Die morele aspek

DIE MORELE ASPEK
WD Jonker
Die Burger, 24 Maart 1990

Daar bestaan ’n wydverbreide aanname dat dit in politieke en ekonomiese sake om die persoonlike belange gaan van diegene wat daarby betrokke is, en dat hulle dus onbeskaamd en onbekommerd hulle selfbelang as die hoogste norm op hierdie terreine mag laat geld.

Die logika daaragter is dat politiek en ekonomie harde terreine is waarop elkeen van nature na sy eie belange omsien en daarvoor veg. Daar word geen genade gevra of gegee nie. Elkeen gebruik die mag tot sy beskikking om sy eie belange te dien en sy eie saak te bevorder. En dit is ook reg so. As almal volgens hulle welbegrepe eiebelang sou handel, dan sou, volgens hierdie opvatting, almal se belange ook die beste gedien word.

Die vraag wat hier egter gestel moet word, is of so ’n soort redenasie vir Christene hoegenaamd aanvaarbaar kan wees. Is dit denkbaar dat Christene hulle selfbelang op enige terrein van hulle lewe as norm mag aanvaar? Wat beteken die Christelike liefdesgebod in hierdie soort redenasie?

Word dit opgeskort op die harde terreine van die politiek en die ekonomie en slegs van toepassing gemaak op die verhouding tot die individu? Of het dit hoogstens ’n sekere betekenis vir ’n mens se verhouding tot jou eie groepsgenote, maar geen betekenis as dit om jou opponente of om vreemdes of mense van ander volksgroepe gaan nie?

Anders gestel: Is daar ’n morele faktor aanwesig in ons omgang met politiek en ekonomie, of word alles op hierdie terreine bepaal deur selfbelang en die magspel waarin ons hoogstens bereid is om kompromieë te maak op ons swakker punte, ten einde te verseker dat ons belange in die dinge wat vir ons die kosbaarste is, so goed as moontlik beskerm word?

Of ook: Moet ons deur die magspel en die bedreiging van ons eie belange tot veranderinge gedwing word, of is ons om morele redes bereid om dinge reg te maak wat verkeerd is, sodat ons ook in die politiek en ekonomie kan handel vanuit die oortuiging dat reg en liefde van ons vra om eerlik die beste belange van alle mense in ons land te dien?

Die Bybel werk nie met die model dat elkeen sy eie belang moet soek en dat alles dan sal regkom nie, maar met die opdrag dat ons mekaar se belange moet soek (Filippense 2:4). Dit sal altyd iets van selfkruisiging beteken, soos die geval Jesus ons leer, maar dit is Gods weg na oorwinning en vrede. Of sou God darem te onprakties wees as dit op die terreine van politiek en ekonomie kom?

Dit sou baie jammer wees as ons in ’n tyd van verandering en oorgang niks beters het om ons aan te oriënteer as die eise van ons selfbelang nie. As Christene sou dit vir ons benede die maat wees. Maar ons mag ook vind dat veranderinge wat ons nie uit morele oortuiging aanbring nie, maar as toegewings uit welbegrepe eiebelang, baie maklik in ons mond bitter kan word as dit blyk dat ons belange tog nie so goed daardeur gedien word, as wat ons gehoop het nie. – WDJ