Geloof en bekering uit verbondsperspektief

GELOOF EN BEKERING UIT VERBONDSPERSPEKTIEF
WD Jonker

(Broederlike onderhoud, Sinode Suid-Transvaal 15.10.1991)

NOTULE VAN DIE NEGENDE VERGADERING
VAN DIE SINODE VAN SUID-TRANSVAAL
VAN DIE NEDERDUITSE GEREFORMEERDE KERK

Gehou in Germiston, Dinsdag 15 tot Donderdag 17 Oktober 1991

Ons onderwerp val logies uit-een in drie onderafdelings waaraan ons in drie vrae aandag moet gee:

(1)        Wat bedoel ons met die uitdrukking verbondsperspektief as ons praat oor geloof en bekering?

(2)     Wat is die gevolg van die verwaarlosing van die verbondsperspektief in die prediking en pastoraat van die kerk rondom geloof en bekering?

(3)        Watter verkeerde kyk op geloof en bekering kom na vore as die verbondsperspektief op ’n verkeerde manier in die kerklike lewe funksioneer?

  1. Die aard van die verbondsperspektief

1.1     Om te verstaan wat ons met verbondsperspektief bedoel, is dit nodig om eers te vra wat die verbond konkreet en prakties vir ons beteken. Ons kan dit saamvat deur te sê dat die verbond volgens die Bybel die vrye en genadige selfbeskikking en selfverpligting van God is waardeur Hy Homself verbind om in liefde vir sy volk ’n God te wees, en sy volk innerlik deur sy Woord en Gees te verander om in wederliefde vir Hom ’n volk te wees.

1.2     Let daarop dat ons hier twee elemente met mekaar verbind: (a) Gods selfverpligting, sy inisiatief, sy vrye liefde en genade aan die een kant, en (b) sy wil dat die mens van sy kant in vryheid en dankbaarheid, in wederliefde daarop moet reageer. Dit is wat ons bedoel as ons sê dat Gods verbond met sy volk tegelyk monopleulies en dupleuties is: dit gaan heeltemal van Hom uit en is die vrug van sy onverdiende vrye guns, maar dit is terselfdertyd bestem om in die vorm van ’n wedersydse persoonsverhouding te bestaan waarin die mens deur geloof en bekering in vryheid met God wandel. Daarom sê ons dat die verbond ’n belofte en ’n gebod bevat: die belofte van die selfverpligting van God om ons God te wees, en die gebod aan ons om dit te glo en daaruit te gaan lewe.

1.3     Die Bybel leer ons nou egter dat die verbond altyd ’n (soos Bavinck dit noem) organiese karakter dra. Dit beteken dat God nie sy verbond met los individue aangaan nie, maar met die mensheid as geheel (in die oorspronklike verbond met Adam), met sy uitverkore volk Israel (die verbond met Abraham), en met die een volk van God wat bestaan uit organiese komponente wat uit alle volke van die aarde in die verbond met Israel ingelyf is (vgl Romeine 9–11). Deurgaans speel die gesinsverband ’n deurslaggewende rol hierby: die struktuur van die jou en jou nageslag en al hulle geslagte” wat God teenoor Abraham uitgespreek het, word in die NT nêrens opgehef nie, maar inteendeel eerder bevestig (Handelinge 2:39; 16:15, 31 ens). Die universele volk van God omvat volgens Openbaring 21:3 volkere in die meervoud. Die volk van God is inderdaad die gemeenskap van mense uit elke volk en taal en stam en nasie wat kragtens die genadeverbond deur Christus deel het aan die heil en die vervulling van die oorspronklike bedoeling van God met sy verbond met die mense (H Bavinck: Our Reasonable Faith, 276 ev). Reeds op aarde bestaan die verbondsvolk as die universele gemeenskap van gedoopte mense uit elke volk en stam en taal en nasie.

