Die eenheid van die kerk in die lig van Skrif en Belydenis

DIE EENHEID VAN DIE KERK IN DIE LIG VAN SKRIF EN BELYDENIS

WD Jonker
(Ongedateerd)

Ons wil graag die volgende stellings bespreek om ’n beter begrip van ons onderwerp te verkry:

  1. Die eenheid van die kerk is in eerste instansie ’n diep geestelike saak. Die één kerk is die resultaat van die reddende genade van die één God wat as Vader, Seun en Gees in die geskiedenis die uitverkorenes tot die ewige lewe tot sy één gemeente vergader en opbou (Efesiërs 4:4–5; 1 Korintiërs 12:13; 1 Petrus 2:10; Efesiërs 2:20–22; Heidelbergse Kategismus (HK) Sondag 21).
  2. Die boodskap aangaande die eenheid van die kerk is ’n wesenlike deel van die evangelie. Verlossing in Christus beteken altyd ook terselfdertyd inplanting in die één liggaam van Christus en deelgenoot-word van die huisgesin van God (l Korintiërs 12:12–13; Efesiërs 2:19; Efesiërs 2:13 ev; Galasiërs 5:22). Die verlossing sluit noodwendig die gemeenskap van die heiliges in, soos dit in die eenheid en eensgesindheid van die kerk beleef moet word (HK vr. 55; Galasiërs 3:28; Kol. 3:11; 1 Korintiërs 12:2 Korintiërs 5:16).
  3. Die eenheid van die kerk is nie net iets onsigbaars nie, maar is bedoel om as gemeenskap van die heiliges sigbaar te word in die wêreld, as vrug van die verlossing in Christus. So min as wat regverdiging en heiliging van mekaar geskei kan word, so min kan die onsigbare eenheid van die gelowiges in Christus afgespeel word teen die sigbare openbaring daarvan in die wêreld. Die liggaam van Christus is iets konkreets, nie iets onsigbaars nie. In die sigbare verdeeldheid van die kerk word die eenheid in Christus tot skande gemaak en bedreig (1 Korintiërs 1:13; 1 Korintiërs 11 oor die nagmaal; 1 Korintiërs 12 ev oor die verskeidenheid van gawes; Efesiërs 4:2; Johanens13:34).
  4. Die sigbare, konkrete gemeenskap van die heiliges moet gesoek word en beskerm word teen alle gevare wat dit bedreig. Die enigste grens is hier die grens tussen kerk en nie-kerk. Dit is ons roeping om die konkrete eenheid van die kerk te soek met almal en met alle openbaringe van die kerk wat die kenmerk van die ware kerk dra (Efesiërs 4:3). Onder geen omstandigheid mag die verskeidenheid wat uit die skepping opkom, of die verskeidenheid van geestesgawes wat in die gemeente voorkom, die sigbare eenheid van die gemeente bedreig nie. Die eenheid van die kerk moet altyd vooropgestel word, omdat dit in Christus gegee is en deur sy bloed verkry is. Alle vorms van verskeidenheid moet binne die eenheid van die één kerk hulle regmatige plek vind.
  5. In die NGB word die eenheid van die kerk duidelik bely, en dit is onmoontlik om, art 27 ev van die NGB, anders te verstaan as dat die eenheid van die één ware kerk wat in die sigbare gemeenskap van alle ware plaaslike kerke tot openbaring kom, teenoor die valse kerk gestel word. Daarom het met name Calvyn homself ook voortdurend beywer vir die bewaring en openbaarwording van die eenheid van die kerk oor alle taal- en landsgrense heen. Die pluriformiteitsleer van Abraham Kuyper is nie soseer op die Skrif gebaseer nie, as op die praktiese situasie van die verdeelde kerk. Hy relativeer die erns van die verskeurdheid van die kerk en word gedwing tot kritiek teen die NGB en die Reformatore, terwyl hy ook meen dat die NT ons nie in hierdie opsig duidelike leiding gee nie. Die waarde van Kuyper se bydrae tot die diskussie is dat hy die pluraliteit van geloofskennis en geloofservaring binne die kerk raakgesien het (wat deesdae die kontekstuele karakter van ons geloofskennis genoem word). Sy swakheid is dat hy meen dat hierdie pluraliteit in ’n veelheid van kerke uitdrukking moet vind, in plaas daarvan dat hy verstaan het dat dit binne die één kerk van Christus ruimte moet vind. Origens is dit egter nie billik teenoor Kuyper om uit sy standpunt oor die pluriformiteit af te lei dat hy die idee van waterdigte aparte kerke vir aparte volkere sou goedgekeur het waar dit om kerke van dieselfde belydenis gaan nie.
