit egter kon gebeur, moes Paulus eers vir Jesus ontmoet. Dit gebeur op die Damaskuspad waar Christus hom teëkom en sy lewe omkeer. Paulus sou nooit weer dieselfde wees nie, en nooit weer kon ophou om God te dank vir die genade wat aan hom bewys is nie. God het sy hand op hom gelê – en alles het net anders geword.

8.3       Voordat Paulus ’n instrument vir die verkondiging van Gods genade kon word, moes hy self eers leer om uit die genade te lewe. Paulus se aanvanklike vyandskap teenoor die Christene het saamgehang met sy ywer vir die Joodse godsdiens en die wet. Hierdie ywer doen homself natuurlik voor as ywer vir God en sy saak, maar in werklikheid kom dit voort uit trots op en roem in die eie afkoms, die eie geregtigheid, die eie geregtigheid voor God. As God Paulus nie daarvan verlos het nie, sou hy nooit ’n bruikbare instrument van die Gees kon word nie.

Paulus het nie verniet tot die stam van Benjamin behoort nie, wat deur sommige Skrifverklaarders die elite van Israel genoem word. Hy dra die naam van koning Saul, die eerste koning van Israel. Hy kry sy opleiding onder die beroemde geleerde Gamaliël. Hy behoort tot die streng party van die Fariseërs en verklaar self dat hy wat die geregtigheid van die wet betref, onberispelik was. In Filippense 3 noem hy al die gronde van sy roem voor God en die mense op. En dit is nie gering nie.

Paulus moes leer dat al hierdie dinge geen grond van roem voor God kan wees nie. Sy groot grief teen die Christene en die rede waarom hy “soos ’n besetene voortgegaan het om die volgelinge van die Here met die dood te dreig” (Handelinge. 9:1), was ongetwyfeld dat hulle geleer het dat ’n mens deur Gods vergiffenis in Jesus gered word, en nie deur jou eie wetsvervulling of jou aanspraak daarop dat jy ’n nakomeling van Abraham is nie.

God moes die trotse Paulus eers platslaan om hom te leer dat ’n mens deur genade alleen gered word, deur die geloof alleen, deur verbondenheid met Christus alleen. Alles wat vroeër vir hom so belangrik was, moes hy as wegwerplik en waardeloos beskou, om Christus as enigste bate te verkry (Filippense 3:8). Hy moes leer om slegs op Christus te vertrou en om homself nie meer te verhef bo nie-Jode of enige ander mense nie. So word Paulus bereid om voortaan vir almal alles te word, om ten minste sommige te red (1 Korintiërs 9:22).

Eers as die koringkorrel in die grond val en sterwe dra dit veel vrug. Net ’n mens wat bekeer is tot die genade kan vir ander mense ’n instrument van genade word. Paulus kon ’n sendeling word, omdat hy dit verstaan het. Ook vandag nog kan die Gees ons alleen as getuies gebruik, as ons innerlik gebroke voor God is, klein in onsself, volkome afhanklik van die genade, en nie staatmaak op iets wat van ons self is nie.

  1. Vrydag 20 Mei 1988
    Tema: Sonder aansien van persoon
    Skriflesing: Handelinge 8:26–31; 35–38; 10:19–24; 34–35; 11:1–4; 15–18
    Teks: Handelinge 10:28, 34; 1:1–3, 18

9.1       Onder leiding van die Heilige Gees word die kring van die getuienis van die gemeente steeds wyer getrek. Die derde fase van die program van Handelinge. 1:8 word nou binnegetree: die uitbreiding van die kerk onder die heidene. Die Gees lei die kerk na die uithoeke van die wêreld!

In Handelinge 8:26–40 lees ons van die bekering van ’n hof-amptenaar uit Etiopië wat na Jerusalem gekom het om te aanbid. Ons kan aflei dat hy behoort het tot die sogenaamde “godvresendes”, d.w.s. nie-Jode wat nie tot die proseliete gereken kon word nie, maar tog die God van Israel aanbid het. Hy is dus ’n heiden, en die feit dat die Gees Filippus na hom stuur, beteken dat ’n nuwe grens oorgesteek word. In sy vrye verkiesing strek God sy hand uit na wie Hy wil. Hierdie man uit die verre Afrika, die ontmande vertroueling en minister van finansies van die koningin van die Etiopiërs, word die eerste heiden wat tot die geloof kom en deur die doop in die kerk van Christus ingelyf word.

