Reaksie op Naudé en Fürstenberg se bespreking van “Uit vrye guns alleen”

REAKSIE OP NAUDÉ EN FÜRSTENBERG SE
BESPREKING VAN UIT VRYE GUNS ALLEEN

WD Jonker
NED. GEREF. TEOLOGIESE TYDSKRIF, deel xxxv(1), Maart 1991, 119-123.

  1. Ek wil begin deur my dank te betuig dat die leiding van die Werkgemeenskap my die eer aangedoen het dat my boek by hierdie geleentheid bespreek kon word. In die besonder ook my dank aan die twee teoloë wat tyd en moeite geneem het om die bespreking in te lei. Dit is duidelik dat hulle daarby met groot welwillendheid te werk gegaan het en uit broederlike liefde my werk in bonam partem geïnterpreteer en geëvalueer het. Ek waardeer dit opreg en is dankbaar dat hulle hul met my intensie in die aanpak van die verkiesingsleer, kan vereenselwig.

Ek moet sê dat dit, ondanks beïnvloeding deur Berkouwer, tog nie vir my vanselfsprekend was om hierdie rigting in te slaan nie. Dit was ’n hele geestelike ervaring om met die verkiesing te worstel en vry te word om bepaalde keuses te doen. Die belydenis aangaande die uitverkiesing funksioneer dikwels as ’n versweë en duistere agtergrond in die geloofslewe en pastoraat. Maar in die Bybel funksioneer dit as ’n saak van vreugde. Dit neem ’n mens wat in kringe opgegroei het waarin die neerslag van die skolastieke denke oor die uitverkiesing nog steeds ’n groot invloed het, soms ’n hele tyd om los te kom van die idee dat die uitverkiesing op die een of ander wyse tog as ’n voorbehoud met betrekking tot die beloftes van die evangelie funksioneer. Solank dit so verstaan word, kan die Bybelse vreugde nie ten volle meegemaak word nie. Die weg wat ek uiteindelik gevolg het, het onder andere ook te make met ervarings wat ek in hierdie verband as pastor en dosent meegemaak het.

’n Mens kan in die tradisionele denke oor die uitverkiesing tussen ’n bowebou en ’n onderbou onderskei. In die onderbou gaan dit om die soteriologie, sodat die uitverkiesing die leer van die regverdiging uit genade alleen onderstreep, terwyl dit in die bowebou om die beskikkingselement gaan, om die predestinasie, wat ten nouste gekoppel is aan die leer van die voorsienigheid. Deur die verkiesing nie “von oben”, vanuit die voorbeskikking te bedink nie, maar “von unten”, vanuit die soteriologie, kom ’n mens by ’n pastorale soort uitverkiesingsleer uit. Dit is wat vroeër deur De Cock en andere bedoel is deur te sê dat die uitverkiesing eers aposteriories ter sprake gebring moet word. Maar ek het probeer om die bowebou en onderbou nie los naas mekaar te laat staan nie, maar om die bowebou op ’n dinamiese wyse van onder af mee te bedink. Dit is ’n poging om niks prys te gee van wat in die tradisionele verkiesingsleer waardevol was nie, maar om van ’n ander soort voorstelling en taal gebruik te maak ten einde soveel moontlik deterministiese en ander misverstande te probeer vermy.

In my afwysing van die soort rasionaliteit wat in die geskiedenis van die gereformeerde teologie tot ’n bepaalde logifisering van die uitverkiesingleer gelei het, was ek daarvan bewus dat ek my aan kritiek vanuit behoudende kringe blootstel. Die soort kritiek wat teen Berkouwer na vore gebring is, sal waarskynlik ook teenoor my uitgespreek word. (Vgl. in hierdie verband by die resente kritiek van Bremmer: 1989, 57–69). Maar ek het leer insien dat ons in die denke oor die uitverkiesing moet probeer om volkome weg te kom van die soort logika wat deterministiese voorstellings oproep. Dit beteken dat ons nie net van die Deus nudus moet wegkom en volstrek Christologies moet dink en praat nie (’n insig wat van Calvyn af kom en deur Barth op sy eie manier uitgewerk is), maar dat ons veral ook trinitaries oor die verkiesing moet leer dink, sodat ook die werk van die Heilige Gees in die verkiesing tot sy volle reg kan kom.

