Ons kan God vertrou

ONS KAN GOD VERTROU
Die Burger, 16 Desember 1989

Ons staan tans voor ’n geweldige uitdaging in ons land. Ons belewe die einde van ’n bepaalde fase in ons geskiedenis en die aanbreek van ’n nuwe. Die vraag is hoe ons dit gaan hanteer.

Hierdie oorgang staan nie los van die wêreldgeskiedenis as geheel nie. Die hele wêreld het in ons tyd ingrypend verander. Die verskil is net dat die geboortepyne van die nuwe era in ander dele van die wêreld reeds dekades lank voelbaar is, terwyl die tyd nou eers aangebreek het dat ook ons as laaste oorgeblewe pos van ’n verbygegane era die oorgang sal moet maak.

Die aspek daarvan wat ons op die mees direkte wyse raak, is dat die era van die Westerse politieke dominasie oor die ander volke van die aarde vir goed verby gegaan het. Die “winde van verandering” wat al sedert die sestiger jare oor die wêreld waai, het nou ook tot by ons gekom. Ons land is nog die laaste voorbeeld van die wyse waarop die Europeër gedurende die afgelope eeue sy politieke stempel op die wêreld afgedruk het. Daarom is ons so in die brandpunt van die belangstelling.

Die Westerse mens het die wêreld oopgebreek. Hy het die wêreld in kaart gebring en sy vlag in alle kontinente geplant. Hy het die rykdomme en ongedagte moontlikhede van die aarde ontdek en ontgin. Tegnies, ekonomies en polities het hy die aarde beheers.

In die proses het hy die hele mensheid in sy ontwikkeling met hom meegeneem. Dat hy aan die nie-Westerse mense daarmee ’n positiewe diens gelewer het, kan nie betwis word nie. Maar dit het ook ’n negatiewe kant gehad. Hy het hulle onderwerp, polities oorheers, van hulle vryheid beroof, hulle dikwels uitgebuit en hulle menswaardigheid misken.

Sy dominasie, oorwig en arrogansie, sy onwil om hulle werklik as medemense te aanvaar, het by die nie-Westerse volke ’n geweldige wrok opgewek en ’n vurige passie om van die oorheersing vry te word. En toe die Weste na die Tweede Wêreldoorlog uitgewoed en innerlik verswak was, het die uur vir die vrywording van die gekleurde volke gekom. Dit was histories eenvoudig onafwendbaar.

Joods-Christelike etos

Maar dit was ook moreel noodsaaklik. Watter reg het die Weste gehad om die ander volkere te oorheers? Die Westerse beskawing self word gedra deur beginsels wat dit onhoudbaar maak dat mense blywend deur ander mense oorheers kan word. Die respek vir die mens se vryheid en selfverwesenliking wat die Weste uit die Joods-Christelike etos meegekry het, laat dit nie toe dat mense op die lang duur daarvan weerhou word om tot volle selfverwesenliking te kom nie.

Al het hierdie beginsels in die Westerse geskiedenis (mede deur die skuld van die kerk) gesekulariseer geraak sodat die Christelike agtergrond daarvan nie altyd meer erken is nie, is dit tog waar dat dit die gees van die Christendom is wat gelei het tot die groeiende bewuswording van die waardigheid van die mens as skepsel van God. Die Christelike geloof maak ’n mens nie net self vry nie, maar wek by jou ook respek vir die vryheid van andere. Daarom staan die afskaffing van slawerny, die emansipasie van die vrou en die politieke vrywording van alle mense in direkte verband met die Christelike sin vir waardes.

Vir ons land is dit alles van die grootste belang. Ons staan voor die uitdaging om as mense wat self ’n hoë premie op ons eie vryheid plaas, uit Christelike oortuiging alles in werking te stel om ’n einde te maak aan dinge in ons maatskaplike en politieke opset wat die selfverwesenliking van die grootste deel van ons landsbevolking strem.

Natuurlik is dit moeilik. Hoe dit moet dit gebeur om werklik vir almal vryheid te beteken en nie slegs die een te beroof van wat jy aan die ander gee nie? Dit vra van almal in ons land die grootste wysheid. Maar dit vra ook ’n nuwe mentaliteit en instelling.

Dit vra van ons om bepaalde voorregte wat ons tot nou toe vir onsself alleen opgeëis het, met andere te deel. Dit vra aanvaarding van en vertroue in die ander burgers van ons land. Bowenal vra dit van ons die geloof dat God ons veilig sal bewaar in die gewaagde avontuur om ons toekoms ook mede aan die sorg van die ander groepe in ons land toe te vertrou.

Bloedrivier

In hierdie situasie moet die egtheid van ons geloof blyk. As mense wat uit hulle eie geskiedenis geleer het dat God met hulle lot vertrou kan word, behoort dit vir ons nie onmoontlik te wees om ook in hierdie uur op Hom te reken nie.

Geloftefees het vir ons iets te sê vir die toekoms en nie net oor die verlede nie. As God ons voorgeslagte by Bloedrivier en in die Vryheidsoorlog kon bewaar, dan kan Hy dit ook nou met ons in hierdie riskante situasie doen. Daarvoor kan ons Hom gerus vertrou. – WDJ