Die ampsdraer as dienskneg van die Here in die kerk vandag

DIE AMPSDRAER AS DIENSKNEG VAN DIE HERE IN DIE KERK VANDAG

Broederlike onderhoud van die Sinode van Wes-Kaap, 19.10.1991
WD Jonker

Lees: Johannes 13:1–16; Markus 10:41–45; Filippense 2:5–8

Soos die onderwerp geformuleer is, is daar vier begrippe wat na vore kom, wat ek graag in die volgende volgorde wil onderstreep: vandag, kerk, ampsdraer en dienskneg. Ons kan elkeen van hierdie begrippe vir ’n oomblik oorweeg in die lig van die situasie waarin die kerk homself op hierdie tydstip in ons land bevind. Dit sal vir u duidelik wees dat die onderwerp dan die vorm aanneem van ’n aantal konsentriese sirkels wat ons steeds dieper laat indaal na die middelpunt en fokus van die oordenking wat in die laaste begrip aan die orde gestel word: die begrip dienskneg.

  1. Vandag. Ons hoef maar elkeen ’n oomblikkie stil te word om aan ons self die antwoord te probeer gee op die vraag: Wat hou die begrip vandag vir ons in? Ons sal waarskynlik almal verskillende aksente lê en verskillende dinge raaksien as tiperend van ons tyd en situasie, maar daar sal ook ’n aantal dinge wees wat dadelik in ons almal se gedagtes sal opkom. Mag ek ’n aantal daarvan noem.

(a)     Ek sou wil begin deur te sê dat “vandag” vir ons die einde beteken van die bloedigste eeu in die geskiedenis van die mensheid. Woeste en wrede oorloë wat telkens die hele wêreld geraak het, het in ons eeu gewoed. Die menslike mag tot vernietiging, selfs die vernietiging van die hele wêreld, het ontsaglik toegeneem. Ons eeu het die hoogtepunt gebring van die menslike wetenskaplike en tegniese vermoëns, maar dit het terselfdertyd ook aan die lig gebring hoe bedreig ons hele menslike bestaan en beskawing is, omdat ons besig is om die tak waarop ons sit, self af te saag in ’n ongekende vernietiging van ons eie lewensruimte en die lewensmoontlikhede van toekomstige geslagte.

(b)     Maar “vandag” beteken in ’n spesifieke sin ook vir ons die situasie van ontsaglike veranderinge. Miskien staan die groot politieke en maatskaplike veranderinge in ons bewussyn voorop, waarmee vanself weer talle veranderinge saamhang. Sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog het daar ’n einde aan die koloniale tydperk gekom. Die lande van die sg. Derde Wêreld het geroep om hulle onafhanklikheid en dit ook gekry. Daardeur het ’n totaal nuwe politieke en ideologiese situasie ontstaan. Terwyl die einde van die koloniale tydperk vir die onvrye volkere vreugde beteken het, het dit vir die blankes wat op die grens tussen die wêrelde lewe, groot onsekerheid gebring. Ons land word ten diepste daardeur geraak, want ons was nog die laaste oorgeblewe pos uit die koloniale tydperk waarin blankes nie-blankes oorheers het, en as sodanig is ons situasie ’n anomalie in die wêreld van vandag wat om verandering geroep het. Waar ons volk die twintigste eeu binnegetree het tydens ’n oorlog teen die imperialistiese Engeland, sluit ons dit af in ’n situasie van onsekerheid met die vraag op ons lippe waarheen die ingrypende veranderinge van vandag ons sal lei.

(c)     En dit is juis hierdie veranderinge en onsekerheid waardeur ons situasie tans gestempel word. “Vandag” beteken vir ons ’n tyd van daaglikse geweld, van ’n geweldige polarisasie tussen groepe en partye in ons land, van sinlose bloedvergieting, van polarisasie en radikalisme na links en na regs, van onbeskryflike lyding binne ons swart gemeenskappe, van ekonomiese insinking en groeiende armoede ens. Vir baie mense in ons land is “’vandag” ’n dag van hopeloosheid en matelose ellende. ’n Mens is soms bang om in die oggend die koerant oop te maak, want elke dag bring dit opnuut die tyding van vreeslike dinge wat weer gebeur het, en dit is maar of daar geen ligstraaltjie wil deurbreek wat ons werklik hoop vir die toekoms kan gee nie.

