Die eenheid van die kerk volgens die NGB

DIE EENHEID VAN DIE KERK VOLGENS DIE NGB

Nota opgestel deur W D Jonker
Stellenbosch
(Ongedateer)

Daar word in die Nederlandse Geloofsbelydenis (NGB) nie minder nie as vyf artikels – sommige betreklik lank – aan die kerk bestee. Dit is nie vreemd nie, want in die konflik met Rome het dit in die sestiende eeu ook oor die vraag na die ware kerk gegaan, en spesifiek ook oor die vraag of ’n mens jou van die Katolieke Kerk mag losmaak sonder om ewig verlore te gaan. Die belydenis aangaande die kerk was dus vir die Reformasie belangrik. Die vraag hoe die eenheid van die kerk verstaan is, hang ten nouste daarmee saam. Ons maak die volgende opmerkinge:

  1. Sonder aarseling beaam die NGB die belydenis van die Apostolicum aangaande die één, heilige, katolieke, Christelike kerk (art 27). Anders as wat by Rome die geval is, word hierdie één Christelike kerk egter nie met die kerk van Rome as historiese instituut geïdentifiseer nie, maar word die kerk in terme van die heil gedefinieer: die kerk is die vergadering van almal wat gewas is in die bloed van die Lam en geheilig en verseël is deur die Heilige Gees. Dit is die katolieke kerk, omdat dit van die begin van die wêreld af bestaan en altyd daar sal wees (katolisiteit in tydelike sin). Dit is ook katoliek, omdat dit werklik universeel is en nie gebonde aan ’n bepaalde plek of persone nie, maar oor die hele wêreld versprei en verstrooi is (katolisiteit in ruimtelike sin). Terselfdertyd is dit saamgebind deur die Gees en in dieselfde geloof (katolisiteit van die waarheid).
  2. Aan die kerk word hier primêr gedink as die gemeenskap van verlostes. Calvyn het aanvanklik die kerk veral vanuit die uitverkiesing gedefinieer. Dan is die kerk as gemeente van uitverkorenes voorwerp van geloof en val die klem op die kerk as geestelike grootheid. Namate sy bediening vorder, lê hy egter meer klem op die kerk as ’n sigbare vergadering van gelowiges. Dit blyk reeds uit die tweede uitgawe van die Institusie in 1539, waarin van die kerk gesê word dat dit die gemeenskap van alle heiliges is wat oor die ganse aarde en alle eeue versprei is, maar tog deur die leer en die één Gees van Christus verbonde is, en geloofseenheid en broederlike eendrag koester en nastreef – die kerk as moeder van die gelowiges, in wie se skoot hulle moet bly (Van ‘t Spijker: De kerk bij Calvijn: theocratie, in: De Kerk, Kampen, 1990, 149v). In die Institusie van 1559 betoog Calvyn dat die kerk wat geglo word, die kerk as somtotaal van uitverkorenes is, maar sê hy dan, hierdie artikel het in ’n sekere mate ook betrekking op die uitwendige kerk, omdat die Apostolicum dit uitdruklik as die gemeenskap van die heiliges beskryf (Inst 4.1.3). Dit open vir hom die weg om veel klem op die bevel van God te lê om die eenheid met die sigbare kerk te bewaar, ondanks gebreke en swakhede wat daarin voorkom. Trouens, hy maak in die lig hiervan ook duidelik dat die Reformasie geen afskeiding van die kerk was nie, maar dat die Roomse Kerk hervormingsgesindes uit die kerk uitgedryf het (Inst 4.2.6).

Hierdie opvatting van die kerk vind ons ook in art 27 van die NGB. Ook daarin gaan dit om die enige, katolieke kerk wat die eeue omspan en deur God bewaar word. Dit is nie net die onsigbare kerk waarvan hier sprake is nie, soos daaruit blyk dat gesê word dat die kerk soms ’n tyd lank baie klein is en dat dit in die oë van die mense lyk asof dit tot niet gaan. Boonop word in art 28 gesê dat ’n mens jou nie van hierdie vergadering afsydig mag hou nie, iets wat tog nie van die onsigbare kerk gesê kan word nie. Vir die Reformasie is die kerk dus sigbaar en kenbaar, al het dit uiteraard ’n onsigbare dimensie en al is die ware omvang daarvan net by God bekend. Almal is verplig om die ware kerk te onderskei en hulle daarby te voeg, en so die eenheid van die kerk te bewaar deur hulle aan sy leer en tug te onderwerp, die nek onder die juk van Christus te buig en volgens elkeen se gawes die broers in die opbou van die geloof te dien (art 28). Van hierdie kerk kan met reg saam met Cyprianus gesê word dat daarbuite geen heil is nie.

