Christus en die openbare lewe

CHRISTUS EN DIE OPENBARE LEWE
WD Jonker
Die Burger, 24 Mei 1990

Hemelvaartsfees is vir Christene belangrik. Dit mag minder direk tot ons spreek as Kersfees, Goeie Vrydag, Paasfees of Pinksterfees, maar dit beklee tog ’n vername plek in die ry van feeste waarin die verlossing deur Christus gevier word.

Dit getuig nie net daarvan dat die heilswerk van Christus volbring is nie, maar dit verseker ons ook dat Christus aan die regterhand van God sit om vandaar oor alle dinge te regeer, totdat sy Ryk in heerlikheid sal kom. Aan Hom is immers alle mag gegee, in hemel en op aarde.

Sy heerskappy het enersyds ’n geestelike betekenis wat op die persoonlike verlossing van sy gemeente betrekking het. As verheerlikte Hoof is Hy aan die regterhand van die Vader die waarborg dat die lede van sy liggaam ook eenmaal met Hom in sy heerlikheid sal deel. Hy is hulle voorspraak by die Vader en bewerk deur sy Gees die verlossing van die skuld en die mag van die sonde reeds nou in hulle lewens.

Die openbare lewe

Maar sy heerskappy het ook betrekking op die openbare lewe. Christus wil nie net in mense se harte regeer nie, maar in hulle hele lewe met al sy verhoudinge. Die huwelik en die gesin, die skool en die kultuur, die ekonomie en die politiek moet ook van die heerskappy van Christus getuig.

Dit beteken dat Christene nooit daarmee tevrede kan wees dat hulle godsdiens net iets van die binnekamer of van die Sondagse erediens moet word nie. Dit is onhoudbaar as Christenskap tot die private sfeer teruggedring word, soos toe die Romeinse Ryk Christene in katakombes ingedwing, en Rusland Christelike aktiwiteite tot die kerkgebou en die liturgie beperk het.

Omdat die kerk bely dat Jesus die Here is, verkondig dit dat die hele openbare lewe aan die wet van God gehoorsaam moet wees. Daarom is die politiek vir Christene ’n heilige saak. Hulle soek altyd weer na Bybelse riglyne vir die politiek. En al gebeur dit soms dat hulle dwaal en die Bybel verkeerd gebruik en in stryd met sy bedoeling uitlê, duur dit nooit lank nie, of ander Christene roep hulle met die Bybel in die hand tot orde.

Alle Christene glo dat die politiek en die bestuur van die openbare lewe eerlik, regverdig, billik en in ooreenstemming met die Christelike liefde moet wees. ’n Mens kan nie in jou binnekamer of in die erediens ’n Christen wees, en buite die kerk jou politiek op selfsug of blatante eiebelang baseer nie. ’n Mens kan nie bely dat God liefde is en liefde vra, maar in jou politiek gemotiveer word deur on-Christelike gesindhede soos die afkeer en veragting van andere nie.

Die Christelike Sondag

Daarby is dit ook vir alle Christene belangrik dat Christus in die openbare lewe erken sal word, onder andere deur die handhawing van godsdiensvryheid en die openbare respek vir die Christelike lewenswyse, waardes en simbole. In ’n land soos Suid-Afrika waarin meer as 75% van die bevolking bely dat hulle aanhangers van die Christelike geloof is, kan met reg verwag word dat dit nou en in die toekoms so moet wees.

In so ’n land behoort Christelike feesdae en tradisies eerbiedig te word. Onder die Christelike feesdae is die Sondag die heel vernaamste. As die Sondag nie meer beskerm word nie en die besondere karakter daarvan nie erkenning geniet nie, sal ons land ’n maklike prooi van sekularisme word. Dit is reeds besig om te gebeur. Christene moet daarteen beswaar maak, nie net omdat ruimte vir die eredienste en Christelike aktiwiteite behou moet word nie, maar ook omdat die Sondag as rusdag ’n geweldige simboliese waarde het wat ons verbind aan die Joods-Christelike tradisie waarin God as Skepper en Verlosser bely word.

Die behoud van ander Christelike feesdae as openbare vakansiedae behoort sorgvuldig oorweeg te word. Sommige van die feesdae moet liefs in ooreenstemming met die Westerse tradisie as vakansiedae behou word, maar die kerke hoef nie daarop aan te dring dat alle Christelike feeste openbare vakansiedae moet wees nie. Die ervaring leer dat dit nie sonder meer bevorderlik is vir die egte viering daarvan nie.

Christelike etos

Die Paasnaweek het tans in ons land een groot uittog na vakansie-oorde geword, met honderde wat op die paaie sterf, terwyl kerkdienste op Goeie Vrydag en Paassondag swak bygewoon word. Van die regte viering van hierdie dae kom daar dus min tereg. Met Hemelvaart is dit nie veel beter nie, omdat die Vrydag daarop ook dikwels meegesleur word in ’n lang naweek wat die Pinkstertyd affekteer.

Veel belangriker as vakansiedae vir die erkenning van die koningskap van Christus is die bevordering van ’n Christelike etos en lewenstyl, die handhawing van die Christelike karakter van die onderwys en die vryheid van die kerke om die Woord van God onbelemmerd te verkondig.

Die uitdaging waarvoor ons staan, is om ’n samelewing te bou waarin Christus elke dag van die jaar as Here erken sal word. Dit sal die grootste denkbare oortuiging en geestelike inset vra. Maar as ons Christus se koningskap bely, sal ons bereid moet wees om daarvoor te bid en te werk. – WDJ