Één sodat die wêreld kan glo

ÉÉN SODAT DIE WÊRELD KAN GLO –
DIE PINKSTERREEKS EN STRUKTURE

Die Kerkbode, 29 Julie 1988

Mev Gabs Malan, Lawleylaan 19, Northcliff, skryf:

Ek het met belangstelling die Pinksterreeks wat prof Willie Jonker opgestel het, gelees – veral die volledige teks van die preke wat in Die Kerkbode van 4 Mei geplaas is. Hoe verstaan ek as lidmaat dit dan nou?

Ons beskuldig altyd bevrydingsteoloë dat hulle “strukturele” sonde in die samelewing raaksien maar die Bybelse begrip van sonde in die hart van die mens miskyk. Van hierdie “strukturele sonde” beweeg hulle maklik na die “strukturele verlossing”, naamlik die omvergooi van die huidige bestel!

In dele van die Pinksterreeks (veral die Sewende Aand, Hand 8:14–17), lyk dit asof prof Jonker dieselfde fout begaan deur nou “strukturele eenheid” te verhef tot norm. Die Skrifgedeelte wat hy behandel, het dit oor die Samaritane wat nie die Heilige Gees ontvang het toe hulle onder die prediking van Filippus tot bekering gekom het nie. Petrus en Johannes word gestuur, bid vir hulle en hulle ontvang die Heilige Gees.

Nou verklaar prof Jonker dat hierdie eenheidsgebaar die Gees na daardie gebied laat kom het in sy volheid. Hy sê God weerhou sy volheid waar daar hindernisse is “wat die eenheid van die kerk aantas”. Hy sê verder “dat ons alle rede het om te vra of baie van die geestelike onvrugbaarheid waaraan ons ly, nie in ’n groot mate die gevolg is van ’n sondige verskeurdheid in ons Kerkfamilie nie …” (Prof EP Groenewald verklaar hierdie gedeelte in sy kommentaar beslis nie só nie.)

Die Bybel leer tog dat die werk van die Heilige Gees teengestaan word in die hart en lewe van die individu waar doelbewus nog sonde toegelaat word en daar nie volledige oorgawe is nie. Daar is ook individuele gesindhede teenoor die medemens wat verander moet word.

Ek het ook ’n probleem met prof Jonker se verklaring van 1 Korintiërs 3:7. Dis duidelik dat die individu hier aangespreek word: “Elkeen se werk sal aan die lig kom” (vgl 1 Korintiërs 3:13, 14).

My probleem met die verheffing van “strukture”, is dat ’n mens dan in die sosialistiese ontleding van die samelewing verval, en as ’n mens eers hulle “analise” aanvaar het, is dit makliker om ook hulle “oplossings” te aanvaar. Indien die skrywer se lyn deurgetrek moet word, dan word die volle seën van inwoning van die Gees ook teruggehou van die drie Afrikaanse kerke, asook alle denominasies wêreldwyd wat nie struktureel een is nie!

Prof Willie Jonker antwoord op mev Malan se brief:

  • Die gedeelte in die Pinksterreeks waarna mev Malan verwys, handel nie as sodanig oor strukturele eenheid nie, maar oor die versoening wat tussen Jode en Samaritane in Christus tot stand kom en die sigbare eenheid van die kerk wat die vrug daarvan is. Dit beklemtoon dat daar in die kerk van Christus geen plek is vir sondige verdeeldheid en verskeurdheid wat op vooroordeel en die veragting van andere berus nie. Ek meen dit is uiters ter sake in ons situasie.

Ek meen dat die uitleg wat ek in aansluiting by ander eksegete van Handelinge 8:14–17 in hierdie verband bied, die bedoeling daarvan korrek weergee, en blykbaar het die Kommissie van die Algemene Sinode wat my werk nagegaan en goedgekeur het, dit ook so verstaan. Ook my uitleg van 1 Korintiërs 3:7 kan gerus maar in enige goeie kommentaar gekontroleer word.

  • Volgens mev Malan sou ek daarmee egter dieselfde fout as die bevrydingsteologie maak – wat van strukturele sondes praat en die sondes van die hart miskyk. As bewys daarvan voer sy die begrip “strukturele eenheid” in hoewel dit nêrens in sy stuk voorkom nie, net so min as die begrip “strukturele sonde”. Ek vind haar redenasie omtrent net so vreemd soos ds Adendorff se vergelyking tussen Kerk en Samelewing en die Freedom Charter. Ongelyksoortige groothede word met mekaar verbind op ’n wyse wat daarop moet uitloop dat die boodskap van die Skrif uiteindelik uit vrees vir allerlei spoke nie meer gehoor kan word nie.

Dit blyk byvoorbeeld uit mev Malan se vrees vir strukture. Omdat daar beswaar ingebring moet word teen die wyse waarop andere die struktuur-begrip hanteer, wil sy sommer heeltemal daarmee wegdoen en redeneer asof daar net sprake kan wees van individuele sondes en gesindhede, en asof dit vreemd is aan die Bybel om van kollektiewe sondes en die skending van Gods wil vir die strukture van die samelewing te praat.

Maar Gods gebod raak tog ook ons lewe in sy verskillende gemeenskapsverbande. Strukture is deur God gegee vir die behoud van die samelewingsverbande, en die minagting daarvan is die sekerste manier om die gemeenskap af te takel.

Dink maar aan die huwelik. As ’n gemeenskap die struktuur van die huwelik minag, word die huwelik self en daarmee die samelewing, ondergrawe. As die strukture van die staat vernietig word, het ons revolusie en chaos. Is dit bevrydingsteologie om te pleit vir die behoud van die strukture van huwelik en staat?

Maar Gods gebod raak tog ook ons lewe in sy verskillende gemeenskapsverbande. Strukture is deur God gegee vir die behoud van die samelewingsverbande, en die minagting daarvan is die sekerste manier om die gemeenskap af te takel.

Dink maar aan die huwelik. As ‘n gemeenskap die struktuur van die huwelik minag, word die huwelik self en daarmee die samelewing, ondergrawe. As die strukture van die staat vernietig word, het ons revolusie en chaos. Is dit bevrydingsteologie om te pleit vir die behoud van die strukture van huwelik en staat?

Maar God het ook aan die kerk bepaalde strukture gegee waardeur die eenheid en welwese daarvan gedien en beskerm word. Dit is beliggaam in die beginsels van ons gereformeerde kerkreg. Wie dit minag, stuur op die verskeuring van die kerk af.

  • Hoewel dit dus nie in die betrokke preek om die strukturele eenheid van die kerk gegaan het nie, wil ek hier dan tog daaraan toevoeg dat die eenheid van die kerk volgens Gods Woord ook uitdrukking behoort te vind in strukturele reëlings wat die eenheid en gemeenskap van die kerk kan beskerm, net soos die huwelik as instituut nodig is om die persoonlike liefde van man en vrou te beskerm.

Strukture kan geen eenheid maak waar daar geen eenheid is nie. Strukture op hulleself is ook in die kerk so min as in die huwelik die norm of waarborg van geestelike eenheid. Maar as die Gees ons een maak, is die strukture Gods wyse om ons in die liefde en eenheid te bewaar. Die strukturele vormgewing van die liefde mag in die kerk net so min as in die huwelik geminag word, anders mis ons die seën wat God aan sy eie instellings verbind het.

Die voorbeeld van die huwelik kan ons egter leer dat wie die strukture vir die eenheid met veel patos verwerp, eintlik nie die geestelike eenheid verstaan of eer nie.