Vir die Reformasie is daar ’n indirekte identiteit tussen die kerk soos dit voor God bestaan as die vergadering van ware gelowiges, en die sigbare kerk soos dit in die wêreld bestaan. Die onderskeiding tussen sigbare en onsigbare kerk het wel ’n goeie funksie as dit gebruik word om die vanselfsprekende identiteit van die sigbare kerkgemeenskap soos dit voor die oë van die mense bestaan met die kerk soos dit voor God bestaan, af te wys. Wat homself op aarde as kerk aandien, staan voortdurend onder die vraag na die egtheid daarvan. In dié sin het die gebruik van die term onsigbaar in verband met die kerk ’n kritiese betekenis. Dit het egter geensins ten doel om die sigbaarheid en kenbaarheid van die ware kerk as gemeenskap in die wêreld te ontken of die betekenis daarvan te verkleineer nie.

  1. Dit is duidelik dat die NGB nog dink vanuit die situasie van die één universele, ongedeelde sigbare kerk. Hierdie vergadering word in art 28 beskryf as die versameling van diegene wat verlos word. Die Reformasie het nog nie die idee van ’n pluriformiteit van kerke geken nie en daarvan uitgegaan dat die ware kerk van Christus wêreldwyd ’n sigbare gemeenskap van plaaslike kerke moet wees wat met mekaar die één kerk van ware gelowiges vorm in onderskeiding van die valse kerk en die sektes. Die sigbare eenheid van daardie kerkgemeenskap kom tot uitdrukking in die kerkverband – ’n saak waarna die NGB nie verwys nie, maar wat toe reeds besig was om gestalte aan te neem tussen gereformeerde gemeentes in Frankryk en kort daarna ook in Nederland. Wanneer dus in art 28 gepraat word van die plig van diegene wat verlos word om hulle by dié vergadering aan te sluit – op watter plek God dit ook al gestel het – dan gaan dit om die vergadering van die universele kerk wat plaaslik openbaar word. Die universele kerk kom nie tot stand deur die vereniging van plaaslike kerke nie. Die plaaslike kerke is die openbaring van die universele kerk wat aan hulle voorafgaan, omdat dit in Gods verkiesing gegrond is en deur sy Gees en Woord plaaslik vergader word. Daarom het hulle die roeping om deur middel van kerkverband die onderlinge gemeenskap met mekaar te soek en te onderhou.

Die eenheid van die universele kerk is ’n geloofsaak maar moet terselfdertyd gesoek word. Calvyn het hom geweldig ingespan vir die sigbaarmaking van die eenheid van die kerk (Weber: Die Einheit der Kirche bei Calvin, in: Calvinstudien 1959, 130v; W Nijenhuis: Calvinus Oecumenicus, 1959). Afsydigheid van die ware kerk sowel as afskeiding daarvan word veroordeel. Wel is dit die plig van die gelowiges om hulle af te skei van diegene wat nie tot die ware kerk behoort nie. ’n Mens merk hier die spesifieke situasie van die 16de eeu: gelowiges moet uitgaan van die Rooms-Katolieke Kerk en hulle by die Reformatoriese Kerk voeg, want dit is die ware gemeenskap van die gelowiges, die broeders wat in die opbou van die geloof gedien moet word deur die gawes wat elkeen ontvang het. Die Reformasie het nog nie die latere idee geken dat ’n veelheid van ware kerke naas mekaar kan bestaan, sonder dat dit as verskeurdheid van die kerk aangevoel word nie. Daarom werk die NGB net met twee groothede: die ware kerk en die valse kerk. Gelowiges mag hulle nooit van die kerk losmaak, as hulle nie met die hand op die hart kan sê dat daardie kerk ’n valse kerk geword het nie.

