Die kuns om los te laat

DIE KUNS OM LOS TE LAAT
WD Jonker
Die Burger, 13 Januarie 1990

Een van die moeilikste dinge wat ons in die lewe moet leer, is om bereid te word om dinge wat vir ons absoluut dierbaar is, los te laat as die tyd daarvoor gekom het.

Dit ’n proses wat dwarsdeur ons lewe aan die gang is. Dit begin al heel vroeg in ons lewe en dit gaan deur tot by die dood. Dit is nie altyd ewe moeilik nie, want ons binding aan die aardse dinge wissel en die situasie waarin ons verkeer, maak ’n groot verskil aan die vraag hoe diep dit ons raak.

Dit is byvoorbeeld vir ons wel pynlik om dinge los te laat wat in ons jeug vir ons baie dierbaar is. Omdat daar egter nog soveel ander dinge is wat die lewe die moeite werd maak, en daar nog ’n stygende lyn in ons lewensoriëntasie is, kan ons die verlies verwerk. So kan ’n mens die dood van jou ouers of die verlies van jou beste vriende aanvaar. Jy kan teleurstellings oorkom en van bepaalde ideale afskeid neem. Jou lewe is nog vol verwagting, en dit dra jou verder.

Maar daar is dinge in ’n mens se lewe waarvan jy voel dat die verlies daarvan tot in die murg sny. Jy is so volkome daaraan verbonde, dat jou bestaan self vir jou besef daaraan hang. As jy dit verloor, is alles verlore. Die lewe self verloor dan alle sin. Jou hart weet: niks kan vir hierdie verlies vergoed nie. Die slag is soveel swaarder as jy nie meer jonk is nie en die toekoms jou nie meer lok nie.

Baie dinge kan ’n mens se lewenswêreld so in duie laat stort. Vir die een sal dit die verlies van ’n kind wees, vir die ander die verlies van ’n lewensmaat, vir nog een die verbrokkeling van die huwelik of die verlies van die erkenning wat hy geniet het. Of dit kan wees dat ’n mens deur ’n ongeluk vermink en van jou normale funksionering beroof word of dat jy aan ’n ongeneeslike kwaal ly.

Wanneer dit gebeur, kan ons psigies alleen voortgaan as ons op ’n punt kan kom waar ons die aardse dinge waaraan ons so geheg is dat ons voel asof ons daarsonder nie kan lewe nie, deur Gods genade aan Hom kan afgee. Ons moet leer om soos ’n drenkeling in die see alles los te laat en nog slegs vas te klem aan Christus as die vaste Rots van ons behoud.

Dit kan ’n mens nie vanself doen nie. Dit is vir ons hart onmoontlik om homself los te maak van die dinge waaraan dit met alle vesels verbonde is. Dit kan net gebeur as ons leer dat die liefde van God meer is as alle ander dinge. Slegs deur die geloof leer ons om ook die allerdierbaarste dinge van die aarde te besit asof ons dit nie besit nie (1 Korintiërs 7:30-31). Vroeër of later moet ons immers alles loslaat.

Die wêreld is ons woning nie (Totius). Ons het hier geen blywende stad nie. Ons toekoms en onaantasbare vreugde lê elders. Daarop moet ons ons hart leer rig, nie om die aardse lewe te ontvlug of te minag nie, maar om op die regte wyse daarmee te kan omgaan en dit los te kan laat as die tyd daarvoor gekom het. – WDJ