Strukturele eenheid en eenwording

STRUKTURELE EENHEID EN EENWORDING

Nota opgestel deur W D Jonker, Stellenbosch
(Ongedateer)

  1. Die uitdrukking strukturele eenheid word in die afgelope tyd in die kringe van die Ned Geref Kerk gebruik om aan te dui dat dit nie genoeg is om net te bly staan by die oortuiging dat die verskillende kerkgemeenskappe binne die Ned Geref familie van kerke geestelik een is nie, maar dat hulle ook kerkregtelike uitdrukking daaraan moet gee.

Al verklaar Kerk en Samelewing ook dat die kerke van die Ned Geref Familie “kragtens hulle historiese verbondenheid in ’n gemeenskaplike oorsprong, hulle gemeenskaplike geloof in en verbondenheid aan dieselfde Here en sy Woord, en kragtens die erkenning van dieselfde gereformeerde belydenis en kerkregering wesenlik één” is, het die ervaring tog geleer dat die bestaan van afsonderlike kerke vir afsonderlike bevolkingsgroepe stremmend ingewerk het op die belewing van dié eenheid en die getuienis wat volgens Johannes 17:23 daarvan behoort uit te gaan.

Daarom is daar steeds meer gevoel dat daar strukture moet wees wat die sigbaarmaking van die geestelike eenheid dien. Die sigbare eenheid van die kerk hang ten nouste saam met die noodsaak van die gemeenskap van die heiliges. Dit is opvallend dat dit juis die belydenis van die gemeenskap van die heiliges in die Apostolicum is wat Calvyn gedring het tot ’n uitvoerige behandeling van die lewe en inrigting van die sigbare kerk (Inst 4.1.3). Die gemeenskap van die heiliges is nie beperk tot die plaaslike kerk nie. Uit die NT leer ons hoe die gelowiges in die verskillende gemeentes met mekaar meegeleef en deur die diens van die apostels en apostoliese gesante met mekaar gemeenskap beoefen en onderlinge hulp betoon het. Ons lees ook van die beslissende betekenis van die sg. apostelkonvent in Jerusalem (Hd 15). Hierdie soort Skrifgegewens lê agter die gereformeerde opvatting van kerkverband (Bouwman: Geref Kerkrecht 11, 1–17).

Dit is daarom logies dat die Algemene Sinode van 1990 besluit het: “Die Ned Geref Kerk onderskryf die ideaal van één kerkverband tussen die Familie van Ned Geref Kerke” (Kerk en Samelewing, 236). Oor hoe hierdie kerkverband gestalte moet kry, is daar nog nie helderheid nie. Dit is altyd moeilik om bestaande kerklike gemeenskappe wat ’n eie lewe lei en ’n eie karakter en identiteit ontwikkel het, in één kerklike gemeenskap saam te smee. Dit is ook in Nederland ondervind toe die dolerende kerke en die Christelike Geref Kerk in een kerkverband verenig is. Maar as dit die weg van gehoorsaamheid aan die Skrif is, moet biddend en versigtig probeer word om dit tog te laat slaag.

  1. Die opsteller van hierdie nota verkeer onder die indruk (wat verkeerd mag wees) dat die NHK geen behoefte daaraan het om in hierdie stadium oor eenwording van die drie Afrikaanse kerkgemeenskappe te praat nie. Die NHK sien dit waarskynlik nie, soos die ander twee kerkgemeenskappe, as ’n Bybelse eis dat die eenheid van die kerk ook sigbare en institutêre uitdrukking moet vind nie. In die gesprek tussen die NGK en die GKSA bestaan daar seker geen prinsipiële verskil daaroor dat dit die roeping van die kerke bly om na sodanige eenheid te streef nie. Daarom word in hierdie nota spesifiek aandag gegee aan die verhouding tussen hierdie twee kerkgemeenskappe en die vraag na meer helderheid oor wat met uitdrukkings soos strukturele eenheid en eenwording bedoel word.

Daar bestaan seker tussen hierdie twee kerkgemeenskappe geen probleem tov die beginsel dat plaaslike kerke in ’n kerkverband saamgesnoer behoort te word, om aan die eenheid van die kerk en die gemeenskap van die heiliges uitdrukking te verleen nie. Hier bestaan daar waarskynlik wel verskille tov die vraag hoe die aard van die kerkverband verstaan word. Wanneer tussen verteenwoordigers van hierdie kerke oor strukturele eenheid en eenwording gepraat word, is die vraag waarskynlik: Hoe moet ons ons dit voorstel?