  1. Om tussen ware en valse kerk te kan onderskei, moet die kenmerke van elkeen soos dit in art 29 aangegee word, met groot oplettendheid onderskei word. Dit gaan daarby nog steeds om die sigbare kerk waarvan reeds in die vorige twee artikels sprake is. Ook die sigbare kerk word deur die geloof gekwalifiseer. Daarom hoort huigelaars nie werklik tot die kerk nie, al behoort hulle ook uiterlik daaraan. Dit bring mee dat die vraag of die kerk die ware kerk is, nie beantwoord kan word deur na sy lede te kyk en te vra of al sy lede ware gelowiges is nie. So het die Dopers daaroor gedink. Maar die Reformasie weet dat die skyn kan bedrieg. Wil ’n mens vasstel waar die ware kerk is, moet jy dus die liggaam en die gemeenskap van die ware kerk onderskei.

Dit sê: daar is “objektiewe” kriteria wat betrekking het op die kerk as gemeenskap, as “organisasie” of instituut, in die lig waarvan vasgestel moet word of dit die ware kerk is of nie. Dit is die sogenaamde notae ecclesiae. Hulle is: die suiwer verkondiging van die evangelie, die bediening van die sakramente volgens die instelling van Christus en die handhawing van die kerklike tug. Hierdie drie kenmerke het almal volgens art 29 te make met die erns wat daar in ’n georganiseerde kerklike gemeenskap bestaan om die Hoofskap van Christus te erken en in alles aan die Woord van God gehoorsaam te wees. Eintlik word die ware kerk uit die Woord gebore, deur die sakramente beseël en gevoed, en deur die tug by die waarheid van die Woord bewaar. Daarom kan hierdie drie dinge as kenmerke van die ware kerk geld, terwyl die valse kerk die Woord op allerlei maniere minag en aan homself en sy eie besluite meer gesag toeskryf as aan die Woord van God. Die onuitgesproke veronderstelling van hierdie standpunt is dat die Woord van God nooit sonder vrug kan bly nie. Waar die Woord waarlik gehoor word, daar sal die kerk ook versamel word.

  1. Dit is nou egter merkwaardig dat die NGB nie daarmee volstaan nie. Asof die bostaande nie reeds genoeg is om die verskil met Rome duidelik te laat word nie, word nou nog ’n kriterium bygevoeg oor die kenmerke van die lidmate van die kerk (dit is die sg notae fidelium). Daaronder val die ware geloof en die strewe na heiliging, ook al gaan dit gepaard met veel swakheid. Die rede vir die invoeging van hierdie kriterium is duidelik. By Rome word die lidmaatskap van die kerk nie vanuit die geloof beskryf nie. Die verbondenheid met die ware instituut van Rome is al wat nodig is. Maar omdat die Reformasie die kerk as die vergadering van gelowiges definieer, kan dit nie bly staan by die uitwendige kriterium van Rome nie. Dit kan selfs nie eers bly staan by die “objektiewe” kriteria van die Woord-, sakramente- en tugbediening nie. Dit moet deurstoot na die ware geloof as kriterium van die lidmate van die kerk, want selfs binne die ware kerk (as sigbare gemeenskap) kom daar naas ware gelowiges ook huigelaars voor. Die verkiesing van God en die wederbarende werk van die Gees val nie saam met die grense van die kerk as geïnstitueerde gemeenskap nie.

Hiermee word ’n midde-posisie tussen Rome en die Dopers ingeneem. Die notae fidelium is nie, soos by die Dopers, die enigste kriterium vir die ware kerk nie. Dit is ook nie irrelevant, soos by Rome nie. Dit is wesenlik vir die kerk dat dit ook in die wêreld geken moet word as gemeenskap van gelowiges. Maar, dit kom sekondêr ter sprake, nadat die “objektiewe” kriteria vir die kerk as gemeenskap voorop gestel is. Daarin kom die verskil met die Dopers duidelik na vore. Daar is wel begrip daarvoor dat die Dopers die kerk vanuit die geloof wil verstaan, maar die idee word afgewys dat die kerk ophou om ware kerk te wees as daaraan ook mense behoort wat nog swak in die geloof is of selfs nie werklik gelowiges is nie. Calvyn sê dat mense as lidmate van die kerk daaraan herken kan word dat hulle toon, sowel in geloofsbelydenis, lewenswandel en deelname aan die sakramente, dat hulle God in Christus bely (Inst 4.1.8). Ook by sy bespreking van die heiligheid van die kerk verklaar hy dat die lidmate van die kerk, alhoewel hulle nie sonder vlek is nie, tog met alle ywer na heiligheid en volkome reinheid streef (Inst 4.1.17). Die NGB moet in hierdie sin verstaan word.