In gehoorsaamheid aan die Gees help Filippus hom om tot geloof in Christus te kom. Die Etiopiër self vra of daar iets is wat kan “verhinder” dat hy gedoop word. Die term “verhinder” is blykbaar in die vroeë kerk gebruik om vas te stel of daar besware teen die doop van ’n bepaalde persoon bestaan. Filippus weet van geen sodanige beswaar in die geval van hierdie man nie, hoewel hy ’n heiden was en boonop nog ’n ontmande persoon — wat volgens Deuteronomium. 23.1 verhinder het dat hy lid van die gemeente van die ou verbond sou kon word (Deuteronomium 23:1).

Wat ’n heerlike vryheid gee die Heilige Gees aan Filippus! God laat hom as eerste verstaan dat daar in die gemeente van Christus geen aansien van die persoon is nie, sodat selfs ’n heiden en ’n ontmande daarin welkom is (Jesaja 56:3–5). Hy ervaar wat Paulus later sou skrywe: “Toe Christus gekom het, het Hy goeie boodskap van vrede gebring: vrede vir julle wat ver van God was, vrede ook vir die wat naby was. Deur Hom het ons almal, Jode en nie-Jode, deur een Gees vrye toegang tot die Vader” (Efrsiërs 2:17–18).

9.2       Hierdie insig van Filippus het egter nie dadelik die deel van die hele gemeente geword nie. In Handelinge 10 word vertel van die besondere wyse waarop God die apostel Petrus hierdie les moes leer. Die Gees stuur ’n engel na die Romeinse hoof man Kornelius met die opdrag om Petrus uit Joppe te laat haal. Tegelykertyd berei Hy Petrus deur ’n visioen voor vir die groot les wat die kerk moet leer: dat God geen onderskeid tussen die mense maak nie en dat sy kerk dus ook niemand onrein of onheilig mag ag nie.

Dit is ’n les wat teen die grein van Petrus ingaan. Kan dit werklik waar wees dat God van hom verwag om lynreg in te gaan teen die tradisies van die Jode? Sy eerste spontane reaksie is: “Nooit nie, Here!” Maar die Gees oortuig hom tog, en as hy eers skoorvoetend, maar later met steeds meer entoesiasme aan die Gees gehoorsaam, moet hy erken: “Julie weet dat ’n Jood nie met iemand van ’n ander volk mag omgaan of by hom in die huis mag kom nie, maar God het my gewys dat ek geen mens as onheilig of onrein mag beskou nie.” Hy bely: “Waarlik, ek begryp nou eers dat God geen onderskeid maak nie….” (10:34).

Dit was ’n magtige ervaring vir Petrus, ’n onberekenbaar moeilike oorgang in sy gedagtes. Maar as hy verstaan dat dit die Gees is wat hom hier lei, word sy weerstande oorwin. Hy aanvaar dat Christene mekaar nie op ’n afstand kan hou nie. Die geloof en die doop, ja die Heilige Gees self bring ’n eenheid wat deur niks meer bedreig of opgehef mag word nie. Wie in Christus geestelik een is, kan nie meer weier om mekaar ook op die vlak van die gewone menslike bestaan te aanvaar nie. Daarom gaan hy by hulle tuis en eet selfs met hulle saam – vir die besef van die Jood die duidelikste bewys van wedersydse aanvaarding en gemeenskap.

9.3       Nie net Petrus nie, maar ook die hele gemeente moet dit leer. Die apostels en ander gelowiges in Judea hoor dat nie-Jode ook die woord van God aangeneem het. Ons sou verwag dat hulle daaroor innig dankbaar sou wees en God sou dank. Maar dit is nie die geval nie. As Petrus in Jerusalem terugkom, word deur die Joodse gelowiges daaroor verwyt dat hy mense besoek het wat nie besny is nie en selfs saam met hulle geëet het. Mense wat op die Pinksterdag met die Heilige Gees vervul is, blyk nog steeds nie in staat te wees om geestelik te dink of om die ware aard van die kerk van Christus te verstaan nie. Die heil van ander mense en van die hele wêreld is vir hulle nie so belangrik as hulle Joodse afsonderlikheid nie! Hulle verstaan nog nie dat dit in Christus nie meer saak maak of iemand ’n Jood of ’n Griek, ’n slaaf of ’n vryman is nie (Galasiërs 3:28).

Petrus was seker met spanning vervul toe hy homself voor sy Joodse mede-gelowiges moes verantwoord. Hy vertel hulle van sy eie aanvanklike gebrek aan insig, en hoe God hom daarvan bevry het. Dit gebeur ook met die beswaarde broeders! Hoe kan dit ook anders? Dit is dieselfde Gees wat hulle gered het, wat hulle nou ook weer bevry om die eie aard van die kerk te sien, bestaande uit mense uit alle volke en nasies. En hulle was tevrede, maar nog meer as dit: hulle het God geprys en gesê: “God het selfs mense wat nie Jode is nie, tot inkeer gebring om aan hulle die lewe te gee” (11:18).