  6. Uit die belydenis dat die kerk ook sigbaar één behoort te wees, vloei die oortuiging voort dat daarna gestrewe moet word om op ’n gereformeerde wyse ’n kerkverband tussen alle ware plaaslike kerke tot stand te laat kom, ook oor volks- en landsgrense heen (vgl die standpunt van die Geref Kerk in Suid-Afrika). Dit is nie, soos dikwels beweer word, ’n Rooms-Katolieke idee nie. Die gereformeerde idee van eenheid van plaaslike kerke in klassikale, sinodale en ekumeniese verbondenheid (wat ’n vorm is van die beoefening van die gemeenskap van die heiliges) is iets wesenlik anders as die Rooms Katolieke idee van die hiërargies-gestruktureerde eenheid. Die konkrete uitwerking van hoe die kerkverband moet funksioneer, kan na gelang van tyd en omstandighede wissel, maar die basiese idee van die noodsaaklikheid van ’n kerkverband vir die welwese van die kerk moet gehandhaaf word. Die NT laat ons duidelik die voorvorms van die kerkverband sien in die rol van die apostels, die skakeling van die gemeentes, die ontvangs van broeders en susters wat van elders kom ens. (vgl. die sterk uitspraak in 3 Johannes 10). Geen deel van die kerk kan die kontrole, hulp, vermaning, kritiese begeleiding en diens van die res van die kerk ontbeer, sonder om skade te ly nie. Die waarheid word slegs saam met al die heiliges geken (Efesiërs 3:18; Hebreërs. 3:13; 10:23– 5).
  7. Dit is noodsaaklik dat ons hier uitvoeriger ingaan op die neiging om die uitsprake van die NT oor die eenheid van die kerk te relativeer deur vanuit die gegewe skeppingsverskeidenheid die konklusie te trek dat verskillende rasse en volkere verskillende kerke behoort te hê. Die argument is dan dat die herskepping gestruktureer word deur die skepping of, wat op dieselfde neerkom: dat die genade nie die natuur ophef nie, sodat die kerk dieselfde verskeidenheidspatroon as die nasies moet vertoon. Hieroor die volgende:
    (i) Die skeppingsverskeidenheid as sodanig is ’n wonderlike gawe uit die hand van God wat met dankbaarheid ontvang en geëer moet word. Die verskeidenheid in Gods skepping maak dit juis ryker. Nogtans is dit verkeerd om vanaf verskeidenheid deur te redeneer tot geskeidenheid. In Gods skepping is die verskeidenheid gekoördineer in harmonie, of is dit ten minste bedoel om so te wees. As die herskepping gestruktureer word volgens die skepping, sal dit tog seker die goeie, herstelde skepping wees waarom dit gaan, waarin verskeidenheid juis nie geskeidenheid sal wees nie (vgl Jesaja 11:6 ev).
    (ii)   Ons moet hier uiters versigtig wees vir ’n vorm van natuurlike teologie wat met die Bybel in die hand bedryf kan word. Dit is verkeerd om met ’n Bybelse gegewe, soos die verskeidenheid, in ’n abstrakte sin te gaan werk, los van die openbaring in Christus, wat tog die bril is waardeur ons ook die skepping moet bekyk. Nou leer die NT egter duidelik dat juis in die gemeente van Christus die versoening ’n werklikheid is, wat die verskeidenheid omvat, maar dit binne die één gemeente van Christus saambring. Die “normatiwiteit” wat aan die verskeidenheid van die skepping toegeskryf word, kan tog nie ’n teen-instansie vorm teen die normatiwiteit van die gebod tot eenheid wat ons in die NT vir die kerk vind nie.
    (iii)  Bowendien is dit ’n geselekteerde visie op die verskeidenheid wat in hierdie redenasie hanteer word. Die skeppingsverskeidenheid is so groot, dat nie twee blaartjies van dieselfde boom en nie twee individue uit dieselfde gesin eenders is nie. Waarom word dan net die verskeidenheid van volkere normatief geag vir die strukturering van die kerk? Kry ’n volksbegrip wat nie aan die Skrif ontleen is nie, hier nie ’n deurslaggewende betekenis vir die denke oor die eenheid van die kerk nie? Die feit dat ons die enigste teoloë ter wêreld is wat só kan redeneer, moet ’n mens ernstig laat nadink.
