Selfregverdiging

SELFREGVERDIGING
WD Jonker
Die Burger, 7 April 1990

Ons natuurlike neiging is nie om te erken dat ons verkeerd kan wees of foute kon gemaak het nie. Dit is inteendeel om ons self altyd te regverdig en te verdedig. Selfs as ons moet toegee dat ons iets vreesliks aangevang het, vind ons nog genoeg gronde om ons self te verskoon en die skuld daarvoor op andere te pak.

Daarmee kom ons al uit die Paradys. Geen botter kon in die mond van Adam smelt toe hy aan God verduidelik het wat gebeur het nie. Alles was die skuld van Eva, van die slang, ja van God self. Maar sy eie motiewe was altyd suiwer. Hy was hoogstens die slagoffer van ’n situasie.

En nou sou ’n mens dink dat mense wat hulleself graag Christene noem, tog die les moes geleer het en bereid moet wees om krities na hulle self te kyk en te erken dat hulle vol onheilige motiewe is en dikwels daaraan ten prooi val. Maar nee, dit is deel van ons sondige geaardheid dat ons blind is vir wat by ons self verkeerd is en daarom geneig is om alles goed te praat wat ons gedoen het.

Die ergste is dat ons onsself nog glo ook. Ons kan selfs met verontwaardiging ander mense as moedswillig, vyandig en vol bose bedoelinge beskou, omdat hulle nie kan of wil insien hoe nobel ons werklik is nie. Ons vergoelik ons eie motiewe en oordeel so maklik net gunstig oor ons self. En ons merk nie dat al ons oorweginge en argumente by voorbaat so beheers word deur ons selfliefde en die drang om ons self te bevoordeel en te beskerm, dat ons feitlik geen kans het om die waarheid objektief te hanteer nie.

Juis die feit dat ’n ander siening op die waarheid as die wat ons daarop nahou, ons in bepaalde gevalle so mateloos kan irriteer, moet ons daarvan bewus maak dat iets nie pluis is nie. Wanneer mense met mekaar verskil oor abstrakte vrae waarby hulle nie persoonlike belang het nie, behalwe die belang om die waarheid te ken, word hulle nie vir mekaar kwaad nie. Maar ons word vir mekaar kwaad as ons belang daarby het dat ’n saak op ’n bepaalde manier gesien moet word, omdat dit in ons voordeel sal wees.

As ons dit eenmaal ingesien het, behoort dit by ons ’n baie groter stuk beskeidenheid tot gevolg te hê, maar ook meer bereidheid om die moontlikheid te oorweeg dat ons dalk nie in alles gelyk het nie. ’n Man se vrou kan partykeer reg wees. Jou kinders kan gelyk hê. Jou werknemers kan dikwels beter as jyself oordeel oor die vraag of jy billik is. Jou politieke opponente hoef nie almal sotte te wees wat daarop uit is om die hele land te verongeluk nie.

Selfs in die kerk kan ons tot die insig kan kom dat, ondanks die gunstige indruk wat ons oor ons eie motiewe het, andere dalk beter daaroor kan oordeel as ons self, en dat ons gerus ’n keer op ons knieë daaroor moet nadink of hulle nie dalk teenoor ons gelyk kan hê nie. – WDJ