Die verduistering van die mens se verhouding tot God

DIE VERDUISTERING VAN DIE MENS SE VERHOUDING TOT GOD

Referaat gelewer tydens Moraliteitskrisiskonferensie
17 September 1993
Bloemfontein

WD Jonker
Stellenbosch

Samevatting

  1. Dat ons vandag in ’n moraliteitskrisis verkeer, sal deur almal toegegee moet word wat enigsins kennis neem van die verval van morele standaarde in ons land. Die aard en omvang daarvan kan die maklikste verstaan word as ons sê dat daar ’n basiese voorwaarde is vir enige samelewing om as leefbaar beskou te kan word, waarsonder dit in chaos verval. Daardie voorwaarde is die aanwesigheid van ’n bepaalde vlak van die sg. burgerlike deugsaamheid soos eerlikheid, betroubaarheid, pligsbesef, respek vir die medemens se lewe en eiendom, wetsgehoorsaamheid ens. Waar dit ontbreek, sal ’n samelewing van binne uit verrot en op die duur onuithoubaar word. Ons praat dan nog nie eers van die Christelike deugde wat volgens die Bybel in die samelewing behoort te heers nie. Ons praat nog maar van die algemeen-menslike minimum van ordentlikheid, eerbaarheid en verantwoordelikheid waardeur ’n samelewing moontlik word. As die tekens nie bedrieg nie, is ons samelewing in hierdie land tans vinnig besig om ook hierdie minimum te verloor. Dit is wat ons bedoel as ons van ’n moraliteitskrisis praat.
  1. As ons na die oorsake van die moraliteitskrisis vra, is die eerste antwoord daarop: Dit het direk te make met ’n verduistering van mense se besef van God. Mense weet nie meer, voel dit nie meer, besef dit nie meer dat hulle voor die aangesig van God lewe nie. Moraliteit en die verhouding tot God hang immers ten nouste saam. Die Bybel leer ons dat goed en kwaad bepaal word deur die wil en die wet van God. God het die mens na sy beeld geskape, dit is: in ware kennis van God, geregtigheid en heiligheid. Op grond van sy kennis van en gemeenskap met God is die mens bestem om in liefde te lewe en heilig te wees soos God heilig is. Sy verhouding tot alle ander dinge word bepaal deur sy verhouding tot God. Dit geld sy verhouding tot homself, tot sy medemens, tot die dinge van die aarde, tot die lewe self. Maar die Bybel leer dat die kwaad ingetree en die morele integriteit van die mens verwoes het toe die Bose daarin geslaag het om by die mens twyfel oor God te saai, sy uitsig op God te verduister en hom van God te vervreem in die illusie dat hyself oor goed en kwaad kan beslis (Genesis 3). Dit was die omkeer van alle waardes, van alle verhoudinge, van alles wat die lewe sinvol en heerlik gemaak het. Verlies van gemeenskap met God is dieselfde as die verlies van die kompas wat in die hele aardse lewe die koers moet wys.
  1. Die gevolge van die sondeval word in die Bybel duidelik geteken: Dit is die goddeloosheid en verwording van mense wat God nie ken nie en daarom nie meer in die regte verhouding tot hulleself, tot hulle naaste en tot die dinge van die wêreld kan staan nie. In matelose selfliefde dien hulle slegs hulleself en gryp hulle na die dinge van die wêreld asof dit die hoogste waarde is. Die satan het aan Eva belowe dat die mens soos God sou word as hy aan God ongehoorsaam word (eritis sicut Deus). Maar op wat ’n wrange manier het dit waar geword! Die mense het hul uitsig op God verloor en die prooi van selfsug, selfverheerliking en uiteindelike selfvernietiging geword. Hulle ontbrand in haat en vyandskap teenoor mekaar. Titus 3:3 en Romeine 1:18–32 skets die toestand na die sondeval: hulle onverstandige hart is verduister; hulle is haatlik en haat mekaar. Sodom en Gomorra is die naam van alle goddelose. stede van alle tye. As die vrees van die Here verdwyn, word die mens ’n wolf vir sy naaste (Hobbes) – hoe beskaafd en verfynd of onbeskaafd en vulgêr dit ook al tot openbaring kom.