(d)     Ons leef egter nie net in ’n tyd van politieke verandering nie, maar ook van geweldige kulturele veranderinge. “Vandag” beteken vir ons dat ons deel in die sekularisasie wat in die Westerse wêreld ingetree het, wat inhou dat die godsdiens steeds meer uit die openbare en persoonlike lewe verdwyn. Die Christendom verloor die dominante posisie wat dit in baie lande eeue lank gehad het. Selfs binne kerklike kringe word daar geklae oor die sg. Godsverduistering, die gevoel van die afwesigheid van God. In Europa is ’n proses van ontkerstening besig om homself te voltrek, en ons sal nie onaangeraak daardeur kan bly nie. Die praktiese gevolge daarvan voel ons vandag reeds in die enorme verskuiwing wat daar in ons norme, sedes en waardes ingetree het. Die huwelik skyn soms op pad uit te wees. ’n Verwildering van die sedes het ingetree. Die tegniese moontlikhede waaroor by die mediese wetenskap beskik, laat morele vrae na vore kom waarvan niemand in die verlede gedroom het nie.

  1. Maar ons moet ons haas om voort te gaan na die tweede begrip, die begrip kerk. Die vraag is wat “vandag’ die posisie van die kerk is. Ek wens dat ek die nogal donker prentjie wat ek tot nou toe van “vandag” geskets het, kon omdraai om ’n hoopvolle beeld te teken. Maar ek vrees dat dit nie heeltemal moontlik is nie. Is dit nie waar dat die kerk veel van sy vroeëre aansien verloor het nie? Dit geld in elk geval baie sterk in die lande van ons herkoms, maar ook in ons land is daar tekens dat die geestelike invloed van die kerk in die samelewing besig is om te verminder.

Die kerk vind homself vandag al meer in ’n posisie waarin die voortgaande sekularisasie meebring dat die kerk en sy wense en standpunte eenvoudig geïgnoreer word. Dink maar aan die sekularisering van die Sondag. Wie steur hom nou eintlik aan die wense en oortuigings van die kerk? Miskien het die kerk self daarna gemaak deur sy optrede in die verlede en die noue verbintenis met die staat waarin baie van ons lidmate invloedryke posisies beklee het, sodat die kerk te veel op die staat gesteun het. Maar noudat daar ’n groter afstand tussen kerk en staat begin ontwikkel, beteken dit vir die kerk ook ’n groter weerloosheid. In die toekoms sal die Ned. Geref. Kerk nie meer dieselfde invloedryke posisie as in die verlede beklee nie. Ons sal in die toekoms rekening moet hou met ’n kerklike en godsdienstige pluralisme in ons land wat ’n totaal nuwe situasie sel meebring.

In meer as een opsig sal die kerk vandag moet leer om op ’n ander wyse as in die verlede op te tree. Bloot getalsmatig vorm die Ned Geref Kerk lank nie meer die hoofmoot van die Christendom in die land nie. Die dominerende posisie wat die kerk vroeër besit het, is iets van die verlede. Die Ned. Geref. Kerk is nie meer ’n werklik groeiende kerk nie, en hy sal in die toekoms miskien ’n minderheidskerk, en selfs ’n kwynende kerk word wat die getal lidmate betref. Hy sal geen vanselfsprekende invloed meer hê nie. Die kerk sal in die toekoms sy invloed moet “verdien”. Daar is ’n proliferasie van godsdienstige groepe en sektes en vrye groepe wat met die gevestigde kerke meeding om die oor van die bevolking. Die Ned. Geref. Kerk is bloot finansieel nie in staat om mee te ding met die soort geld wat uit Amerika en elders bestee kan word om ’n bepaalde boodskap deur die massa-media in ons land in te dra nie

Die Ned. Geref. Kerk is daarnaas vandag ook in die onbenydenswaardige posisie dat sommige van sy lidmate baie ongelukkig is oor die koers wat die kerk tans in sy beoordeling van die politieke situasie in ons land ingeslaan het. Die beswaardes ervaar dit as ontrou van die kerk teenoor die Afrikanervolk. Die Ned. Geref. Kerk wil offisieel nie ’n volkskerk wees nie, maar in die praktyk het die Ned. Geref. Kerk in die verlede tog maar die karakter van ’n volkskerk aangeneem. Dit het onder andere beteken dat ’n groot deel van die lidmate van die kerk se verbintenis met die kerk nie gedra is deur hulle verlossing in Christus nie, maar deur hulle verbondenheid met die Afrikanervolk. Baie van hulle verwag ook dat die kerk ’n kerk vir die Afrikaner moet wees wat sy belange ondersteun en behartig. Hulle kan nie geestelik oor die kerk dink nie, omdat hulle nie werklik vanuit die Bybel oor die kerk dink nie, maar vanuit die volksreligie. Daarom het die kerk sy geloofwaardigheid by baie lidmate verloor. Met skrik ontdek ons tans hoe baie lidmate van die kerk die evangelie van die kruis nie werklik verstaan nie, laat staan nog die implikasies daarvan vir die kerk.