1.4     Met die organiese struktuur van die verbond is dit nou egter gegee dat daar binne die verbond as historiese werklikheid onderskeid is tussen ware en ontroue bondelinge, tussen gelowiges en ongelowiges, tussen getroues en afvalliges, gehoorsames en ongehoorsames. In die verbond word die sedelike natuur van die mens nie opgehef nie. God werk nie anders met ons as langs die weg van belofte en gebod nie. Hy skenk ons sy liefde onvoorwaardelik, maar stel tog aan ons die eis om dit te ontvang. Die verbondsbeloftes is op die geloof gerig en kan sonder die geloof nie gesmaak word nie. Maar die Bybel leer dat nie alle bondelinge ook werklik glo nie. Binne die verbondskring vind daar ’n skiftingsproses plaas. Hierdie proses word voltrek deur die reaksie op die Woord en die belofte. Die verbond dra die karakter van ’n historiese grootheid wat in ’n proses van omgang met God betrokke is. In dié proses word die verkiesing van genade voltrek. Verkiesing en verbond vat nie saam nie. Die verbond is die historiese gestalte van die verkiesing waarin God nog steeds in ’n worsteling met sy volk verkeer. Dit verleen dodelike erns aan die beloftes van Gods kant en die beslissing wat in die geloof en bekering van die bondelinge val.

1.5     Intussen gaan die woord van die prediking en die oproep tot geloof en bekering die hele wêreld in. Almal word tot die heil geroep, en elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word. Vra ons na die verskil tussen mense binne die verbondskring en dié daarbuite, dan moet ons sê dat dieselfde Woord en beloftes natuurlik tot albei groepe kom, maar dat in die geval van diegene binne die verbondskring die woord en beloftes bekragtig word met die sakrament van die doop waardeur aan hulle nog soveel duideliker, tasbaarder en persoonliker die heil van God toegesê word en die “vir jou” soveel helderder uitgespel word. Hulle is werklik “naby” in die sin waarin Efesiërs 2:17–19 en Romeine 9:4 of 11:21 daarvan praat. Oor hulle is Gods belofte opgerig dat Hy aan hulle sy Heilige Gees sal gee om in hulle die geloof te werk. Hulle word omring van alle kante deur die getuienis van Gods liefde en in baie gevalle gaan hulle harte deur die werking van die Gees reeds op vroeë leeftyd oop in geloof en wederliefde tot God. Hulle groei by wyse van spreke op in die huis van die Here soos die klein Samuel. Maar daarom is die raaisel van ongeloof by hulle soveel groter en die oordeel daaroor ook soveel swaarder as in die geval van die andere.

1.6     Selfs die verbondskind is in sonde ontvang en gebore en vanweë die geheimenis van die kwaad is dit nie net waar dat elke mens ’n sondaar is en van nature ’n vyand van God nie, maar ook dat sy of haar lewe vol weerstand teen die genade is en dat daarom talle uit die verbondskring vir ewig verlore gaan. Die verbondsbeloftes werk nie outomaties nie. Geloof en bekering dra werklik ’n beslissende karakter met betrekking tot die heil. Die appel om tot die geloof te kom en die beloftes van die heil te omhels, is vir elke verbondskind net so noodsaaklik as vir diegene buite die verbondskring. Daarom is die Christelike opvoeding van die kinders en die plig van die ouers en die kerk om hulle te konfronteer met die beloftes en die eise van Gods Woord ’n saak van dodelike erns. Selfs vir die verbondskind aan wie al die beloftes van God sakramenteel betuig en bevestig is, geld die woord van Luther: Glaubst du so hast du, glaubst du nicht, so hast du nicht.

1.7     Konkluderend kan ons sê: Wanneer ons oor die verbondsperspektief praat, bedoel ons daarmee dat die kerk by sy arbeid aan die een kant moet uitgaan van die absolute prioriteit van Gods genade en sy liefdeswil wat in die lyn van die geslagte op ’n organiese wyse vir Hom ’n volk vergader, maar dat ons aan die ander kant moet besef dat dit geskied langs die weg van persoonlike geloof en bekering, langs die weg van die middele, en dus ook langs die weg van die nougesette diens van ouer en kerk om diegene binne die verbondskring tot ’n persoonlike oorgawe aan Christus en tot ’n lewe van dankbaarheid en toewyding aan God te lei.