Deur die sending roep die Gees die één kerk van God uit alle volke saam om die één liggaam van Christus te vorm. Dit is ’n magtige getuienis vir die wêreld, sodat hulle kan glo in Christus wat deur die Vader gestuur is. Ons het in ons land ’n wonderlike geleentheid om hierdie getuienis teenoor die wêreld te lewer. Mag God ons help om dit te doen!

  1. Saterdag 21 Mei 1988
    Tema: As ’n lig vir die nasies
    Skriflesing: Handelinge 11:19–26; 13:1–3; 44–49
    Teks: Handelinge 13:47

10.1     Toe die gemeente in Jerusalem eers met blydskap verstaan dat die kerk werklik ook die gelowiges uit die heidene moet insluit, gaan die sluise van die hemel oop: daar vind ’n magtige deurbraak onder die heidene plaas. En die versoende gemeente uit Jode en heidene word Gods instrument vir die heil van die wêreld.

Die verstrooide gelowiges kom in Fenisië, Siprus en Antiogië. Aanvanklik verkondig hulle die evangelie nog net aan Jode. Maar God het ’n groter bedoeling. Daarvoor gebruik hy Joodse Christene met ’n Griekse agtergrond. Hulle verkondig die evangelie onder andere ook aan Griekssprekende mense in Antiochië, en met groot sukses. Handelinge 11:21 sê dit eenvoudig: Die Here het die gelowiges gehelp, sodat baie mense tot geloof gekom en hulle tot die Here bekeer het.

Wat tevore nog net druppels en voortekens was – die bekering van die Etiopiër en die huisgesin van Kornelius – word hier tot ’n milde reën en ’n stortvloed van genade. In Antiogië, destyds die derde grootste stad in die Romeinse ryk, ontstaan ’n gemeente waarvan die meeste lidmate bekeerlinge uit die heidendom is. Vir die eerste keer word die gelowiges hier “Christene” genoem: Messias-mense, mense wat glo in die Gesalfde van God en deur die Heilige Gees self ook gesalf is tot die amp om getuies vir Hom te wees.

10.2     Dit word ’n groot keerpunt in die lewe van die kerk. Die kerk het begin as ’n gemeente van gelowige Jode, nou verbonde aan die tempel in Jerusalem. Maar God het die wêreld op die oog. Stap vir stap het Hy die eerste Christene gelei tot die insig dat die Christelike geloof ’n boodskap vir die hele wêreld is en dat die Christelike kerk niks anders mag wees nie, as kerk vir die nasies. Die gemeente Antiogië het hierin ’n beslissende rol gespeel. Dit is hierdie gemeente waarin Barnabas en Paulus vir ’n tyd lank saam kon arbei, wat die eerste missionêre gemeente van die kerk geword het.

By ’n biduur kom die Heilige Gees op ’n bepaalde dag met die bevel: “Sonder Barnabas en Saulus vir My af om die werk te doen waarvoor Ek hulle geroep het.” Hier draai die geskiedenis van die kerk op sy skarniere. God maak ’n deur vir die heidene oop. Waar die uitbreiding van die kerk tevore deur die spontane getuienis van verstrooide gelowiges tot stand gekom het, gaan die kerk nou daartoe oor om doelbewus georganiseerde sendingwerk te bedryf in gehoorsaamheid aan die bevel van Christus.

Paulus en Barnabas is die eerste sendelinge. Hulle beleid is om die evangelie eerste aan die Jode te verkondig op grond van die oortuiging dat Gods belofte aan Abraham nog steeds bly staan. Van plek tot plek roep hulle die Jode tot geloof in hulle eie Messias. Baie Jode kom tot geloof, maar andere word met wrewel vervul, verwerp die evangelie van genade en hits selfs die mense teen hulle op. Terselfdertyd kom talle heidene egter tot die geloof.

Dit beteken net een ding: die kerk word steeds meer ’n kerk van die nasies wat sy aanvanklike Joodse karakter agter hom laat. In Antiogië in Pisidië sê Paulus dit reguit aan die Jode: “Die woord van God moes eerste aan julle verkondig word. Maar omdat julle dit verwerp en daarmee beslis dat julle die ewige lewe nie werd is nie, gaan ons nou na die mense toe wat nie Jode is nie, want so lui die Here se opdrag aan ons: “Ek het U gegee as ’n lig vir die nasies, sodat U verlossing kan bring tot in die uithoeke van die aarde.” (Handelinge 13:46–47)

10.3     Maar daarmee kry die kerk ’n nuwe karakter. Wat die tekens by die uitstorting van die Gees aangedui het, gaan in vervulling: die kerk word katoliek, algemeen. Die evangelie word in alle tale verkondig. Dit bring uit elke stam en taal en volk en nasie diegene saam wat deur God in sy liefde gered word. En die enigste voorwaarde vir lidmaatskap is geloof in die Here Jesus Christus.

