Om soos Jesus te lewe

OM SOOS JESUS TE LEWE
Die Burger, 8 September 1990

Selfs al bedoel ons nie om op ’n eensydige wyse met die boodskap van die evangelie om te gaan nie, kan dit tog maklik gebeur en het dit dikwels gebeur.

In die geskiedenis van die Christenheid merk ons byvoorbeeld die neiging om die betekenis van die evangelie te beperk tot die vergiffenis van ons sonde wat Jesus deur sy dood en opstanding vir ons verkry het, terwyl die gebod dat ons aan Hom gelykvormig moet word en moet lewe soos Hy gelewe het, dikwels verwaarloos word.

Selfs in die bekende Twaalf Artikels wat reeds sedert die tweede eeu in ’n korter vorm in die kerk gebruik is en later tot ’n belydenis vir die hele Christenheid uitgegroei het, merk ons reeds iets daarvan.

Daarin word bely dat Jesus Christus die eniggebore Seun van God is, ontvang van die Heilige Gees en gebore uit die maagd Maria. Direk daarna word egter bely dat Hy onder Pontius Pilatus gely het, gekruisig is, gesterf het en begrawe is. Aangaande sy aardse lewe word niks gesê nie.

Daardeur kan die indruk gewek word dat die verlossing in Christus slegs betrekking het op die plaasvervangende genoegdoening vir die skuld van ons sonde, sodat ons vergifnis en die ewige lewe kan ontvang. Dat Hy ons ook roep om Hom in ons aardse lewe na te volg, is nie op dieselfde wyse duidelik nie.

Tog is dit ’n wesenlike deel van die evangelie. Jesus het mense geroep om sy dissipels te word en Hom na te volg. Die Bybel leer dat ons nie Jesus as ons Borg en Middelaar kan hê, as ons Hom nie ook as ons Voorbeeld aanvaar nie. Veral die geskrifte van Johannes is vol van die vermaning dat die dissipels van Christus moet lewe soos Hy gelewe het.

In die Evangelies self word groot gedeeltes aan die aardse lewe van Jesus gewy. Daarin word Hy aan ons voorgehou as die Mens wat in die ware sin van die woord ons menslike lewe in gehoorsaamheid aan die wil van God geleef het. Sy liefde en ontferming, sy ontmaskering van onreg, sy onselfsugtigheid en reinheid, sy identifikasie met die uitgeworpenes en sy volkome oorgawe aan die saak van God en die naaste word in helder kleure geskilder.

Seker, ook daarin het Hy plaasvervangend vir ons gelewe. Hy het in ons plek die wet van God in elke opsig uitgeleef en so namens ons daaraan voldoen. Maar dit beteken nie dat Hy ons onthef van navolging en gehoorsaamheid nie. ’n Mens kan jou nie op die soenbloed van Jesus beroep, as jy self sonder ontferming en liefde, sonder eerlikheid en deernis deur die lewe gaan, en net aan jou eie belange dink nie.

Ook ons navolging van Christus is gebrekkig en vol sonde. Ook dit moet deur sy volmaakte gehoorsaamheid bedek word. Maar netsoos deur ons woorde getuig ons daarmee van ons geloof in die evangelie van verlossing. ’n Sterker getuienis vir die krag van die evangelie is daar nie. – WDJ