  1. Ten slotte is dit opvallend dat die NGB ook drie artikels oor die regering en orde van die kerk bevat. Dit is vir die Gereformeerdes nie onverskillige sake nie. Hulle meen dat daaroor in die Skrif duidelike riglyne gegee word. Terwyl die Rooms-Katolieke stelsel van kerkregering verwerp word, gaan die Reformasie tog nie biblisisties te werk, asof ’n volledige kerkorde uit die Bybel afgelei kan word nie. Die Reformasie ignoreer nie die kerklike ontwikkeling van die eerste drie eeue sonder meer, soos die Dopers dit gedoen het nie. Calvyn behandel die ontwikkeling in die Ou Kerk met groot kundigheid en simpatie en kan in baie opsigte positief daaroor oordeel (Inst 4,4). Ook hieruit word dit duidelik dat die Reformasie werklik kerkhervorming wil wees, en nie pretendeer om vir die eerste keer die ware kerk daar te stel, soos die Dopers nie. Wel word die Roomse hiërargiese stelsel as deformasie afgewys. Calvyn wy ’n groot deel van boek 4 van sy Institusie daaraan (Inst 4,5-7). Hy lei uit die Skrif sekere grondbeginsels vir die kerkregering af, soos die noodsaaklikheid dat alles in die kerk ordelik moet geskied; dat daar drie (of vier) ampte in die kerk moet wees wat deur die gemeente geroep is; dat die tug in die kerk gehandhaaf moet word. Die Roomse kanonieke reg word vervang met die eenvoud van ordemaatreëls wat uit die beeld van die eerste gemeentes afgelei is, veral soos dit in die Pastorale Briewe na vore kom (Polman IV, 7–68).

Die NGB sluit hierby aan. Die behandeling van die besondere ampte staan daarby voorop. Die Roomse hiërargie word afgewys. Christus is die enigste Hoof van die kerk. Alle leraars het gelyke gesag. Die biskoplike stelsel verdwyn. Die ampsdraers van die kerk word deur die gemeente tot hulle funksie geroep. Die ouderling en diaken verskyn as lede van die kerkraad wat kan sorg dat die basiese roeping van die gemeente in goeie orde vervul kan word. Die doel van die kerkorde is om die diens van die Woord, die bediening van die sakramente, die handhawing van die tug en die onderlinge sorg van die lede van die liggaam vir mekaar te reël. Menslike wette wat die gewetens bind, hoort nie in die kerk nie. Die bedienaars van die Woord en die ouderlinge moet ter wille van die werk wat hulle doen, die nodige agting ontvang, en die onderlinge vrede moet in die gemeente gehandhaaf word.

  1. Op grond van die bostaande kan ons tot die gevolgtrekking kom dat die NGB in ooreenstemming is met wat deur Calvyn en sy medestanders in die tyd van die Reformasie geleer is, dat daar ’n voorgegewe eenheid van die Christelike kerk is wat bewaar en gesoek moet word, en dat die gereformeerde kerk soos dit in die verskillende lande en plekke versprei is, homself as die katolieke kerk verstaan waarin die eenheid van die Ou Kerk opnuut gestalte kon kry. Onder geen beding het die gereformeerde Reformasie homself verstaan as die stigting van ’n nuwe kerk nie, maar as die herstel van die Christelike kerk van alle eeue. Calvyn het homself beywer om die eenheid van die één gereformeerde kerk te verseker. Die NGB moet histories ook op hierdie wyse geïnterpreteer word. Die gevolgtrekking wat ons daaruit behoort te trek, is dat dit ons roeping is om die eenheid van die kerk te soek, ook in die sigbare bestaan daarvan.