’n Tyd van toetsing

’N TYD VAN TOETSING
Die Burger, 04 Augustus 1990

Wat ons landsomstandighede betref, gaan ons op die oomblik deur ’n moeilike tyd. Die koerant bring elke môre weer ontstellende berigte van konfrontasie en geweld, misdaad en bloedvergieting. Selfs al het ons deur gewenning al afgestomp, bly dit ontstellend en het dit ’n negatiewe uitwerking op ons gees en lewensgevoel.

Wat dit veral haglik maak, is dat dit volg op stappe wat van die kant van die blankes as ’n poging tot verbetering van gesindhede en die skepping van ’n basis vir versoening en vrede in die land bedoel is. Daar is gehoop dat die maatreëls met die oog op die verbreding van die demokrasie tot onderlinge begrip en meer welwillendheid sou lei.

Maar daarvan sien ons nog nie veel nie. In plaas daarvan beleef ons tans bloedige geweld tussen strydende faksies en ’n golf van protes en boikotte, stakings en misdaad wat vir die gewone mens lyk asof dit doelbewus die hoop op vrede wil frustreer.

Dit alles maak die tyd waarin ons leef, besonder sensitief. Die gevaar is groot dat ons dit verkeerd kan beoordeel en verkeerd daarop kan reageer. ’n Soort sinisme sou van ons besit kan neem. Ons sou kon toegee aan ’n gevoel van wanhoop en innerlike frustrasie, wat op die duur tot ’n houding van onverskilligheid, bitterheid en verharding kan lei.

Maar as dit sou gebeur, sou ons afstuur op ’n toestand waarin die hoop op ’n vreedsame oplossing vir ons politieke probleme sal verdwyn. En as die weg van geweld eenmaal betree is, is die omvang van die ellende wat oor ons land en sy mense sal kom, nie te oorsien nie.

Daarom moet ons in hierdie uur nugter bly. Dit is nie nou die tyd om gemoedere op te jaag nie, maar om gemoedere te kalmeer. Dit is nou die tyd om biddend die hoop op God te vestig wat die storm kan laat bedaar, die harte kan verander en nuwe moontlikhede kan open.

Dit sal vir ons ’n tyd van toetsing word. Nie net ons geduld nie, maar veral ook ons geloof, ons hoop en ons liefde sal getoets word. Ons moet daarmee rekening hou dat dit tyd sal kos voordat die siektes wat in ons gemeenskap aanwesig is, uitgewoed sal wees. Ons betaal in meer as een opsig die prys vir toestande wat ons te lank laat voortduur het en wat kwaadaardig geword het.

Dit kan ’n hele tyd duur voordat onrealistiese verwagtinge prysgegee en ’n nugterder houding aangenaam sal word. ’n Pot wat lank onder druk gehou is, kook aanvanklik oor as die deksel afgehaal word. Maar dit hou weer op. Ons mag nie toegee aan ’n gevoel van défaitisme en moedeloosheid nie. Deur ons rustigheid en begrip kan ons daaraan meewerk dat die situasie weer sal stabiliseer.

Die Bybel het talle beloftes waaraan ons in hierdie situasie mag vashou. Een daarvan is Psalm 37:5 wat lui: “Laat jou lewe aan die Here oor en vertrou op Hom; Hy sal sorg.” – WDJ