Dit is met name die dimensie van die Gees wat dit eers werklik vir ons moontlik maak om oor die uitverkiesing so te praat en te dink, dat dit nie buite die konkrete lewe, die verkondiging van die evangelie en die pastoraat om gaan nie. Toe ek dit eers eenmaal leer raaksien het as ’n element wat eintlik in die hele gereformeerde tradisie vanaf Calvyn latent aanwesig is (vgl Calvyn se innige verbinding van verkiesing en roeping), was dit vir my moontlik om nie alleen Bavinck (by wie ek ’n groot mate van aansluiting gevind het) met nuwe oë te lees nie, maar ook weerstand te bied teen die denke van Barth (by wie ons geslag in elk geval veel geleer het). Natuurlik kon ek die nouste by Berkouwer en Weber aansluiting vind, maar ek meen dat ek duideliker as hulle die pneumatologiese aspek van die verkiesing probeer belig. Dit is wesenlik vir ’n pastorale benadering van die verkiesing. Ek is dankbaar dat albei die kollegas wat my boek beoordeel het, gunstig hieroor oordeel.

  1. Wat hulle kritiek betref, moet ek veel daarvan toegee. Ek dink dat die belangrikste punt in hierdie opsig die opmerkinge van Naude is dat die werk bepaalde beperkinge het wat saamhang met my eie beperkinge. Ons het almal ons beperkinge en geen teoloog kan oor sy eie skaduwee spring nie. My teologiese posisie is in groot mate bepaal deur my vorming en situasie. Dat ek met die teologie kennis kon maak in die tyd van die herontdekking van die reformatoriese teologie sedert die begin van ons eeu; dat my liefde vir die teologie gewek en gestimuleer kon word deur die lees van die geslag teoloë wat Barth, Brunner, Berkouwer, Van Ruler, Weber, Vogel, Iwand, Kreck, Ridderbos en anders ingesluit het – dit is ’n faktor waaroor ek self geen beskikking gehad het nie, maar wat ’n bepaalde stempel op my denke afgedruk het. Veral die teologiese metode van Berkouwer het ’n blywende invloed op my gehad.

Dit beteken eenvoudig dat ek van huis uit op die Europese teologie georiënteer was. Om die waarheid te sê, baie van ons het tot kort gelede nie eens besef dat dit Europese teologie is nie. Dit was vir ons eenvoudig “die teologie” sonder meer. Dit was immers die teologie wat histories in ’n direkte kontinuïteit voortgedink het op die grondslae wat reeds van die vroegste eeue af gelê is, toe Europa die bakermat van die Christelike teologie geword het. Die besef dat die Europese teologie self ’n kontekstuele karakter dra, het maar betreklik onlangs eers tot ons deurgedring. Die taak om die volle konsekwensies daarvan vir ons teologiese denke in Suid-Afrika te deurdink, laat ek graag aan die jonger geslag oor. Persoonlik meen ek dat die soort publiek waarop my werk gerig is, voorlopig nog behoefte het aan die teologiese verheldering van die geloofsinhoud waarby hulle lewe. Dit behoort hulle hopelik te help om beter te kan deelneem aan die gesprek rondom die waarheidsgehalte van ’n nuwe soort teologie.

Ek dink vir geen oomblik dat die teologie van die spesifieke periode en plek waarin ek gewerk het, die einde of hoogtepunt van die teologiese ontwikkeling as sodanig is nie. Dit geld ook van die soort “pastorale” teologie waarvoor ek in aansluiting by Berkouwer (en by Luther) gekies het. Ek het in my bespreking van Berkouwer se teologie reeds vroeër gesê dat hy dit miskien duideliker moet maak op watter wyse daar vanuit sy teologiese opset voldoende en ligitieme aandag aan die vrae van ons tyd gegee kan word (1973, 110). Dit kan geïnterpreteer word as implisiete kritiek teen sy teologiese metode (Malan: 1990, 346). Daarby kom nog dat die teologie in elke periode deur sy wysgerige gespreksgenote beïnvloed word. Die teologiese klimaat waarin ons in my tyd geadem het, is meer deur die gees van die eksistensialisme beïnvloed as deur die gees van die kritiese teorie en die neo-Marxisme wat sedertdien so sterk na vore gekom het. Dit het noodwendig gevolge gehad vir die soort teologie wat ons bedryf het.