Hoewel dit noodsaaklik is om deernis te hê met talle van ons lidmate wat in hierdie situasie verkeer, en hoewel ons alle moeite sal moet doen om misverstande en vooroordele by hulle te verwyder, het ons tog geen ander keuse as om te volhard op die weg wat die kerk gekies het nie: die weg van trou aan die Woord van God en die ware wese van die kerk as kerk van Christus. Daarvoor het ons ’n nuwe salwing met die Gees van God nodig, want daarsonder sal ons niks vir hierdie land en spesifiek vir die Afrikaners in ’n tyd van oorgang en verwarring kan beteken nie

  1. Maar ons kom tot die derde begrip: ampsdraer. In die veranderde situasie van die kerk gaan die onus veral op die ampsdraers rus om ’n nuwe begin te maak en in hierdie situasie ’n rol van betekenis te speel. Daarby gaan dit uiteraard om al die ampte in die kerk, vanaf die amp van die gelowiges tot by die besondere ampte. Maar dit is tog veral die predikante en die ouderlinge waarvan hier ’n groot aantal verteenwoordig is, wat dit op hulle moet neem om verantwoordelikheid te aanvaar vir die situasie waarin ons vandag verkeer.

Ook in hierdie opsig gaan ons vandag deur ’n smeltkroes. Die beeld van die ampte het saam met die algemene beeld van die kerk ook veel aansien verloor. Dit hang gedeeltelik saam met die voortskrydende sekularisasie, maar dit hang ook daarmee saam dat ons in die afgelope tyd net te veel gevalle belewe van predikante wie se optrede en gedrag geen advertensie was vir die boodskap wat hulle verkondig nie. In ’n lesing onder die titel: Als een riet in de wind… het ek indertyd (1970) in Kampen reeds op hierdie bedreigde situasie van die ampte ingegaan.

En tog is dit nog steeds so dat dit in die eerste plek die verantwoordelikheid van die ampte is om die kerk in hierdie uur in sy moeilike situasie te dra en op te bou. God gebruik altyd weer mense om sy volk uit ellende uit te lei. Daarom is dit ook iets waaroor ons moet nadink, dat die Here dit so beskik het dat juis ons in hierdie tyd ampsdraers in die kerk moet wees. Ons kan na niemand anders kyk om dit te doen nie. Die onus rus op ons. Christus verwag dit werklik van ons om “vandag” onsself opnuut daartoe te verbind om as ampsdraers so op te tree en ons roeping op sodanige wyse te vervul, dat sy Naam daardeur verheerlik sal word en dat die opdrag van die kerk uitgevoer sal kan word.

Trouens, dit is vir my besef ook op hierdie punt dat ek ’n draai in my betoog wil maak. Tot nou toe het ek hoofsaaklik ’n somber prentjie geskilder van die moeilikhede van “vandag”, maar daarby kan ons tog werklik nie bly staan nie. Dit is immers waar dat Christus juis aan Petrus en alle ampsdraers die versekering gegee het dat die kerk op hulle belydenis gebou sal word en dat die magte van die doderyk dit nie sal oorweldig nie (Matteus 16:18). Al is die ampsdraers dan ook soos Johannes soos ’n riet wat deur die wind beweeg word, dit is tog Gods weg met die wêreld om juis deur hulle getuienis heen sy koninkryk te laat kom. Nie hulle eie krag nie, maar die krag van die Woord van God wat skerper is as enige twee­snydende swaard (Hebreërs 4:12), is in staat om die gemeente van Christus uit die wêreld te roep en by die heil te bewaar. Deur die dwaasheid van die prediking wil God die wêreld red (1 Korintiërs 1:21). Die kerk is die sout van die aarde en die lig van die wêreld, ’n stad wat bo-op ’n berg lê en nie weggesteek kan word nie (Matteus 5:13 ev). En die ampte in die kerk het die roeping om juis vandag die kerk in hierdie getuienisfunksie te dien.