  1. Deur God se lankmoedigheid het Hy deur die algemene genade die menslike lewe tog in stand gehou met die oog op die uitwerking van sy heilsplan in die wêreld. Mense was ten alle tye goddeloos, maar die regte van moraliteit wat deur Gods algemene genade in die mensheid oorgebly het, het die totale verval van die lewe nog altyd teruggehou. Dit was nodig vir die ontplooiing van Gods heilswerk in Israel en daarna in die Christelike kerk. Deur die Christendom is die kultuur tot op sekere hoogte gekersten en dit het die moraliteit op ’n bepaalde wyse orent gehou. Sedert die 18de eeu – die begin van die moderne tyd – het daar egter ’n wysiging in die bewussyn van die Westerse mensheid ingetree wat in ons tyd ontwikkel het tot die verlies van die besef van die realiteit van God en gevolglik ook tot die verval van die Christelike moraliteit in feitlik die hele Westerse wêreld. Aan hierdie omslag in die Westerse kultuur het ook Suid-Afrika deel. Omdat ons effens op ’n afstand van die buitewêreld geleef het, het die volle impak van die Westerse sekularisasie (verwêreldliking) ’n bietjie langer geneem om in sy volle betekenis in ons land sigbaar te word. Maar ons beleef tans die volle geweld van die storm van sekularisasie wat oor die wêreld heen trek. Dit het geweldige gevolge vir die hele terrein van die geestelike lewe en die moraliteit.
  1. Met ’n term van die Joodse wysgeer Martin Buber word van Godsverduistering gepraat as tipering van hierdie situasie. Volgens hom staan die huidige verlies aan Godsbesef direk in verband met die proses van verwêreldliking of sekularisasie wat sedert die 18de eeu in die eertyds Christelike Europa ingetree het. Die Verligting wou die mens bevry uit sy skuldige onmondigheid (aldus Immanuel Kant). Hy moes waag om vir homself te dink en sy eie lot te bepaal. Die beweging van die Verligting het baie positiewe vrugte vir die mens van die Weste meegebring, soos sy emansipasie, sy bevryding van bygeloof en sy enorme wetenskaplike ontwikkeling. Maar die beginsel van die menslike outonomie het in die denkontwikkeling vanaf die wysgere Descartes en Kant, oor Hegel, Feuerbach, Marx, Nietzsche, Comte en Freud gelei tot die triomf van die teoretiese ateïsme. Geloof in God is verklaar as ’n projeksie van die menslike gees, as psigiese illusie waaraan geen realiteit beantwoord nie. Die filosofiese ateïsme het plek gemaak vir die praktiese ateïsme en agnostisisme van miljoene mense, selfs binne die invloedsfeer van die kerk. Dit het die Godsverduistering meegebring waarin daar geen uitsig meer op God is nie, wat steeds meer en meer die hele Westerse kultuur Stempel. Die skuld daarvoor rus op die mens self, wat deur sy tipe denke die lig van Gods openbaring blokkeer, soos die maan in ’n sonsverduistering die lig van die son afsny. Dit is terselfdertyd ook ’n oordeel van God. Hy het Homself teruggetrek, sy gelaat verberg en die mens aan die drange van sy eie hart oorgegee (Romeine 1:24v).