Ten slotte merk in hierdie verband ook net op dat dit nie binne my vermoë lê om die vraag te beantwoord hoe die leer van die verkiesing in ’n Afrika-konteks vertolk kan word nie. Dit lyk vir my asof ons dit maar liewer aan die Afrika-teoloë self moet oorlaat. Om hulle te help, is dit egter nodig dat ons probeer om dit so Bybels moontlik te hanteer binne die dinkraamwerk wat tot ons beskikking is. Meer as dit kan ons eintlik nie doen nie.

  1. Wat my persoonlike beperkinge betref, dit hang ook saam met die soort stryd wat ek van die begin van my bediening af teen bepaalde situasies en opvattinge binne die Ned Geref Kerk gevoer het. Daarby het dit vir my gegaan om ’n poging om die kerk opnuut bewus te maak van sy reformatoriese erfenis. My stryd het veral gegaan teen die volkskerkkarakter van die Ned Geref Kerk, wat na my mening die identiteit van die kerk as kerk van Christus ernstig bedreig. Ek het geglo dat die beste manier om dit te verander, eenvoudig was om goeie reformatoriese teologie te probeer beoefen wat vanuit ’n inherente logika haaks sou staan op die soort denke wat meegebring het dat die Ned Geref Kerk tot ’n volkskerk kon word wat hom in bepaalde opsigte eerder deur ’n vorm van volksdenke as deur die Skrif en sy eie belydenis laat lei het. Ek het my taak primêr gesien as ’n teologiese taak om van binne uit die reformatoriese verstaan van die heilswoord en die visie op die kerk tot groter gelding te probeer bring. Vir baie het dit na ’n te stadige en onproduktiewe metode gelyk. Miskien was dit ook, en ek sal dit nie betwis dat die skopus van my teologie in die proses seker nie breed genoeg was nie.

Hoe dit ook sy, dit is waar dat ek (om te antwoord op die eerste deel van Naudé se kritiek) altyd eerder indirek as direk te werk gegaan het in my opposisie teen bepaalde denkrigtings in die kerk. Ek het nie altyd die implikasies van die teologie vir politiek en samelewing uitgespel nie. Hoewel ek myself welbewus nie geassosieer het met organisasies wat van ’n besondere roeping van die Afrikanervolk uitgegaan het en daarin ’n kwasi-teologiese onderbou aan hulle lojaliteit teenoor die Afrikaner-saak gegee het nie, het ek dit tog nie my taak gemaak om hulle spesifiek te bly bestry nie. Ek het teologies probeer om die religieus-gekleurde idee van ’n besondere geroepenheid van die Afrikaner te ontmitologiseer en die Christelike identiteit van die kerk op die voorgrond te stel.

Daarmee hang dit ook saam dat ek in die beoefening van my teologie te weinig eksplisiet op sulke sake ingegaan het as die waarna Naude verwys: die idee van die uitverkorenheid van die Afrikanervolk. Om die waarheid te sê, dit het nie eens by my opgekom om daaraan aandag te gee toe ek my boek oor die uitverkiesing geskryf het nie. Vir my besef lê dit so volkome buite die skopus van die dogmatiese leer oor die verkiesing dat ek glad nie daaraan gedink het nie. Noudat dit onder my aandag gebring is, besef ek dat dit seker goed en nodig sou gewees het om daaroor te praat. Maar dit moet vir almal duidelik wees dat die problematiek wat daarin aan die orde gestel word, iets anders is as die problematiek van die kerklike belydenis aangaande die uitverkiesing.

Dit gaan daarin om ’n stuk natuurlike teologie wat uit bepaalde historiese gegewens konklusies trek wat met die Skrifopenbaring niks te make het nie, behalwe dat dit op ’n willekeurige wyse ’n ongeoorloofde analogie tussen die Afrikanervolk en Israel poneer, en dan eenvoudig beweer dat die Afrikanervolk soos Israel in ’n besondere sin as God se geroepenes beskou moet word. Dit is ’n neiging wat in die geskiedenis van verskillende Westerse volkere voorgekom het, en dit is nie uitgeslote dat ons dit van verskillende kante af geërf het nie. Maar by die Afrikanervolk het dit om verskeie redes ’n virulente karakter ontwikkel wat vandag in die vorm van regse fanatisme uiters gevaarlike trekke aangeneem het (Strauss: 1990; Marais: 1990, 411–413).