  1. Maar daaraan is ’n belangrike voorwaarde verbonde. Op hierdie punt gaan ons daartoe oor om aandag te skenk aan die vierde begrip: dienskneg. Dit is vir my baie duidelik dat die kerk nie vandag meer vanuit ’n magsposisie in die samelewing kan funksioneer nie. Die kerk sal alleen invloed kan hê as hy dit deur sy diensknegsgestalte en sy ware dienslewering verdien. Watter verskillende moeilike situasies die term “vandag” ook al voor ons oproep, hulle kan almal alleen aangepak word deur ampsdraers wat hulleself verstaan as diensknegte van die Here, en van niemand en niks anders nie. Hulle hoogste lojaliteit mag by niks anders lê nie, nie by hulleself of by ons volk of selfs by die kerk as historiese grootheid nie, maar slegs by die saak van God.

Maar as diensknegte van die Here is ons ook in staat om diensknegte van die mense te wees, om Christus ontwil (2 Korintiërs 4:5). Hierdie diensknegsgestalte kan verskillende vorme aanneem. Ons sat moet verstaan dat ons in ’n tydperk waarin die kerk veel aansien verloor, waarin sekularisasie hand oor hand toeneem, waarin ons woorde van getuienis dikwels nie meer gehoor kan word nie, bereid sal moet wees om deur ons diens aan die mense in die wêreld die liefde van Christus sigbaar te maak – en so die weg te baan vir die woorde van sy belofte. In die gebroke en gewelddadige situasie van ons land sal dit nie ons vrome woorde wees nie, maar ons dade en gesindhede, ons onbaatsugtige diens aan alle ellendiges, wat die beste getuienis vir die evangelie sat wees. Dietrich Bonhoeffer het gesê dat die kerk ’n kerk vir andere moet word, net soos Christus die mens vir andere is. Christus leer ons dan ook dat die kerk alleen betekenis het as hy in ’n diensknegsgestalte kan tree en werklik sy lewe in diens vir die wêreld aflê. Dit het Christus gedoen, en ’n dienskneg is nie groter as sy heer nie.

Te lank het die kerk ’n posisie van waardigheid en eer, selfs ’n posisie van heerskappy ingeneem. Die kerk het sedert die dae van Konstantyn in die Westerse wêreld ’n posisie van eer en mag beklee, maar hy het ook daarvoor betaal deur veel van sy eie aard en geestelike karakter in te boet. Watter voordele ’n openbare magsposisie en aansien ook al vir die kerk mag ingehou het, dit kan nie ontken word nie, dat dit ook ’n blok aan die been van die kerk was by die vervulling van sy ware geestelike roeping. Die kerk boet op die weg sy geestelike vryheid in. Die kerk gaan heers saam met die heersers. Die tyd het gekom dat die kerk homself in ’n diensknegsgestalte tot die wêreld moet wend.

Dit is nie net deur ons woorde dat ons mense vir Christus kan wen nie, dit is veral ook deur ons gesindhede en ons dade. As die kerk vandag in hierdie wêreld, en ook in ons land werklik gehoor wil word, sat hy sy getuienis nie net met die woord nie, maar ook met die daad moet uitdra. Die kerk sal meer as ooit tevore moet ingaan in die nood en armoede en ellende van die mense. Die kerk sal meer as tevore deernis moet hê met die materiële, liggaamlike, psigiese en geestelike nood van die wêreld en met lydendes oor alle grense heen. Ons kan die Here daarvoor dank dat die Ned. Geref. Kerk in hierdie opsig ’n ryke tradisie uit die verlede meebring, maar ons sal meer as tevore met ons gesindheid, dade, offerbereidheid en identifikasie met mense duidelik moet maak dat ons diensknegte van Christus – en dus ook van die lydende en verlore mensheid is.

Dit geld van die kerk as geheel, maar dit geld ook in die besonder van die individuele ampsdraer. Dit kan so maklik gebeur dat ’n mens ’n ampsdraer kan wees wat wil heers, eerder as om te dien, wat eer en waardigheid wil ontvang, in plaas daarvan om almal se dienaar te wil wees. In die tyd toe die kerk nog ’n sterk wêreldlike aansien gehad het, is die dienskneg van die Here dikwels oorlaai met die wêreldse waardigheid van ’n “dominus”, ’n heer. Maar daardie tyd is nou verby. Predikante wat nog steeds meen dat hulle deur die gemeente en die samelewing geëer behoort te word vanweë hulle posisie, vergeet dat die Here self nie geëer is nie, maar gekruisig is. Veral Kierkegaard het die verwording van die Deense staatskerk gehekel, omdat die uiterlike eer en waardigheid van die kerk lynreg in stryd staan met sy eie belydenis en wese as dienskneg van Christus.

