Gewelddadigheid

GEWELDDADIGHEID
Die Burger,
12 Mei 1990

Dit is ’n voortdurende smart dat ons land deur soveel gewelddadigheid geteister word. Daar gaan feitlik geen dag verby waarin nie berig word hoeveel mense in die afgelope vier-en-twintig uur gewelddadig gesterf het nie.

Dit geld ook nie net bepaalde gebiede waar ’n siektetoestand van geweld tussen strydende faksies ontstaan het nie. Daar sterf daagliks mense ook om ander redes gewelddadig. Voortdurend word talle mense in stede aangerand en om die lewe gebring. In die jongste tyd ken ons ook die verskynsel van selfmoorde wat gepaard gaan met gesinsmoorde. Nog meer dinge kan genoem word.

Daar is mense wat die gewelddadigheid in ons samelewing alles op die rekening van apartheid plaas. Daar word dan gesê dat apartheid alleen deur die gebruik van geweld orent gehou kon word; dat dit van die blankes gewelddadige mense gemaak het; dat dit soveel frustrasie geskep het, dat teengeweld en misdadigheid daardeur gekweek is, en dat die hele samelewing sodoende met geweld besmet geraak het.

Dit bevat ’n element van waarheid. Tog sou dit dwaas wees om die hele verskynsel uit hierdie een oorsaak te verklaar en te dink dat die beëindiging van apartheid ook die einde van alle gewelddadigheid sal beteken. Daarvoor is die saak veels te ingewikkeld. Waaruit moet ’n mens dan die gewelddadigheid in ander lande verklaar, waar daar geen apartheid is nie?

Die waarheid is eerder dat die mens van nature ’n element van gewelddadigheid in hom het, wat sterker na vore kom as daar faktore in die samelewing is waardeur dit opgeroep en aangeblaas word.

Onder hierdie faktore moet ook dinge soos die dekadensie van te veel welvaart gereken word. Gesinsmoorde het soms te make met probleme van ’n te hoë lewenspeil. Ons voer ook ’n stuk gewelddadigheid uit die dekadente Amerika in die vorm van rolprente en speelgoed in, wat geweld iets alledaags maak. Aan die ander kant hang gewelddadigheid dikwels ook weer saam met die afsak van die lewe tot ’n vlak van armoede en onmenswaardigheid waar die wet van die oerwoud oorneem.

Duisende dinge kan ons selfsugtige en boosaardige natuur tot geweld prikkel. Die enigste blywende antwoord daarop is ’n grondige vernuwing van ons hart en lewensbeginsel. Dit maak ’n groot verskil in die samelewing as daar ’n beduidende aantal mense is wat hulleself nie deur die kwaad laat beheers nie, maar die kwaad deur die goeie oorwin.

Dit maak ook ’n groot verskil of ons ons kinders Christelik opvoed, sodat hulle geweld as weg om probleme op te los, eenvoudig verafsku. Ook moet ons probeer om die samelewing so in te rig, dat die oorsake van geweld tot ’n minimum beperk word. Dinge soos onreg, rassisme en groot teenstellings in die samelewing lei tot afguns, haat, onrus en geweld wat allesvernietigend kan word. Almal van ons het die plig om sulke toestande te voorkom of te verander. – WDJ