Religiositeit en geloof

RELIGIOSITEIT EN GELOOF
Die Burger, 5 Mei 1990

’n Mens moet duidelik onderskei tussen religiositeit en die Christelike geloof. Nie alle religiositeit is suiwer en goed nie.

Religiositeit is ’n algemeen menslike verskynsel. Dit kom op uit die natuurlike behoefte van die mens om ’n voorwerp of voorwerpe van verering te hê waarvan hy geborgenheid en hulp in die onsekerheid van die menslike lewe verwag.

Die godsdienswetenskap leer dat daar nog nooit ’n volk of stam gevind kon word wat volkome irreligieus is nie. Selfs die moderne versekulariseerde mens is nog gevoeliger vir die religieuse as wat hy dink.

Religiositeit is vir die mens noodsaaklik. Dit vorm ’n integrerende faktor in sy lewe, hou hom bewus van waardes en norme, vervul die lewe met sin en dien so as ’n sedelik bewarende invloed in die lewe van die volkere.

Maar religiositeit is – soos alle menslike verskynsels – ook ambivalent. Dit kan op God of die afgode gerig word en met allerlei soorte inhoude gevul word. As dit op die ware God gerig is en onder die tug van die openbaring van God in Christus staan, bring dit die menslike lewe tot sy ware bedoeling. Maar as dit gerig is op een van die talle afgode wat die mens vir homself skep, of bloot ’n vae gevoel van verering van die geheimnisvolle is, lei dit weg van God en bring verwarring.

Daarom moet ’n mens versigtig wees vir bewegings wat vanuit ’n algemene religieuse gevoel alle godsdienste wil probeer saamsnoer, asof die waarheidsvraag·in die godsdiens nie belangrik is nie. Dit lei tot ’n vreemde vermenging van waarheid en leuen en het meer met die mens se gevoelens as met Gods openbaring te make.

Maar daar is ook ander gevare. Omdat ’n religieuse gevoel met allerlei inhoude gevul kan word, kan dit ook lei tot vorms van religieuse verering vir dinge wat nie God is nie. So was die staat of die nasie in die geskiedenis dikwels die voorwerp van religieuse verering. In die Romeinse ryk is die staat vergoddelik en die keiser religieus vereer. In ander kulture is die voorouers of die stam soms religieus vereer.

Ook bepaalde vorms van nasionalisme kry maklik religieuse trekke. Dit kan verbind word met ’n Christelike volksgeloof. God word dan die God van die volk en die liefde vir die volk·kry ’n religieuse kleur. Onder die naam van die Christelike geloof word in werklikheid ’n religieuse volks-ideologie aangehang en vertroetel.

God word dan opgeëis vir nasionalistiese ideale. Die gebod van God word omgesmee tot ’n volks-etos wat die bevordering van die belange van die eie mense as hoogste norm stel.

Nee, dis duidelik: religiositeit is nie in sigself goed nie. Dit moet altyd weer krities getoets word om te kyk of dit werklik gerig is op die ware God van die Bybel. – WDJ