In die gedeelte oor die voetwassing in Joh. 13 wil Christus juis hierdie les aan sy dissipels en aan sy kerk leer. Die pons maak nog steeds jaarliks ’n simboliese gebaar deur voor die Paasfees op straat uit te gaan en die voete van twaalf armes en ellendiges te was. Dit mag ’n sinvolle gebaar wees. Maar die vraag is of sy hele ampsheerlikheid nie vloek teen die bedoeling van Christus nie, en of die bedoeling nie eerder is dat die hele bestaan van die kerk die tekens van nederige diensbaarheid moet dra nie.

Die vraag waarvoor almal van ons as ampsdraers gestel is, is wie ons werklik dien: ons self of Christus. In die geskiedenis van die voetwassing wil Christus aan ons leer om die hele weg van sy vernedering en self ontlediging te gaan (vgl Filippense 2). So dikwels is ons lewe totaal anders. ’n Mens kan so maklik vol van jouself wees. Jy kan so maklik eerder vir jouself en jou eie eer werk as vir Christus. Jy kan so gewoond raak aan die heilige dinge, dat jy soos die seuns van Eli jouself eerder wil behaag as om die eer van God te soek. Jy kan so vervul word met ander ideale, by van politieke ideale, dat jy eerder ’n dienskneg van ander dinge word as van Christus en sy saak.

So dikwels hoor ’n mens die verhaal van predikante wat so gesteld is op hulle eie gemak en gerief, dat dit vir gemeentes moeilik word om te glo dat hulle werklik diensknegte van die Here is. Te dikwels hoor ons ook van predikante wat in sonde vat en die Naam van Christus smaad aandoen voor die wêreld. Ons moet altyd met vrees en bewing besef dat dit ook met ons kan gebeur dat, terwyl ons vir andere gepreek het, ons self verwerplik kan wees. Veral talentvolle, ywerige suksesvolle predikante moet baie bewus wees van die feit dat hulle nooit so naby aan hulle val is nie, as wanneer hulle skynbaar groot sukses behaal. Dan word ’n mens so maklik te groot vir jou skoene. En as ons te groot word vir ons skoene, is ons ’n maklike prooi vir die duiwel. Daar is min dinge wat vir ons so diep verborge is as ons eie motiewe. ’n Mens kan baie maklik jou eie intensies vir jou self verberg. En terwyl jy nog dink dat jy werklik vir die Here werk, is jy reeds besig met selfverheerliking – en selfvernietiging.

Christus moes sy dissipels telkens leer dat grootheid nie daarin bestaan dat ’n mens deur ander gedien word nie, maar daarin dat jy bereid is om te dien. Dit sien ons in die gedeelte uit Markus 10:42–45. Maar ons moet hier ook aan Paulus dink, wat in 1 Korintiërs 9 verduidelik hoe hy sy werk verrig het. Hy het nie op sy regte gestaan nie, maar was bereid om vir almal alles te word. Dit beteken nie dat hy bereid was om die waarheid van die evangelie aan te pas om aan almal se begeertes te voldoen nie. ’n Dienskneg is nie ’n beginsellose mens wat maar net almal wil behaag nie. Ook dit is ten diepste altyd weer ’n vorm van self-diens. Hy neem inteendeel juis die taak op hom om die waarheid te dien. Dit beteken onder meer dat hy bereid is om eie voorregte en gemak prys te gee, om die minste te wees, ten einde die saak van die Koninkryk te dien. Dit kan meebring dat ons by geleentheid selfs teen die populêre stroom moet ingaan. Maar ons doen dit soos Christus in die gestalte van ’n dienskneg en nie met die bravade van een wat graag opgemerk wil word nie, selfs al kos dit uiteindelik die kruis.

In die nuwe situasie in ons land sal die kerk as geheel, maar ook elke ampsdraer moet leer dat sy of haar invloed eweredig is met die egtheid van ons gestalte as diensknegte van Jesus Christus, en juis daarom ook diensknegte van die gemeentes en van alle mense. Mag die Here ons die genade skenk om werklik diensknegte in die volle sin van die woord te word!