  1. Dit het noodwendig geweldige gevolge vir die moraliteit gehad. Dit was nie die bedoeling van diegene wat die outonomie van die mens voorop gestel het, om die moraliteit van die mens prys te gee nie. Hulle het gedink dat die sedelike nog beter in die mens self as in God begrond kon word. Die resultaat was egter ’n verabsolutering van die mens wat van stap tot stap gelei het tot ’n revolusionêre verwerping van alle eksterne gesag, of dit nou dié van God, dié koning of van die vader is. Die besef van coram Deo te lewe in ’n wêreld waarin die norme van God gehoorsaam moet word, het verduister geraak. Selfverwesenliking as ideaal het in bandeloosheid ontaard. Praktiese ateïsme lei nie net tot permissiwiteit nie, maar berei ook die aarde voor vir die groot ideologieë wat die moraliteit opskort ten dienste van een of ander humanisties-ingeklede ideaal. Hierdie eeu het die bewys daarvan gelewer. Maar ook sonder sulke groots opgesette ideologieë kan dit mense verlei om aards te word in hulle hele lewe en denke. Hulle word materialisties, soekers na genot, na die uitlewing van die mens se sondige drifte – en daar is geen grense aan die bandeloosheid meer nie. As God nie bestaan nie, laat Dostojewski Iwan in Die Gebroeders Karamasov sê, is alles geoorloof. En wie kan dit betwyfel dat hy daarin gelyk het?
  2. Wat kan ons hieraan doen? Dit is nie moontlik om die moraliteit van die samelewing te verbeter, sonder opheffing van die verduistering van die Godsbesef wat ingetree het nie. Hier moet ons ons magteloosheid besef. Omdat dit nie net die skuld van die mens is nie, maar ook ’n straf van God is, staan ons magteloos daarteenoor, tensy God Hom ontferm en Homself weer magtig openbaar. Net God kan ons uit hierdie ellende help. Alleen as God Homself weer magtig in ons midde openbaar, kan die situasie omgekeer word. Ons het eintlik net die gebed en is volkome op God aangewese om van sy kant die duisternis te deurbreek. Daar is ’n grondervaring, ’n wesenlike aanraking deur die Gees van God nodig vir mense om werklik te kan glo en weer die weg terug na God en sy gebod te vind. Christelike geloof is nie moontlik sonder die werking van die Gees nie. Ons is op God aangewese om van sy kant die harte van mense aan te raak en die duister weg te neem. Daarom moet alle Christene God in ootmoed smeek om Hom nie blywend vir ons samelewing te verberg nie. God is ’n barmhartige en genadige God. Hy laat Hom nie vrugteloos smeek om die dinge wat Hy in sy Woord belowe het nie. Hy wil ons weer tot herstel bring, en dit kan wees dat Hy juis hierdie donker tye wat ons tans beleef, oor ons laat kom het, sodat ons weer stil kan staan en ons heil by Hom alleen moet soek. Maar Hy wil daarby gebruik maak van die gebed, die prediking van sy Woord en die woord- en daadgetuienis van sy kerk. Die herstel moet begin by die kerke en die Christene wat self voor Gods aangesig lewe. Die gelowiges in ons land moet hulself veel duideliker oor morele sake uitspreek en as gemeenskap van gelowiges met hul lewe en keuses hulle getuienis bevestig.
  1. Ten slotte net ’n woord oor die gesin as die plek waar die herstel in ons samelewing moet begin. Die ver-rotting van ’n samelewing is alleen moontlik as die gesinslewe verwoes kan word, as die gesin nie meer die fondament is van die hele gemeenskap en sy waardes nie. Fundamentele waardes word altyd net in gemeenskap oorgedra. Die basiese ordeninge van huwelik en gesin, sowel as die gemeenskap van die gelowiges, is dus wesensbelangrik vir die geestelike en morele integriteit van die samelewing. Maar hoe roekeloos het ons gemeenskap nie juis met die huisgesin omgegaan nie? Hoe het ons moderne materialistiese samelewing nie daarin geslaag om die kosbaarste dinge van ons kinders se lewe van hulle te ontneem nie – die geestelike en morele opvoeding binne die warm atmosfeer van ’n liefdevolle gesin? As daar ooit ’n tyd was dat ons weer na die fundamentele dinge in ons samelewing moet terugkeer, dan is dit nou. Miskien sal God Hom oor ons ontferm en ons land van morele ondergang red!