Die erns van die dood

ERNS VAN DIE DOOD
WD Jonker
Die Burger, 3 Februarie 1990

Die besef van die erns van die dood het in groot mate uit die moderne lewensbesef verdwyn. Dit hang ongetwyfeld daarmee saam dat die massaliteit van die dood in ons eeu noodwendig tot ’n sekere afstomping van die skrik vir die dood by die moderne mens gelei het.

Die wêreldoorloë, die berekende vernietiging van miljoene mense in totalitêre state, die voortdurende streeksgevegte, revolusies, rampe en ongelukke het die dood in ons eeu goedkoop gemaak. Die groot getalle verdof ons bewussyn. Dat miljoene mense sterf, word vir ons op die skerm van die beeldradio of in die opskrifte van die koerante geobjektiveer tot statistiek, tot iets onwerkliks.

Tog kan dit nie die volle verklaring daarvoor wees dat die moderne mens nie meer die erns van die dood besef nie. Die rede daarvoor moet eerder in die lewensinstelling van ons tyd gesoek word. Miljoene mense glo nie meer dat daar na die dood nog ’n ewige lewe of ’n ewige oordeel wag nie. Dood is vir hulle dieselfde as uitwissing, die einde van alles.

Maar as dit so gesien word, verloor die dood sy erns. ’n Mens kan dan nog wel hartseer wees oor die dood, omdat dit die einde van jou eenmalige aardse lewe beteken, maar jy hoef nie meer die angel van die dood, dit is die sonde en die ewige oordeel, te vrees nie.

Die dood ontleen sy ware erns aan die geloof dat ’n mens se bestaan nie by die dood beëindig word nie, maar dat ons in die dood God ontmoet wat die ewige Regter oor ons lewe is. Dit is die boodskap van die Bybel en deur die eeue is die lewensbesef van ’n groot deel van die Westerse mensheid deur hierdie Christelike oortuiging gestempel. Die moderne tyd met sy materialistiese lewensuitkyk het dit egter laat vervaag en verdwyn.

Maar daarmee het ook die erns van die lewe verdwyn. Dikwels word gesê dat mense wat die verwagting van ’n ewige lewe na hierdie lewe het, die aardse lewe as minder belangrik beskou. Daar word geredeneer dat dit die verantwoordelikheid vir die aardse lewe ondermyn. Veral Christene sou dan so op die hemel gerig wees, dat hulle nie meer die aardse lewe ernstig genoeg kan opneem nie.

Maar dit is nie waar nie. Inteendeel, wie nie glo aan ’n lewe na die dood nie, beroof nie net die dood van sy erns nie, maar sny ook die dieptedimensie van die aardse lewe weg. As God nie bestaan en as die mens nie aan God verantwoording verskuldig is vir wat hy doen en is nie, word die lewe self een-dimensioneel en vlak, ook wat die terrein van die moraal en al die hoër waardes van die lewe betref.

Die besef van die erns van die dood verleen ook aan die aardse lewe erns, omdat dit die aardse lewe in die lig van die ewigheid plaas. Eers dan verstaan ’n mens dat wat op aarde gedoen word en gebeur, ewigheidsbetekenis het. Daarsonder bly die lewe noodwendig vlak. – WDJ