    (iv)  Die probleem met hierdie soort redenasie is dat dit in die Skrifberoep insake die strukturering van die kerk nie begin by wat die NT ons oor die eenheid van die kerk leer en dan vra hoe die gegewe verskeidenheid binne die eenheid geakkommodeer en gerespekteer kan word nie, maar dat teologies begin word by die vasstelling van die verskeidenheid van volkere as iets wat as die wil van God gehandhaaf behoort te word, en dat die vraag na die struktuur van die kerk dan daaraan ondergeskik gemaak word. Teologies beteken dit dat die ekklesiologie afhanklik gemaak word van ’n bepaalde sosiale teorie oor die handhawing van volkereverskeidenheid, en wel met ’n beroep op die Skrif. Dit is teologies uiters bedenklik (vgl die gang van die redenasie in “Ras, Volk en Nasie”).
  8. Die ondersoek na ons motiewe by ons spreke oor die eenheid van die kerk is van die allergrootste belang. Wanneer die bestaan van afsonderlike kerke vir afsonderlike taal- en kultuurgroepe verdedig word as ’n blote praktiese maatreël om die beter verkondiging en inheemswording van die evangelie onder alle bevolkingsgroepe te dien, kan ’n mens aanvaar dat dit met eerlike bedoelinge geskied. Maar dan sal dit daaruit moet blyk dat sulke afsonderlike kerke nie geslote kerke is nie, dat die gemeenskap van die heiliges vryelik oor die grense heen kan plaasvind en gestimuleer word en dat daar geen onwil bestaan om tussen kerke van dieselfde familie en dieselfde belydenis alle voorregte van die kerkverband vir alle lidmate te laat geld nie. Wanneer dit werklik so is, sou dit in elk geval ook logies wees om dan maar één kerkverband te vorm (bv. op die wyse wat die Dordtse Kerkorde vir Nederlandssprekendes en Franssprekendes voorgeskryf het). Sodra dit egter blyk dat die verdediging van sulke aparte kerke ten diepste rus op die onwil om mede-broeders en susters van oor die kleurlyn te aanvaar, met hulle gemeenskap te beoefen, saam met hulle deel te hê aan die liggaam en bloed van Christus, is dit duidelik dat ons nie met ’n onskuldige saak te make het nie, maar met ’n verwerping van ander Christene en dus met ’n verskeurdheid van die liggaam van Christus. Wie weet dat die eintlike motief agter die propagering van aparte kerke die verwerping van die gemeenskap met mede-lede van die liggaam van Christus is, en dit nogtans as iets onskuldigs voorstel en verdedig met argumente wat die diepste oorsaak van die geskeidenheid verberg, neem ’n geweldige verantwoordelikheid voor God op homself.
  9. Omgekeerd is dit ook verwerplik om die eenheid van die kerk vanuit verkeerde motiewe te propageer. Wie die eenheid van die kerk soek om enige ander rede as die wil om gehoorsaam te wees aan die Woord van God en die aandrang van die Heilige Gees, neem eweneens ’n groot verantwoordelikheid op hom. Dit kan bv. gebeur wanneer die kerk vir politieke doeleindes gebruik word. Die kerk het sy eie funksie en is nie bedoel om as instrument vir regse of linkse politiek gebruik te word nie. Omdat daar in ons land op hierdie gebied veel vrees van weerskante bestaan, is dit gebiedend noodsaaklik dat Christene die tyd en geduld moet bybring om met mekaar eerlik en openlik te onderhandel, saam te bid, saam te studeer, saam te buig oor die Bybel as die Woord van God om eers hulleself aan die Here te gee om sy wil volkome te doen, en dan aan mekaar om in gehoorsaamheid aan God die eenheid van die kerk te verwesenlik om Christus ontwil.
  10. Ons het in die vraag na die eenheid van die kerk met ’n diep-geestelike saak te make. Ons houding en gesindheid in hierdie dinge lê getuienis af van ons erns met die heiligmaking. Ons kan nie die seën van die Here verwag as ons nie erns maak met die eenheid van die kerk wat vir Christus so belangrik is, dat Hy indringend met sy Vader daaroor onderhandel het nie (Johannes 17). Van die eenheid van die gemeente van Christus gaan daar na die wêreld ’n wonderlike getuienis uit, en omgekeerd maak die verskeurdheid van die gemeente die boodskap van die kerk ongeloofwaardig. ’n Kerk wat ongehoorsaam is in hierdie opsig, moet nie verbaas wees as sy kandelaar van hom weggeneem word nie (Openbaring 2:5). Al ons regsinnigheid is van nul en gener waarde sonder die liefde nie (1 Korintiërs 13). En die liefde wat die Heilige Gees in ons harte uitgestort het, is die enigste ware wortel van kerklike eenheid.