Die gesprek tussen die NGK en die GKSA oor baie jare heen gaan veral oor die kerkreg. Die GKSA is van oordeel dat die NGK nog steeds op baie punte gevange sit in reste van die kollegialisme wat vir hulle onaanvaarbaar is. In hierdie stadium van die gesprek is dit vir hulle waarskynlik belangrik om te weet of die drang tot eenwording en strukturele eenheid tussen hulle en die NGK sal beteken dat van hulle gevra word dat hulle afstand moet doen van hulle oortuigings oor wat werklik gereformeerde kerkreg is. Dit is begryplik dat dit vir hulle na ’n onoorkomelike beswaar sal lyk, selfs al sal almal wil toegee dat eenheid in die leer die hoofsaak is waarom dit gaan. Vir die besef van die GKSA hang die beginsels van kerkorde waarskynlik so innig met die belydenis saam, dat moeilik tussen die twee onderskei kan word.

Die vraag is egter of dit nie moontlik is om hierdie saak so te benader, dat ’n werksgroep met gelyke verteenwoordiging van die twee kerkgemeenskappe saamgestel kan word, wat spesifiek op die kwessie van die kerkregtelike aspekte van eenwording kan ingaan nie. As die vernaamste struikelblokke geïdentifiseer kan word, soos by al dié wat betrekking het op die verskillende verstaan van die konsep van kerkverband, kan dit makliker wees om ’n sinvolle gesprek te voer.

  1. Dit is waar dat die NGK in die loop van die geskiedenis aan allerlei gebeurtenisse en invloede blootgestel is wat vir die GKSA nie net vreemd is nie, maar ook vir hulle besef merke op die karakter van die NGK gelaat het. ’n Mens dink aan die kerkorde van De Mist, aan die Skots-presbiteriaanse invloed e.d.m. Daarteenoor staan dat die NGK nie soos die GKSA sterk deur die Afskeiding en Doleansie gestempel is nie. Die teologiese gesprek in Nederland het aan die lig gebring dat die kerkreg van veral die Doleansie nie sonder reaksionêre trekke was nie. Die Vrymaking van 1944 het ook op ’n traumatiese wyse duidelik gemaak hoe daar ook onder diegene wat die DKO aanvaar, oor die interpretasie daarvan verskil kan word. Daar moet egter breë beginsels van die gereformeerde kerkreg wees wat dit moontlik behoort te maak dat die twee kerkgemeenskappe ’n sinvolle gesprek kan voer oor wat die wesenlike dinge is waarom dit in die Geref kerkreg gaan, veral as daarby ook kennis geneem word van die hele geskiedenis van die Geref kerkreg.

Die NGK beleef self tans ’n moeilike periode, deurdat daar intern veel vrae gestel word oor die bevoegdheid van ’n vergadering soos die Algemene Sinode. Daarnaas is die NGK betrokke in gesprekke met ander kerke uit die Ned Geref. Familie met die oog op die instelling van één kerkverband wat die bestaande kerkgemeenskappe kan saambind. In hierdie situasie het die NGK alle moontlike hulp nodig om te kan onderskei wat wesenlik vir die gereformeerde konsep van kerkverband is, sodat die doel daarvan – die gemeenskap van die heiliges – die beste gedien kan word en die saak van Christus in sy kerk bevorder kan word. Die hulp van die broeders uit die GKSA sal daarby welkom wees.

  1. Miskien sal een van die vernaamste punte van diskussie die vraag wees of die kerke wat in een kerkverband saam gesnoer is, ook kerk is, en of slegs die plaaslike kerk die naam van kerk mag dra. Daarmee hang verskillende ander vrae saam, soos die bevoegdheid van meerdere vergaderinge en die interpretasie van die bevoegdhede van deputate ens – dinge wat direk te make het met die vraag of ’n kerkgemeenskap as eenheid by ’n profetiese funksie in die land kan vervul en hoe dit moet gebeur. Die vrees van die GKSA vir kerklike hiërargie en kollegialisme is begryplik, maar vir diegene wat van buite na hulle kerklike lewe kyk, is dit meermale ’n vraag of hulle werklik effisiënt as kerklike gemeenskap kan funksioneer op ’n wyse wat vandag vir die roeping van die kerk in die openbare lewe noodsaaklik is. Die orde van die kerk is immers daar om die funksionering van die kerk in die vervulling van sy roeping te dien, nie om dit te bemoeilik nie. Vrae soos hierdie kan met vrug deur ’n gesamentlike kommissie van deskundiges bespreek word, en dit kan veral ook vir die NGK in sy huidige situasie van groot nut wees.

Die NGK sal seker graag die versekering aan die deputate van die GKSA wil gee dat strukturele eenheid en eenwording begrippe is wat hulle vulling alleen vanuit die gereformeerde kerkreg behoort te ontvang, en dat alle hulp wat tot die juiste vulling van hierdie begrippe gebied kan word, opreg waardeer sal word.