Sommige Joodse Christene het dit nie verstaan nie. Hulle meen dat die bekeerlinge uit die heidendom besny moet word en die Joodse lewenswyse moet onderhou. Hulle maak die mense wys dat as hulle nie besny word nie, hulle nie gered kan word nie (Handelinge 15:1). Oor hierdie strydpunt vind die apostelkonvent of eerste kerkvergadering (sic) in Jerusalem plaas. Dit is ’n beslissende moment in die lewe van die kerk. Dit gaan oor die vraag of die kerk verstaan dat geloof in Christus al is wat tel in die kerk, en of hy nog vashou aan ekstra voorwaardes, selfs al het dit gegeld in die ou bedeling.

Maar die Gees laat Hom nie onbetuig nie! Petrus, Barnabas en Paulus getuig van hulle ervaring en hoe die gees hulle tot insig in die evangelie van vrye genade gebring het. Dan val daar ’n duidelike beslissing. Die evangelie van genade alleen word gehandhaaf. Geen gelowige hoef besny te word of aan die seremoniële voorskrifte van die wet gebonde te wees nie. Geen juk word op die nek van die gelowiges uit die heidennasies gelê nie. Jakobus haal die Ou Testament aan as bewys dat die profete al verkondig het dat “al die ander mense die Here kan soek, ja, al die heidennasies wat God geroep het om sy eiendom te wees” (Handelinge 15:17).

Die vroeë kerk was gewillig om hom deur die Gees te laat verander en die nuwe situasie gelowig en met blydskap binne te tree. Is ons bereid vir ’n soortgelyke uitdaging?

  1. Pinkstersondag 21 Mei 1988
    Tema: As ’n lig vir die nasies
    Skriflesing: Handelinge 1:4-8; 2:1–8; 28:16–30
    Teks: Handelinge 28:30

11.1     Op hierdie Pinksterfees mag ons opnuut met blydskap bely: die evangelie is ’n oorwinnende krag in die wêreld. Tog beteken dit nie dat daar nie veel verset teen die evangelie is nie. Inteendeel, die boek Handelinge vertel ons juis dat die verkondiging van die evangelie met groot opoffering en lyding gepaard gaan. Dit eindig daarmee dat Paulus in Rome is as ’n gevangene. Hy het sy hele kosbare lewe in diens gestel van die getuienis vir Christus tot redding vir elkeen wat glo. Ons weet uit die boek Handelinge en ook uit ander gedeeltes van die Nuwe Testament hoeveel hy in hierdie proses moes ly. Soms gee hy self ’n opsomming daarvan (vgl 2 Korintiërs 6 en 11). Dit kon sy entoesiasme vir die evangelie egter nie demp nie. Dit was vir Paulus netso onmoontlik as vir Petrus en Johannes om te swyg oor die dinge wat hulle gesien en gehoor het (Handelinge 4:20).

Die getuienis vir Christus bring soveel lyding vir die getuies mee, omdat dit telkens op verset stuit. Lank nie almal wat die evangelie hoor, neem dit met blydskap aan nie. Die verlorenheid van die wêreld kom juis daarin tot openbaring dat die evangelie verwerp word en dat daarteen selfs met haat en woede gereageer word. Paulus self het ook eers so gereageer. Die wêreld weet nie wat tot sy eie heil is nie en wil nie verlos word nie. Sendingwerk is ’n worstelstryd teen die bose magte van die sondige wêreld en die bose geeste in die lug (Efesiërs 6:12).

As ons dit nie so ervaar nie, is dit ’n teken daarvan dat ons nog nie genoegsaam betrokke is by die stryd van die lig teen die duisternis nie. Dit kan ook ’n teken daarvan wees dat ons nog nie self die beslissing geneem het om kompromieloos vir die evangelie te getuig nie. Dit laat die vraag ontstaan of ons nog glo dat mense wat Christus nie ken nie, ewig verlore gaan. Die meeste van ons lei ’n lewe wat heeltemal rondom ons self en ons eie belange wentel, terwyl ander mense sonder Christus sterwe. Ons wil nie werklik ’n offer bring of lyding ervaar ter wille van die redding van ander mense nie. Daaruit blyk hoe onvolledig ons oorgawe aan Christus nog is.