  1. Die effek van die miskenning van die verbond

2.1     Wanneer die Bybelse waarheid van die verbond verwaarloos word, word die hele visie op die heil feitlik noodwendig individualisties. Die organiese visie op die kerk as die volk van God wat die heil ontvang binne die geledinge van die geskape bestaan, val dan weg. Natuur en genade staan volgens die Skrif nie teenoor mekaar nie. Die genade heilig die natuur, bevry en verlos dit van sonde. Daarom red God nie maar net los. individue soos korrels uit ’n tros nie, maar wil Hy die hele gesin red. Sy beloftes word gegee aan Abraham en sy nageslag, en in die nuwe verbond aan die gelowiges en hulle kinders. Die gemeente van die nuwe verbond bestaan uit gelowige gesinne. Dit is God se struktuur. In die praktyk werk dit ook so uit by kerke en groepe wat nie die kinderdoop praktiseer nie, maar hulle is so bang dat die element van die persoonlike, liefs radikale, bekering van enkelinge dan nie meer tot sy reg sal kom nie, dat hulle dit nie wil erken nie, Soos Adrio König in sy boek: Die doop as kinderdoop en grootdoop aangetoon het, beteken dit dat sulke kerke en groepe in ’n baie kunsmatige situasie beland met hulle eis van bekering voor doop waar dit om die kinders gaan wat in ’n Christelike gesin opgroei en reeds op jong leeftyd feitlik geruisloos hulle harte vir die genade van God open.

2.2     Die miskenning van die verbond kom by haas alle groepe binne die Christenheid voor, behalwe by die Gereformeerdes. Hierdie miskenning is egter nêrens so uitgesproke as in die Anabaptisme of Radikale Reformasie wat in die 16de eeu as die sg. linkervleuel van die Reformasie na vore gekom het nie. Kenmerkend daarvoor is ’n radikale teenstelling tussen die Ou en die Nuwe Testament. Die verbond met Israel word as ’n aardse en tydelike belofte verstaan, wat vernaamlik die land Kanaän tot inhoud het. In die Nuwe Verbond gaan dit egter om ’n geestelike verbond wat met die ewige heil te make het. Dit word met individue afsonderlik gesluit wanneer hulle hulleself bekeer. Daarmee tree ’n individualisering van die verbond in. Die verbond is nie die heilswerklikheid van God wat aan ons bekering voorafgaan nie, maar kom tot stand in die akte van ons bekering. Die voorkomende karakter van Gods genade word in ’n groot mate misken. Dit is nie vreemd dat daar in die geskiedenis ’n soort natuurlike aansluiting tussen die Anabaptisme en die Arminiaanse en metodistiese sigbaar kon word nie. Alles word gegooi oor die boeg van die persoonlike en vrywillige keuse van die enkeling, sy of haar persoonlike ervaring en inset vir die koninkryk. Enersyds word daarmee gereageer teen die doodsheid van die volkskerk, maar andersyds is dit tog ’n prysgawe van die Bybelse verbondsperspektief. Die hele wêreld, en ook die kerk, word tot ’n sendingveld verklaar. Met die verwerping van die kinderdoop word ook die ware karakter van die sakrament prysgegee. In plaas van ’n versekering en verseëling van die heil van Gods kant, word dit ’n menslike daad van getuienis en gehoorsaamheid (vgl in hierdie verband selfs Karl Barth).

2.3     Die gees van die Anabaptisme het die hele wêreld oorspoel. Die gevolg is dat ook kerkgemeenskappe wat nog die kinderdoop praktiseer, maar in werklikheid nie meer vanuit ’n verbondsperspektief leef nie, die kinderdoop ook nie meer reg verstaan nie. ’n Mens kan hier dink aan die Metodisme, wat wel nog die kinderdoop beoefen, maar sonder die troos van die verbond. Dit word miskien nog as ’n vroom handeling verstaan, maar daar word eintlik niks meer van verwag nie. Die belofte van genade wat aan ons beslissing voorafgaan, speel geen rol meer nie. Daar word in die hele werk van die kerk op geen manier op die doop geappelleer nie. Dit kon net so goed nie plaasgevind het nie. Die hele revivalisme waardeur die NG Kerk sterk beïnvloed is, val binne hierdie kategorie. En dit is die vraag of baie van ons werk onder ons jeug nie ook maar daardeur gestempel word nie.

