Dit was enkel goed vir my

DIT WAS ENKEL GOED VIR MY
Die Burger, 20 Maart 1993

Dit is natuurlik dat ’n mens met alles in jou vermoë probeer om swaarkry en pyn van jou af weg te hou. Tog leer die lewe dat negatiewe ervarings dikwels lei tot lewensverdieping wat langs geen ander weg bereik sou kon word nie.

In die digwerk van Totius is daar byvoorbeeld soveel spore van die pyn wat hy gely het. Die naamlose verdriet oor die verlies van sy twee kinders wat so rou in sy bundel Passieblomme na vore kom, gryp ’n mens vandag nog in die hart. Maar dit is in sy werk ook onmiskenbaar dat hy nie met bitterheid aan sy leed teruggedink het nie, maar God gedank het vir wat hy daardeur geleer het.

Miskien is dit juis wat van hom so ’n besonder geskikte persoon gemaak het om die Psalms te berym. Ook die Psalms is vol herinneringe aan lyding en pyn, maar dit word voor die aangesig van God uitgespreek. Daarom is die pyn wat daarin vermeld word, gelouter deur die wete dat God daarin aanwesig is en dat sulke pyn vir ’n mens tot seën word.

Op ’n onvergelyklike wyse het Totius Psalm 119:65–72 tot ’n lied van troos en innerlike oorwinning gemaak. In strofe 25 van die berymde Psalm word gesê:
Dat U my verdruk het, Here,
dit was enkel goed vir my,
want daardeur het U my
dieper in u kennis ingelei.

’n Mens kan jou voorstel dat Totius dit met diepe oortuiging en uit eie innerlike ervaring geskryf het, omdat hy in die woorde van die Psalm­digter sy eie weg met God herken het.

Dit is die ervaring van die geloof. Net ’n gelowige mens word deur teenspoed, teleurstelling en pyn nader na God gebring en leer dan om God daarvoor te dank. Dit het Job al ervaar, en dit leer gelowiges deur die eeue telkens weer.

Dit sal ook in die moeilike tye wat hierdie land tans beleef, die ervaring van die geloof wees. Die onsekerheid, teenspoed, drastiese daling van die lewenspeil, die armoede en kommer of daar môre nog genoeg sal wees om van te lewe – dit is pynlike dinge, maar hulle is nie net negatief nie.

Dit kan wees dat talle mense daardeur weer die weg na hulle knieë sal vind en die rus van vertroue op God sal leer ken. Dit kan wees dat gesinne weer hegter aan mekaar gebind sal word en dat daar weer meer deernis met mekaar sal kom as die ban van materialisme wat die vyand van liefde is, verbreek kan word.

Dit kan wees dat die kerk en die gemeenskap van die gelowiges weer vir baie mense ’n nuwe betekenis sal kry en dat daar na ander en beter waardes gestreef sal word as in ’n tyd van oorvloed en roekelose gerigtheid op die dinge wat geld kan koop.

Dit kan wees dat baie God nog sal dank vir hierdie moeilike tyd, omdat dit hulle verhouding tot Hom verdiep het. – WDJ