11.2     Die uitdra van die evangelie bring noodwendig ook skeiding tussen mense in die wêreld. Paulus het op sy sendingreise telkens weer teenstand ervaar van diegene wat die uitnodiging van die evangelie verwerp het. Dit geld veral ook die meerderheid van die Jode, na wie Paulus altyd eerste met die boodskap van die evangelie gegaan het. Dit ervaar hy ook weer in Rome. Sy laaste woorde aan die ongehoorsame Jode is dat God se reddingsboodskap na die heidennasies gestuur word en dat hulle sal luister.

Dit is die vreeslike werklikheid van die verharding; Terwyl die evangelie vir sommige ’n lewensgeur is wat lewe wek, is dit vir ander ’n doodsreuk wat dood bring (2 Korintiërs 2:16). Die kerk sal nooit anders kan as om met smart daarvan kennis te neem dat die geloof nie die deel is van alle mense nie. Die grootste deel van Israel na die vlees het hulle harte vir die evangelie toegesluit, en die moontlikheid bestaan dat dieselfde geld van die grootste deel van die naam-Christendom. Wat die uitslag van ons getuienis ook al is, ons het die blywende opdrag van Christus om die evangelie aan alle mense te verkondig en by hulle te pleit om dit te glo. Anders is hulle bloed op ons hoof (Esegiël 6:18).

11.3     Maar ondanks hierdie skadukant van die prediking van die evangelie mag ons tog weet dat die evangelie werklik ’n oorwinnende krag in die wêreld is. Handelinge 28 vertel ons nie net dat Paulus as ’n gevangene in Rome is nie, maar dit eindig met die berig dat Paulus in Rome in sy eie gehuurde huis mag woon en dat hy daar met die grootste vrymoedigheid en sonder enige verhindering die evangelie verkondig aan almal wat hom besoek.

Die boek kan daarmee eindig, omdat dit beteken dat die program van Handelinge 1:8 uitgevoer is. Die evangelie is werklik verkondig tot by die uithoeke van die wêreld. Wat dit betref, geld Rome die groot wêreldstad en sentrum van die Romeinse Ryk in Handelinge as die uithoeke van die wêreld. Hiervandaan sou die evangelie in die volgende dekades letterlik versprei tot in elke uithoek van die uitgestrekte Romeinse Ryk self.

Die Christendom het in die eerste twee eeue soos ’n veldbrand sy triomftog deur die hele destydse bewoonde wêreld gemaak. Die hele verdere geskiedenis van die Weste en selfs van die hele wêreld is daardeur op ’n beslissende wyse beïnvloed. Die geheim daarvan was die boodskap van die evangelie self wat ’n krag van God tot redding is (Romeine 1:16). Die krag van die evangelie is die Heilige Gees wat magtig is om elke skans omvêr te werp en alle teenstand af te breek, sodat Christus as die Here erken en bely kan word.

Die Heilige Gees en die evangelie is nog steeds dieselfde. Gods heilswil vir die wêreld is ook nog steeds dieselfde. As die bewyse van die triomf van die evangelie in die kerk van vandag ontbreek, is dit ’n teken dat die kerk ongehoorsaam aan die Heilige Gees is en daarom onbruikbaar geword het. Die Heilige Gees is die Gees van die sending (Johannes 20:21–22). Waar die Gees kragtig werk, sal sending en die redding van mense die groot passie van die kerk wees. Pinksterfees is Sendingfees.

Dit stel aan ons die vraag of ons bereid is om deel te hê aan die triomftog van die evangelie. Dit (sic) taak is nog nie afgehandel nie. Die opdrag tot getuienis rus nog steeds op ons. Die aantal mense wat die evangelie nog nooit behoorlik hoor verkondig het nie, is binne en buite ons land ontsaglik groot. As gevolg van die wêreldwye bevolkingsontploffing en die kragtige herlewing van die wêreldgodsdienste is die Christendom vandag na verhouding ’n minderheid in die wêreld. Die uitdaging is vandag groter as ooit tevore. Die vraag vir elkeen is waar hy staan: aan die kant van die triomftog van die evangelie, of aan die kant van die verset daarteen. Mag God ons die genade gee om ons self volkome te gee vir die getuienis aangaande die boodskap van verlossing. En mag Hy ons help om sy gemeente te wees in die Suid-Afrika van vandag, ’n lewende en sigbare getuienis van die verlossende en vernuwende krag van die Gees, ’n versoende gemeenskap wat ’n geloofwaardige tuisbasis is vir geloofwaardige getuies … sodat die wêreld kan glo!