2.4     Agter die Metodisme staan in die Engelse tradisie egter reeds die Puritanisme, wat die verbond as ’n ander term vir die uitverkiesing verstaan het, sodat slegs die ware verlostes tot die verbond behoort. Dit is deur Woelderink ’n “doperse element” in die Protestantisme genoem (vgl my: Uit vrye guns alleen, 92–96). Die praktiese gevolg daarvan is dat, wanneer aan die doop nog werklik betekenis verbind word, dit verstaan word as ’n beseëling, nie van die beloftes van God nie, maar van die innerlike heil wat reeds in die dopeling aanwesig is. Waar dit so gesien word, is die weg oop om die volwassedoop bo die kinderdoop te verkies, omdat dit dan eers in die mens se geloof duidelik kan word dat hy of sy verlos is, voordat die teken en seël van die genade aan hom of haar gegee word. Word die kinderdoop binne so ’n siening nogtans beoefen, is die gevaar groot dat nie veel erns daarmee gemaak word nie, omdat dit hoogstens verstaan word as ’n aanbod van genade wat eers effektief word deur die mens se vrye keuse. Ook dan word geen appèl op die doop in die pastoraat gedoen nie, maar slegs op die mens se vryheid om vir Christus te kies. Ek vrees dat dit by baie mense vandag die geval is dat hulle die kinderdoop as ’n byna nuttelose tradisionele plegtigheid sien wat ewe goed nagelaat kan word. Hulle sou liefs gedoop wil word na ’n persoonlike keuse van hulle kant. Die doperse spiritualiteit het om verskillende redes in die praktyk die gereformeerde spiritualiteit van betekenis beroof, ook in ons land.

  1. 3. Die gevaar van versaakliking van die verbond

3.1     Daar is egter nog ’n gevaar wat die gereformeerde kerke bedreig, en dit is dat die verbondsperspektief wel behou word en selfs met ’n sekere mate van selftevredenheid teenoor andere verdedig en gehandhaaf word, maar dat die ware geestelike betekenis daarvan verdwyn, omdat dit versaaklik word. Gereformeerdes kan maklik dink dat as ’n mens die suiwer leer het, jy dan ook alles het, en dit byna as iets vanselfsprekend sien dat ’n kerk wat ’n suiwer belydenis het, ook werklik die heil wat daarin bely word, deelagtig is. Dit is natuurlik lank nie die geval nie. Ortodoksisme is net so ’n groot gevaar vir die regte omgang met die verbond as wat miskenning en verwaarlosing daarvan is. Ortodoksisme bring mee dat daar ’n formalisering van die heil in die kerk plaasvind, dat die kaders orent gehou word, maar dat die lewe daaruit verdwyn.

3.2     Ek praat hier met u as iemand wat op ’n geweldige wyse aangegryp is deur die skrik vir die ontkerkliking van die gereformeerde jeug in Nederland, en met name ook binne die kring van kerke met wie ons ’n baie intieme verhouding gehad het en van wie ons ontsettend baie geleer het. Veral binne die kader van die Jeugjaar pas dit ons seker om daaraan aandag te gee en die vraag te stel hoe dit gebeur het dat groot getalle jongmense vir die kerke verlore geraak het. ’n Mens moet in hierdie verband die boek van K Runia lees: Waar blijft de kerk? (Kok, Kampen, 1988), of van C Graafland: Gereformeerden op zoek naar God – Godsverduistering in het licht van de gereformeerde spiritualiteit (De Groot-Goudriaan, Kampen, 1990). Dit dwing jou tot die vraag hoe dit gekom het dat die kerklike lewe van kerke of groepe binne kerke wat tot betreklik onlangs nog ’n bloeiende kerklike lewe gehad het en vir ander kerke in die wêreld ’n voorbeeld was, vandag moet sien hoe hulle jeug van hulle af weggaan – nie maar na die doperse groepe, wat blykbaar ook maar net ’n tussenstadium verteenwoordig nie – maar om heeltemal buitekerklik te word.

3.3     Daar sal ongetwyfeld verskillende antwoorde op hierdie vraag gegee moet word, nie slegs een nie. Ons het te make met ’n verskynsel wat sekerlik ook ’n kulturele karakter dra, en dit is ook nodig om te sê dat die hele verval van die Christendom in Europa as ’n oordeel van God gesien moet word. Maar een van die antwoorde wat tog óók gegee sal moet word en wat vir ons eie situasie van betekenis is, is dat dit ook te make kan hê met ’n versaakliking van die verbondskonsep wat daartoe gelei het dat kerke en ouers nie meer daarin geslaag het om hulle kinders werklik tot persoonlike geloof en bekering te help kom nie. Te maklik is maar aanvaar dat alles wel met die kinders is as hulle gedoop is en binne die kerklike kringe katkiseer en opgroei met kennis van die ware leer. In Christelike skole is die kinders opgevoed en is hulle bygebring waarin “wij Gereformeerden” eintlik in lewenstyl van ander mense verskil. Die ware principia vir politiek en allerlei Christelike aksies is die jeug ingeskerp. Maar wat ontbreek het, is die ervaringsmatige, beslissingsmatige, die eksistensiële toeëiening van wat ons in Christus reeds besit. En waar hierdie element ontbreek, kan ’n mens wel jou kinders nog in die gesonde leer onderrig, maar as jy nie onder die krag van die Heilige Gees deurstoot daartoe om die kinders tot die rus van die geloof in die beloftes van die doop te lei nie, versaaklik alles en versand dit op die duur.