Teologies is dit egter duidelik dat die lyn van die uitverkiesing van Israel volgens die Bybel nie deurgetrek word na ander volke nie, maar na die kerk van Christus. Dit is tipies van ’n bepaalde vorm van “wit teologie” om te probeer aantoon dat slegs rassuiwer blanke Europeane in ’n fisieke sin die ware Israel uitmaak. Maar ook waar dit ontken en bestry sal word, is daar nog diegene wat dit as ’n geloofsaak sien dat God sy heil “volksgewys” in die wêreld realiseer, en dat daar daarom dus ’n besondere band tussen God en die Afrikanervolk as Christen-volk tot stand gekom het (Geloof en Protes, 19–20). Ek meen dat hierdie soort denke geen basis hoegenaamd in die Skrif het nie. Volkere kan volgens die Skrif onder die voorsienigheid van God ’n bepaalde rol in die geskiedenis speel, selfs ’n rol wat van groot betekenis vir die kerk en die koninkryk van God kan wees, maar dit gee ons nog nie die reg om van hulle “verkiesing” in die pregnante sin van die woord te praat nie. God kan ook Kores in ’n spesifieke situasie sy kneg noem en Habakuk twis met God omdat Hy die Galdeërs in ’n bepaalde rol aangestel het. Maar ons moet voorsienigheid en verkiesing in Christus liefs duidelik van mekaar onderskei, anders kom ons tot dwaashede wat ideologiese trekke verkry.

Net so meen ek dit is teologies onaanvaarbaar om via die gedagte van God se besondere sorg vir die armes; of op grond van die feit dat Christus Hom in ’n besondere sin met die uitgestotenes, die lydendes en die armes bemoei het; of in die lig van die opmerking van Paulus dat die gemeente nie uit baie geleerdes of invloedrykes bestaan nie (1 Korintiërs 1:26; vgl. Uit vrye guns, 116), vérgaande konklusies oor die uitverkorenheid van die armes as sodanig, en dan sommer ook oor die uitverkorenheid van ’n hele ras te maak. Durand en Smit het hier die juiste weg aangewys deur duidelik te maak dat ons daarin met ’n “paradigma” van Gods radikale genade te make het, en versigtig moet wees om hierdie gesigspunt van die evangelie nie ideologies te misbruik deur te beweer dat Gods hulp en guns net vir bepaalde groepe van mense daar is, in teenstelling tot ander groepe nie (Durand: 1986, 109110; Smit: 1988, 33–34).

In albei genoemde gevalle het ons met ’n uitbreiding en verskuiwing van die begrip “verkiesing” te make wat nie Bybels verdedig kan word nie en ook nie regtig in verband staan met die tema van my boek nie. Dit gaan nie vir my op dat Naudé my behandeling van die heilshistoriese posisie van Israel gebruik as invalshoek vir sy kritiek in hierdie verband nie, selfs al verwys ek ook na redes waarom die diskussie rondom Israel vandag so relevant geword het. Ek het nie oor die posisie van Israel gehandel vanuit die gesigspunt dat dit ’n aktuele sosiaal-etiese vraag is nie, maar vanuit die oortuiging dat die verkiesing van Israel ’n aktuele teologiese kwessie is wat veral in die lig van Romeine 9-11 ’n bepaalde relevansie vir die verstaan van die aard van die uitverkiesing en die verbond het.

  1. Dit bring my by die kritiese opmerkinge van Fürstenberg, wat hoofsaaklik terminologies van aard is, maar waaragter daar tog ook bepaalde teologiese oorwegings skuil.

4.1       Wat die vraag betref of ek nie liewer van heilshistoriese universaliteit as van kerugmatiese universaliteit moes gepraat het nie, kan ek net sê dat die voorstel van Fürstenberg inderdaad aantreklik is en dat ek dit volkome daarmee eens is dat daar in die uitbreiding van die heil na Israel en die volke van ’n heilshistoriese universaliteit sprake is. Die saak waarom dit in die spesifieke paragraaf in my boek gaan, het egter nie direk te make met die verbreiding van die heil vanaf Israel na die volke nie, maar met die visie dat die heil tans in die prediking aan alle mense verkondig word as vir hulle bedoel. Die universaliteit waaroor ek praat, staan nie teenoor die partikulariteit van die óú bedeling nie, maar teenoor die partikulariteit van ’n bepaalde visie op die verkiesing.

4.2       Wat die terme verkiesing en uitverkiesing betref, het ek geen prinsipiële rede waarom ek die laasgenoemde gebruik nie. Trouens, ek wissel die twee terme voortdurend af. Maar dit is tog so dat die NAV nog steeds die tweede term gebruik en dat die problematiek waarom dit hier gaan, in die volksmond nog steeds die uitverkiesingsprobleem heet. Daarop wou ek juis ingaan. As dit pastoraal meer waarde kan hê om liewer van “verkiesing” te praat, het ek geen beswaar daarteen nie. Ek is egter nie so seker of dit die geval is nie, want ook in die term “verkies” sit tog ’n element van “uitkies”, al word dit minder sterk beklemtoon.

4.3       Wat die terme numerus clausus en pactum salutis betref, hoef ek nie op die laaste in te gaan nie, omdat Fürstenberg tereg daarop wys dat ek dit self eintlik afwys, omdat ek dit liewer met die term heilsplan wil vervang. Wat die eerste betref, gee ek toe dat dit belas is met ’n tradisie van deterministiese voorstellings, en ek kan daarom verstaan dat dr Fürstenberg dit liewer wil vermy. Maar streng genome is dit tog nie verkeerd om hierdie term te gebruik as ons dit reg verstaan nie. Die legitieme intensie daarvan is om te erken dat dit God alleen is wat in sy vrye guns die grense van die uitverkiesing bepaal. As ons nie van ’n deterministiese verkiesings-idee uitgaan nie, maar van die werklikheid van die verkiesing as daad van die drie-enige God, werk ons nie met die idee van ’n voortydelik vasgestelde aantal uitverkorenes nie, maar met die geloof in die deus decernens, die lewende, besluitende God, wat in sy verkiesende liefde deur die prediking van die evangelie mense uit die duisternis tot die wonderbare lig roep. Van ons uit gesien is dit ’n oop situasie waarin alle mense geroep en beveel word om in die geloof te aanvaar dat hulle in Christus uitverkies is. Maar daar bly natuurlik die geheimenis van Gods vrye genade dat God volgens die Skrif nie die weerstand teen sy genade wat by alle mense aanwesig is, ook by almal oorwin nie. Daar staan ’n beslissing van God agter ons geloof. En vanuit God gesien, wat alles laat gebeur volgens sy raadsbesluit (Efesiërs 1:11), lê daar ’n diepe troos in om te weet dat God diegene ken wat aan Hom behoort (2 Timoteus 2:19) en dat niemand van hulle uit sy hand geruk sal word nie. ’n Mens kan die term numerus clausus verkeerd en misverstandelik gebruik, maar jy kan dit ook as ’n vorm van lofprysing gebruik.

Bibliografie

Bremmer, RH. 1989. “Some problems in the doctrine of election”, in: Unity and diversity. Studies presented to Prof Dr Jells Faber. Toronto. College of the Canadian Reformed Churches, 57–69.

Berkouwer, GC. 1989. Zoeken en vinden. Herinneringen en ervaringen. Kampen, Kok.

Durand, JJF. 1986. Die lewende God. 2de druk. Pretoria. NGKB.

Geloof en protes”. ’n Antwoord namens beswaarde lidmate op sekere aspekte van Kerk en samelewing. Mei 1987. Pretoria. Aurora Pers.
Jonker, WD. 1973.

Malan, DJ. 1990. “Die funksie van die metodiek in die Christologie”. Proefskrif, Stellenbosch. Ongepubliseerd.

Marais, JC. 1990. “Wit Teologie. ’n Begripsverheldering.” NGTT, 3 September 1990, 411-416.

Smit, DJ. 1988. “Paradigms of radical grace”, in: On reading Karl Barth in South Africa (ed C Villa-Vicentio). Grand Rapids. Eerdmans, 17–43.

Stauss, SA. 1990. Rapport oor “Die Brits-Israel Beweging”, in: Agenda van die 8ste vergadering van die Algemene Sinode van die Ned Geref Kerk te Bloemfontein, 95–100. Sendingpers.