3.4     Ongetwyfeld moet ons ernstige kritiek teen die piëtisme en metodisme hê. Maar ons moet tog ook weer versigtig daarvoor wees om in antitese teenoor die verkeerde aksente wat daarin lê word, die saak waarom dit vir alle Christene moet gaan, nl. die egte geloof en bekering wat ook ’n eksistensiële ervaringskant het, op die agtergrond te laat raak. Ek vrees dat dit ongelukkig in sommige kringe in Nederland gebeur het. Te dikwels is die saak van die persoonlike bekering soos dit ook in die kategismus omskryf word, nie as iets ervaringsmatig verstaan en ondergaan nie. Dan word godsdienstige lewe ’n saak van moraliteit, idees en principia. Ons moet geen fout maak met betrekking tot die egte, deurleefde soort vroomheid van ons belydenisskrifte nie. Dink hier in die besonder aan die Heidelbergse Kategismus wat ’n dokument is waarin die hart van die Reformasie klop. Dit is ’n vroom dokument. As daar oor bekering gepraat word, word uitgespel dat dit daarin gaan om ’n hartlike berou oor ons sonde en ’n wegvlug daarvan, terwyl dit aan die ander kant ’n hartlike vreugde in God deur Christus is en ’n lus en liefde om volgens die wil van God in alle goeie werke te lewe (vr. 89-90). Niks minder as dit is goed genoeg nie. Hierdie antwoord word in die HK gegee word teen die agtergrond van die hele uiteensetting oor die prioriteit van Gods genade. Dit wil aan ons sê dat bekering nie maar net ’n eenmalige en kragdadige ervaring is wat ’n voorwaarde vir die heil is nie, maar ’n proses wat as vrug van die ontvange genade hoe langer hoe dieper ons hele lewe moet bepaal. Daarin kom die verskil met die metodisme duidelik uit. Maar dit is ’n antwoord wat ’n radikale beslissing veronderstel en die begeerte om op grond van Gods genade en deur Gods genade in ’n nuwe lewe van gemeenskap met Hom te lewe.

3.5     Die verbondsperspektief in verband met geloof en bekering beteken dat ons as gelowige ouers wat ons kinders ten doop gebring het, hulle van kleins af moet opvoed in die kennis en vrees van die Here. Dit moet die voorreg en eer van ’n ouer wees om self sy kindertjies tot die geloof in Jesus te lei. Hulle is reeds naby. In die doop is dit reeds aan hulle beseël dat God hulle van al hulle sondes reinig en hulle tot sy kinders en erfgename aanneem. Hulle is reeds omvat deur die genade. Hulle moet dit net leer sien en hulleself daaraan oorgee. Daar moet by hulle ’n moment van bewuste aanvaarding van die heil wees. Die hulp wat die kerk aan die ouers lewer, is dat die kerk self deur sy werk by die kinders die noodsaaklikheid van ’n egte persoonlike bekering moet inskerp en die kind daarin moet opbou. Dit kan nie en moet nie geforseer word nie, maar dit moet in die lig van die verbond as ’n logiese en natuurlike saak gesien word dat ons kindertjies van jongsaf moet leer om te bid, te glo, te bely, teen die kwaad te stry, en vreugde in God deur Christus te hê. Ons moet ons kinders leer om hulle doop te verstaan. Dit kan alleen gebeur as ons op die regte wyse in ons prediking en pastoraat voortdurend aan die doopsbeloftes herinner en daarop appelleer, sodat ons kinders kan leer om hulle in diepe dankbaarheid daarop te verlaat en as kinders van God daaruit kan lewe.